Loof die Koning van die ewigheid!
“Die HERE is Koning vir ewig en altyd.”—PSALM 10:16.
1. Watter vrae ontstaan met betrekking tot die ewigheid?
DIE ewigheid—wat sou jy sê is dit? Dink jy dat tyd werklik vir ewig kan voortduur? Wel, dit lei geen twyfel dat tyd van alle ewigheid af bestaan nie. Waarom sal dit dan nie ook vir ewig in die toekoms in strek nie? Die Bybel sê met reg dat God “van ewigheid tot in ewigheid” geloof word (Psalm 41:14). Wat beteken hierdie uitdrukking? Ons sal dalk gehelp word om dit te verstaan as ons kyk na ’n verwante onderwerp—die ruimte.
2, 3. (a) Watter vrae aangaande die ruimte help ons om die ewigheid te verstaan? (b) Waarom moet ons die Koning van die ewigheid wil aanbid?
2 Hoe ver strek die ruimte? Het dit enige grense? Tot ongeveer 400 jaar gelede is daar gedink dat ons aarde die middelpunt van die heelal is. Toe het Galileo die teleskoop ontwikkel, wat ’n baie groter blik op die hemele moontlik gemaak het. Galileo kon toe baie meer sterre sien en kon bewys dat die aarde en ander planete om die son wentel. Die Melkweg het nie meer melkerig gelyk nie. Dit was toe al die tyd ’n sterrestelsel met ongeveer honderdmiljard sterre. Ons sal nooit soveel sterre kan tel nie, nie eens in ’n leeftyd nie. Later het sterrekundiges miljarde sterrestelsels ontdek. Hulle strek eindeloos in die ruimte in, so ver as wat die kragtigste teleskope kan sien. Dit wil voorkom asof die ruimte geen grense het nie. Dit is ook waar van die ewigheid—dit het geen grense nie.
3 Die gedagte van die ewigheid gaan blykbaar die mens se beperkte verstand te bowe. Daar is egter Iemand wat dit ten volle verstaan. Hy kan die oneindige triljoene sterre in hulle miljarde sterrestelsels tel, ja, en hy ken selfs hulle name! Hierdie Een sê: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie. Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ’n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie” (Jesaja 40:26, 28). Wat ’n wonderbaarlike God! Hy is beslis die God wat ons wil aanbid!
“Koning tot in ewigheid”
4. (a) Hoe het Dawid waardering uitgespreek vir die Koning van die ewigheid? (b) Tot watter slotsom het een van die geskiedenis se grootste wetenskaplikes gekom wat die oorsprong van die heelal betref?
4 In Psalm 10:16 sê Dawid van die Skepper, God: “Die HERE is Koning vir ewig en altyd.” En in Psalm 29:10 herhaal hy: “Die HERE sit as Koning tot in ewigheid.” Ja, Jehovah is die Koning van die ewigheid! Verder getuig Dawid dat hierdie verhewe Koning die Ontwerper en Maker is van alles wat ons in die ruimte sien, waar hy in Psalm 19:2 sê: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” Ongeveer 2 700 jaar later het die beroemde wetenskaplike sir Isaac Newton met Dawid saamgestem en geskryf: “Hierdie uiters sierlike stelsel van sonne, planete en komete kon alleenlik uit die voorneme en soewereiniteit van ’n verligte en magtige wese voortgespruit het.”
5. Wat het Jesaja en Paulus oor die Bron van wysheid geskryf?
5 Hoe nederig moet dit ons tog laat voel om te weet dat die Soewereine Here Jehovah, wat nie eens deur die uitgestrekte ‘hemel, ja, die hoogste hemel bevat kan word nie’ vir ewig lewe! (1 Konings 8:27). Jehovah, wat in Jesaja 45:18 beskryf word as die een wat “die hemele geskape het . . . wat die aarde geformeer en dit gemaak het”, is die Bron van wysheid wat veels te omvattend is vir die sterflike mens se verstand om te deurgrond. Jehovah het, soos in 1 Korintiërs 1:19 beklemtoon word, gesê: “Ek sal die wysheid van die wyses laat vergaan, en die intelligensie van die intellektuele sal ek opsy stoot.” Hierop het die apostel Paulus in vers 20 gesê: “Waar is die wyse? Waar die skrifgeleerde? Waar die debatteerder van hierdie stelsel van dinge? Het God nie die wysheid van die wêreld dwaas gemaak nie?” Ja, soos Paulus verder in hoofstuk 3, vers 19, gesê het: “Die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God.”
6. Wat toon Prediker 3:11 (NW) aangaande “onbepaalde tyd”?
6 Die hemelliggame is deel van die skepping waarna koning Salomo verwys het: “Alles het [God] mooi gemaak op sy tyd. Selfs onbepaalde tyd het hy in hulle hart gesit, sodat die mensdom nooit die werk wat die ware God gemaak het van die begin tot die einde kan deurgrond nie” (Prediker 3:11, NW). Dit is waarlik in die mens se hart ingeplant om te probeer uitvind wat “onbepaalde tyd”, oftewel die ewigheid, beteken. Maar sal hy ooit sulke kennis kan verkry?
’n Wonderlike lewensvooruitsig
7, 8. (a) Watter wonderlike lewensvooruitsig lê vir die mensdom voor, en hoe kan dit verkry word? (b) Waarom moet ons verheug wees dat Goddelike onderrigting tot in alle ewigheid sal voortduur?
7 Jesus Christus het in gebed aan Jehovah gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Hoe kan ons sulke kennis verkry? Ons moet God se Woord, die Heilige Bybel, bestudeer. Daardeur kan ons juiste kennis van God se grootse voornemens verkry, waaronder die voorsiening van ewige lewe op ’n paradysaarde wat deur middel van sy Seun moontlik gemaak is. Dit sal “die werklike lewe” wees waarvan 1 Timoteus 6:19 praat. Dit sal strook met wat Efesiërs 3:11 beskryf as “die ewige voorneme wat [God] gevorm het in verband met die Christus, Jesus, ons Here”.
8 Ja, ons as sondige mense kan die ewige lewe deur Goddelike onderrigting en geloof in Jesus se losprysofferande verkry. Hoe lank sal hierdie onderrigting voortduur? Dit sal vir ewig voortduur terwyl die mensdom progressief in die wysheid van ons Skepper onderrig word. Jehovah se wysheid het geen perke nie. Die apostel Paulus het dit besef en uitgeroep: “O die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en hoe onnaspeurlik sy weë!” (Romeine 11:33). Dit is inderdaad gepas dat Jehovah in 1 Timoteus 1:17 “die Koning van die ewigheid” genoem word!
Jehovah se wysheid ten opsigte van die skepping
9, 10. (a) Watter grootse skeppingswerke het Jehovah uitgevoer ter voorbereiding van die aarde as sy geskenk vir die mensdom? (b) Hoe word die uitnemende wysheid van Jehovah in sy skeppingswerke weerspiëel? (Sien venster.)
9 Dink aan die wonderlike erfenis wat die Koning van die ewigheid vir ons as mense gegee het. Psalm 115:16 sê vir ons: “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.” Dink jy nie dit is ’n wonderlike geskenk wat aan ons toevertrou is nie? Beslis! En hoe waardeer ons tog nie die uitsonderlike versiendheid waarmee ons Skepper die aarde as ons tuiste voorberei het nie!—Psalm 107:8.
10 Daar het wonderlike dinge op aarde plaasgevind gedurende die ses ‘skeppingsdae’ van Genesis hoofstuk 1, wat elke dag duisende jare lank was. Die eindresultaat van hierdie skeppingswerke van God sou die aarde met ’n groen grastapyt, statige woude en kleurryke blomme bedek. Dit sou wemel van ’n menigte eksotiese seediere, swerms lieflike voëls en ’n geweldige verskeidenheid van mak diere en wilde diere, wat almal “volgens hulle soorte” voortbring. Ná die beskrywing van die skepping van die man en vrou sê Genesis 1:31: “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed.” In wat ’n pragtige omgewing was daardie eerste mense tog! Sien ons nie die wysheid, versiendheid en sorg van ’n liefdevolle Skepper in al hierdie skeppingswerke nie?—Jesaja 45:11, 12, 18.
11. Hoe het Salomo Jehovah se wysheid ten opsigte van die skepping geprys?
11 Iemand wat hom oor die wysheid van die Koning van die ewigheid verwonder het, was Salomo. Hy het herhaaldelik die aandag op die Skepper se wysheid gevestig (Spreuke 1:1, 2; 2:1, 6; 3:13-18). Salomo verseker ons dat ‘die aarde vir ewig bly staan’. Hy het die baie wonders van die skepping waardeer, onder andere die rol wat reënwolke speel om ons aarde te verfris. Hy het dus geskryf: “Al die strome loop in die see, en tog word die see nie vol nie; na die plek waarheen die riviere loop, daarheen loop hulle altyd weer” (Prediker 1:4, 7). Nadat die aarde deur die reën en die riviere verfris is, keer water uit die oseane weer na die wolke terug. Hoe sou hierdie aarde wees en waar sou ons wees sonder hierdie suiwering en die hergebruik van water?
12, 13. Hoe kan ons waardering vir God se skepping toon?
12 Ons waardering vir die balans in die skepping behoort deur dade gesteun te word, soos koning Salomo in die slotwoorde van Prediker gesê het: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg” (Prediker 12:13, 14). Ons moet vrees om enigiets te doen wat God sal mishaag. Ons moet eerder daarna streef om hom met eerbiedige ontsag te gehoorsaam.
13 Ja, dit behoort ons begeerte te wees om die Koning van die ewigheid te loof vir sy wonderlike skeppingswerke! Psalm 104:24 sê: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!” Laat ons vreugdevol saamstem met die laaste vers van hierdie psalm deur by onsself en aan ander te sê: “Loof die HERE, o my siel! Halleluja!”
Die kroon van die aardse skepping
14. In watter opsigte is God se menseskepsele veel uitnemender as die diere?
14 Jehovah se hele skepping is voortreflik. Maar die merkwaardigste aardse skepping is ons—die mensdom. Adam, en toe Eva, is as die hoogtepunt van Jehovah se sesde skeppingsdag voortgebring—’n skeppingswerk veel uitnemender as die visse, voëls en diere! Hoewel baie van hierdie skepsele instinktief wys is, is die mens begaaf met redeneervermoë, ’n gewete wat tussen reg en verkeerd kan onderskei, die vermoë om vir die toekoms te beplan en ’n inherente begeerte om te aanbid. Hoe het al hierdie dinge tot stand gekom? Die mens het nie uit redelose diere geëvolueer nie, maar is eerder na God se beeld geskep. Gevolglik kan slegs die mens die eienskappe weerspiëel van ons Skepper, wat homself geïdentifiseer het as “Jehovah‚ Jehovah‚ ’n barmhartige en goedgunstige God‚ stadig om toornig te word en oorvloedig in liefderyke goedhartigheid en waarheid”.—Exodus 34:6, NW.
15. Waarom moet ons Jehovah nederig loof?
15 Laat ons Jehovah loof en dank vir die uitsonderlike manier waarop ons liggaam ontwerp is. Ons bloedstroom, wat lewensnoodsaaklik is, sirkuleer elke 60 sekondes deur die liggaam. Soos Deuteronomium 12:23 sê, ‘is die bloed in die siel’—ons lewe—iets kosbaars in God se oë. Sterk bene, soepel spiere en ’n gevoelige senustelsel word gekroon deur ’n brein wat baie voortrefliker is as dié van enige dier en wat vermoëns het wat nie deur ’n rekenaar so groot soos ’n wolkekrabber geëwenaar kan word nie. Laat dit jou nie nederig voel nie? Dit behoort (Spreuke 22:4). En dink ook hieraan: Ons longe, stemkas, tong, tande en mond werk saam om menslike spraak in enige van duisende tale voort te bring. Dawid het Jehovah gepas besing met die woorde: “Ek loof U omdat ek so vreeslik wonderbaar gemaak is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed” (Psalm 139:14). Laat ons ons stemme by Dawid s’n voeg en Jehovah, ons wonderlike Ontwerper en God, uit dankbaarheid loof!
16. Watter melodie het ’n beroemde musikus tot lof van Jehovah gekomponeer, en op watter belangrike uitnodiging kan ons reageer?
16 Die libretto van ’n 18de-eeuse oratorium deur Joseph Haydn sê tot lof van Jehovah: “Bring hom dank, o al Sy wonderwerke! Besing Sy eer, besing Sy glorie, seën en verheerlik Sy Naam! Jehovah se lof duur ewig voort, Amen, Amen!” Nog mooier is die geïnspireerde uitdrukkings wat so dikwels in die Psalms herhaal word, soos die uitnodiging wat vier keer in die 107de Psalm verskyn: “Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders.” Bring jy ook hierdie lof? Jy behoort, want Jehovah, die Koning van die ewigheid, is die bron van alles wat waarlik lieflik is.
Nog groter werke
17. Hoe word Jehovah deur ‘die lied van Moses en van die Lam’ geloof?
17 Gedurende die afgelope sesduisend jaar het die Koning van die ewigheid selfs kragtiger werke aan die gang gesit. In die laaste boek van die Bybel, in Openbaring 15:3, 4, lees ons van diegene in die hemel wat oor demoniese vyande geseëvier het: “Hulle sing die lied van Moses, die slaaf van God, en die lied van die Lam en sê: ‘Groot en wonderbaar is u werke, Jehovah God, die Almagtige. Regverdig en waaragtig is u weë, Koning van die ewigheid. Wie sal u nie werklik vrees nie, Jehovah, en u naam nie verheerlik nie, omdat u alleen lojaal is? Want al die nasies sal kom en voor u aanbid, omdat u regverdige verordeninge openbaar gemaak is.’” Waarom word dit ‘die lied van Moses en van die Lam’ genoem? Kom ons kyk.
18. Watter magtige daad word in ’n lied in Exodus hoofstuk 15 verewig?
18 Ongeveer 3 500 jaar gelede, toe Farao se magtige leër in die Rooi See omgekom het, het die Israeliete Jehovah uit dankbaarheid met sang geloof. Ons lees in Exodus 15:1, 18: “Toe het Moses en die kinders van Israel hierdie lied tot eer van die HERE gesing; en dit is wat hulle gesê het: Ek wil sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see gewerp. Die HERE sal regeer vir ewig en altoos.” Die regverdige verordeninge van hierdie Koning van die ewigheid is geopenbaar in sy veroordeling en teregstelling van vyande wat sy soewereiniteit teëgestaan het.
19, 20. (a) Waarom het Jehovah die nasie Israel in aansyn geroep? (b) Hoe het die Lam en ander ’n antwoord op Satan se uitdaging gegee?
19 Waarom het dit nodig geword? In die tuin van Eden het die listige Slang ons eerste ouers laat sondig. Dit het daartoe gelei dat sondige onvolmaaktheid aan die hele mensdom oorgedra is. Die Koning van die ewigheid het onmiddellik in ooreenstemming met sy oorspronklike voorneme opgetree, wat daartoe sou lei dat al sy vyande uit die omgewing van die aarde verwyder en paradystoestande herstel sou word. Die Koning van die ewigheid het die nasie Israel in aansyn geroep en sy Wet voorsien as ’n voorafskaduwing van hoe hy dit sou doen.—Galasiërs 3:24.
20 Mettertyd het Israel egter self in ontrouheid verval, en hierdie jammerlike toestand het ’n laagtepunt bereik toe die nasie se leiers God se enigverwekte Seun aan die Romeine oorgelewer het om wreed gemartel en doodgemaak te word (Handelinge 10:39; Filippense 2:8). Maar Jesus se onkreukbaarheid tot in die dood, as die ‘Offerlam van God’, het ’n oortuigende antwoord gegee op die uitdaging van God se oeroue Teenstander, Satan—naamlik dat geen mens op aarde onder ’n swaar beproewing getrou aan God sal kan bly nie (Johannes 1:29, 36; Job 1:9-12; 27:5). Ten spyte van die onvolmaaktheid wat hulle weens Adam se sonde geërf het, het miljoene ander godvresende mense in Jesus se voetspore gevolg deur hulle onkreukbaarheid te handhaaf ondanks sataniese aanvalle.—1 Petrus 1:18, 19; 2:19, 21.
21. Wat sal, in ooreenstemming met Handelinge 17:29-31, volgende bespreek word?
21 Die dag het nou aangebreek waarop Jehovah daardie getroues gaan beloon en alle vyande van waarheid en regverdigheid gaan oordeel (Handelinge 17:29-31). Hoe sal dit plaasvind? Ons volgende artikel sal ons vertel.
Hersieningsvenster
◻ Waarom word Jehovah tereg “die Koning van die ewigheid” genoem?
◻ Hoe word Jehovah se wysheid in sy skeppingswerke geopenbaar?
◻ In watter opsigte is die mensdom ’n skeppingsmeesterstuk?
◻ Watter werke het tot ‘die lied van Moses en van die Lam’ aanleiding gegee?
[Venster op bladsy 12]
Jehovah se uitnemende wysheid
Die wysheid van die Koning van die ewigheid word op soveel maniere in sy skeppingswerke op aarde weerspiëel. Let op die woorde van Agur: “Elke woord van God is gelouter; Hy is ’n skild vir die wat by Hom skuil” (Spreuke 30:5.). Dan noem Agur baie van die lewende skeppingswerke van God, groot en klein. In verse 24 tot 28 beskryf hy byvoorbeeld “vier dinge wat die kleinste op die aarde is, maar hulle is instinktief wys” (NW). Hulle is die mier, die klipdassie, die sprinkaan en die geitjie.
“Instinktief wys”—ja, die diere is so gemaak. Hulle redeneer nie soos mense nie, maar maak gebruik van wysheid wat in hulle ingeplant is. Het jy jou al ook hieroor verwonder? Wat ’n ordelike skeppingswerk is hulle tog nie! Miere is byvoorbeeld in kolonies georganiseer met onder andere die koningin, werkers en soldate. By sommige soorte jaag die werkermiere selfs plantluise aan na stalle wat hulle gebou het. Daar melk hulle die plantluise terwyl die soldaatmiere enige vyande verdryf. In Spreuke 6:6 vind ons die vermaning: “Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys!” Moet sulke voorbeelde ons as mense nie aanspoor om ‘volop te doen te hê in die werk van die Here nie’?—1 Korintiërs 15:58.
Die mens het groot vliegtuie gebou. Maar hoe veelsydiger is die voëls tog nie, onder andere die kolibrie wat minder as 30 gram weeg! ’n Boeing 747 moet 180 000 liter brandstof dra, deur ’n opgeleide bemanning beheer word en van ingewikkelde navigasiestelsels gebruik maak om oor die see te vlieg. Maar ’n klein kolibrie gebruik net een gram vetbrandstof om van Noord-Amerika af, oor die Golf van Mexiko en tot in Suid-Amerika te vlieg. Geen swaar lading brandstof nie, geen navigasieopleiding nie, geen ingewikkelde kaarte of rekenaars nie! Is hierdie vermoë die gevolg van ’n toevallige evolusieproses? Beslis nie! Hierdie klein voëltjie is instinktief wys omdat sy Skepper, Jehovah God, hom so geprogrammeer het.
[Prent op bladsy 10]
Die verskeidenheid skeppingswerke van “die Koning van die ewigheid” loof sy heerlikheid
[Prent op bladsy 15]
Net soos Moses en die hele Israel Jehovah se oorwinning by die Rooi See gevier het, sal daar groot vreugde ná Armageddon wees