God se Woord verrig “wonderwerke”
SOOS VERTEL DEUR THÉRÈSE HÉON
Eendag in 1965 het ek in ’n sakeonderneming ingegaan en vir die verkoopsmanne eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! aangebied. Net toe ek omdraai om uit te gaan, het ek ’n harde slag gehoor. ’n Koeël het die grond naby my voete getref. “Dis hoe ’n mens Jehovah se Getuies weghelp”, het een van die verkoopsmanne uittartend gesê.
DAARDIE ondervinding het my groot laat skrik—maar nie groot genoeg om die voltydse bediening te laat vaar nie. Die Bybelwaarhede wat ek geleer het, was te kosbaar om toe te laat dat enigiets my my bediening laat prysgee. Kom ek verduidelik waarom ek dit sê.
Ná ek in Julie 1918 gebore is, het my ouers hulle gevestig in Cap-de-la-Madeleine, ’n klein dorpie in Quebec, Kanada, bekend as Die Plek van Wonderwerke. Besoekers het hierheen gestroom om by die heiligdom van die Maagd Maria hulde te bring. Hoewel die wonderwerke wat Maria glo gedoen het, nie bewys kan word nie, het God se Woord iets feitlik wonderbaarliks in die lewe van baie mense verrig namate die dorpie tot ’n dorp met meer as 30 000 inwoners gegroei het.
Toe ek omtrent 20 jaar oud was, het my pa gesien dat ek in godsdienssake belangstel en het hy sy Bybel vir my gegee. Toe ek dit begin lees het, was ek geskok om in Exodus hoofstuk 20 te leer dat beeldaanbidding onomwonde veroordeel word. Ek het onmiddellik vertroue in die leringe van die Katolieke Kerk verloor en het opgehou om die mis by te woon. Ek wou nie beelde aanbid nie. Ek kan nou nog my pa hoor sê: “Thérèse, gaan jy nie kerk toe nie?” “Nee,” het ek geantwoord, “ek lees die Bybel.”
Bybellees het ’n deel van my lewe gebly, selfs nadat ek in September 1938 getroud is. Aangesien my man, Rosaire, dikwels in die nag gewerk het, het ek ’n gewoonte daarvan gemaak om die Bybel te lees wanneer hy by die werk was. Ek het gou tot die gevolgtrekking gekom dat God ’n volk moet hê, en ek het na hulle begin soek.
My soeke na God se volk
As gevolg van wat ek as kind in die kerk geleer het, was ek bang om te gaan slaap uit vrees dat ek in die hel wakker sou word. Om sulke vrese te stil, het ek vir myself gesê dat ’n God van liefde nie iets so vreesliks sou laat gebeur nie. Ek het vol vertroue aangehou om die Bybel te lees terwyl ek na die waarheid gesoek het. Ek was soos die Etiopiese eunug wat gelees, maar nie verstaan het nie.—Handelinge 8:26-39.
My broer André en sy vrou, wat in ’n woonstel op die verdieping onder ons gewoon het, het omstreeks 1957 die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Ek het vir my skoonsuster gesê dat sy my moet waarsku wanneer die Getuies in die gebou kom preek deur teen die plafon te klop. Sodoende sou ek weet dat ek nie moet oopmaak nie. Eendag het sy vergeet om my te waarsku.
Daardie dag het ek die deur oopgemaak en Kay Munday ontmoet, ’n pionier, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Sy het met my oor God se naam gepraat en het verduidelik dat God ’n persoonlike naam, Jehovah, het. Ná sy weg is, het ek in my Bybel gekyk om te sien of wat sy gesê het wel deur Bybeltekste gestaaf word. My navorsing het my baie gelukkig gemaak.—Exodus 6:3, Douay Version, voetnoot; Matteus 6:9, 10; Johannes 17:6.
Toe Kay my weer kom besoek het, het ons die Katolieke Drie-eenheidsleerstelling bespreek, wat beweer dat God drie persone in een God is. Later het ek my eie Bybel noukeurig ondersoek om myself te oortuig dat dit nie die Drie-eenheid leer nie (Handelinge 17:11). My studie het bevestig dat Jesus nie so groot soos God is nie. Hy is geskep. Hy het ’n begin gehad, maar nie Jehovah nie (Psalm 90:1, 2; Johannes 14:28; Kolossense 1:15-17; Openbaring 3:14). Ek was tevrede met wat ek geleer het en wou dus graag die Bybelbesprekings voortsit.
Op ’n dag in 1958, gedurende ’n November-sneeustorm, het Kay my uitgenooi om ’n kringbyeenkoms by te woon wat daardie aand in ’n gehuurde saal gehou sou word. Ek het die uitnodiging aanvaar en die program geniet. Agterna het ek ’n Getuie wat met my kom praat het, gevra: “Moet ’n ware Christen van huis tot huis preek?”
“Ja”, het hy gesê, “die goeie nuus moet bekend gemaak word, en om mense by hulle huise te besoek, is volgens die Bybel ’n belangrike manier om die predikingswerk te doen.”—Handelinge 20:20.
Hoe verheug was ek tog oor sy antwoord! Dit het my daarvan oortuig dat ek God se volk gevind het. As hy gesê het: “Nee, dit is nie nodig nie”, sou ek getwyfel het of ek die waarheid gevind het, want ek het geweet wat die Bybel oor die predikingswerk van huis tot huis sê. Van toe af het ek vinnig geestelike vordering gemaak.
Ná daardie kringbyeenkoms het ek die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon wat in die dorp Trois-Rivières daar naby gehou is. Kay en haar pioniermaat, Florence Bowman, was die enigste Getuies wat destyds in Cap-de-la-Madeleine gewoon het. Eendag het ek vir hulle gesê: “Ek sal môre saam met julle in die predikingswerk uitgaan.” Hulle was bly om my saam met hulle te neem.
Ek verkondig die goeie nuus in my tuisdorp
Ek het gedink dat almal die Bybelboodskap sou aanvaar, maar ek het gou geleer dat dit nie die geval was nie. Toe Kay en Florence na ’n ander plek toegewys is, was ek die enigste een in die dorp wat Bybelwaarhede van huis tot huis verkondig het. Ek het sowat twee jaar lank onverskrokke voortgegaan om die predikingswerk op my eie te doen totdat ek op 8 Junie 1963 gedoop is. Ek het op dieselfde dag ingeskryf vir wat destyds vakansiepionierdiens genoem is.
Ek het ’n jaar lank as ’n vakansiepionier gedien. Toe het Delvina Saint-Laurent belowe dat sy na Cap-de-la-Madeleine sou kom en een keer per week saam met my sou werk as ek ’n gewone pionier word. Ek het dus my pionieraansoekvorm ingevul. Maar ongelukkig is Delvina oorlede net twee weke voor ek die voltydse bediening sou betree. Wat het my te doen gestaan? Wel, ek het reeds die aansoekvorm ingevul en wou nie van my planne afsien nie. Ek het dus in Oktober 1964 my loopbaan in die voltydse bediening begin. Vir die volgende vier jaar het ek alleen van huis tot huis gewerk.
Die vroom Katolieke van Cap-de-la-Madeleine was dikwels vyandig teenoor my. Party het die polisie laat kom om my te probeer verhinder om die predikingswerk te doen. Soos ek aan die begin genoem het, het ’n verkoopsman my eendag probeer intimideer deur na my voete te skiet. Wel, dit het nogal ’n opskudding in die dorp veroorsaak. Die plaaslike televisiestasie het dit ’n kruistog teen Jehovah se Getuies genoem. Die hele voorval het ’n gunstige getuienis tot gevolg gehad. Terloops, tien jaar later het ’n familielid van die verkoopsman wat na my geskiet het ’n Getuie geword.
Die “wonderwerke” wat God se Woord verrig het
Ek het oor die jare gesien hoe die teenstand teen Bybelwaarhede in Cap-de-la-Madeleine geleidelik verbrokkel. Omstreeks 1968 het ander Getuies hierheen verhuis, en die plaaslike inwoners het op Bybelwaarhede begin reageer. Teen die vroeë sewentigerjare was daar ’n buitengewone toename in die aantal Bybelstudies. Dit het so goed gegaan dat ek ander Getuies moes vra om ’n klompie van my Bybelstudies oor te neem sodat ek darem nog aan die huis-tot-huis-bediening kon deelneem.
Eendag het ’n jong vrou die Bybelstudiehulp Die waarheid wat lei tot die ewige lewe by my geneem. Daar was ’n jong man saam met haar genaamd André, ’n misdadiger wat maar baie wild gelyk het, en hy het ook aan die gesprek deelgeneem. ’n Gesprek met André het sy belangstelling gewek, en ’n Bybelstudie is begin. Dit was nie lank nie of hy het met sy vriende begin praat oor dit wat hy geleer het.
Op een stadium het ek ’n Bybelstudie met vier bendelede gehou, maar hoewel die een nie veel gesê het nie, het hy goed geluister. Sy naam was Pierre. Ongeveer twee uur een oggend het ek en my man ’n klop aan die deur gehoor. Stel jou hierdie toneel voor: Vier bendelede het daar gestaan met vrae wat hulle my wou vra. Gelukkig het Rosaire nooit oor sulke ontydige besoeke gekla nie.
Aanvanklik het die vier mans die vergaderinge bygewoon. Maar net André en Pierre het volhard. Hulle het hulle lewe in ooreenstemming met God se standaarde gebring en is gedoop. Albei mans dien Jehovah nou al meer as 20 jaar getrou. Toe hulle begin studeer het, was hulle berug weens hulle kriminele bedrywighede en is hulle deur die polisie dopgehou. Soms het die polisie hulle ná een van ons Bybelstudies of gedurende ’n gemeentelike vergadering kom soek. Ek is bly dat ek die goeie nuus aan “alle soorte mense” verkondig het en gevolglik self gesien het hoe God se Woord veranderinge teweegbring wat werklik wonderbaarlik is.—1 Timoteus 2:4.
As iemand vir my aan die begin van my bediening gesê het dat daar eendag ’n Koninkryksaal in Cap-de-la-Madeleine sou wees en dat dit gevul sou wees met Jehovah se volk, sou ek dit nie geglo het nie. Dit het my groot vreugde verskaf om te sien hoe een klein gemeente in die nabygeleë stad Trois-Rivières gegroei het tot ses florerende gemeentes wat in drie Koninkryksale byeenkom, waaronder die een in Cap-de-la-Madeleine.
Ek het persoonlik die vreugde gesmaak om ongeveer 30 mense te help om hulle toe te wy en te laat doop. Ek kan vandag, op die ouderdom van 78, waarlik sê dat ek bly is dat ek my lewe aan Jehovah toegewy het. Ek moet egter erken dat ek tye van ontmoediging deurgemaak het. Om my te help om sulke tye die hoof te bied, maak ek altyd my Bybel oop en lees ek ’n paar gedeeltes wat my grootliks verkwik. Dit is vir my ondenkbaar om ’n enkele dag te laat verbygaan sonder om God se Woord te lees. Ek vind Johannes 15:7 veral bemoedigend, waar dit sê: “As julle in eenheid met my bly en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal vir julle geskied.”
Dit is my hoop om Rosaire in die nuwe wêreld te sien wat so naby is (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4). Kort voor sy dood in 1975 het hy goeie vordering gemaak en daarna gestreef om gedoop te word. Intussen is ek vasbeslote om in die voltydse bediening te volhard en aan te hou om my in Jehovah se werk te verheug.