Uitbreiding met Jehovah se seën
’NTOEWYDINGSPROGRAM op die aand van 18 September 1995 het die feit beklemtoon dat Jehovah God die uitbreiding van sy Getuies by hulle wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, waarlik geseën het.
Meer as 6 000 het na die toewydingsprogram geluister. Hulle het in Brooklyn vergader, waar die program aangebied is, sowel as op ander plekke, waaronder die groot fasiliteite van Jehovah se Getuies naby Patterson en Wallkill, New York, en by hulle takkantoor naby Toronto, Kanada. Diegene wat nie in Brooklyn vergader het nie, het die verrigtinge deur middel van telefoonverbindingslyne gehoor.
’n Hartverblydende program
Die Betheliete, soos die vrywillige werkers genoem word, wat na die program geluister het, het ’n groot deel van die wêreldwye Bethelgesin van meer as 16 400 lede uitgemaak. Hierdie lede dien in omtrent honderd lande, waar hulle Bybellektuur druk en ondersteuningsdienste voorsien vir die meer as 78 600 gemeentes van Jehovah se Getuies in die wêreld.
Daar was groot afwagting toe die toewydingsprogram om 6:30 nm. begin is met ’n lied en daarna ’n gebed deur Karl Klein. Die programvoorsitter, Lloyd Barry, het almal hartlik verwelkom met kort kommentare oor die betekenis van die geleentheid. Albert Schroeder het die week se Wagtoring-studie opgesom, en daarna het Daniel Sydlik oor die tema “Ons heilige diens by Bethel” gepraat. Hierdie eerste sprekers op die program was almal lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies.
Die volgende twee programdele—“Voorsiening in ons toenemende huisvestingbehoeftes, 1974-1995” en “Glanspunte van Bethel se herstel- en bouwerk in Brooklyn”—het glanspunte bevat van die bouwerk of die verkryging van die geboue wat toegewy is. Die opmerkings het die aandag gevestig op die woongebou wat kort tevore voltooi is en waarin ongeveer duisend Betheliete tans woon. Hierdie 115 meter hoë woongebou te Sandsstraat 90 grens aan die drukkerykompleks.
Die hoogtepunt van die program was die toewydingstoespraak deur Milton Henschel, die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap. Hy het die klem gelê op skriftuurlike voorbeelde van geboue wat toegewy is om in Jehovah se diens gebruik te word. Ná ’n lied is die verrigtinge afgesluit met ’n gebed deur Carey Barber, wat ook ’n lid van die Bestuursliggaam is. Maar wat was van die glanspunte van die program?
Die geboue wat toegewy is
Die opsiener van die Bethelwoongeboue, George Couch, het verduidelik dat 17 woongeboue bygevoeg is sedert die laaste toewyding van ’n Bethelwoongebou in Brooklyn op 2 Mei 1969.a Dit was óf nuwe geboue óf geboue wat gekoop en herstel is. Dit was eintlik die toewyding van hierdie 17 woongeboue, van twee kleinerige geboue—wat in die veertigerjare gekoop is, maar in Bethelwoongeboue omskep is—sowel as die fabrieks- en kantoorgeboue wat gebou of gekoop is sedert die toewyding van die uitvoerende kantoor van Jehovah se Getuies op 15 Maart 1982.b
Die grootste van die geboue wat toegewy is, is die een in Furmanstraat 360. Dit is oorspronklik in 1928 gebou en is op 15 Maart 1983 deur Jehovah se Getuies gekoop en heeltemal herstel. Dit het ’n vloerruimte van 93 000 vierkante meter, of bykans nege hektaar. Ander geboue wat in die toewyding ingesluit was, is die fabriek te Pearlstraat 175 en groot garages wat in die laaste jare gebou is.
Waarom meer huisvesting nodig was
In 1969, toe die laaste Bethelwoongebou in Brooklyn toegewy is, was daar ’n hoogtepunt van 1 336 112 Getuies oor die hele wêreld wat die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig het. Maar in 1995 was daar 5 199 895, meer as drie en ’n half keer soveel! Om dus met die toenemende vraag na Bybellektuur tred te hou, het die Bethelgesin in Brooklyn van 1 042 permanente lede in 1969 tot meer as 3 360 lede vermeerder, wat tans in 22 woongeboue woon!
George Couch het bespreek hoe daar vanaf 1974 tot 1995 in die behoefte aan bykomende huisvesting voorsien is. In die vroeë sewentigerjare is etlike verdiepings in die nabygeleë Towers-hotel deur Jehovah se Getuies gehuur om die groeiende Bethelgesin te huisves. In Desember 1973 het Nathan Knorr, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, aan die Bethelkantoor sowel as die Towers-bestuur geskryf en gesê dat die Genootskap van plan is om ‘teen 1 Oktober 1974 uit die Towers-hotel te trek’.
Broer Couch het gesê dat hy geskok was omdat daar geen huisvesting was vir die Betheliete wat in die Towers-hotel gewoon het nie. Die Towers-bestuur was ook geskok, aangesien hulle op die Genootskap se huurgeld staatgemaak het om hulle geldelike verpligtinge na te kom. Die resultaat was dat die Towers-bestuur by Jehovah se Getuies aangedring het om die hotel te koop. “Julle het gegroei nog al die tyd dat ons in die omgewing was”, het hulle gesê, “en julle het die gebou nodig.”
“Dit is vol huurders”, het die Genootskap se verteenwoordigers geantwoord. “As ons dit sou koop, sal ons ons eie mense daarin wil laat woon.”
“Ons sal die gebou vir julle leegmaak”, het die Towers-bestuur belowe. Wel, kort daarna het Jehovah se Getuies die Towers-gebou teen ’n redelike prys gekoop. “Waarom het broer Knorr daardie brief geskryf?” het broer Couch sy gefassineerde gehoor gevra. “Hy het waarskynlik self nie geweet nie, maar dít is hoe die Towers-hotel aan die Wagtoringgenootskap verkoop is.”
Die spreker het ook beskryf hoe Jehovah se Getuies Columbia Heights 97 gekoop het, waar die bekende Margaret-hotel voorheen was en wat net oorkant die straat van die oorspronklike Bethelwoongebou is. Die ligging is ideaal, aangesien dit deur ’n tonnel onder die straat maklik met die Bethelkompleks verbind kon word. In Februarie 1980, toe daar aan die gebou gewerk is, het dit afgebrand. Toe het die eienaar die eiendom aan Jehovah se Getuies verkoop omdat hy probleme ondervind het om ’n nuwe gebou op die perseel op te rig.
Broer Couch het gesê: “Feitlik elkeen van die geboue het ’n interessante geskiedenis wat op een ding dui—dat Jehovah God die een is wat die sigbare organisasie gerig het om daardie besondere gebou aan te skaf.”
Die geskiedenis van Sandsstraat 90
Die nuutste en die grootste woongebou is Sandsstraat 90. Toe die eiendom in Desember 1986 deur Jehovah se Getuies gekoop is, was daar ’n groot fabriek te Jaystraat 160.c Die fabriek is gesloop, en op 30 Augustus 1990 is die Bethelgesin meegedeel dat ’n permit uitgereik is om ’n 30-verdiepingwoongebou op die perseel op te rig.
Tydens ’n onderhoud wat gehou is deur ’n lid van die Bestuursliggaam, Theodore Jaracz, het die Genootskap se fabrieksopsiener in Brooklyn, Max Larson, beskryf hoe toestemming verkry is om die woongebou in Sandsstraat 90 op te rig. Iets baie belangriks het destyds in 1965 gebeur, het broer Larson verduidelik.
Die Genootskap wou destyds ’n tienverdiepingfabriek op ’n blok langs sy ander fabrieke bou, maar daardie blok was slegs vir tweeverdiepinggeboue gesoneer. ’n Argitek het ingestem om die bouplanne vir die voorgenome fabriek te teken, maar hy het gesê: “Ek gaan my nie in die verleentheid bring deur dit aan die raad voor te lê nie.” Hy was daarvan oortuig dat die Raad vir Standaarde en Aansoeke nooit hulle sone-bepalings vir die blok sou verander nie. Toe die bouplanne goedgekeur is, het hy uitgeroep: “Hoe op dees aarde het julle dít reggekry!”
Dit was, het broer Larson verder gesê, omdat nabygeleë blokke, met die herindeling vir ons tienverdiepingfabriek, ook heringedeel is, met inbegrip van die een waarop die gebou te Jaystraat 160 was. En verbasend genoeg, die herindeling het voorsiening gemaak vir ’n hotel. Maar, het broer Larson gesê, dit was iets waarvan niemand ooit kennis geneem het nie—of ten minste nie tot sowat 25 jaar later nie, nadat ons begin soek het na ’n perseel om ’n nuwe Bethelhuis te bou. Toe is die sone-regulasie herontdek!
Broer Larson het verduidelik wat gebeur het: “Toe ons die planne vir ons 30-verdiepingwoongebou geteken en na die boudepartement geneem het, is daar vir ons gesê: ‘Julle kan nie ’n woongebou daar hê nie. Dit is alles vir vervaardiging, en hulle sal nie die indeling ter wille van julle verander nie.’
“‘Hulle hoef dit nie te verander nie’, het ons die beamptes meegedeel. ‘Dit is reeds vir ’n hotel gesoneer.’ Toe hulle die dokumente nagaan, kon hulle dit amper nie glo nie! Wel, dit is hoe ons ons 30-verdiepinggebou gekry het”, het broer Larson afgesluit.
Jehovah se seën is duidelik
’n Bybelpsalmis het geskryf: “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou” (Psalm 127:1). Jehovah se seën rus ongetwyfeld op die boubedrywighede van Jehovah se Getuies om die wêreldwye predikings- en onderrigtingswerk te ondersteun wat Jesus sy volgelinge beveel het om te doen.—Matteus 24:14; 28:19, 20.
Diegene wat bevoorreg was om na die program op 18 September 1995 te luister, was verheug oor die bewyse van sulke seëninge op die uitbreiding by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se knegte. Jehovah se volk kan verseker wees van sy voortdurende seën terwyl hulle voortgaan om te doen wat hy hulle beveel.
[Voetnote]
a The Watchtower, 15 Junie 1969, bladsye 379-82.
c Ontwaak! van 22 Desember 1987, bladsye 16-18.
[Prent op bladsy 23]
SandsStr. 90 • 1995
[Prente op bladsy 24, 25]
Van die ander woongeboue wat toegewy is
Columbia Hts. 97 • 1986
Bossert-Hotel, MontagueStr. 98 • 1983
OrangeStr. 34 • 1945
Standish-Hotel, Columbia Hts. 169 • 1981
LivingstonStr. 67 • 1989
JoralemonStr. 108 • 1988
Towers-Hotel, WillowStr. 79-99. • 1975
[Prente op bladsy 26]
PearlStr. 175 • 1983
AdamsStr. 69 • 1991
FurmanStr. 360 • 1983