“Loof Jah!”
“Laat alles wat asemhaal Jah loof.”—PSALM 150:6, NW.
1, 2. (a) In watter mate het die ware Christelike godsdiens in die eerste eeu gefloreer? (b) Watter waarskuwing het die apostels vooraf gegee? (c) Hoe het afvalligheid ontwikkel?
JESUS het sy dissipels in die Christengemeente georganiseer, wat in die eerste eeu gefloreer het. Ondanks bitter godsdiensteenstand is die ‘goeie nuus verkondig in die hele skepping wat onder die hemel is’ (Kolossense 1:23). Maar ná die dood van die apostels van Jesus Christus het Satan afvalligheid op ’n listige wyse aangestig.
2 Die apostels het vroeër daarteen gewaarsku. Paulus het byvoorbeeld aan die ouer manne van Efese gesê: “Let op julleself en op die hele kudde, waaronder die heilige gees julle as opsieners aangestel het, om as herders toesig te hou oor die gemeente van God, wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het. Ek weet dat onderdrukkende wolwe ná my vertrek onder julle sal inkom en die kudde nie met teerheid sal behandel nie, en uit julle eie midde sal manne opstaan en verdraaide dinge spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek.” (Handelinge 20:28-30; sien ook 2 Petrus 2:1-3; 1 John 2:18, 19.) In die vierde eeu het die afvallige Christelike godsdiens dus met die magte van die Romeinse Ryk begin saamspan. ’n Paar eeue later het die Heilige Romeinse Ryk, wat bande met die pous van Rome gehad het, oor ’n groot deel van die mensdom begin heers. Mettertyd het die Protestantse Hervorming teen die goddelose oordadighede van die Katolieke Kerk in opstand gekom, maar dit het nie die ware Christelike godsdiens herstel nie.
3. (a) Wanneer en hoe is die goeie nuus aan die hele skepping verkondig? (b) Watter Bybelse verwagtinge is in 1914 verwesenlik?
3 Terwyl die einde van die 19de eeu nadergekom het, was ’n opregte groepie Bybelstudente weer besig om die predikingswerk te doen en om ‘die hoop van die goeie nuus in die hele skepping onder die hemel’ uit te dra. Op grond van hulle studie van Bybelprofesieë het hierdie groep meer as 30 jaar voor die tyd daarop gewys dat 1914 die einde sou wees van “die vasgestelde tye van die nasies”, ’n tydperk van “sewe tye”, of 2 520 jaar, wat met die verwoesting van Jerusalem in 607 v.G.J. begin het (Lukas 21:24; Daniël 4:16, NW). Net soos hulle verwag het, was 1914 ’n keerpunt wat die mens se aangeleenthede op aarde betref. Ook in die hemel het geskiedkundige gebeure plaasgevind. Dit was toe dat die Koning van die ewigheid sy mede-Koning, Jesus Christus, op ’n hemelse troon geplaas het, ter voorbereiding vir die verwydering van alle goddeloosheid van hierdie aarde en die hervestiging van die Paradys.—Psalm 2:6, 8, 9; 110:1, 2, 5.
Aanskou die Messiaanse Koning!
4. Hoe het Jesus die betekenis van sy naam Migael gestand gedoen?
4 In 1914 het hierdie Messiaanse Koning, Jesus, begin optree. In die Bybel word hy ook Migael genoem, wat “Wie is soos God?” beteken, aangesien hy vasbeslote is om Jehovah se soewereiniteit te regverdig. Soos in Openbaring 12:7-12 opgeteken is, het die apostel Johannes in ’n visioen beskryf wat sou gebeur: “Oorlog het in die hemel uitgebreek: Migael en sy engele het teen die draak geveg, en die draak en sy engele het geveg, maar hy het nie geseëvier nie, en ook is daar nie langer vir hulle ’n plek in die hemel gevind nie. Toe is die groot draak neergeslinger, die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei; hy is na die aarde neergeslinger, en sy engele is saam met hom neergeslinger.” Inderdaad ’n groot val!
5, 6. (a) Watter opwindende aankondiging is ná 1914 uit die hemel gedoen? (b) Hoe hou Matteus 24:3-13 hiermee verband?
5 ’n Harde stem in die hemel het toe uitgeroep: “Nou het die redding en die krag en die koninkryk van ons God en die gesag van sy Christus gekom, want die beskuldiger van ons broers, wat hulle dag en nag voor ons God beskuldig, is neergeslinger! En hulle [getroue Christene] het hom oorwin weens die bloed van die Lam [Christus Jesus] en weens die woord van hulle getuienis, en selfs toe die dood hulle in die gesig gestaar het, het hulle nie hulle siele liefgehad nie.” Dit beteken verlossing vir handhawers van onkreukbaarheid, wat geloof beoefen het in Jesus se kosbare losprysofferande.—Spreuke 10:2; 2 Petrus 2:9.
6 Die harde stem in die hemel het verder gesê: “Wees om dié rede bly, o hemele en julle wat daarin woon! Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydperk het.” Die “wee” wat hier vir die aarde voorspel word, het geblyk uit die wêreldoorloë, hongersnode, pessiektes, aardbewings en wetteloosheid wat die aarde gedurende hierdie eeu geteister het. Soos Matteus 24:3-13 toon, het Jesus voorspel dat hierdie dinge deel sou uitmaak van ‘die teken van die voleinding van die stelsel van dinge’. Ter vervulling van hierdie profesie het die mensdom sedert 1914 weë op aarde ervaar soos in geen ander tydperk in die mensegeskiedenis nie.
7. Waarom preek Jehovah se Getuies met ’n gevoel van dringendheid?
7 Kan die mensdom, in hierdie tyd van sataniese weë, hoop vir die toekoms vind? Natuurlik ja, want Matteus 12:21 sê van Jesus: “Ja, nasies sal op sy naam hoop”! Die traumatiese toestande onder die nasies is nie net ‘die teken van die voleinding van die stelsel van dinge’ nie, maar ook ‘die teken van Jesus se teenwoordigheid’ as hemelse Koning van die Messiaanse Koninkryk. Van daardie Koninkryk sê Jesus verder: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Wie is vandag die enigste volk wat die wonderlike hoop van God se Koninkryksheerskappy verkondig? Jehovah se Getuies! Hulle verkondig met ’n gevoel van dringendheid in die openbaar en van huis tot huis dat God se Koninkryk van regverdigheid en vrede op die punt staan om beheer oor aangeleenthede op aarde oor te neem. Neem jy aan hierdie bediening deel? Jy kan geen groter voorreg hê nie!—2 Timoteus 4:2, 5.
In watter sin kom “die einde”?
8, 9. (a) Hoe het oordeel “by die huis van God” begin? (b) Hoe het die Christendom God se Woord ontheilig?
8 Die mensdom het ’n oordeelstydperk betree. Ons word in 1 Petrus 4:17 meegedeel dat die oordeel “by die huis van God” begin het—’n oordeel van verklaarde Christenorganisasies wat duidelik is sedert “die laaste dae” met die slagting van die Eerste Wêreldoorlog gedurende 1914-18 begin het. Hoe het die Christendom in hierdie oordeel gevaar? Wel, beskou die standpunt van die kerke ter ondersteuning van die oorloë sedert 1914. Is die geestelikes nie bevlek met ‘die bloed van die siele van onskuldige armes’ wat hulle tot in die vuurlinie gepreek het nie?—Jeremia 2:34.
9 Volgens Matteus 26:52 het Jesus gesê: “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan.” Hoe waar was dit tog in die oorloë van hierdie eeu! Die geestelikes het jong manne aangespoor om ander jong manne dood te maak, selfs diegene van dieselfde godsdiens—Katoliek wat Katoliek doodmaak en Protestant wat Protestant doodmaak. Nasionalisme is bo God en Christus verhef. In party Afrikalande is etniese bande onlangs belangriker as Bybelbeginsels geag. In Rwanda, waar die grootste deel van die bevolking Katoliek is, is ten minste ’n halfmiljoen mense in etniese geweld uitgemoor. Die pous het in die Vatikaanse koerant L’Osservatore Romano erken: “Dit is deur en deur ’n volksmoord, waarvoor selfs Katolieke ongelukkig verantwoordelik is.”—Vergelyk Jesaja 59:2, 3; Miga 4:3, 5.
10. Watter oordeel sal Jehovah aan valse godsdiens voltrek?
10 Hoe beskou die Koning van die ewigheid godsdienste wat mense aanspoor om mekaar dood te maak of wat geen vinger verroer terwyl die lede van hulle kudde ander lede doodmaak nie? Van Babilon die Grote, die wêreldwye stelsel van valse godsdiens, sê Openbaring 18:21, 24 vir ons: “’n Sterk engel het ’n klip soos ’n groot meulsteen opgetel en dit in die see geslinger en gesê: ‘So sal Babilon, die groot stad, met ’n vaart neergeslinger word, en sy sal nooit weer gevind word nie. Ja, in haar is die bloed van profete en van heiliges gevind, en van almal wat op die aarde doodgemaak is.’”
11. Watter verskriklike dinge gebeur in die Christendom?
11 Ter vervulling van Bybelprofesie het verskriklike dinge al in die Christendom gebeur. (Vergelyk Jeremia 5:30, 31; 23:14.) Grootliks weens die permissiewe gesindheid van die geestelikes is hulle kuddes deurtrek van onsedelikheid. In die Verenigde State, wat veronderstel is om ’n Christennasie te wees, loop omtrent die helfte van alle huwelike op ’n egskeiding uit. Tienerswangerskappe en homoseksualiteit vier hoogty onder kerklidmate. Priesters misbruik klein kindertjies seksueel—en nie net in ’n paar gevalle nie. Daar word gesê dat skikkings in hierdie sake die Katolieke Kerk in die Verenigde State binne ’n dekade ’n miljard dollar (R3,6 miljard) kan kos. Die Christendom het die apostel Paulus se waarskuwing in 1 Korintiërs 6:9, 10 geïgnoreer: “Wat! Weet julle nie dat onregverdiges God se koninkryk nie sal beërf nie? Moenie mislei word nie. Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word of mans wat by mans lê of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of afpersers sal God se koninkryk beërf nie.”
12. (a) Hoe gaan die Koning van die ewigheid teen Babilon die Grote optree? (b) Om watter rede sal God se volk “Halleluja”-kore sing, in teenstelling met die Christendom?
12 Binnekort sal die Koning van die ewigheid, Jehovah, wat deur sy hemelse Veldmaarskalk, Christus Jesus, optree, die groot verdrukking laat losbars. Eerstens sal die Christendom en alle ander vertakkings van Babilon die Grote die voltrekking van Jehovah se oordeel ondergaan (Openbaring 17:16, 17). Hulle het getoon dat hulle nie die redding waardig is wat Jehovah deur Jesus se losprysofferande voorsien het nie. Hulle het God se heilige naam verag. (Vergelyk Esegiël 39:7, NW.) Wat ’n bespotting is dit tog dat hulle “Halleluja”-kore in hulle ryklik versierde godsdiensgeboue sing! Hulle verwyder Jehovah se kosbare naam uit hulle Bybelvertalings, maar hulle besef blykbaar nie dat “Halleluja” “Loof Jah” beteken nie—en dat “Jah” ’n verkorte vorm van “Jehovah” is nie. Dit is gepas dat Openbaring 19:1-6 die “Halleluja”-kore beskryf wat binnekort gesing gaan word ter viering van die voltrekking van God se oordeel oor Babilon die Grote.
13, 14. (a) Watter belangrike gebeure vind volgende plaas? (b) Watter gelukkige vooruitsig het godvresende mense?
13 Volgende is Jesus se ‘koms’ om oordeel uit te spreek en daardie oordeel aan die nasies en volke te voltrek. Hy self het geprofeteer: “Wanneer die Seun van die mens [Christus Jesus] in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met hom, dan sal hy op sy heerlike [oordeels]troon gaan sit. En al die nasies [op die aarde] sal voor hom versamel word, en hy sal die mense van mekaar afskei, net soos ’n herder die skape van die bokke afskei. En hy sal die skape aan sy regterhand sit, maar die bokke aan sy linkerhand. Dan sal die koning vir dié aan sy regterhand sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is, beërf die koninkryk wat van die grondlegging van die wêreld af vir julle berei is’” (Matteus 25:31-34). Vers 46 sê verder dat die bokkeklas “sal weggaan, die ewige afsnyding in, maar die regverdiges die ewige lewe in”.
14 Die Bybelboek Openbaring beskryf hoe die “Koning van die konings en Here van die here”, ons hemelse Here, Jesus Christus, by Armageddon in die stryd sal inry en die politieke en kommersiële elemente van Satan se stelsel sal vernietig. Sodoende sal Christus “die toorn van die gramskap van God die Almagtige” op Satan se hele aardse ryk uitgestort het. Namate hierdie ‘vorige dinge verbygaan’, sal godvresende mense in die glorieryke nuwe wêreld ingaan waar God ‘elke traan van hulle oë sal afvee’.—Openbaring 19:11-16; 21:3-5.
’n Tyd om Jah te loof
15, 16. (a) Waarom is dit noodsaaklik dat ons op Jehovah se profetiese woord ag slaan? (b) Wat toon die profete en apostels moet ons doen om gered te word, en wat kan dit vandag vir menigtes beteken?
15 Daardie dag vir die voltrekking van oordeel is op hande! Dit sal dus goed wees as ons op die profetiese woord van die Koning van die ewigheid ag slaan. Aan diegene wat nog in die leringe en gebruike van valse godsdiens verstrengel is, sê ’n hemelse stem: “Gaan uit haar uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie, en as julle nie ’n deel van haar plae wil ontvang nie.” Maar waarheen moet diegene gaan wat ontvlug? Daar kan net een waarheid wees en gevolglik net een ware godsdiens (Openbaring 18:4; Johannes 8:31, 32; 14:6; 17:3). Ons ewige lewe hang daarvan af dat ons daardie godsdiens vind en die God daarvan gehoorsaam. Die Bybel lei ons in Psalm 83:18 na hom, waar dit sê: “U‚ wie se naam Jehovah is‚ u alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde.”—NW.
16 Maar ons moet nie net die naam van die Koning van die ewigheid ken nie. Ons moet die Bybel bestudeer en van sy wonderlike eienskappe en voornemens leer. Dan moet ons sy wil vir hierdie tyd doen, soos in Romeine 10:9-13 getoon word. Die apostel Paulus het die geïnspireerde profete aangehaal en gesê: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word” (Joël 2:32; Sefanja 3:9). Gered? Ja, want menigtes wat vandag lewe en geloof in Jehovah se losprysvoorsiening deur Christus beoefen, sal deur die komende groot verdrukking heen behoue bly wanneer oordeel aan Satan se verdorwe wêreld voltrek word.—Openbaring 7:9, 10, 14.
17. Watter grootse hoop moet ons beweeg om nou die lied van Moses en van die Lam saam te sing?
17 Wat is God se wil vir diegene wat behoue wil bly? Dit is dat ons nou al saam die lied van Moses en van die Lam sing en die Koning van die ewigheid loof in afwagting van sy oorwinning. Ons doen dit deur ander van sy wonderlike voornemens te vertel. Namate ons begrip van die Bybel toeneem, wy ons ons lewe aan die Koning van die ewigheid toe. Dit sal daartoe lei dat ons tot in alle ewigheid onder die reëling lewe wat hierdie magtige Koning beskryf, soos ons in Jesaja 65:17, 18 lees: “Ek skep nuwe hemele [Jesus se Messiaanse Koninkryk] en ’n nuwe aarde [’n regverdige nuwe mensegemeenskap], en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep.”
18, 19. (a) Wat moet Dawid se woorde in Psalm 145 ons aanspoor om te doen? (b) Wat kan ons met vertroue uit Jehovah se hand verwag?
18 Die psalmis Dawid het die Koning van die ewigheid met hierdie woorde beskryf: “Die HERE is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik” (Psalm 145:3). Sy grootheid is so ondeurgrondelik soos die grense van die ruimte en die ewigheid! (Romeine 11:33). Terwyl ons voortgaan om kennis van ons Skepper op te doen en van sy losprysvoorsiening deur middel van sy Seun, Christus Jesus, wil ons ons ewige Koning al hoe meer loof. Ons wil doen wat Psalm 145:11-13 sê: “Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag, om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk. U koninkryk is ’n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte.”
19 Ons kan vol vertroue verwag dat ons God getrou aan hierdie verklaring sal wees: “U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.” Die Koning van die ewigheid sal ons met teerheid tot aan die einde van hierdie laaste dae lei, want Dawid het ons verseker: “Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose.”—Psalm 145:16, 20.
20. Hoe reageer jy op die Koning van die ewigheid se uitnodiging, soos in die laaste vyf psalms opgeteken is?
20 Elkeen van die laaste vyf psalms in die Bybel begin en eindig met ’n “Halleluja”-uitnodiging. Gevolglik nooi Psalm 146 ons: “Loof Jah! Loof Jehovah, o my siel. Ek sal Jehovah loof gedurende my lewe. Ek sal melodieë sing voor my God solank ek daar is” (NW). Sal jy op daardie beroep ag slaan? Jy wil hom tog sekerlik loof! Mag jy onder diegene wees wat in Psalm 148:12, 13 beskryf word: “Jongelinge en ook jongedogters, oues saam met die jonges—laat hulle die Naam van [Jehovah] loof! Want sy Naam alleen is hoog; sy majesteit is oor aarde en hemel!” Mag ons heelhartig reageer op die uitnodiging: “Loof Jah!” Laat ons die Koning van die ewigheid eenstemmig loof!
Wat is jou kommentaar?
◻ Watter waarskuwing het Jesus se apostels gegee?
◻ Watter besliste optrede het in 1914 begin?
◻ Watter oordele gaan Jehovah eersdaags voltrek?
◻ Waarom is dit nóú die tyd om die Koning van die ewigheid te loof?
[Venster op bladsy 19]
Hierdie katastrofiese tyd van beroering
Baie het al erken dat ’n tyd van beroering vroeg in die 20ste eeu aangebreek het. In die voorwoord van die boek Pandaemonium deur die Amerikaanse senator Daniel Patrick Moynihan, wat in 1993 uitgegee is, sê ’n kommentaar oor “die katastrofe van 1914” byvoorbeeld: “Oorlog het uitgebreek en die wêreld het verander—geheel en al. Daar is vandag net agt state ter wêreld wat in 1914 bestaan het en waarvan die regeringsvorm nie sedertdien deur geweld verander is nie. . . . Van die ongeveer 170 oorblywende state van vandag is party te onlangs gevorm om veel van die hedendaagse beroering te kon ervaar het.” Die tyd sedert 1914 het waarlik katastrofe op katastrofe beleef!
Ook in 1993 is die boek Out of Control—Global Turmoil on the Eve of the Twenty-First Century uitgegee. Die skrywer is Zbigniew Brzezinski, voormalige hoof van die Amerikaanse Nasionale Veiligheidsraad. Hy skryf: “Die begin van die twintigste eeu is in baie werke begroet as die ware begin van die Eeu van Verligting. . . . Strydig met die belofte wat die twintigste eeu ingehou het, het dit die eeu geword waarin die mensdom die meeste bloedvergieting en haat ervaar het, ’n eeu van hallusinêre politiek en van afgryslike slagtings. Wreedheid het in ongekende mate ’n instelling geword, slagting is as ’t ware op groot skaal georganiseer. Die teenstelling tussen die wetenskaplike potensiaal om goeie dinge te vermag en die politieke boosheid wat in werklikheid ontketen is, is skokkend. Die wêreld was nog nooit in die geskiedenis so deurtrek van moord en doodslag nie, nog nooit het dit soveel lewens geëis nie, nog nooit is die vernietiging van mense met sulke onvermoeide inspanning nagejaag ter wille van sulke arrogante, onredelike doeleindes nie.” Hoe waar is dit tog nie!
[Prent op bladsy 17]
Na die oprigting van die Koninkryk in 1914 het Migael Satan en sy hordes na die aarde toe neergeslinger