Laat julle lig skyn!
UITEINDELIK het die tyd aangebreek vir die bejaarde man om die beloofde Messias te sien! Simeon het deur middel van Goddelike openbaring geweet dat “hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van Jehovah gesien het nie” (Lukas 2:26). Maar hoe opwindend was dit tog toe Simeon die tempel binnegaan en Maria en Josef die baba Jesus in sy arms sit! Hy het God geloof en gesê: “Nou laat u, Soewereine Heer, u slaaf in vrede gaan . . . ; want my oë het u middel tot redding gesien . . . , ’n lig om die sluier te verwyder van die nasies en ’n heerlikheid van u volk Israel.”—Lukas 2:27-32; vergelyk Jesaja 42:1-6.
Jesus was, van sy doop op die ouderdom van 30 tot sy dood, ’n “lig” vir die wêreld. Op watter maniere? Hy het geestelike lig uitgestraal deur God se Koninkryk en voornemens te verkondig. Hy het ook valse godsdiensleringe blootgelê en werke wat tot die duisternis behoort duidelik geïdentifiseer (Matteus 15:3-9; Galasiërs 5:19-21). Daarom kon Jesus tereg sê: “Ek is die lig van die wêreld.”—Johannes 8:12.
Jesus het in die jaar 33 G.J. gesterf. Het die lig toe opgehou skyn? Hoegenaamd nie! Terwyl Jesus nog op die aarde was, het hy vir sy dissipels gesê: “Laat julle lig . . . voor die mense skyn” (Matteus 5:16). Jesus se volgelinge het gevolglik ná sy dood die lig voortdurend laat skyn.
In navolging van Jesus weerspieël Christene vandag Jehovah se lig deur aan die predikingswerk deel te neem. Hulle “gaan voort om as kinders van die lig te wandel” en is skitterende voorbeelde van die Christelike lewenswyse.—Efesiërs 5:8.