Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 12/1 bl. 24-28
  • Jehovah was nog altyd my toevlug

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah was nog altyd my toevlug
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Belangrike besoek
  • Ons standpunt vir Bybelwaarheid
  • Ons verduur sterk teenstand
  • My stryd teen ernstige siektes
  • Pionierdiens ondanks teenstand
  • ’n Lonende ondervinding
  • Jehovah was goed vir my
  • Ek het ware rykdom in Australië gevind
    Ontwaak!—1994
  • Die uitdaging en vreugde om agt kinders in Jehovah se weë groot te maak
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Meer as 50 jaar van ‘oorkom en help’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Hoe ons God in moeilike tye gedien het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 12/1 bl. 24-28

Jehovah was nog altyd my toevlug

SOOS VERTEL DEUR PENELOPE MAKRIS

My ma het vurig by my gepleit: “Los jou man; jou broers sal vir jou ’n beter man kry.” Waarom sou my liefdevolle ma wou hê dat ek my huwelik ontbind? Wat het haar só ontstel?

EK IS in 1897 in die klein dorpie Ambelos, op die Griekse eiland Samos, gebore. Ons familie was vroom lede van die Grieks-Ortodokse Kerk. My pa het kort voor my geboorte gesterf, en my ma, my drie broers en ek moes hard werk net om aan die lewe te bly in die bittere armoede van daardie tye.

Die Eerste Wêreldoorlog het in 1914 uitgebreek, en kort daarna is my twee ouer broers opgeroep om by die weermag aan te sluit. Maar om dit te vermy, het hulle na Amerika geïmmigreer en my en my ander broer tuis by my ma agtergelaat. ’n Paar jaar later, in 1920, het ek met Dimitris, ’n jong onderwyser in ons dorp, getrou.

’n Belangrike besoek

Kort ná my troue het my ma se broer uit Amerika by ons kom kuier. Hy het toevallig een van die dele van Studies in the Scriptures, wat deur Charles Taze Russell geskryf is, met hom saamgebring. Dit was ’n publikasie van die Bybelstudente, wat nou as Jehovah se Getuies bekend staan.

Toe Dimitris die boek oopmaak, het hy ’n onderwerp gesien waaroor hy al van kindsbeen af gewonder het: “Wat gebeur met die mens wanneer hy sterf?” Op hoërskool het hy ’n Grieks-Ortodokse teoloog oor hierdie einste onderwerp uitgevra, maar hy het nie ’n bevredigende antwoord gekry nie. Die duidelike en logiese verduideliking wat in die publikasie uiteengesit is, het Dimitris so opgewonde gemaak dat hy reguit na die dorpie se koffiehuis toe is, ’n plek waar mans in Griekeland gewoonlik bymekaarkom. Daar het hy van die dinge vertel wat hy uit die Bybel geleer het.

Ons standpunt vir Bybelwaarheid

Dit was ongeveer hierdie tyd—in die vroeë twintigerjare—dat Griekeland in die middel van nog ’n oorlog was. Dimitris is opgekommandeer en na die Turkse vasteland, in Klein-Asië, gestuur. Hy is gewond en huis toe gestuur. Nadat hy herstel het, het ek hom vergesel na Smirna, Klein-Asië (nou Izmir, Turkye). Toe die oorlog skielik in 1922 tot ’n einde gekom het, moes ons vlug. Trouens, ons het net-net ontsnap op ’n erg beskadigde boot onderweg na Samos. Met ons tuiskoms het ons gekniel en God gedank—’n God van wie ons steeds net ’n bietjie kennis gehad het.

Dimitris het kort daarna ’n aanstelling as onderwyser gekry by ’n skool in Vathy, die eiland se hoofstad. Hy het voortgegaan om die lektuur van die Bybelstudente te lees, en een reënerige aand het twee van hulle van die eiland Chios ons besoek. Hulle het van Amerika af teruggekeer om te dien as kolporteurs, soos voltydse evangeliste genoem is. Ons het aan hulle slaapplek vir die nag gegee, en hulle het met ons oor baie dinge aangaande God se voornemens gepraat.

Later het Dimitris vir my gesê: “Penelope, ek besef dat dit die waarheid is, en ek moet dit volg. Dit beteken dat ek moet ophou om in die Grieks-Ortodokse Kerk te sing en dat ek nie saam met die skoolkinders kerk toe kan gaan nie.” Hoewel ons kennis van Jehovah beperk was, het ons ’n sterk begeerte gehad om hom te dien. Daarom het ek gesê: “Ek sal nie in jou pad staan nie. Hou gerus daarmee aan.”

Hy het effens huiwerig voortgegaan en gesê: “Ja, maar as die weg wat ons volg bekend word, sal ek my werk verloor.”

“Dit maak nie saak nie”, het ek gesê, “maak alle mense ’n bestaan uit die onderwysberoep? Ons is jonk en sterk, en met God se hulp kan ons ander werk kry.”

Ons het omstreeks daardie tyd gehoor dat ’n ander Bybelstudent—ook ’n kolporteur—na Samos toe gekom het. Toe ons hoor dat die polisie hom toestemming geweier het om ’n openbare Bybeltoespraak te hou, het ons na hom gaan soek. Ons het hom in ’n winkel gevind waar hy met twee Grieks-Ortodokse teoloë ’n gesprek gevoer het. Verleë omdat hulle nie hulle opvattings uit die Bybel kon verdedig nie, is die teoloë gou daar weg. My man was beïndruk deur die kolporteur se kennis en het hom gevra: “Hoe is dit dat jy die Bybel met soveel gemak kan gebruik?”

“Ons bestudeer die Bybel stelselmatig”, het hy geantwoord. Hy het sy tas oopgemaak, die studieboek Die harp van God uitgehaal en ons gewys hoe om hierdie boek vir so ’n studie te gebruik. Ons was so gretig om te leer dat ek en my man, die kolporteur en twee ander mans onmiddellik saam met die winkelier na sy huis toe is. Die kolporteur het vir elkeen van ons ’n eksemplaar van Die harp van God gegee, en hy het dadelik ’n studie met ons begin. Ons het tot laat ná middernag met ons studie aangehou, en toe dagbreek nader kom, het ons die liedere begin leer wat die Bybelstudente gesing het.

Van toe af het ek begin om die Bybel elke dag ’n paar uur lank te bestudeer. Bybelstudente van oorsee het voortdurend vir ons Bybelstudiehulpe gestuur. In Januarie 1926 het ek my in gebed aan God toegewy en sonder voorbehoud belowe om sy wil te doen. Later daardie somer het ek en my man ons toewyding deur waterdoop gesimboliseer. Ons het ’n sterk begeerte gehad om met ander te praat oor die dinge wat ons geleer het, en daarom het ons met die deur-tot-deur-bediening begin deur die traktaat Boodskap van hoop aan te bied.

Ons verduur sterk teenstand

Eendag het ’n jong dame my genooi om ’n liturgie by ’n klein Grieks-Ortodokse kerkie by te woon. “Ek het opgehou om God op daardie manier te aanbid”, het ek verduidelik. “Nou aanbid ek hom met gees en waarheid, soos die Bybel leer” (Johannes 4:23, 24). Sy was verstom en het wyd en syd vertel wat gebeur het en het ook my man hierin betrek.

Feitlik almal het ons begin teëstaan. Ons kon nêrens vreedsaam verkeer nie—nie in ons huis of by die vergaderinge wat ons met die paar belangstellendes op die eiland gehou het nie. Op aanstigting van die Ortodokse priesters het skares buite ons vergaderplek bymekaargekom, klippe gegooi en beledigings geskreeu.

Toe ons die traktaat Boodskap van hoop versprei het, het kinders om ons saamgedrom en “Chiliaste” en ander neerhalende name geskreeu. My man se kollegas het ook begin om vir hom probleme te veroorsaak. Laat in 1926 is hy voor die hof gebring op aanklag dat hy onbevoeg is om as ’n onderwyser in ’n openbare skool te onderrig en is hy tot 15 dae gevangenisstraf gevonnis.

Toe my ma hiervan te hore kom, het sy my aangeraai om my man te verlaat. “Luister, my liewe ma”, het ek geantwoord, “Ma weet net so goed soos ek hoeveel ek Ma liefhet en respekteer. Maar ek kan eenvoudig nie toelaat dat Ma in ons pad staan om die ware God, Jehovah, te aanbid nie.” Sy het bitter teleurgesteld na haar dorpie toe teruggegaan.

In 1927 is ’n byeenkoms van die Bybelstudente in Atene gehou, en Jehovah het dit vir ons moontlik gemaak om dit by te woon. Ons was verheug, en dit het ons geestelik versterk om saam met ’n menigte medegelowiges bymekaar te kom. Met ons terugkeer na Samos het ons 5 000 eksemplare van die traktaat met die titel ’n Getuienis aan die heersers van die wêreld in die groot en kleiner dorpe op ons eiland versprei.

Dit was omstreeks daardie tyd dat Dimitris uit sy onderwyspos ontslaan is, en as gevolg van die vooroordeel teen ons was dit byna onmoontlik om werk te kry. Maar aangesien ek naaldwerk kon doen en Dimitris goed kon verf, kon ons genoeg verdien om die pot aan die kook te hou. In 1928 is my man, asook die ander vier Christenbroers in Samos, ’n vonnis van twee maande gevangenisstraf opgelê omdat hulle die goeie nuus verkondig het. Omdat ek die enigste Bybelstudent was wat nie opgesluit was nie, kon ek vir hulle voedsel in die gevangenis neem.

My stryd teen ernstige siektes

Ek het op een tydstip tuberkulêre spondilitis opgedoen, wat destyds ’n onbekende chroniese siekte was. Ek het my eetlus verloor en ’n konstante hoë koors gehad. Die behandeling het behels dat ek van my nek tot by my bobene in gips was. Om finansieel die mas op te kom, het my man ’n stuk grond verkoop sodat ek verdere behandeling kon kry. Ek was ontsteld en het elke dag tot God om krag gebid.

Wanneer familielede my besoek het, het hulle altyd teenstand geopenbaar. My ma het gesê dat ons al hierdie probleme ondervind omdat ons ons godsdiens verander het. Ek kon nie beweeg nie en het my kussing nat gehuil terwyl ek ons hemelse Vader gesmeek het om my geduld en moed te gee om te volhard.

Op die tafeltjie langs my bed het ek my Bybel en ’n voorraad boekies en traktate vir besoekers gehou. Dit was ’n seën dat die vergaderinge van ons klein gemeentetjie in ons huis gehou is; ek kon gereeld geestelike bemoediging ontvang. Ons moes nog ’n stuk grond verkoop om te betaal vir die mediese behandeling wat ek van ’n dokter in Atene ontvang het.

Kort daarna het die reisende opsiener ons besoek. Hy was baie jammer om my in hierdie toestand en Dimitris sonder werk te sien. Hy het ons goedhartig gehelp om reëlings te tref om in Mitilini op die eiland Lesbos te gaan woon. Ons het in 1934 daarheen verhuis, en Dimitris kon werk kry. Daar het ons ook wonderlike Christenbroers en -susters gevind wat gedurende my siekte na my omgesien het. Geleidelik, ná vyf jaar se behandeling, het ek ten volle herstel.

Maar, in 1946, kort ná die Tweede Wêreldoorlog, het ek weer ernstig siek geword, hierdie keer het ek tuberkulêre peritonitis gekry. Ek was vyf maande lank in die bed met ’n hoë koors en kwaai pyne. Maar soos voorheen het ek nooit opgehou om met my besoekers oor Jehovah te praat nie. Mettertyd het ek my gesondheid herwin.

Pionierdiens ondanks teenstand

Meedoënlose teenstand was die lot van Jehovah se Getuies in Griekeland in die jare ná die oorlog. Ons is menigmaal gearresteer terwyl ons aan die huis-tot-huis-bediening deelgeneem het. Altesaam was my man amper ’n jaar in die gevangenis. Wanneer ons in die bediening uitgegaan het, het ons gewoonlik beplan om die nag in arres by die polisiestasie deur te bring. Tog het Jehovah ons nooit in die steek gelaat nie. Hy het ons altyd die nodige moed en krag gegee om te volhard.

In die veertigerjare het ek in die Voorligter (nou Ons Koninkryksbediening) gelees van die voorsiening om aan vakansiepionierdiens deel te neem. Ek het besluit om aan hierdie aspek van die diens deel te neem, wat vereis het dat ’n mens 75 uur per maand in die bediening bestee. Gevolglik het my herbesoeke en Bybelstudies vermeerder—’n tyd lank het ek elke week 17 studies gehou. Ek het ook ’n tydskrifroete begin in die sakegebied van Mitilini waar ek gereeld ongeveer 300 eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! na winkels, kantore en banke geneem het.

Toe ’n reisende opsiener ons gemeente in 1964 besoek het, het hy gesê: “Suster Penelope, ek het op jou verkondigerverslagkaart gesien watter wonderlike resultate jy in jou bediening geniet. Waarom vul jy nie ’n aansoekvorm in om aan die gewone pionierdiens deel te neem nie?” Ek sal altyd dankbaar wees vir sy aanmoediging; ek smaak al meer as drie dekades die vreugde van die voltydse bediening.

’n Lonende ondervinding

In Mitilini is daar ’n digbewoonde buurt wat Langada genoem word, waar Griekse vlugtelinge woon. Ons het dit vermy om daar van deur tot deur te gaan weens die fanatiese teenstand wat ons ondervind het. Toe my man in die gevangenis was, moes ek egter deur hierdie gebied gaan om hom te besoek. Een reënerige dag het ’n vrou my in haar huis ingenooi om uit te vind waarom my man in die gevangenis is. Ek het verduidelik dat dit is omdat hy die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig en dat hy ly net soos Christus gely het.

Later het ’n ander vrou gereël dat ek by haar huis aangaan. Toe ek daar kom, het ek gevind dat sy altesaam 12 vroue oorgenooi het. Ek het verwag dat dit moontlike teenstand kon beteken, daarom het ek tot God gebid om my wysheid en moed te gee om wat ook al gebeur die hoof te kan bied. Die vroue het baie vrae gehad en party het besware geopper, maar ek kon skriftuurlike antwoorde gee. Toe ek opstaan om te gaan, het die vrou van die huis my gevra om die volgende dag terug te kom. Ek het die uitnodiging met graagte aanvaar. Toe ek en ’n metgesel die volgende dag opdaag, het die vroue alreeds vir ons gewag.

Daarna het ons ons skriftuurlike besprekings op ’n gereelde basis voortgesit, en baie Bybelstudies is begin. ’n Hele aantal vroue het in juiste kennis toegeneem, en so ook hulle gesinne. Hierdie groep het later die kern van ’n nuwe gemeente van Jehovah se Getuies in Mitilini geword.

Jehovah was goed vir my

Jehovah het deur die jare my en my man se pogings om Hom te dien, geseën. Die handjievol Getuies op Samos in die twintigerjare het tot twee gemeentes en ’n groep met ongeveer 130 verkondigers gegroei. En op die eiland Lesbos is daar vier gemeentes en vyf groepe met ongeveer 430 Koninkryksverkondigers. My man het tot sy dood in 1977 God se Koninkryk ywerig verkondig. Wat ’n voorreg is dit tog om te sien hoe dié wat deur ons gehelp is ywerig in die bediening bly! Trouens, saam met hulle kinders, kleinkinders en agterkleinkinders maak hulle ’n groot skare uit wat Jehovah verenig aanbid!

My weg van Christelike diens, wat nou oor die 70 jaar strek, was nie maklik nie. Tog was Jehovah ’n weergalose vesting. Weens my gevorderde leeftyd en verswakkende gesondheid is ek bedlêend en kan ek maar min predikingswerk doen. Maar soos die psalmis kan ek vir Jehovah sê: “[U is my] toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.”—Psalm 91:2.

(Suster Makris het gesterf terwyl hierdie artikel voorberei is. Sy het ’n hemelse hoop gehad.)

[Prent op bladsy 26]

Saam met haar man in 1955

[Prent op bladsy 26]

In Januarie 1997 sou suster Makris 100 jaar oud gewees het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel