Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 1/1 bl. 30-31
  • Op soek na ’n vrou vir Isak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Op soek na ’n vrou vir Isak
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Moeilike sending
  • Lesse vir ons
  • Rebekka wou Jehovah bly maak
    Leer jou kinders
  • Rebekka was bereid om Jehovah se hart bly te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • ’n Huwelik wat miljoene wat nou leef tot voordeel strek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • “Ek is bereid om te gaan”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2016
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 1/1 bl. 30-31

Hulle het Jehovah se wil gedoen

Op soek na ’n vrou vir Isak

DIE ouerige man wat by die put gesit het, was doodmoeg. Hy en sy metgeselle tesame met hulle tien kamele het die hele ent van die omgewing van Berseba af na die noorde van Mesopotamië gereis—’n afstand van meer as 800 kilometer.a Noudat hulle hulle bestemming bereik het, het hierdie moeë reisiger ’n bietjie gerus om oor sy moeilike sending na te dink. Wie was hierdie man, en waarom het hy so ’n moeilike reis aangepak?

Die man was Abraham se dienaar, “die oudste van sy huis” (Genesis 24:2). Hoewel sy naam nie in die verslag genoem word nie, was dit blykbaar Eliëser, na wie Abraham vroeër verwys het as ‘’n seun van sy huis’ en wat hy gesê het ‘hom as erfgenaam sou opvolg’ (Genesis 15:2, 3, NW). Dit was natuurlik toe Abraham en Sara nog kinderloos was. Nou was hulle seun, Isak, 40 jaar oud, en hoewel Eliëser nie meer Abraham se vernaamste erfgenaam was nie, was hy nog steeds sy dienaar. Hy het dus ingewillig toe Abraham ’n versoek gerig het wat ’n uitdaging sou bied. Wat was dit?

’n Moeilike sending

In Abraham se dag het ’n huwelik nie net die familie geraak nie, maar ook die hele stam, of patriargale gemeenskap. Dit was dus gebruiklik vir die ouers om ’n huweliksmaat vir hulle kinders te kies. In sy soektog na ’n vrou vir sy seun Isak het Abraham egter voor ’n dilemma te staan gekom. Die goddelose weë van die plaaslike Kanaäniete het ’n huwelik met een van hulle buite die kwessie gemaak (Deuteronomium 18:9-12). En hoewel dit gebruiklik was vir ’n man om met iemand van sy eie stam te trou, het Abraham se familie honderde kilometers daarvandaan in die noorde van Mesopotamië gewoon. Hy kon Isak nie net soontoe laat trek nie, want Jehovah het Abraham belowe: “Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee”, die land Kanaän. (Genesis 24:7, ons kursiveer.) Daarom het Abraham vir Eliëser gesê: “[Gaan] na my land en my familie . . . om vir my seun Isak ’n vrou te neem.”—Genesis 24:4.

Aan die einde van Eliëser se lang reis het hy by die put gerus terwyl hy oor sy sending nagedink het. Hy het besef dat dit byna tyd was vir die vroue om na die put toe te kom om water vir die aand te kom haal. Hy het Jehovah dus gesmeek: “As die dogter aan wie ek sal sê: Hou tog jou kruik, dat ek kan drink, antwoord: Drink, en ek sal ook u kamele laat drink—dan is sy dit wat U bestem het vir u kneg Isak, en daaraan sal ek weet dat U guns aan my heer bewys het.”—Genesis 24:14.

Terwyl hy nog besig was om te bid, het ’n mooi jong vrou met die naam Rebekka nader gekom. “Laat my tog ’n bietjie water uit jou kruik drink”, het Eliëser vir haar gesê. Rebekka het dit gedoen, en toe het sy gesê: “Ek sal vir u kamele ook skep totdat hulle genoeg gedrink het.” Dit was geen geringe aanbod nie, aangesien ’n dors kameel tot 95 liter water in net tien minute kan drink! Of Eliëser se kamele só dors was of nie, Rebekka moes besef het dat die taak wat sy aangebied het om te doen veeleisend sou wees. Trouens, sy het “dadelik . . . haar kruik in die drinkbak leeggemaak en weer na die put geloop [“telkens weer na die put gehardloop”, NW] om te skep en vir al sy kamele geskep”.—Genesis 24:15-20.

Eliëser het Jehovah se hand van leiding hierin gesien, en hy het vir Rebekka ’n goue neusring en twee goue armbande gegee, wat vandag ongeveer R6100 werd sou wees. Toe Rebekka vir Eliëser vertel dat sy die kleindogter is van Nahor, Abraham se broer, het hy God in gebed gedank. 3“Die HERE het my op die weg gelei na die huis van die broers van my heer”, het hy gesê (Genesis 24:22-27). Eliëser is na Rebekka se familie geneem. Mettertyd het Rebekka Isak se vrou geword, en sy het die voorreg gehad om ’n stammoeder van die Messias, Jesus, te word.

Lesse vir ons

Jehovah het Eliëser se biddende poging om ’n godvresende huweliksmaat vir Isak te vind, geseën. Hou egter in gedagte dat Isak se huwelik direk verband gehou het met God se voorneme om ’n saad deur Abraham voort te bring. Hierdie verslag moet ons dus nie tot die slotsom laat kom dat almal wat om ’n huweliksmaat bid op wonderdadige wyse een sal ontvang nie. Maar as ons trou aan Jehovah se beginsels bly, sal hy ons die krag gee om die uitdagings die hoof te bied wat met enige lewensomstandigheid gepaardgaan—of ons getroud of ongetroud is.—1 Korintiërs 7:8, 9, 28; vergelyk Filippense 4:11-13.

Eliëser moes baie moeite doen om dinge op Jehovah se manier te doen. Ons vind miskien ook dat dit nie altyd maklik is om volgens Jehovah se standaarde te lewe nie. Dit kan byvoorbeeld moeilik wees om werk te vind wat nie op teokratiese bedrywighede inbreuk maak nie, om ’n godvresende huweliksmaat te vind, om opbouende vriende te vind, om vermaak te vind wat nie verderflik is nie (Matteus 6:33; 1 Korintiërs 7:39; 15:33; Efesiërs 4:17-19). Maar Jehovah kan diegene onderskraag wat weier om Bybelbeginsels prys te gee. Die Bybel belowe: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”—Spreuke 3:5, 6.

[Voetnoot]

a As die gemiddelde spoed van kamele in ag geneem word, kon dit meer as 25 dae geduur het om die reis af te lê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel