Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 11/1 bl. 19-21
  • Godsdiensvryheid word in Japan gehandhaaf

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Godsdiensvryheid word in Japan gehandhaaf
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Wat was die geskil?
  • Distrikshof se beslissing verwek opspraak onder ingeligtes
  • Onselfsugtige gesindheid van die eisers
  • Na die Hooggeregshof
  • Verreikende uitwerking
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 11/1 bl. 19-21

Godsdiensvryheid word in Japan gehandhaaf

JONG leerlinge in Japan wat Jehovah se Getuies is, bevind hulle al jare lank in ’n dilemma: Moet hulle hulle Bybelopgeleide gewete volg of moet hulle ’n skoolleerplan volg wat hulle gewete skend. Waarom die dilemma? Omdat verweerkunsoefeninge deel uitmaak van die liggaamsopvoedingkursus in hulle skole. Die jong Getuies het gevoel dat sulke oefeninge in stryd met Bybelbeginsels is, soos die een wat in Jesaja hoofstuk 2, vers 4, gevind word. Dit lui: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”

Omdat jong Christengetuies nie oorlogsvaardighede, wat behels dat ’n mens ander seermaak, wil leer nie, het hulle aan hulle onderwysers verduidelik dat hulle gewete hulle nie sal toelaat om aan die verweerkuns deel te neem nie. Nadat daar probeer is om hierdie leerlinge te oorreed om die skoolleerplan te aanvaar, het talle redelike onderwysers uiteindelik ingestem om die leerlinge se gewete te respekteer en vir alternatiewe bedrywighede voorsiening te maak.

Maar sommige onderwysers het emosioneel gereageer, en party skole het geweier om die jong Getuies punte vir liggaamsopvoeding te gee. In 1993 is ten minste nege Getuies bevordering op skool geweier, en druk is op hulle uitgeoefen om die skool te verlaat, anders sou hulle uitgesit word omdat hulle nie aan die verweerkuns deelneem nie.

Dit was beslis tyd om die reg van jong Christene te verdedig om ’n opvoeding te ontvang sonder om hulle gewete te skend. Vyf leerlinge aan die Kobe- Munisipale Industriële Tegniese Kollege (kortweg Kobe-kollege genoem) wat bevordering na die tweede studiejaar geweier is, het besluit om geregtelike stappe te doen.

Wat was die geskil?

In die lente van 1990 toe die vyf leerlinge Kobe-kollege begin bywoon het, het hulle aan die onderwysers verduidelik dat hulle weens hulle Bybelse oortuiging nie aan kendo- (Japannese skermkuns) oefeninge kon deelneem nie. Die departement van liggaamsopvoeding was sterk gekant daarteen en het geweier om hulle enigiets anders te laat doen sodat hulle punte vir liggaamsopvoeding kon kry. Op die ou end het die leerlinge die liggaamsopvoedingklas gedruip en moes hulle gevolglik die eerstejaarskursus herhaal. In April 1991 het hulle ’n hofsaak by die Kobe-distrikshof aanhangig gemaak en aangevoer dat die skool se optrede in stryd met die grondwetlike waarborg van godsdiensvryheid is.a

Die skool het beweer dat die voorsiening van alternatiewe bedrywighede op die begunstiging van ’n sekere godsdiens sou neerkom en dus inbreuk op die onpartydigheid van openbare opvoeding sou maak. Hulle het boonop beweer dat hulle nie die fasiliteite of die personeel gehad het om ’n alternatiewe liggaamsopvoedingprogram te voorsien nie.

Distrikshof se beslissing verwek opspraak onder ingeligtes

Terwyl die saak verhoor is, het twee van die vyf leerlinge weer nie die slaagpunt vir liggaamsopvoeding behaal nie, terwyl drie ander net-net geslaag het en tot die volgende standerd bevorder is. Die skoolreëls het bepaal dat leerlinge wat swak vaar op skool en dieselfde standerd vir enige twee opeenvolgende jare herhaal, uitgesit kan word. In die lig hiervan het een van die twee leerlinge besluit om die skool te verlaat voordat hy uitgesit word, maar die ander, Koenihito Kobajasji, het geweier om die skool te verlaat. Gevolglik is hy uitgesit. Dit is interessant dat Koenihito se gemiddelde vir al sy vakke met inbegrip van liggaamsopvoeding, wat hy met ’n punt van 48 gedruip het, 90,2 punte uit 100 was. Hy het eerste gestaan in sy klas van 42 leerlinge.

Op 22 Februarie 1993 het die Kobe-distrikshof ’n beslissing ten gunste van Kobe-kollege gegee en gesê: “Die skool se optrede het nie die grondwet geskend nie”, maar dit het wel toegegee dat “dit nie ontken kan word dat die eisers se godsdiensvryheid ietwat beperk is deur die skool se vereiste om aan kendo-oefeninge deel te neem nie”.

Soos die apostel Paulus in die eerste eeu het die eisers besluit om hulle op hoër regsowerhede te beroep (Handelinge 25:11, 12). Die saak het na Osaka se Hoër Hof gegaan.

Onselfsugtige gesindheid van die eisers

’n Bekende geleerde, professor Tetsoeo Sjimomoera van die Tsoekoeba-universiteit, het ingestem om as ’n deskundige getuie in Osaka se Hoër Hof getuienis te lewer. As ’n spesialis in opvoeding en die wet het hy beklemtoon hoe onbedagsaam die skool se optrede teenoor die leerlinge was. Koenihito Kobajasji het sy gevoelens in die hof uitgespreek, en sy opregte gesindheid het die harte van diegene in die hofsaal geraak. Verder het die Kobe-regsassosiasie op 22 Februarie 1994 gesê dat die skool se optrede Koenihito se godsdiensvryheid en sy reg om ’n opvoeding te ontvang, geskend het en aanbeveel dat die skool hom terugneem.

Namate die tyd nader gekom het vir Osaka se Hoër Hof om hulle uitspraak te lewer, was al die jong Christene wat by die saak betrokke was gretig om tot die einde toe deel van die stryd te wees. Hulle het gevoel dat hulle ’n regsgeding voer ten behoewe van duisende jong Getuies wat voor dieselfde geskil in skole regoor Japan te staan kom. Maar aangesien hulle nie uit die skool gesit is nie, was dit hoogs waarskynlik dat die hof hulle saak sou afwys. En hulle kon sien dat die skool se onredelikheid deur vir Koenihito uit te sit na vore gebring sou word as hulle hulle klag terugtrek. Gevolglik het al die leerlinge behalwe Koenihito besluit om die saak terug te trek.

Op 22 Desember 1994 het hoofregter Reisoeke Sjimada van Osaka se Hoër Hof ’n uitspraak gelewer wat die Kobe-distrikshof se beslissing ter syde gestel het. Die hof het bevind dat die rede vir Koenihito se weiering om kendo-oefeninge te doen opreg was en dat hy ’n groot onreg aangedoen is weens sy optrede wat op sy godsdiensoortuiging gegrond was. Die skool, het hoofregter Sjimada gesê, moes alternatiewe bedrywighede voorsien het. Hierdie redelike beslissing het die hartsnare geroer van diegene wat besorg was oor menseregte. Die skool het egter die saak na Japan se Hooggeregshof geappelleer en Koenihito weer meer as ’n jaar se opvoeding ontneem.

Na die Hooggeregshof

’n Hoofartikel in die koerant Kobe Sjimboen het later gesê: “Kobe-stad se Skoolraad en die skool moes mnr. Kobajasji op daardie stadium [ná die beslissing van Osaka se Hoër Hof] weer op skool toegelaat het. . . . Hulle onnodige vyandige gesindheid het ’n man van ’n belangrike tydperk in sy jeug beroof.” Kobe-kollege het nietemin ’n ferm standpunt in hierdie saak ingeneem. Gevolglik het dit die onderwerp van landwye nuusberigte geword. Onderwysers en skoolowerhede in die hele land het hiervan kennis geneem, en ’n beslissing van die hoogste hof in die land sou ’n sterker regspresedent vir soortgelyke sake in die toekoms skep.

Op 17 Januarie 1995, ongeveer ’n week nadat die skool die saak na die Hooggeregshof geappelleer het, het die Kobe-aardbewing die stad Asjija getref waar Koenihito en sy gesin gewoon het. Omstreeks halfses daardie oggend, ’n paar minute voor die aardbewing die gebied getref het, het Koenihito sy huis verlaat om na sy deeltydse werk te gaan. Hy het met die pad onder die Hansjin-snelweg langs met sy fiets gery, en toe die aardbewing die gebied tref, was hy net besig om die deel te nader wat ineengestort het. Hy het onmiddellik weer huis toe gegaan en gevind dat die grondverdieping van sy huis heeltemal verpletter was. Koenihito het besef dat hy maklik sy lewe in die aardbewing kon verloor het en Jehovah gedank dat hy hom dit laat oorleef het. As hy gesterf het, sou die kendo-saak waarskynlik sonder die Hooggeregshof se beslissing geëindig het.

Die Hooggeregshof in Japan ondersoek appèlle gewoonlik slegs op papier en beslis of die laerhof se uitsprake juis was of nie. Tensy daar ’n ernstige rede is om die laerhof se uitspraak ter syde te stel, vind geen verhoor plaas nie. Die hof laat die betrokke partye nie weet wanneer uitspraak gedoen gaan word nie. Koenihito was dus verras toe daar vir hom op die oggend van 8 Maart 1996 gesê is dat die beslissing daardie oggend gelewer sou word. Tot sy vreugde en blydskap het hy uitgevind dat die Hooggeregshof die uitspraak van Osaka se Hoër Hof bekragtig het.

Vier regters, met regter Sjinitsji Kawai wat presideer het, het eenparig beslis dat “die skool se optrede in die lig van die maatskaplik erkende norme as uitermate onvanpas beskou moet word en die grense van diskresionêre regte oorskry het en derhalwe onwettig is”. Die hof het die opregtheid van Koenihito se weiering om kendo-oefeninge te doen, erken en gesê: “Die rede vir die verweerder se weiering om aan kendo-oefeninge deel te neem, was ernstig en nou verbonde aan die kern van sy geloof.” Die Hooggeregshof het beslis dat die skool alternatiewe middele kon en moes voorsien het sodat die verweerder se godsdiensoortuiging gerespekteer kon word.

Verreikende uitwerking

Hierdie beslissing sal ongetwyfeld ’n voortreflike presedent ten gunste van godsdiensvryheid in skole skep. The Japan Times het gesê: “Dit is die eerste beslissing deur die Hooggeregshof oor die kwessie van opvoeding en godsdiensvryheid.” Die beslissing onthef elke jong leerling egter nie van die verantwoordelikheid om sy eie gewetensgetroue standpunt in te neem wanneer hy voor toetse van sy geloof te staan kom nie.

Professor Masajoeki Utsjino van Tsoekoeba-universiteit het gesê dat een van die faktore wat die regters beweeg het om Koenihito die oorwinning te gee, is dat hy “’n opregte leerling [was] wie se akademiese prestasies uitstekend was”. Die Bybel gee hierdie raad aan Christene wat voor toetse van hulle geloof te staan kom: “Handhaaf voortreflike gedrag onder die nasies, sodat hulle, in die aangeleentheid waarin hulle teen julle spreek as boosdoeners, as gevolg van julle voortreflike werke waarvan hulle ooggetuies is, God in die dag van sy inspeksie sal verheerlik” (1 Petrus 2:12). Getroue jong Christene kan toon dat hulle Bybelse standpunt mense se respek waardig is deur in hulle hele lewe Bybelstandaarde na te leef.

Ná die Hooggeregshof se beslissing het Kobe-kollege Koenihito Kobajasji teruggeneem. Die meeste van die leerlinge wat hulle skoolopleiding saam met Koenihito begin het, het reeds die skool verlaat. Koenihito studeer nou saam met leerlinge wat vyf jaar jonger as hy is. Vir baie mense van die wêreld lyk dit dalk of vyf kosbare jare van sy jeug verkwis is. Koenihito se onkreukbaarheid is egter kosbaar in Jehovah God se oë, en sy opoffering is beslis nie tevergeefs nie.

[Voetnoot]

a Sien asseblief bladsye 10 tot 14 van die Ontwaak! se nommer van 8 Oktober 1995, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, vir besonderhede.

[Prente op bladsy 20]

Links: Koenihito se huis ná die aardbewing

Onder: Koenihito vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel