’n Suksesvolle kampanje met Koninkryksnuus
“WAAROM is die lewe so vol probleme?—Is ’n probleemvrye paradys moontlik?” Dit was die titel van Koninkryksnuus Nr. 34, ’n traktaat met vier bladsye wat gedurende April en Mei verlede jaar wêreldwyd in 139 tale versprei is. “Een van die hoogtepunte van die jaar” is hoe Getuies in Jamaika hierdie velddienskampanje beskryf het. “’n Groot bron van vreugde vir die broers” is wat Getuies in België dit genoem het. Dit was die eerste keer dat Jehovah se Getuies in die Tsjeggiese Republiek die geleentheid gehad het om ’n Koninkryksnuus-traktaat te versprei. Die takkantoor berig: “Die kampanje het ’n gees van ywer en entoesiasme tot gevolg gehad.” Soortgelyke verslae is van baie ander lande gehoor.
Koninkryksnuus Nr. 34 het ’n spesiale boodskap gehad vir diegene wat sug en steun oor die gruwels wat in die naam van godsdiens gedoen word (Esegiël 9:4). Dit het vertroosting gebied vir diegene wie se lewe vol probleme is as gevolg van ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ en waaroor hulle geen beheer het nie (2 Timoteus 3:1). Die traktaat het die aandag op die Bybel gevestig en getoon dat die probleme van die lewe binnekort opgelos sal word. ’n Probleemvrye paradys gaan gewis kom (Lukas 23:43). Baie wat die Koninkryksnuus gelees het, is deur die boodskap daarin oortuig. ’n Man in Togo het vir ’n Getuie gesê: “Wat julle gesê het, kan nie betwis word nie.”
Die verspreiding van hierdie Koninkryksnuus het sonder twyfel buitengewone aandag getrek. In Denemarke het ’n huisbewoner vir ’n Getuie wat vir hom die traktaat aangebied het, gesê: “Ek het so pas uit die Verenigde State teruggekeer. Net voor ek weg is, het iemand julle traktaat vir my aangebied. Ek het nou net hier aangekom, en onmiddellik word dieselfde traktaat in Deens vir my aangebied!”
Entoesiastiese ondersteuning van die kampanje
Jehovah se Getuies in alle wêrelddele het entoesiasties aan die traktaatverspreiding deelgeneem. El Salvador, Haïti, Hongarye, Italië, Nieu-Caledonië, Oostenryk was maar net ’n paar van die talle lande wat gedurende die maande waartydens die Koninkryksnuus versprei is splinternuwe verkondigerhoogtepunte gehad het.
In Zambië het ’n kringopsiener sy driejarige dogtertjie, Deborah, opgelei om lektuur van huis tot huis aan te bied. Deborah het gedurende die kampanje met Koninkryksnuus Nr. 34 meer as 45 traktate versprei. Haar moeder het Bybelstudies begin met van die mense wat die Koninkryksnuus by Deborah geneem het.
In Suid-Afrika het ’n tiener die traktaat vir ’n skoolmaat met die naam Cashia aangebied. Cashia het die traktaat gelees en gesê: “Dis net te wonderlik—ewige lewe op ’n paradysaarde! Waarom is ek nie vantevore hiervan vertel nie?” ’n Bybelstudie is begin. Binne ’n week het Cashia nog ’n traktaat ontvang. Die tweede het van haar Rooms-Katolieke penmaat gekom, wat in Siprus woon. Die penmaat het aan Cashia verduidelik waarom die leringe van die Rooms-Katolieke Kerk vals is en vir haar gesê dat sy van plan is om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer. Dit het natuurlik Cashia se vasberadenheid versterk om met haar studie voort te gaan.
’n Tienjarige seun in Switserland het saam met sy moeder traktate versprei. Hy het ’n eksemplaar vir ’n jong vrou gegee en haar aangespoor om dit noukeurig te lees. Die jong vrou het die seun gevra of hy werklik glo wat die prent op die buiteblad uitbeeld—eindelose lewe op aarde. Wat was die seun se antwoord? “O ja, ek is baie seker.” Die vrou het toe erken dat sy na die ware geloof soek omdat daar te veel teenstrydighede in haar godsdiens is. Tydens ’n herbesoek is ’n Bybelstudie begin.
Onmiddellike reaksies
Soms het die Koninkryksnuus onmiddellik ’n reaksie uitgelok by diegene wat dit gelees het. Nadat ’n 11-jarige meisie in België die traktaat gelees het, het sy vir een van Jehovah se Getuies vertel dat sy winkeldiefstal gepleeg het. Die meisie se moeder wou die saak stilhou, maar die jong meisie se gewete is geraak deur wat sy gelees het, en sy het daarop aangedring om die bestuurder van die winkelsentrum te gaan sien. Die moeder het uiteindelik ingestem dat haar dogter saam met die Getuie na die winkelsentrum kan teruggaan. Die bestuurder was verbaas oor haar bekentenis. Toe hy uitvind dat dit die Koninkryksnuus is wat haar beweeg het om dit te doen, het hy self ’n traktaat geneem om te sien wat so kragtig daarin is. Die meisie het nou ’n progressiewe Bybelstudie.
’n Getuie in Kameroen het ’n Koninkryksnuus by ’n man gelaat en sê: “Toe ons teruggekeer het, het ons gevind dat hy dit reeds onderstreep en ’n aantal vrae gehad het. Ná hy bevredigende antwoorde gekry het, het hy gesê: ‘Dis beslis waar dat godsdiens tot die mensdom se verdriet bygedra het. Julle traktaat het my gehelp om baie dinge te verstaan, maar ek wil graag meer weet.’” Hy het nou ’n gereelde Bybelstudie.
’n Getuie wat in Uruguay van huis tot huis gewerk het, het ’n traktaat by ’n man gelaat. Die Getuie het met sy predikingswerk van huis tot huis voortgegaan en het om die blok gewerk totdat hy by die agterdeur van die man se huis gekom het. Hy was verbaas om te sien dat die man met die traktaat in sy hand vir hom wag. Hy het dit reeds gelees en wou meer inligting hê. ’n Studie is dadelik begin.
Die publiek help met die verspreiding
In Japan het ’n jong Getuie ’n man in sy vyftigerjare genader en die traktaat vir hom gewys. Die man het gevra: “Wat doen jy met daardie pamflet as jy mense teëkom wat nie kan sien nie?” Die Getuie het erken dat hy nie weet nie. Die man het vir hom gesê om ’n oomblik te wag en het in sy huis ingegaan. Hy het teruggekom met ’n eksemplaar van die Koninkryksnuus en gesê: “Ek het reeds daardie pamflet gekry. Ek het gedink dat daar baie interessante en belangrike inligting in is, en daarom het ek dit in braille oorgeskryf. Gee dit asseblief vir mense wat blind is.” Die man het baie ure daaraan bestee om die Koninkryksnuus in braille oor te skryf sodat die blindes ook kon lees wat daarin staan.
In Slowakye het ’n man soveel van die traktaat gehou dat hy 20 afdrukke laat maak het, en hy het hierdie swart-en-wit-afdrukke self versprei. ’n Verkondiger in Switserland het ’n Koninkryksnuus by ’n gesin gelaat en voortgegaan om dit op die boonste verdiepings van die gebou waarin die gesin gewoon het te versprei. Toe hy later afkom, het ’n jong seun van die gesin hom tegemoetgekom en vir nog 19 traktate gevra. Die leerlinge in die seun se skool het die toewysing gekry om oor probleme en die soeke na oplossings te skryf. Hy wou ’n eksemplaar van die Koninkryksnuus vir elkeen van sy klasmaats hê.
Niemand is oorgeslaan nie
Diegene wat aan die kampanje deelgeneem het, het hard probeer om seker te maak dat niemand oorgeslaan word nie. In Nieu-Caledonië het twee Getuies na ’n afgeleë stam se gebied gereis om die Koninkryksnuus te gaan versprei. Op pad soontoe het hulle ’n paadjie gesien wat nie gelyk het asof dit gebruik word nie, maar hulle het nietemin besluit om te gaan kyk of iemand aan die einde daarvan woon. Hulle het die motor agtergelaat en met die paadjie langs geloop, soms deur strome, totdat hulle uiteindelik ’n huis gevind het. ’n Egpaar wat nog nooit van Jehovah se Getuies gehoor het nie, het daar gewoon en ’n Koninkryksnuus geneem. Later het die verkondigers ’n herbesoek gedoen en tot hulle verbasing gevind dat die egpaar die pad en verskeie bruggies reggemaak het sodat die Getuies met hulle motor tot by hulle huis kon ry. ’n Gereelde Bybelstudie is begin.
In Pole moes ’n Getuie verby ’n konstruksieterrein loop om die Koninkryksnuus vir ’n huisbewoner aan te bied. Die werkers het hom dopgehou terwyl hy weer by die bouterrein verbygeloop het. Uiteindelik het een van die werkers na hom geroep en gevra om hulle nie te vergeet nie. Toe hy nader gaan, het hulle stilgestaan en aandagtig na die aanbieding van die traktaat geluister. Hulle het eksemplare van die Koninkryksnuus sowel as tydskrifte en later, tydens ’n herbesoek, boeke geneem.
Honderdmiljoene eksemplare van Koninkryksnuus Nr. 34 is in baie tale versprei. Die boodskap daarin het al klaar ’n kragtige uitwerking op mense gehad. Baie het geleer dat ’n probleemvrye paradys moontlik is. Ons bid dat regskapenes sal aanhou om gehoor te gee en uiteindelik onder “die ootmoediges” sal wees wat “die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede”.—Psalm 37:11.
[Venster op bladsy 31]
Hou aan om tydskrifte te versprei!
April en Mei 1995 is gekenmerk deur ’n uiters suksesvolle kampanje om Koninkryksnuus Nr. 34 te versprei. Gedurende daardie twee maande was daar ook ’n uitstekende verspreiding van Die Wagtoring en Ontwaak! ’n Broer in die Tsjeggiese Republiek vertel byvoorbeeld dat hy in April 250 eksemplare van die Koninkryksnuus en 750 tydskrifte versprei het. In Guadeloupe is Saterdag, 15 April, as ’n spesiale tydskrifdag opsygesit. Byna elke verkondiger in die land het daardie dag aan die bediening deelgeneem! Slowakye het in April ’n nuwe hoogtepunt in tydskrifverspreiding gehad. Soortgelyke verslae is uit baie ander lande ontvang.
Maak gerus April en Mei 1996 spesiale maande vir tydskrifverspreiding. Gemeentes kan spesiale tydskrifdae reël. Individue kan hulppionierdiens doen. Tydskrifverspreiding kan op hierdie en ander maniere aangemoedig word, en sodoende sal die lewensbelangrike boodskap wat in Koninkryksnuus Nr. 34 verskyn het, verder bekend gemaak word. Dan sal Jehovah beslis, net soos verlede jaar, die ywerige gees seën wat ons openbaar.—2 Timoteus 4:22.