Is alle vorme van aanbidding vir God aanneemlik?
GOD het die mens met ’n geestelike behoefte—’n behoefte om te aanbid—geskep. Dit is nie iets wat deur middel van evolusie ontwikkel het nie. Dit was van die begin af ’n deel van die mens.
Maar die mensdom het ongelukkig baie verskillende vorme van aanbidding ontwikkel, en dit het oor die algemeen nie ’n gelukkige, verenigde mensegesin voortgebring nie. Pleks daarvan word bloedige oorloë steeds in die naam van godsdiens gevoer. Dit laat die belangrike vraag ontstaan: Maak dit saak hoe ’n mens God aanbid?
Twyfelagtige aanbidding in die ou tyd
Die eertydse nasies wat in die Midde-Ooste gewoon het, voorsien ons van ’n geskiedkundige voorbeeld wat ons help om daardie vraag te beantwoord. Baie het ’n god met die naam Baäl aanbid. Hulle het ook vroulike metgeselle van Baäl, soos Asjera, aanbid. Die aanbidding van Asjera het die gebruik van ’n heilige boomstam ingesluit wat vermoedelik ’n geslagsimbool was. Argeoloë wat in daardie gebied werk, het al talle voorstellings van naak vroue opgegrawe. Hierdie voorstellings, sê The Encyclopedia of Religion, “beeld ’n godin met beklemtoonde geslagsdele uit, wat haar borste ophou” en “waarskynlik . . . Asjera voorstel”. Een ding is gewis, Baälaanbidding was dikwels baie onsedelik.
Dit is dus nie verbasend dat Baälaanbidding seksorgieë ingesluit het nie (Numeri 25:1-3). Sigem, ’n Kanaäniet, het die jong maagd Dina verkrag. Ten spyte hiervan is hy as die eerbaarste man in sy familie beskou (Genesis 34:1, 2, 19). Bloedskande, homoseksualiteit en bestialiteit was iets algemeens (Levitikus 18:6, 22-24, 27). Trouens, die woord “sodomie”, wat homoseksuele beoefen, is afgelei van die naam van ’n stad wat vroeër in daardie deel van die wêreld geleë was (Genesis 19:4, 5, 28). Baälaanbidding het ook bloedvergieting ingesluit. Die Baälaanbidders het immers hulle kinders lewendig in vlammende vure gegooi as ’n offerande aan hulle gode! (Jeremia 19:5). Al hierdie gebruike het met godsdiensleringe verband gehou. Hoe so?
“Die wreedaardigheid, wellus en losbandigheid van Kanaänitiese mitologie”, verduidelik dr. Merrill Unger in sy boek Archaeology and the Old Testament, “was destyds baie erger as op ander plekke in die Nabye Ooste. En die verstommende eienskap van die Kanaänitiese godhede, dat hulle hoegenaamd geen sedelike karakter gehad het nie, moes die slegste eienskappe in hulle aanhangers na vore gebring het en het aanleiding gegee tot die verderflikste gebruike van die tyd, soos heilige prostitusie [en] kinderoffering.”
Was die Kanaäniete se aanbidding vir God aanneemlik? Natuurlik nie. Hy het die Israeliete geleer hoe om hom op ’n rein manier te aanbid. Aangaande die bogenoemde gebruike het hy gewaarsku: “Verontreinig julle nie deur al hierdie dinge nie, want deur al hierdie dinge is die heidene verontreinig wat Ek voor julle uit verdryf. So het die land dan onrein geword; en Ek besoek sy ongeregtigheid daaraan, sodat die land sy inwoners uitspuug.”—Levitikus 18:24, 25.
Rein aanbidding word besoedel
Baie Israeliete het nie God se beskouing oor rein aanbidding aanvaar nie. Hulle het eerder toegelaat dat Baälaanbidding in hulle land voortgesit word. Dit was nie lank nie of die Israeliete is verlei om die aanbidding van Jehovah met dié van Baäl te probeer vermeng. Was hierdie vermengde vorm van aanbidding vir God aanneemlik? Kom ons kyk na wat gedurende die bewind van koning Manasse gebeur het. Hy het altare vir Baäl opgerig, sy eie seun as ’n offerande verbrand en toorkuns beoefen. “Hy het ook ’n gesnede beeld van Asjera wat deur hom gemaak is, in die tempel gesit, waarvan die HERE . . . gesê het: In hierdie huis . . . sal Ek vir ewig my Naam vestig.”—2 Konings 21:3-7.
Manasse se onderdane het die voorbeeld van hulle koning gevolg. Trouens, hy “het hulle verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdelg het” (2 Konings 21:9). Pleks van op die herhaalde waarskuwings van God se profete ag te slaan, het Manasse in so mate moord gepleeg dat hy Jerusalem met onskuldige bloed gevul het. Hoewel Manasse uiteindelik tot inkeer gekom het, het sy seun en opvolger, koning Amon, Baälaanbidding laat herlewe.—2 Konings 21:16, 19, 20.
Mettertyd was daar manlike prostitute in die tempel. Hoe het God hierdie aspek van Baälaanbidding beskou? Deur Moses het hy gewaarsku: “Jy mag geen hoereloon of hondeprys [waarskynlik ’n pederas] in die huis van die HERE jou God as enige gelofte-offer bring nie; want dié altwee is vir die HERE jou God ’n gruwel.”—Deuteronomium 23:17, 18, voetnoot in NW.
Manasse se kleinseun, koning Josia, het die tempel van onsedelike Baälaanbidding gereinig (2 Konings 23:6, 7). Maar daar was geen salf meer aan hulle te smeer nie. Nie te lank ná koning Josia se dood nie, is afgodsaanbidding weer in Jehovah se tempel beoefen (Esegiël 8:3, 5-17). Daarom het Jehovah die koning van Babilon Jerusalem en sy tempel laat vernietig. Hierdie hartseer geskiedkundige feit is bewys dat party vorme van aanbidding nie vir God aanneemlik is nie. Wat van ons tyd?