Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 4/15 bl. 16-21
  • Waarom ware aanbidding God se seën ontvang

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom ware aanbidding God se seën ontvang
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Watter vrugte moet ware godsdiens voortbring?
  • Die godsdiens van liefde, nie haat nie
  • God seën rein gedrag en suiwer leringe
  • “Die waarheid sal julle vrymaak”
  • ’n Kenmerkende naam
  • Aanbidding wat God se goedkeuring wegdra
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Beoefen suiwer godsdiens sodat jy behoue kan bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Is jou godsdiens werklik vir God welgevallig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Die regte manier om God te aanbid
    Wat kan die Bybel ons leer?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 4/15 bl. 16-21

Waarom ware aanbidding God se seën ontvang

“Loof Jah! Die redding en die heerlikheid en die mag behoort aan ons God, omdat sy oordele waaragtig en regverdig is.”—OPENBARING 19:1, 2.

1. Hoe sal Babilon die Grote aan haar einde kom?

“BABILON DIE GROTE” het in God se oë geval en kom nou voor vernietiging te staan. Bybelprofesie toon dat hierdie wêreldwye godsdienshoer binnekort deur haar politieke minnaars tereggestel gaan word; haar einde sal skielik en vinnig wees. Jesus se openbaring aan Johannes het hierdie profetiese woorde bevat: “’n Sterk engel het ’n klip soos ’n groot meulsteen opgetel en dit in die see geslinger en gesê: ‘So sal Babilon, die groot stad, met ’n vaart neergeslinger word, en sy sal nooit weer gevind word nie.’”—Openbaring 18:2, 21.

2. Hoe sal Jehovah se knegte op Babilon se vernietiging reageer?

2 Die vernietiging van Babilon die Grote sal deur sommige elemente van Satan se wêreld betreur word, maar beslis nie deur God se knegte nie, nie sy hemelse of aardse knegte nie. Hulle vreugdevolle uitroep tot God sal wees: “Loof Jah! Die redding en die heerlikheid en die mag behoort aan ons God, omdat sy oordele waaragtig en regverdig is. Want hy het oordeel voltrek aan die groot hoer wat die aarde met haar hoerery verderf het, en hy het die bloed van sy slawe op haar hand gewreek.”—Openbaring 18:9, 10; 19:1, 2.

Watter vrugte moet ware godsdiens voortbring?

3. Watter vrae moet beantwoord word?

3 Watter soort godsdiens sal oorbly, aangesien die aarde van alle valse godsdiens gereinig gaan word? Hoe kan ons vandag bepaal watter godsdiensgroep die vernietiging van Satan se wêreldryk van valse godsdiens sal oorleef? Wat is die regverdige vrugte wat hierdie groep moet voortbring? Daar is ten minste tien kenmerke waaraan Jehovah se ware aanbidding uitgeken kan word.—Maleagi 3:18; Matteus 13:43.

4. Wat is die eerste vereiste vir ware aanbidding, en hoe het Jesus hierin die voorbeeld gestel?

4 Eerstens, ware Christene moet die soewereiniteit verdedig waarvoor Jesus gesterf het—die soewereiniteit van sy Vader. Jesus het nie sy lewe vir die een of ander politieke, stam-, etniese of maatskaplike saak opgeoffer nie. Hy het sy Vader se Koninkryk voor enige Joodse politieke of revolusionêre strewe gestel. Toe Satan hom wêreldmag aangebied het, het hy hom met hierdie woorde geantwoord: “Gaan weg, Satan! Want daar staan geskrywe: ‘Dit is Jehovah jou God wat jy moet aanbid, en dit is aan hom alleen wat jy heilige diens moet verrig.’” Hy het uit die Hebreeuse Geskrifte geweet dat Jehovah die ware Soewerein oor die hele aarde is. Watter godsdiensgroep ondersteun onmiskenbaar eerder Jehovah se heerskappy as hierdie wêreld se politieke stelsels?—Matteus 4:10; Psalm 83:18, NW.

5. (a) Hoe moet ware aanbidders God se naam beskou? (b) Wat toon dat Jehovah se Getuies daardie naam eer?

5 ’n Tweede vereiste is dat ware aanbidding God se naam moet verheerlik en heilig. Die Almagtige het sy naam Jehovah (wat as Yahweh in sommige Bybelvertalings weergegee word) aan sy volk Israel bekend gemaak, en dit word duisende kere in die Hebreeuse Geskrifte gebruik. Selfs vóór daardie tyd het Adam, Eva en ander die naam geken, hoewel hulle dit nie altyd gerespekteer het nie (Genesis 4:1, NW; 9:26, NW; 22:14, NW; Exodus 6:2, NW). Hoewel die vertalers van die Christendom en die Jodedom gewoonlik die Goddelike naam uit hulle Bybels weggelaat het, het Jehovah se Getuies daardie naam in die New World Translation of the Holy Scriptures die posisie en respek gegee wat dit toekom. Hulle eer daardie naam, net soos wat die vroeë Christene gedoen het. Jakobus het getuig: “Simeon het breedvoerig vertel hoe God vir die eerste keer sy aandag op die nasies gerig het om uit hulle ’n volk vir sy naam te neem. En hiermee stem die woorde van die Profete ooreen, . . . ‘sodat dié wat oorbly van die mense Jehovah ernstig kan soek, tesame met mense van al die nasies, mense oor wie my naam uitgeroep is, sê Jehovah, wat hierdie dinge doen.’”—Handelinge 15:14-17; Amos 9:11, 12.

6. (a) Wat is ’n derde vereiste vir ware aanbidding? (b) Hoe het Jesus en Daniël Koninkryksheerskappy beklemtoon? (Lukas 17:20, 21).

6 ’n Derde vereiste vir ware aanbidding is dat dit God se Koninkryk moet verheerlik as die enigste wetlike en uitvoerbare oplossing vir die mensdom se probleme wat heerskappy betref. Jesus het sy volgelinge leer bid dat daardie Koninkryk moet kom, dat God se heerskappy beheer oor die aarde moet oorneem. Daniël is geïnspireer om aangaande die laaste dae te profeteer: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie. . . . Dit sal al daardie [wêreldse, politieke] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.” Wie het deur hulle lewenswandel in hierdie 20ste eeu getoon dat hulle onverdeelde steun aan daardie Koninkryk gee—die godsdienste van Babilon die Grote of Jehovah se Getuies?—Daniël 2:44; Matteus 6:10; 24:14.

7. Hoe beskou ware aanbidders die Bybel?

7 ’n Vierde vereiste vir God se goedkeuring is dat ware knegte van God die Bybel as God se geïnspireerde Woord moet aanvaar. Hulle sal derhalwe nie slagoffers van hoër kritiek, wat sê dat die Bybel bloot ’n menslike literêre werk is met al die gepaardgaande swakhede, word nie. Jehovah se Getuies glo dat die Bybel God se geïnspireerde Woord is, net soos Paulus vir Timoteus geskryf het: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk.”a Daarom aanvaar Jehovah se Getuies die Bybel as hulle gids, hulle handleiding vir die daaglikse lewe en hulle bron van hoop vir die toekoms.—2 Timoteus 3:16, 17.

Die godsdiens van liefde, nie haat nie

8. Wat is ’n vyfde vereiste vir ware aanbidding?

8 Hoe het Jesus getoon wie sy ware volgelinge sal wees? Sy antwoord bring ons by ’n uiters belangrike vyfde kenmerk van ware aanbidding. Jesus het gesê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34, 35). Hoe het Jesus sy liefde betoon? Deur sy lewe as ’n losprysofferande te gee (Matteus 20:28; Johannes 3:16). Waarom is opregte liefde ’n noodsaaklike eienskap vir ware Christene? Johannes het verduidelik: “Geliefdes, laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want die liefde kom van God . . . Hy wat nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.”—1 Johannes 4:7, 8.

9. Wie het ware liefde betoon, en hoe?

9 Wie het in ons dag hierdie soort liefde betoon ondanks rasse-, nasionale of etniese haat? Wie het die allergrootste toets geslaag, selfs tot in die dood, sodat hulle liefde sou seëvier? Kan ons sê dat dit die Katolieke priesters en nonne is wat, soos erken word, ’n mate van verantwoordelikheid dra vir die menseslagting wat in 1994 in Rwanda plaasgevind het? Is dit die Ortodokse Serwiërs of die Katolieke Kroate wat aan “etniese suiwering” en ander onchristelike dade in daardie burgeroorlog in die Balkan deelneem? Of is dit die Katolieke of Protestantse geestelikes wat oor die afgelope paar dekades vooroordeel en haat in Noord-Ierland aangeblaas het? Jehovah se Getuies kan beslis nie daarvan beskuldig word dat hulle aan enige van hierdie konflikte deelgeneem het nie. Hulle het eerder in gevangenisse en konsentrasiekampe gely, selfs tot in die dood, as om hulle Christelike liefde te versaak.—Johannes 15:17.

10. Waarom bly ware Christene neutraal?

10 ’n Sesde vereiste vir aanbidding wat vir God aanneemlik is, is neutraliteit wat die politieke aangeleenthede van hierdie wêreld betref. Waarom moet Christene neutraal bly wat die politiek betref? Paulus, Jakobus en Johannes gee ons gegronde redes vir hierdie standpunt. Die apostel Paulus het geskryf dat Satan “die god van hierdie stelsel van dinge” is, wat die verstande van die ongelowiges op elke moontlike manier verblind, onder andere deur verdelende politiek. Die dissipel Jakobus het gesê dat “vriendskap met die wêreld vyandskap met God is”, en die apostel Johannes het gesê dat ‘die hele wêreld in die mag van die bose lê’. Daarom kan ’n ware Christen nie sy toegewydheid aan God prysgee deur by Satan se korrupte wêreld van politiek en mag betrokke te raak nie.—2 Korintiërs 4:4; Jakobus 4:4; 1 Johannes 5:19.

11. (a) Hoe beskou Christene oorlog? (b) Watter skriftuurlike grondslag is daar vir hierdie standpunt? (2 Korintiërs 10:3-5).

11 In die lig van die voorafgaande twee vereistes is ’n sewende vanselfsprekend, naamlik dat ware Christenaanbidders nie aan oorloë moet deelneem nie. Aangesien die ware godsdiens ’n wêreldwye broederskap is wat op liefde gegrond is, kan niks daardie “hele gemeenskap van . . . broers in die wêreld” verdeel of ondermyn nie. Jesus het mense liefde geleer, nie haat nie; vrede, nie oorlog nie (1 Petrus 5:9; Matteus 26:51, 52). Dieselfde “bose”, naamlik Satan, wat Kain beweeg het om Abel te vermoor, gaan voort om haat onder die mensdom te saai en konflikte en bloedvergieting op grond van politieke, godsdiens- en etniese verdeeldheid te veroorsaak. Ware Christene ‘leer nie meer om oorlog te maak nie’, ongeag die prys wat hulle daarvoor moet betaal. Hulle het alreeds in figuurlike sin ‘van hul swaarde pikke en van hul spiese snoeimesse gesmee’. Hulle bring die vreedsame vrugte van God se gees voort.—1 Johannes 3:10-12; Jesaja 2:2-4; Galasiërs 5:22, 23.

God seën rein gedrag en suiwer leringe

12. (a) Wat is die agtste vereiste, maar watter godsdiensskeuringe kan jy noem? (b) Hoe het Paulus hierdie agtste vereiste beklemtoon?

12 Christelike eenheid is die agtste vereiste vir ware aanbidding. Die Christendom se verdelende godsdienste het dit egter nie bevorder nie. Talle so genoemde hoofstroomkerke het in ’n verskeidenheid sektes versplinter, en dit het verwarring tot gevolg gehad. Neem byvoorbeeld die Baptistegeloof in die Verenigde State, wat verdeel is tussen die Noordelike Baptiste (Amerikaanse Baptistekerke in die VSA) en die Suidelike Baptiste (Suidelike Baptistekonvensie), asook tientalle ander Baptistegroepe wat as gevolg van skeurings ontstaan het (World Christian Encyclopedia, bladsy 714). Baie verdeeldheid het ontstaan weens verskille oor leerstellings of kerkbestuur (byvoorbeeld Presbiteriaans, Episkopaals en Kongregasionalisties). Die verdeeldheid wat in die Christendom voorkom, word ook in godsdienste buite die Christendom gevind—hetsy dit Boeddhisme, die Islam of Hindoeïsme is. Watter raad het die apostel Paulus die vroeë Christene gegee? “Ek vermaan julle dan nou, broers, deur die naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig moet spreek en dat daar nie verdeeldhede onder julle moet wees nie, maar dat julle paslik verenig kan wees in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang.”—1 Korintiërs 1:10; 2 Korintiërs 13:11.

13, 14. (a) Wat word met die woorde ‘wees heilig’ bedoel? (b) Hoe word ware aanbidding rein gehou?

13 Wat is ’n negende vereiste vir godsdiens wat deur God goedgekeur word? ’n Bybelbeginsel word in Levitikus 11:45 uitgespreek: “Julle [moet] dan heilig wees, omdat Ek heilig is.” Die apostel Petrus het hierdie vereiste herhaal toe hy geskryf het: “Word, in ooreenstemming met die Heilige wat julle geroep het, self ook in julle hele gedrag heilig.”—1 Petrus 1:15.

14 Wat word te kenne gegee deur hierdie vereiste om heilig te wees? Dat Jehovah se aanbidders geestelik en sedelik rein moet wees (2 Petrus 3:14). Daar is geen plek vir onberouvolle, moedswillige sondaars wat deur hulle gedrag Christus se losprysofferande minag nie (Hebreërs 6:4-6). Jehovah vereis dat die Christengemeente rein en heilig gehou word. Hoe word dit gedoen? Deels deur die regterlike proses om diegene uit die gemeente te sit wat dit sal besmet.—1 Korintiërs 5:9-13.

15, 16. Watter veranderinge het baie Christene in hulle lewe aangebring?

15 Voordat hulle die Christelike waarheid geleer het, het baie mense losbandige, genotsugtige, egosentriese lewens gelei. Maar die woord aangaande die Christus het hulle verander, en hulle het vergifnis vir hulle sondes ontvang. Paulus het dit treffend uitgedruk toe hy geskryf het: “Wat! Weet julle nie dat onregverdiges God se koninkryk nie sal beërf nie? Moenie mislei word nie. Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word of mans wat by mans lê of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of afpersers sal God se koninkryk beërf nie. En tog is dit wat party van julle was. Maar julle is skoon gewas.”—1 Korintiërs 6:9-11.

16 Dit is duidelik dat Jehovah diegene goedkeur wat berou toon oor hulle onskriftuurlike gedrag, dit die rug toekeer en ware volgelinge van Christus en sy leringe word. Hulle het werklik hulle naaste so lief soos hulleself en toon dit op baie maniere, soos om te volhard in ’n bediening wat die boodskap van die lewe beskikbaar stel vir almal wat daarna wil luister.—2 Timoteus 4:5.

“Die waarheid sal julle vrymaak”

17. Wat is ’n tiende vereiste vir ware aanbidding? Gee voorbeelde.

17 Jehovah het ’n tiende vereiste vir diegene wat hom in gees en in waarheid aanbid—suiwer leringe (Johannes 4:23, 24). Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Die waarheid van die Bybel maak ons vry van godonterende leerstellings, soos die onsterflike siel, die helse vuur en die vaevuur (Prediker 9:5, 6, 10; Esegiël 18:4, 20). Dit bevry ons van die Babiloniese verborgenheid van die Christendom se “Allerheilige Drie-eenheid” (Deuteronomium 4:35, NW; 6:4, NW; 1 Korintiërs 15:27, 28). Gehoorsaamheid aan Bybelwaarheid maak mense liefdevol, besorg, goedhartig en barmhartig. Die ware Christelike godsdiens het nog nooit wraaksugtige, onverdraagsame inkwisiteurs, soos Tomás de Torquemada, of haatlike oorlogstokers, soos die pouslike aanstigters van die Kruistogte, gesteun nie. Maar Babilon die Grote het hierdie soort vrugte deur die geskiedenis heen voortgebring, ten minste van Nimrod se tyd af tot nou toe.—Genesis 10:8, 9.

’n Kenmerkende naam

18. (a) Wie voldoen aan die tien vereistes vir ware aanbidding en hoe? (b) Wat moet ons almal doen om die seëninge te beërf wat vir ons voorlê?

18 Wie voldoen vandag werklik aan hierdie tien vereistes vir ware aanbidding? Wie word deur ander geken en herken weens hulle onkreukbaarheid en vredeliewendheid? In alle wêrelddele staan Jehovah se Getuies daarvoor bekend dat hulle “geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 15:19; 17:14, 16; 18:36). Jehovah se volk beskou dit as ’n eer om sy naam te dra en sy Getuies te wees, net soos Jesus Christus ’n getroue getuie van sy Vader was. Ons dra daardie heilige naam en is bewus van ons verantwoordelikheid om ooreenkomstig dít wat daardie naam verteenwoordig te lewe. En wat ’n glorieryke vooruitsig lê vir ons, as sy Getuies, voor! Naamlik om deel van ’n gehoorsame, verenigde mensegesin te wees wat die Universele Soewerein in ’n herstelde paradys hier op aarde dien. As ons daardie voorreg wil smaak, moet ons voortgaan om onsself duidelik met ware aanbidding te identifiseer en die naam Jehovah se Getuies met trots te dra “omdat sy oordele waaragtig en regverdig is”!—Openbaring 19:2; Jesaja 43:10-12, NW; Esegiël 3:11.

[Voetnoot]

a Bybelvertalers is nie deur God geïnspireer nie. Vertalings weerspieël uiteraard dalk ’n verskil in begrip van die oorspronklike tale waarin die Bybel opgeteken is.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Hoe beskou Jehovah se knegte Babilon die Grote se vernietiging?

◻ Wat is die sleutelvereistes vir ware aanbidding?

◻ Hoe maak die waarheid jou vry?

◻ Watter spesiale eer het ons as Jehovah se Getuies?

[Prente op bladsy 17]

Jehovah se Getuies verkondig en leer die goeie nuus van God se Koninkryk aan ander

[Prente op bladsy 18]

Ware Christene het nog altyd neutraal gebly wat wêreldse politiek en oorloë betref

[Erkenning]

Vliegtuig: Met vergunning van die Ministry of Defense, London

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel