Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 7/1 bl. 4-7
  • Hoe beskou God die Christendom se aanbidding?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe beskou God die Christendom se aanbidding?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bloedvergieting
  • Hoerery en egbreuk
  • “Verbied om te trou”
  • Jou beskouing van seks—Maak dit saak?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Gee die wêreld se godsdienste die regte leiding?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Is die selibaat ’n vereiste vir Christenbedienaars?
    Ontwaak!—1998
  • Behou God se beskouing van seks
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 7/1 bl. 4-7

Hoe beskou God die Christendom se aanbidding?

“NIE elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie”, het Jesus Christus gesê, “maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir my sê: ‘Here, Here, het ons nie . . . in u naam talle kragtige werke verrig nie?’ En tog sal ek dan openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie! Gaan weg van my, julle werkers van wetteloosheid.”—Matteus 7:21-23.

God het deur middel van sy Woord, die Heilige Bybel, duidelik getoon wat sy wil is. Doen die Christendom se kerke God se wil? Of is hulle “werkers van wetteloosheid” soos Jesus dit gestel het?

Bloedvergieting

Op die aand voor sy Meester se dood, het Petrus amper ’n gewapende konflik begin met die afdeling soldate wat gestuur is om Jesus in hegtenis te neem (Johannes 18:3, 10). Maar Jesus het die vrede herstel en Petrus gewaarsku: “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:52). Hierdie duidelike waarskuwing word in Openbaring 13:10 herhaal. Het die kerke van die Christendom hierop ag geslaan? Of is hulle deels aanspreeklik vir die oorloë wat in verskeie dele van die aarde gevoer word?

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is honderdduisende Serwiërs en Kroate in die naam van godsdiens vermoor. “In Kroasië”, sê The New Encyclopædia Britannica, “het die land se fascistiese regime ’n beleid van ‘rassesuiwering’ gevolg wat selfs erger as dié van die Nazi’s was. . . . Daar is verklaar dat een derde van die Serwiese bevolking gedeporteer, een derde tot Rooms-Katolisisme bekeer en een derde doodgemaak sou word. . . . Die aandeel van die Katolieke geestelikes in hierdie wandade het die verhouding tussen die kerk en die staat ná die oorlog ernstig geskaad.” Tallose mense is gedwing om hulle tot Katolisisme te bekeer of te sterf; duisende ander is nie eers ’n keuse gebied nie. Hele dorpe—mans, vrouens en kinders—is in hulle Ortodokse kerke ingedwing en doodgemaak. Wat van die vyandige Kommunistiese leërs? Het hulle ook godsdienssteun gehad?

“Party priesters het aan die oorlog deelgeneem aan die kant van die revolusionêre magte”, sê die boek History of Yugoslavia. “Die Guerrillaleërs het naderhand selfs priesters van sowel die Serwies-Ortodokse as die Rooms-Katolieke kerke ingesluit”, sê die boek Yugoslavia and the New Communism. Godsdiensverskille blaas steeds die oorlogsvure in die Balkan aan.

En wat van Rwanda? Die hoofsekretaris van die Katolieke Instituut vir Internasionale Betrekkinge, Ian Linden, het in die tydskrif The Month erken: “Ondersoeke deur African Rights in Londen voorsien een of twee voorbeelde van plaaslike Katolieke, Anglikaanse en Baptistekerkleiers wat aan burgermagmoorde aandadig was deur hulle versuim of regstreekse betrokkenheid. . . . Daar bestaan glad en geheel geen twyfel dat ’n aansienlike aantal Christene wat vooraanstaandes in hulle gemeentes is by moorde betrokke was nie.” Ongelukkig word sentraal Afrika steeds deur gevegte tussen sogenaamde Christene geteister.

Hoerery en egbreuk

Volgens God se Woord is daar slegs een eerbare plek vir seks, en dit is binne die huwelik. “Laat die huwelik onder almal eerbaar wees”, sê die Bybel, “en die huweliksbed sonder verontreiniging, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4). Handhaaf kerkleiers hierdie lering van God?

In 1989 het die Anglikaanse Kerk in Australië ’n amptelike dokument oor seksualiteit uitgereik wat te kenne gee dat voorhuwelikse seks nie verkeerd is nie solank ’n paartjie hulle heeltemal tot mekaar verbind het. Meer onlangs het die leier van die Anglikaanse Kerk in Skotland gesê: “Die Kerk moenie buite-egtelike verhoudings as sondig en verkeerd veroordeel nie. Die Kerk moet aanvaar dat egbreuk deur ons gene veroorsaak word.”

In Suid-Afrika het ’n aantal geestelikes hulle ten gunste van homoseksualiteit uitgespreek. Byvoorbeeld, in 1990 het die Suid-Afrikaanse tydskrif You ’n vooraanstaande Anglikaanse geestelike aangehaal wat gesê het: “Die Skrif is nie vir ewig bindend nie. . . . Ek glo daar sal veranderinge in die kerk se gesindheid en beleid ten opsigte van homoseksuele wees.”—Vergelyk Romeine 1:26, 27.

Volgens die 1994 Britannica Book of the Year het seksualiteit ’n groot kwessie in Amerikaanse kerke geword, veral sake soos “die ordening van verklaarde homoseksuele en lesbiërs tot die leraarsamp, die godsdiensbegrip van homoseksuele regte, die inseëning van ‘homoseksuele huwelike’ en die wettigverklaring of veroordeling van lewenswyses wat met homoseksualiteit gepaardgaan”. Die meeste groot kerkgroepe duld geestelikes wat hulle vir groter seksuele vryheid beywer. Volgens die 1995 Britannica Book of the Year het 55 Episkopaalse biskoppe ’n verklaring onderteken wat “bevestig dat homoseksuele gebruike en die ordening van homoseksuele aanvaarbaar is”.

Party geestelikes spreek hulle ten gunste van homoseksualiteit uit en sê dat Jesus hom nooit daarteen uitgespreek het nie. Maar is dit werklik die geval? Jesus Christus het gesê dat God se Woord waarheid is (Johannes 17:17). Dit beteken dat hy God se beskouing oor homoseksualiteit onderskryf het soos dit in Levitikus 18:22 uiteengesit word, wat lees: “Met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie. Dit is ’n gruwel.” Jesus het bowendien hoerery en egbreuk ingesluit onder die ‘goddelose dinge wat van binne af kom en ’n mens verontreinig’ (Markus 7:21-23). Die Griekse woord vir hoerery het ’n breër betekenis as dié vir egbreuk. Dit beskryf alle vorme van geslagsgemeenskap buite die wettige huwelik, onder andere homoseksualiteit (Judas 7). Jesus Christus het sy volgelinge ook gewaarsku dat hulle geen verklaarde Christenleraar moet duld wat die ernstigheid van hoerery verklein nie.—Openbaring 1:1; 2:14, 20.

Watter uitwerking het dit op kerklidmate, veral die jongmense, wanneer hulle godsdiensleiers hulle vir die ordening van homoseksuele en lesbiërs beywer? Word hulle nie hierdeur aangemoedig om met seks buite die huwelik te eksperimenteer nie? Daarenteen spoor God se Woord Christene aan om te “vlug vir die hoerery” (1 Korintiërs 6:18). As ’n medegelowige hom aan so ’n sonde skuldig maak, word hy liefdevol gehelp sodat hy weer God se guns kan geniet (Jakobus 5:16, 19, 20). Maar gestel hierdie hulp word verwerp? Die Bybel sê dat sulke mense nie ‘God se koninkryk sal beërf nie’ tensy hulle berou het.—1 Korintiërs 6:9, 10.

“Verbied om te trou”

Weens die “algemeenheid van hoerery” sê die Bybel dat ‘dit beter is om te trou as om van hartstog te brand’ (1 Korintiërs 7:2, 9). Ondanks hierdie wyse raad word daar van baie van die geestelikes vereis om selibaat, dit wil sê ongetroud, te bly. “Die selibaatsgelofte”, verduidelik Nino Lo Bello in sy boek The Vatican Papers, “word nie verbreek as ’n priester, monnik of non geslagsgemeenskap het nie. . . . Vergifnis van geslagsgemeenskap kan verkry word deur ’n eerlike verklaring in die biegstoel af te lê, terwyl die huwelik van enige priester eenvoudig nie deur die Kerk erken sal word nie.” Het hierdie lering goeie of slegte vrugte voortgebring?—Matteus 7:15-19.

Baie priesters lewe ongetwyfeld ’n sedelik rein lewe, maar ’n groot aantal doen dit nie. Volgens die 1992 Britannica Book of the Year “moes die Rooms-Katolieke Kerk na wat berig is $300 miljoen [R1 100 miljoen] uitbetaal om sake van seksuele molestering deur geestelikes te skik”. Later het die uitgawe van 1994 gesê: “Die dood van ’n aantal geestelikes aan vigs het die aandag gevestig op die teenwoordigheid van homoseksuele priesters en die feit dat ’n buitengewone aantal . . . homoseksuele in die priesterskap belangstel.” Geen wonder die Bybel sê dat dit ’n ‘lering van demone’ is om mense te “verbied om te trou” nie (1 Timoteus 4:1-3). “Volgens party geskiedkundiges”, skryf Peter de Rosa in sy boek Vicars of Christ, “het [die priesterlike selibaat] sedes waarskynlik in groter mate agteruit laat gaan as enige ander instelling in die Weste, met inbegrip van prostitusie. . . . [Dit] was in die reël ’n klad op die Christendom se naam. . . . Die gedwonge selibaat het nog altyd aanleiding gegee tot skynheiligheid onder die geestelikes. . . . ’n Priester kan duisend keer val, maar hy word deur die kerkwet verbied om een keer te trou.”

As ons God se beskouing oor Baälaanbidding in ag neem, is dit nie moeilik om te verstaan hoe hy die verdeelde kerke van die Christendom beskou nie. In die laaste boek van die Bybel word alle vorme van valse aanbidding onder die naam “Babilon die Grote, die moeder van die hoere en van die walglike dinge van die aarde” ingesluit. “In haar”, voeg die Bybel by, “is die bloed van profete en van heiliges gevind, en van almal wat op die aarde doodgemaak is.”—Openbaring 17:5; 18:24.

Gevolglik spoor God almal wat ware aanbidders van hom wil wees aan: “Gaan uit haar uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie, en as julle nie ’n deel van haar plae wil ontvang nie. . . . Haar plae [sal] in een dag . . . kom: dood en verdriet en hongersnood, en sy sal heeltemal met vuur verbrand word, want Jehovah God, wat haar geoordeel het, is sterk.”—Openbaring 18:4, 8.

Nou ontstaan die vraag: Waarheen moet ’n mens gaan nadat jy uit valse godsdiens uitgegaan het? Watter vorm van aanbidding is vir God aanneemlik?

[Venster/Prent op bladsy 5]

AFGODERY

Baälaanbidding het die gebruik van afgode ingesluit. Die Israeliete het die aanbidding van Jehovah met dié van Baäl probeer vermeng. Hulle het selfs afgode in Jehovah se tempel ingebring. God het duidelik getoon hoe hy afgodsaanbidding beskou toe hy Jerusalem en sy tempel vernietig het.

Baie van die Christendom se kerke is vol afgode, hetsy dit in die vorm van ’n kruis, ikone of Maria-beelde is. Wat meer is, baie kerkgangers word geleer om voor hierdie beelde te buig, te kniel of die kruisteken te maak. Daarenteen word ware Christene beveel om te “vlug vir die afgodery” (1 Korintiërs 10:14). Hulle probeer God nie met behulp van stoflike voorwerpe aanbid nie.—Johannes 4:24.

[Erkenning]

Musée du Louvre, Paris

[Venster op bladsy 7]

“Die kerkleier moet onbesproke wees”

HIERDIE uitdrukking kom uit Titus 1:7, volgens die Today’s English Version. Die King James Version lui: “’n Biskop moet onberispelik wees.” Die woord “biskop” is afgelei van ’n Griekse woord wat “opsiener” beteken. Gevolglik moet manne wat aangestel is om die leiding in die ware Christengemeente te neem ooreenkomstig basiese Bybelstandaarde lewe. As hulle dit nie doen nie, moet hulle uit hulle opsienersposisie verwyder word aangesien hulle nie meer “voorbeelde vir die kudde” is nie (1 Petrus 5:2, 3). Hoe ernstig word hierdie vereiste deur die Christendom se kerke opgeneem?

In sy boek I Care About Your Marriage verwys dr. Everett Worthington na ’n opname onder 100 pastore in die staat Virginië, VSA. Meer as 40 persent het erken dat hulle hulle aan die een of ander vorm van hartstogwekkende gedrag skuldig gemaak het met iemand wat nie hulle huweliksmaat is nie. ’n Groot aantal van hulle het egbreuk gepleeg.

“Gedurende die laaste dekade”, sê Christianity Today, “is die kerk herhaaldelik geskok deur openbarings van onsedelike gedrag deur party van sy mees gerespekteerde leiers.” Die artikel “Waarom owerspelige pastore nie herstel moet word nie” het protes aangeteken teen die algemene gebruik in die Christendom om kerkleiers in hulle vorige posisies te herstel kort nadat hulle “skuldig bevind is aan geslagsonde”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel