Jehovah is my toevlug
—soos vertel deur Albert Olih
ALHOEWEL die Novembernag warm was, het ’n ligte bries my koel gehou en my aan die slaap gesus. Maar ek het wakker geskrik en ’n growwe stem hoor vra: “Wat doen jy hier?” ’n Polisieman het op my afgekom tydens sy middernagrondte.
Ek was natuurlik baie bang. Ek het opgestaan en verduidelik hoe dit gekom het dat ek naby die skoolterrein onder ’n mangoboom lê en slaap het. Toe het hy gesê: “Goed, maar as daar enige steurnis hier rond is, sal ek na jou kom soek.” Toe hy weg is, het ek weer gaan lê en nagedink oor die gebeure wat daartoe gelei het dat ek daar was.
JONK, MAAR GODSDIENSTIG
Dit het begin in die kampong waar my broer gewoon het. Dit was in 1946 en ek was destyds 15 jaar oud. Ek het my stat aan die oewer van die Niger-rivier verlaat en saam met my broer in Lagos gaan woon om my skoolloopbaan te voltooi. ’n Ander inwoner, ene Young Umoh, het my aandag getrek, want hy is dikwels besoek deur mense wat mekaar as “broer” en “suster” aangespreek het. Ek het gewonder wie hulle was en het na mnr. Umoh se kamer gegaan om hom daarna uit te vra. Ons was eerlank in ’n baie interessante gesprek gewikkel.
Toe hy gesê het dat hulle Jehovah se Getuies is, het dit my belangstelling aangewakker. ’n Jong seun en sy suster in my skool was Jehovah se Getuies. Hulle was so voorbeeldig dat ek dikwels gewonder het aan watter kerk hulle behoort. Dit het my nog gretiger gemaak om meer omtrent hierdie mense te wete te kom.
Mnr. Umoh het vir my gevra of ek aan die Bybel glo, en ek het vir hom gesê dat ek nog altyd op skool goed presteer het in Bybelkunde. Ek het gemeen dat ek die Bybel geken het. Maar toe hy vir my begin vertel van die koninkryk van God en die seëninge wat dit vir die mensdom gaan bring, was die Bybel vir my soos ’n nuwe boek.
Ek het aandagtig geluister terwyl hy verduidelik het hoedat die heerskappy van God se koninkryk die aarde in ’n paradys gaan omskep, hoedat God se wil in hierdie paradys sal geskied en hoedat die sagmoediges ewige lewe gaan ontvang (Matt. 6:9, 10; Luk. 23:43, NW; Openb. 20:5). Hierdie dinge het my baie bly gemaak, en ek het besluit om mnr. Umoh weer te besoek om meer by hom te leer.
Ek het weliswaar nie aanvanklik alles aanvaar wat hy gesê het nie. Ek was bang dat hy een van die valse dissipels was waarteen ons in die kerk gewaarsku is. Alhoewel ek met hom geredeneer het, het ek baie dinge wat hy vir my uit die Bybel geleer het diep waardeer.
Eendag het hy vir my gesê dat hy nie aan die Drie-eenheid glo nie. Ek was geskok en wou sy kamer verlaat. Maar hy het vir my gesê: “Jy het nie vir my gevra waarom ek nie aan die Drie-eenheid glo nie.” Ek het dus vir hom gevra, en sy antwoord was die begin van ’n proses wat ’n volkome godsdiensverandering in my lewe teweeggebring het.
Hy het begin deur te vra: “Is jy jou vader se gelyke in alles, selfs jou geboortedatum?” Toe het hy die Bybel oopgeslaan en vir my gewys waar Jesus gesê het dat hy deur sy Vader gestuur is en dat sy Vader groter is as hy (Joh. 14:24, 28). Daarna het hy na die verslag oor Jesus se doop geblaai en vir my gewys hoe onredelik dit is om te glo dat Jesus God is, aangesien dit God se stem uit die hemel was wat Jesus as Sy seun erken het (Matt. 3:16, 17). Mnr. Umoh het ook daarop gewys dat die woord “drie-eenheid” nie in die Bybel voorkom nie. Ek het hierdie verduidelikings aanvaar omdat die bewys op die Bybel gegrond was.
Daardie nag het ek gekniel om te bid maar gevind dat ek nie kon nie. Ek is van kleins af geleer om my gebed te open met die woorde: “In die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.” Maar omdat ek nou daarvan oortuig was dat daar nie iets soos die Drie-eenheid bestaan nie, het ek gevind dat ek nie kon begin bid nie.
Ek was die volgende dag baie ongelukkig en het besluit om my Bybel te lees en om met Mattheüs te begin. Ek het hiermee volgehou en na ’n paar dae tot aan die einde van Openbaring gelees. Hoe meer ek gelees het, des te meer het ek gevind dat die dinge wat mnr. Umoh my geleer het met die Bybel ooreengekom het. Dit was die waarheid! Ek is terug na my vriend, het vir hom vertel wat gebeur het en hom gevra om my te leer bid. Hy was bly om te hoor dat ek die Christelike Griekse Skrifte gelees het en het vir my ’n paar boeke en boekies geleen wat hy gesê het my sou help. Hierdie publikasies sou inderdaad ’n diepgaande uitwerking op my toekomstige godsdienslewe hê.
HULP VAN ’N SENDELING
Vroeg in 1947 het ek by een van my halfbroers gaan woon. Ek was destyds 16 jaar oud en nie meer op skool nie. Ek het geen geld gehad om my hoërskoolloopbaan te voltooi nie en het dit moeilik gevind om werk te kry.
Terwyl ons eenkeer aandete genuttig het, het iemand aan die deur geklop, en tot ons verbasing het ’n Witman die vertrek binnegekom. Dit was buitengewoon vir ’n Blanke om die huise van Afrikane te besoek, veral van die armes. Hy het homself voorgestel deur te sê: “My van is Moreton en ek kom van Kanada af. Ek is een van Jehovah se Getuies, en ek bring vir julle goeie nuus van ’n regering wat hierdie aarde gaan regeer.”
My broer het sy verbasing te bowe gekom en gesê: “Kom eet.” Tot sy algehele verbasing het mnr. Moreton ’n stuk jam uit die bord gevat, dit in die rooi sous gedoop en dit geëet. Hy het gesê: “Dit is goeie kos wat God vir die mens gegee het.” Toe het hy sy boodskap verduidelik.
My broer het drie boeke by hom gekry en die een met die titel “Laat God waaragtig wees” vir my gegee. Alhoewel my broer en sy vrou nie daarin belang gestel het om die Bybel te bestudeer nie, het ek gesê dat mnr. Moreton my kon kom leer.
Ek het later ontdek dat ons gesinskleremaker dieselfde boek gehad het, maar dat niemand hom gehelp het om dit te bestudeer nie. Na elke studie saam met mnr. Moreton het ek dus na sy winkel gegaan en dieselfde hoofstuk saam met hom bestudeer. Dit het my gehelp om vordering te maak en ek kon gou die Bybel gebruik om die waarheid te verdedig.
Eendag het ek vir mnr. Moreton gesê dat ek ook graag ’n sendeling wil word. Hy het gelag en gesê: “Jy sal. Maar daar is baie probleme waarop jy jou sal moet voorberei.” Hy het vir my in die Bybel gewys dat ek vervolg sal word, selfs deur naverwante (Matt. 10:34-38). “Maar”, het hy gesê, “Jehovah sal jou nie versaak as jy aan hom getrou bly nie.” Min het ek geweet dat ek kort daarna sou leer hoe waar sy woorde was.
’N VROEË TOETS VAN GELOOF
Laat een nag in Oktober 1947 het my broer my wakker gemaak en ’n ultimatum aan my gestel: ‘Hou op om saam met Jehovah se Getuies te studeer en keer terug na die Anglikaanse Kerk, of verlaat die huis.’ Ek het hom verbaas aangestaar. Ek het geen werk gehad nie en ook geen plek waarheen ek kon gaan nie. My stat was omtrent 500 kilometer daarvandaan. Aangesien my broer dit geweet het, het ek gewonder waarheen hy verwag het dat ek in die middel van die nag moes gaan. Maar ek het my besluit geneem. Ek het geweier om Jehovah op te hou dien.
My broer het woedend geword en my begin slaan met enigiets wat hy in die hande kon kry. Sy vrou het my ook begin slaan. Hy het my uit die huis gejaag en ’n ent agtervolg. Ek is na naverwante in die stad, maar hulle het geweier om my die nag daar te laat slaap. Een familielid het gesê: “Jy sê mos Jehovah is jou Vader en sy organisasie is jou moeder. Gaan dan na Jehovah en laat hy jou inneem!”
Dit was toe dat ek ’n besluit geneem het waarby ek tot vandag gebly het. Ek sou op Jehovah vertrou as my toevlug en hom dien, ongeag wat gebeur.—Ps. 27:1, 10.
Omdat ek nêrens gehad het om heen te gaan nie, is ek na ’n oop stuk veld naby my skool en het ek onder ’n groot mangoboom gaan lê. Dit is waar die polisieman my aangetref het nadat ek etlike nagte daar geslaap het.
Ek het bedags veld toe gegaan en vuurmaakhout opgetel wat ek dan verkoop het om kos te koop. ’n Paar dae later het mnr. Moreton my gevind. Toe hy my verhaal hoor, het hy my bemoedig en my herinner aan wat hy vir my gesê het oor probleme wat ek sou ondervind as ek Jehovah wou dien. Hy het my genooi om hom by sy woonplek te besoek.
Dit het vir my die weg geopen om met die groep sendelinge wat die Bethelgesin genoem word om te gaan en om met die werk by die sendinghuis te help. Ek het ook saam met daardie gesin geëet. Trouens, ek het soos ’n lid van die gesin gevoel en gou begin om hulle “broer” en “suster” te noem.
PREDIKINGSWERK VAN HUIS TOT HUIS
Eendag het broer Moreton my onverwags genooi om saam met hom van huis tot huis te preek. Hy het kortliks ’n Bybelonderwerp by die eerste huis bespreek en toe ’n boek as ’n Bybelstudiehulp aangebied.
Toe het broer Moreton my sy tas gegee en gesê: “Sien jy die man wat daar op die hoek staan? Gaan na hom en preek vir hom.” My hart het in my keel gesit. Maar ek het ’n stille gebed gedoen en na die man geloop terwyl ek onthou het wat vir die eerste man gesê is omdat dit so eenvoudig gestel was. Ek het dieselfde vers uit die Bybel aangehaal en hy het gunstig gereageer. Ek het met die predikingswerk begin en ek het geweet dat niks my sou keer nie.
DOOP EN PIONIERDIENS
Ek het geleer dat ek net soos Jesus in water gedoop moes word nadat ek my lewe aan Jehovah toegewy het. Ek is in Desember 1947 gedoop by die heel eerste byeenkoms van Jehovah se Getuies wat ek bygewoon het. Nou was al die lede van hierdie groeiende groep Getuies waarlik my geestelike broers en susters.
’n Paar maande later het ek as ’n pionier (’n voltydse prediker) ingeskryf. Dit het my baie geleenthede in die predikingswerk gebied en my vinniger ondervinding in die getuieniswerk van huis tot huis laat opdoen.
Een van my eerste werklik moeilike besprekings was met ’n pastoor van die Sewendedags-Adventiste. Hy het gou die Sabbat te berde gebring en vir my gepreek deur te redeneer dat die Sabbat elke week gehou moes word. Die bordjies was verhang. Die huisbewoner was besig om vir my te preek terwyl ek die tekste moes lees wat hy aangehaal het en na sy verduideliking moes luister. Ek het gesê dat ek baie min van die Sabbat af weet, maar ek het beloof om navorsing te doen en terug te kom.
Toe ek terugkeer, het ek gevind dat ’n aantal van sy kerklidmate ook daar was. Hy het gehoop om die geleentheid te gebruik om sy gemeente te beïndruk. Toe hy my aan hulle voorstel, het hy gesê: “Dit is ’n jong Jehovahsgetuie wat deur valse predikers mislei is. Ek is bly dat hy na my onderrigting geluister het en teruggekom het vir verdere verduidelikings.” Ek het gevra om eerste te praat. Ek het begin met die einste teks wat hy uit die wet van Moses aangehaal het, en deur na die Christelike Griekse Skrifte te verwys, het ek verduidelik waarom Christene nie ’n weeklikse Sabbat hoef te hou nie.—Rom. 10:4; Gal. 4:9-11; Kol. 2:16, 17.
Die pastoor was verbaas oor die kennis wat ek verkry het en het gesê: “Jy het die Skrif goed gebruik. Dit is wat die lidmate van my kerk behoort te kan doen. Hulle behoort van huis tot huis te kan gaan en hulle geloof te kan verdedig net soos jy doen.” Daardie aand het hy en die lidmate van sy kerk 29 Bybelstudiehulpe aanvaar.
JEHOVAH IS MY TOEVLUG
Om sekere geldelike verpligtinge na te kom, het ek werk by die Nigeriese Spoorweë gekry en by ’n ander halfbroer gaan woon. Daar was my vertroue op Jehovah op ’n ander manier beproef.
Ek het ’n toewysing aanvaar op die program van ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies wat vroeg in 1950 in oostelike Nigerië gehou sou word. Dit sou my eerste deel op ’n byeenkomsprogram wees, en ek wou dit beslis nie mis nie. Ek het dus na die hoofklerk van die afdeling waar ek gewerk het, gegaan en om vier dae onbetaalde verlof gevra. Maar hy het my versoek geweier. Ek was so teleurgesteld dat ek my eetlus verloor het. Ek het ’n dag lank niks geëet nie en net tot Jehovah gebid om vir my die weg te open.
Die volgende oggend is ek reguit na die voorman van ons afdeling, alhoewel juniorwerknemers nie toegelaat was om dit te doen nie. Toe ek vir hom gesê het dat ek een van Jehovah se Getuies is, het hy gesê: “Ek moes dit geweet het. Ek het gesien hoe pligsgetrou jy werk, en jy herinner my aan my broer in Engeland wat die enigste Jehovahsgetuie in my familie is. Ons beskou hom as ’n dweper omdat hy geweier het om leër toe te gaan en aan die oorlog deel te neem. Maar hy is die enigste een in die familie wat ons kan vertrou. Dit is goed om een van Jehovah se Getuies by ons in diens te hê.”
Toe het ek vir hom vertel van my begeerte om die byeenkoms by te woon en my versoek om vier dae onbetaalde verlof. Hy het gesê: “Jy sal beslis jou byeenkoms bywoon. Maar jy sal meer as vier dae nodig hê, want dit is ver hiervandaan. Ek sal jou ’n hele week gee. Kom saam met my.” Hy het my na die hoofklerk geneem en gesê: “Jy sal bly wees om te hoor dat een van ons werknemers ’n Jehovahsgetuie is. Hulle is baie opregte, eerlike en hardwerkende mense. Ek wil hê jy moet mnr. Olih sewe dae betaalde verlof gee sodat hy sy byeenkoms kan bywoon.”
’n Ruk later is ek genooi om by die takkantoor van die Wagtoring Bybel en Traktaatgenootskap in Lagos te dien. Hierdie Genootskap is die liggaam met regspersoonlikheid wat deur Jehovah se Getuies gebruik word. Ek het dus in April 1951 ’n lid van Lagos se Bethelgesin geword.
My broer het sy misnoeë hieroor uitgespreek en gesê: “Noudat jy besluit het om uit jou werk te bedank en jou Jehovah te gaan dien, moet jy nooit na my toe terugkom as iets in die toekoms met jou gebeur nie, want ek sal jou beslis nie help nie.” Ek het hom verseker dat ek vertrou het dat Jehovah vir my sou sorg. En dit het Hy beslis gedoen gedurende die 30 jaar wat ek al by Bethel dien. Dit was jare van groot vreugde, vol geleenthede en voorregte.
Dit is geloofversterkend om oor die jare heen terug te kyk en te sien hoedat Jehovah my toevlug was en hoe hy progressief in my behoeftes voorsien het. Dit was by een van ons byeenkomste in 1953 dat ek Francisca, ’n jong Togolese suster, ontmoet het. Nadat ons drie jaar lank gekorrespondeer het, is ons getroud. Sy dien nog steeds saam met my en ondanks gesondheidsprobleme was sy vir my ’n groot bemoediging. My diens het ons deur die lengte en breedte van Nigerië geneem. Ek het die voorreg gehad om groot gehore by ons byeenkomste toe te spreek en reisende evangeliedienaars (kring- en streekopsieners) te onderrig in skole wat gehou is om hulle op te lei.
Ek onthou nog die eerste keer toe ek en Francisca oorsee gegaan het. Dit was in 1969 om ’n internasionale byeenkoms in Londen by te woon. Ek het dit beskou as ’n studiebeurs wat Jehovah se organisasie aan my toegeken het. Hoe kon ek ooit na Londen gereis het as Jehovah se organisasie nie vir my die weg geopen het nie? Sedertdien het ons byeenkomste in baie lande in Europa, Amerika en Afrika bygewoon. En watter voorreg was dit vir ons om in 1976 en 1978 tydelik saam met die Brooklynse Bethelgesin by die wêreldhoofkwartier van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap in New York te woon! Ek is saam met ander takkomiteelede van oor die hele wêreld genooi om gespesialiseerde vergaderinge en opleidingsprogramme by te woon wat gehou is onder die toesig van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies. Wat meer kan ek vra as net om aan ons liefdevolle God, Jehovah, getrou te kan bly?
My diens was nie altyd maklik nie. Ek het te kampe gehad met probleme, beproewings en siektes, en ek was al in ongelukke wat my bang gemaak het. My geloof is beproef. Maar ek het ook baie Christelike kennis en geestelike krag verkry tesame met ongekende vreugde in die diens van Jehovah en my broers.
Jesus se volgende belofte is in my geval bewaarheid: “Daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe.” Ek huldig dieselfde mening as die psalmis wat gesê het: “Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.”—Ps. 91:2; Mark. 10:29, 30.