Wie dra die skuld vir oorlog?
DRA God die skuld vir die oorloë wat mense geveg het? “Nee, God wil nie oorlog hê nie.” Dit is hoe Martin Niemöller, ’n bekende Duitse Protestantse geestelike, hierdie vraag kort ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog beantwoord het. Sy opmerkings is in 1946 opgeteken in ’n boek met die titel Ach Gott vom Himmel sieh darein—Sechs Predigten (O God, kyk vanuit die hemel—ses preke). Die boek sê:
“Wie ook al God die skuld vir [oorloë] wil gee, ken nie God se Woord nie, of wil dit nie ken nie. Dit is natuurlik ’n ander vraag of ons as Christene grotendeels die skuld vir voortdurende oorloë dra of nie. En ons kan hierdie vraag nie so maklik ontwyk nie. . . . Daar kan ook baie goed onthou word dat Christelike kerke, deur die eeue heen, herhaaldelik aangebied het om oorloë, soldate en wapens te seën, en dat hulle tydens oorloë op ’n uiters onchristelike wyse gebid het vir die vernietiging van hulle vyande. Dit is alles ons skuld en die skuld van ons vaders, maar dit is beslis nie God se skuld nie. En ons as hedendaagse Christene staan beskaamd voor ’n sogenaamde sekte soos die Ernstige Bybelstudente [Jehovah se Getuies], wat by die honderde en duisende na konsentrasiekampe gestuur is en [selfs] gesterf het omdat hulle geweier het om krygsdiens te doen en op mense te skiet.”
Vandag, ongeveer 50 jaar ná die Tweede Wêreldoorlog, gee Niemöller se woorde vredeliewende mense stof tot nadenke. Nee, God dra nie die skuld vir die bloedvergieting van die nasies nie! Trouens, God verklaar deur middel van sy ware aanbidders, wat geen deel aan die konflikte van die wêreld het nie, dat die einde van alle oorloë op hande is.—Psalm 46:10; Johannes 17:16.
[Foto-erkenning op bladsy 32]
USAF photo