Deelgenote in die vertroosting wat Jehovah voorsien
“Ons hoop vir julle [is] onwankelbaar, omdat ons weet dat julle, net soos julle deelgenote in die lyding is, op dieselfde wyse ook in die vertroosting deel sal hê.”—2 KORINTIËRS 1:7.
1, 2. Wat het baie wat vandag Christene geword het al ondervind?
BAIE wat vandag Die Wagtoring lees, het sonder ’n kennis van God se waarheid grootgeword. Miskien is dit in jou geval waar. Indien wel, dink terug aan hoe jy gevoel het namate jou oë van begrip begin oopgaan het. Was jy nie verlig toe jy byvoorbeeld die eerste keer verstaan het dat die dooies nie ly nie, maar niks weet nie? En is jy nie vertroos toe jy uitgevind het wat die hoop vir die dooies is nie, dat miljarde tot lewe in God se nuwe wêreld opgewek gaan word?—Prediker 9:5, 10; Johannes 5:28, 29.
2 Wat van God se belofte om goddeloosheid te beëindig en om hierdie aarde in ’n paradys te verander? Het dit jou nie vertroos en jou gretig daarna laat uitsien toe jy dit gehoor het nie? Hoe het jy gevoel toe jy die eerste keer uitgevind het dat jy moontlik nooit sal sterf nie, maar dat jy tot in daardie komende aardse Paradys behoue kan bly? Jy was ongetwyfeld opgewonde daaroor. Ja, jy het ’n ontvanger geword van God se vertroostende boodskap wat nou wêreldwyd deur Jehovah se Getuies verkondig word.—Psalm 37:9-11, 29; Johannes 11:26; Openbaring 21:3-5.
3. Waarom ly diegene wat God se vertroostende boodskap aan ander verkondig ook verdrukking?
3 Maar toe jy die Bybelboodskap aan ander wou verkondig, het jy ook besef dat ‘geloof nie iets is wat alle mense besit nie’ (2 Tessalonisense 3:2). Miskien het party van jou vorige vriende jou gespot omdat jy geloof in die Bybel se beloftes uitspreek. Jy is dalk selfs vervolg omdat jy voortgegaan het om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer. Die teenstand het dalk toegeneem namate jy veranderinge aangebring het om jou lewe in ooreenstemming met Bybelbeginsels te bring. Jy het die verdrukking begin ondervind wat Satan en sy wêreld oor almal bring wat God se vertroosting aanvaar.
4. Op watter verskillende maniere reageer nuwe belangstellendes dalk op verdrukking?
4 Soos Jesus voorspel het, veroorsaak verdrukking ongelukkig dat party struikel en nie meer met die Christengemeente assosieer nie (Matteus 13:5, 6, 20, 21). Ander verduur verdrukking deur hulle gedagtes gerig te hou op die vertroostende beloftes wat hulle leer. Hulle wy hulle lewe uiteindelik aan Jehovah toe en word gedoop as dissipels van sy Seun, Jesus Christus (Matteus 28:19, 20; Markus 8:34). Verdrukking hou natuurlik nie op as ’n Christen eers gedoop is nie. Om rein te bly, kan byvoorbeeld ’n moeilike stryd wees vir iemand wat ’n onsedelike lewe gelei het. Ander het te kampe met voortdurende teenstand van ongelowige gesinslede. Ongeag wat die verdrukking is, almal wat in getrouheid ’n lewe van toegewydheid aan God lei, kan van een ding seker wees. Hulle sal God se vertroosting en hulp op ’n baie persoonlike wyse ervaar.
“Die God van alle vertroosting”
5. Wat het Paulus ondervind saam met al die beproewinge wat hy deurgemaak het?
5 Die apostel Paulus was ’n persoon wat groot waardering getoon het vir die vertroosting wat God verskaf. Ná ’n besonder moeilike tyd in Asië en Masedonië het hy baie verlig gevoel toe hy hoor dat die Korintiese gemeente goed op sy teregwysingsbrief gereageer het. Dit het hom beweeg om ’n tweede brief aan hulle te skryf, wat die volgende lofbetuiging bevat: “Geseënd sy die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting, wat ons in al ons verdrukking vertroos.”—2 Korintiërs 1:3, 4.
6. Wat leer ons uit Paulus se woorde in 2 Korintiërs 1:3, 4?
6 Hierdie geïnspireerde woorde spreek boekdele. Kom ons ondersoek dit noukeurig. Wanneer Paulus lof of dank aan God betuig of in sy briewe ’n versoek tot hom rig, vind ons gewoonlik dat hy ook groot waardering vir Jesus, die Hoof van die Christengemeente, uitspreek (Romeine 1:8; 7:25; Efesiërs 1:3; Hebreërs 13:20, 21). Paulus rig derhalwe hierdie betuiging van lof aan “die God en Vader van ons Here Jesus Christus”. Dan gebruik hy vir die eerste keer in sy geskrifte ’n Griekse selfstandige naamwoord wat met “tere barmhartighede” vertaal word. Hierdie selfstandige naamwoord kom van ’n woord wat gebruik is om droefheid oor die lyding van ander uit te druk. Op dié manier beskryf Paulus God se tere gevoelens vir enige van Sy getroue knegte wat verdrukking ly—tere gevoelens wat God beweeg om op barmhartige wyse ten behoewe van hulle op te tree. Laastens het Paulus hom tot Jehovah gewend as die bron van hierdie begeerlike eienskap deur hom “die Vader van tere barmhartighede” te noem.
7. Waarom kan daar gesê word dat Jehovah “die God van alle vertroosting” is?
7 God se “tere barmhartighede” bring verligting vir die persoon wat verdrukking ly. Paulus gaan derhalwe voort om Jehovah as “die God van alle vertroosting” te beskryf. Ongeag hoeveel vertroosting ons dus uit die goedhartigheid van medegelowiges put, Jehovah is steeds die bron daarvan. Daar is geen ware, blywende vertroosting wat nie van God af kom nie. Daarbenewens is dit hy wat die mens in sy beeld geskep het, wat ons dus in staat stel om vertroosters te wees. En dit is God se heilige gees wat sy knegte beweeg om tere barmhartigheid te betoon aan diegene wat vertroosting nodig het.
Opgelei om vertroosters te wees
8. Al is God nie die bron van ons beproewinge nie, watter goeie uitwerking kan dit op ons hê as ons verdrukking verduur?
8 Hoewel Jehovah God toelaat dat verskillende beproewinge oor sy getroue knegte kom, is hy nooit die bron van sulke beproewinge nie (Jakobus 1:13). Maar die vertroosting wat hy voorsien wanneer ons verdrukking verduur, kan ons leer om meer bewus te wees van ander se behoeftes. Met watter gevolg? “Sodat ons dié wat in enigerlei verdrukking is, kan vertroos deur die vertroosting waarmee ons self deur God vertroos word” (2 Korintiërs 1:4). Jehovah lei ons sodoende op om medegelowiges en diegene wat ons in ons bediening ontmoet op bekwame wyse met sy vertroosting te vertroos terwyl ons Christus navolg en ‘al die treurendes troos’.—Jesaja 61:2; Matteus 5:4.
9. (a) Wat sal ons help om lyding te verduur? (b) Hoe word ander vertroos wanneer ons verdrukking getrou verduur?
9 Paulus het sy baie lyding verduur danksy die oorvloedige vertroosting wat hy van God deur middel van Christus ontvang het (2 Korintiërs 1:5). Ons kan ook oorvloedige vertroosting kry deur oor God se kosbare beloftes te peins, deur in gebed te vra dat sy heilige gees ons onderskraag en deur te sien hoe God ons gebede verhoor. Sodoende sal ons versterk word om voort te gaan om Jehovah se soewereiniteit te verdedig en te bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is (Job 2:4; Spreuke 27:11). Wanneer ons enige vorm van verdrukking getrou verduur het, moet ons, soos Paulus, al die eer aan Jehovah gee, wie se vertroosting Christene in staat stel om getrou te bly onder beproewing. Die volharding van getroue Christene het ’n vertroostende uitwerking op die broederskap en maak ander vasbeslote om “dieselfde lyding te verduur”.—2 Korintiërs 1:6.
10, 11. (a) Wat is party van die dinge wat in die gemeente van eertydse Korinte lyding veroorsaak het? (b) Hoe het Paulus die Korintiese gemeente vertroos, en watter hoop het hy uitgespreek?
10 Die Korintiërs was deelgenote in die lyding wat oor alle ware Christene kom. Daarbenewens het hulle raad nodig gehad om ’n onberouvolle hoereerder uit te sit (1 Korintiërs 5:1, 2, 11, 13). Omdat hulle versuim het om dít te doen en die onenigheid en verdeeldheid uit die weg te ruim, het dit die gemeente tot oneer gestrek. Maar hulle het Paulus se raad uiteindelik toegepas en opregte berou getoon. Daarom het hy hulle hartlik geprys en gesê dat hulle goeie reaksie op sy brief hom vertroos het (2 Korintiërs 7:8, 10, 11, 13). Die uitgesette persoon het blykbaar ook berou getoon. Paulus het hulle dus vermaan om ‘hom te vergewe en te vertroos, sodat so iemand nie dalk op die een of ander wyse deur sy oormatige droefheid verswelg word nie’.—2 Korintiërs 2:7.
11 Paulus se tweede brief moes die Korintiese gemeente beslis vertroos het. En dit was een van sy oogmerke. Hy het verduidelik: “Ons hoop vir julle [is] onwankelbaar, omdat ons weet dat julle, net soos julle deelgenote in die lyding is, op dieselfde wyse ook in die vertroosting deel sal hê” (2 Korintiërs 1:7). Aan die einde van sy brief het Paulus hulle aangespoor: “Hou aan . . . om julle te laat vertroos, . . . en die God van liefde en van vrede sal met julle wees.”—2 Korintiërs 13:11.
12. Wat het alle Christene nodig?
12 Wat ’n belangrike les kan ons tog hieruit leer! Alle lede van die Christengemeente moet ‘deel hê in die vertroosting’ wat God voorsien deur sy Woord, sy heilige gees en sy aardse organisasie. Selfs uitgesette persone het dalk vertroosting nodig as hulle berou getoon het en hulle verkeerde weg laat staan het. Daarom het “die getroue en verstandige slaaf” ’n barmhartige reëling ingestel om hulle te help. Een keer per jaar mag twee ouer manne sekere uitgesette persone besoek. Moontlik openbaar hulle nie meer ’n opstandige gesindheid of pleeg hulle nie meer growwe sonde nie en het hulle dalk hulp nodig om die nodige stappe te doen om herstel te word.—Matteus 24:45; Esegiël 34:16.
Paulus se verdrukking in Asië
13, 14. (a) Hoe het Paulus ’n tyd beskryf toe hy kwaai verdrukking in Asië ervaar het? (b) Watter voorval het Paulus moontlik in gedagte gehad?
13 Die soort lyding wat die Korintiese gemeente tot op daardie stadium ervaar het, kon nie vergelyk word met al die verdrukking wat Paulus moes verduur nie. Hy kon hulle dus hieraan herinner: “Ons wil nie hê, broers, dat julle onkundig moet wees omtrent die verdrukking wat in die landstreek Asië oor ons gekom het nie, dat ons onder uiterste druk bo ons krag was, sodat ons selfs ons lewe glad nie seker was nie. Trouens, ons het by onsself gevoel dat ons die doodsvonnis ontvang het. Dit was sodat ons ons vertroue nie in onsself sou stel nie, maar in die God wat die dooies opwek. Uit iets so groot soos die dood het hy ons gered en sal hy ons red; en ons hoop is op hom, dat hy ons ook verder sal red.”—2 Korintiërs 1:8-10.
14 Party Bybelgeleerdes meen dat Paulus na die oproerigheid in Efese verwys het, waar Paulus sowel as sy twee Masedoniese reisgenote, Gajus en Aristargus, hulle lewe kon verloor het. Hierdie twee Christene is met geweld in ’n teater geneem wat stampvol oproerige mense was wat “omtrent twee uur lank geskreeu het: ‘Groot is Artemis [die godin] van die Efesiërs!’” ’n Stadsbeampte het uiteindelik daarin geslaag om die skare stil te maak. Die feit dat Gajus en Aristargus se lewe hier bedreig was, moes Paulus erg ontstel het. Trouens, hy wou ingaan en met die fanatiese skare redeneer, maar hy is verhinder om sy lewe op dié manier in gevaar te stel.—Handelinge 19:26-41.
15. Watter uiterste situasie word dalk in 1 Korintiërs 15:32 beskryf?
15 Maar Paulus het dalk ’n situasie beskryf wat baie erger was as die voorgenoemde voorval. In sy eerste brief aan die Korintiërs het Paulus gevra: “As ek, soos mense, in Efese met wilde diere geveg het, wat baat dit my?” (1 Korintiërs 15:32). Dit kan beteken dat Paulus se lewe nie net bedreig is deur mense wat soos diere was nie, maar deur letterlike wilde diere in die stadion in Efese. Misdadigers is soms gestraf deur hulle te dwing om met wilde diere te veg terwyl bloeddorstige skares toegekyk het. As Paulus bedoel het dat hy voor letterlike wilde diere te staan gekom het, moes hy op die nippertjie wonderdadig van ’n wrede dood gered gewees het, net soos Daniël uit die mond van letterlike leeus gered is.—Daniël 6:23.
Hedendaagse voorbeelde
16. (a) Waarom kan baie Getuies van Jehovah hulle vereenselwig met die verdrukking wat Paulus gely het? (b) Waarvan kan ons seker wees ten opsigte van diegene wat vanweë hulle geloof gesterf het? (c) Watter goeie uitwerking het dit gehad wanneer Christene noue ontkomings aan die dood ondervind het?
16 Baie hedendaagse Christene kan hulle vereenselwig met die verdrukking wat Paulus gely het (2 Korintiërs 11:23-27). Vandag was Christene ook al “onder uiterste druk bo [hulle] krag”, en baie het voor situasies te staan gekom waarin hulle hulle “lewe glad nie seker was nie” (2 Korintiërs 1:8). Party is deur massamoordenaars en wrede vervolgers doodgemaak. Ons kan daarvan seker wees dat God se vertroostende krag hulle in staat gestel het om dit te verduur en dat hulle gesterf het met hulle hart en verstand onwrikbaar gevestig op die vervulling van hulle hoop, hetsy dit ’n hemelse of ’n aardse hoop is (1 Korintiërs 10:13; Filippense 4:13; Openbaring 2:10). In ander gevalle het Jehovah sake so bewerk dat ons broers van die dood gered is. Diegene wat so gered is, het ongetwyfeld meer vertroue opgebou “in die God wat die dooies opwek” (2 Korintiërs 1:9). Daarna kon hulle selfs met groter oortuiging spreek terwyl hulle God se vertroostende boodskap aan ander meedeel.—Matteus 24:14.
17-19. Watter ondervindinge toon dat ons broers in Rwanda deelgenote in God se vertroosting was?
17 Ons dierbare broers in Rwanda het onlangs ’n soortgelyke ondervinding gehad as Paulus en sy metgeselle. Baie het hulle lewe verloor, maar Satan se pogings kon nie hulle geloof vernietig nie. Ons broers in daardie land het eerder God se vertroosting op talle persoonlike maniere ondervind. Tydens die volkslagting van Tutsi’s en Hutu’s wat in Rwanda woon, was daar Hutu’s wat hulle lewe gewaag het om Tutsi’s te beskerm en Tutsi’s wat Hutu’s beskerm het. Party is deur ekstremiste doodgemaak omdat hulle hulle medegelowiges beskerm het. ’n Hutu-Getuie met die naam Gahizi is byvoorbeeld doodgemaak nadat hy ’n Tutsi-suster met die naam Chantal weggesteek het. Chantal se Tutsi-man, Jean, is op ’n ander plek deur ’n Hutu-suster met die naam Charlotte weggesteek. Jean en ’n ander Tutsi-broer het 40 dae in ’n groot skoorsteen weggekruip en net vir kort tye in die nag uitgekom. Gedurende hierdie tyd het Charlotte hulle kos gegee en hulle beskerm, hoewel sy naby ’n Hutu- militêre kamp woon. Op hierdie bladsy kan jy ’n foto sien waar Jean en Chantal herenig is, en hulle is dankbaar dat hulle Hutu-medeaanbidders hulle ‘nek vir hulle gewaag het’, net soos Prisca en Aquila vir die apostel Paulus gedoen het.—Romeine 16:3, 4.
18 ’n Ander Hutu-Getuie, Rwakabubu, is deur die koerant Intaremara geprys omdat hy Tutsi-medegelowiges beskerm het.a Dit het gesê: “Daar is ook Rwakabubu, een van Jehovah se Getuies, wat voortgegaan het om mense hier en daar by sy broers (dit is wat medegelowiges mekaar noem) weg te steek. Hy het gewoonlik die hele dag lank kos en drinkwater vir hulle aangedra, hoewel hy ’n asmalyer is. Maar God het hom buitengewoon sterk gemaak.”
19 Beskou ook die geval van ’n belangstellende Hutu-egpaar met die name Nicodeme en Athanasie. Voor die volkslagting uitgebreek het, het hierdie egpaar die Bybel saam met ’n Tutsi-Getuie met die naam Alphonse gestudeer. Hulle het hulle lewe in gevaar gestel om Alphonse in hulle huis weg te steek. Later het hulle besef dat die huis nie ’n veilige plek is nie, want hulle Hutu-bure het van hulle Tutsi-vriend geweet. Daarom het Nicodeme en Athanasie Alphonse in ’n gat op hulle erf weggesteek. Dit was ’n goeie idee, want die bure het byna elke dag gekom om na Alphonse te soek. Terwyl Alphonse 28 dae in hierdie gat gelê het, het hy gepeins oor Bybelverslae, soos die een oor Ragab, wat twee Israeliete op die dak van haar huis in Jerigo weggesteek het (Josua 6:17). Vandag is Alphonse steeds ’n verkondiger van die goeie nuus in Rwanda, dankbaar dat sy Hutu-Bybelstudente hulle lewe vir hom in gevaar gestel het. En wat van Nicodeme en Athanasie? Hulle is nou gedoopte Getuies van Jehovah en hou meer as 20 Bybelstudies met belangstellendes.
20. Op watter manier het Jehovah ons broers in Rwanda vertroos, maar wat het baie van hulle nog steeds nodig?
20 Toe die volkslagting in Rwanda begin het, was daar 2 500 verkondigers van die goeie nuus in die land. Hoewel honderde hulle lewe verloor het of genoodsaak is om uit die land te vlug, het die getal Getuies tot meer as 3 000 vermeerder. Dit lewer bewys dat God beslis ons broers vertroos het. Wat van al die weeskinders en weduwees onder Jehovah se Getuies? Hulle ly natuurlik nog steeds verdrukking en het voortdurend vertroosting nodig (Jakobus 1:27). Eers wanneer die opstanding in God se nuwe wêreld plaasvind, sal hulle trane heeltemal afgevee word. Hulle is nietemin in staat om met die lewe voort te gaan danksy die bystand van hulle broers en omdat hulle aanbidders is van “die God van alle vertroosting”.
21. (a) Op watter ander plekke het ons broers God se vertroosting baie nodig gehad, en wat is een manier waarop ons almal kan help? (Sien die venster “Vertroosting gedurende vier jaar van oorlog”.) (b) Wanneer sal ons behoefte aan vertroosting heeltemal bevredig wees?
21 In baie ander plekke soos Eritrea, Singapoer en die voormalige Joego-Slawië gaan ons broers voort om Jehovah getrou te dien ondanks verdrukking. Mag ons hierdie broers help deur gereeld smeekbedes te doen sodat hulle vertroosting kan ontvang (2 Korintiërs 1:11). En mag ons getrou volhard totdat God deur Jesus Christus in die volste sin ‘elke traan van ons oë sal afvee’. Dan sal ons in volle mate die vertroosting ervaar wat Jehovah in sy nuwe wêreld van regverdigheid sal verskaf.—Openbaring 7:17; 21:4; 2 Petrus 3:13.
[Voetnoot]
a Die Wagtoring, 1 Januarie 1995, bladsy 26, het die ondervinding vertel van Rwakabubu se dogter, Deborah, wie se gebed ’n groep Hutu-soldate se harte geraak het en gekeer het dat die gesin vermoor is.
Weet jy?
◻ Waarom word Jehovah “die God van alle vertroosting” genoem?
◻ Hoe moet ons verdrukking beskou?
◻ Aan wie kan ons vertroosting bied?
◻ Hoe sal ons behoefte aan vertroosting heeltemal bevredig word?
[Prent op bladsy 17]
Hoewel Jean en Chantal Tutsi-Getuies is, is hulle tydens die volkslagting in Rwanda in aparte plekke deur Hutu-Getuies weggesteek
[Prent op bladsy 17]
Jehovah se Getuies gaan voort om God se vertroostende boodskap aan hulle naaste in Rwanda te verkondig