Regverdigheid verhef ’n nasie
WATTER vreugde is dit tog om ná dae lange reën wakker te word en die son uit ’n wolklose hemel te sien skyn! Die aarde is verfris, en nou kan die plante welig groei. Jehovah God het eenkeer so ’n beeld gebruik om die seëninge van regverdige heerskappy toe te lig. Hy het vir koning Dawid gesê: “’n Heerser oor mense, ’n regverdige, ’n heerser in die vrees van God, is soos die môrelig by sonsopgang, ’n môre sonder wolke as deur die glans ná die reën grasspruitjies uit die aarde uitkom.”—2 Samuel 23:3, 4.
God se woorde is bewaarheid gedurende die regverdige heerskappy van Dawid se seun, koning Salomo. Die Bybel deel ons mee: “Juda en Israel [het] veilig gewoon . . . , elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan tot Berseba, al die dae van Salomo.”—1 Konings 4:25.
Die eertydse Israel was God se uitverkore nasie. Hy het vir hulle sy wette gegee en vir hulle gesê dat hy hulle “bo al die nasies van die aarde” sal stel as hulle sy stem gehoorsaam (Deuteronomium 28:1). Dit was nie Israel se eie regverdigheid wat hulle verhef het nie, maar Jehovah se regverdigheid. Die gebooie wat God hulle gegee het, was ver verhewe bo die wette van die nasies om hulle. As ’n volk was hulle net so onvolmaak soos al daardie nasies. Die feit dat hulle bo die nasies verhef is, is dus toe te skryf aan Jehovah se verhewe Wet en hulle streng onderhouding daarvan. Wanneer hulle Jehovah se wette gehoorsaam het, het hulle sy guns en seën geniet. Koning Salomo het dit gedurende sy heerskappy ondervind. Hy kon sê: “Regverdigheid verhef ’n nasie, maar”, het hy gewaarsku, “sonde is iets skandeliks vir nasionale groepe.”—Spreuke 14:34, NW.
Ongelukkig is die nasie Israel se posisie weens herhaaldelike ongehoorsaamheid verneder. Die hele nasie is in die skande gedompel. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat hulle permanent verwerp is ten gunste van ’n nuwe geestelike nasie.—Matteus 21:43.
Geestelike Israel
By ’n vergadering van die Christenbestuursliggaam in Jerusalem het Jakobus, ’n gebore Jood, onder inspirasie gesê dat God “sy aandag op die nasies gerig het om uit hulle ’n volk vir sy naam te neem” (Handelinge 15:14). Die apostel Paulus het hierdie nuwe Christennasie “die Israel van God” genoem (Galasiërs 6:16). Aangaande die doel van hulle roeping het Petrus geskryf: “Julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit, sodat julle die voortreflikhede alom bekend moet maak’ van die een wat julle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het” (1 Petrus 2:9). As God se uitverkore volk moes hulle as ligte in die wêreld skyn. Jehovah se regverdigheid sou hulle verhef.—Filippense 2:15.
Die keuring van hierdie geestelike Israeliete kan met die delf van diamante vergelyk word. Wanneer ryk, diamanthoudende erts na die oppervlak gebring word, lewer dit moontlik net 1 karaat (200 mg) vir elke 3 ton grond. ’n Metode wat vroeër gebruik is om die diamante te skei, het behels dat die erts met water gemeng en oor ghriestafels gespoel is. Diamante is waterwerend, en dit klou aan die ghries vas terwyl die ongewenste materiaal weggewas word. Op hierdie stadium was dit nog ruwe diamante. Maar wanneer hulle geslyp en gepoleer is, het hulle lig in alle rigtings weerkaats.
Soos waterwerende diamante wat geen deel van die stowwe om hulle is nie, is Jehovah se volk afgeskeie van hierdie wêreld (Johannes 17:16). Toe hulle aanvanklik na die lig toe gebring is, het hulle dalk nie geskitter nie. Maar Jehovah se Woord en gees skep in hulle ’n nuwe persoonlikheid, en hulle skyn as ligte in hierdie wêreld. Dit is vanweë Jehovah se regverdigheid dat hulle verhef word en die glorieryke lig van Koninkrykswaarheid in alle rigtings weerkaats, nie vanweë hulle eie regverdigheid nie.
Maar vanaf die laaste deel van die eerste eeu G.J. het afvalligheid in die gemeentes ingesluip en baie mense beïnvloed. Sogenaamde Christene het met die nasies van die wêreld vermeng geraak en kon nie van die wêreld om hulle onderskei word nie.
Vandag is ’n getroue oorblyfsel van geestelike Israeliete in Jehovah se guns herstel. Hulle het hulle van die wêreld afgeskei en hulle “van elke verontreiniging van die vlees en die gees” gereinig (2 Korintiërs 7:1). Omdat hulle rein en onberispelik voor Jehovah is, ondersteun hulle sy regverdigheid. Dit het hulle bo die nasies van die wêreld verhef tot ’n hoë posisie waar hulle sy guns geniet. Deur hulle ywerige verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk is ’n groot internasionale skare na Jehovah toe getrek en het hulle deel van sy volk geword.—Openbaring 7:9, 10.
Die wêreld kan die verskil sien
Wêreldse owerhede prys met tye die gedrag van God se knegte. ’n Hele ruk gelede het die hoofsekuriteitsbeampte by die Pretoria-Skouterrein kommentaar gelewer oor die gedrag van Jehovah se Getuies, van alle rasse, wat daardie fasiliteite vir hulle jaarlikse streekbyeenkomste gebruik. Hy het onder meer geskryf: “Elkeen was en is beleef, hulle is mense wat mooi met mekaar praat en die gesindheid wat die afgelope paar dae geopenbaar is—dit alles getuig van watter kaliber die lede van julle genootskap is, en dat julle almal soos een gelukkige gesin saamleef.”
Jehovah se volk kan tot die regverdigheid van sy nasie bydra, nie net by sulke groot samekomste nie, maar ook in hulle private lewe. Die Suid-Afrikaanse tak van die Wagtoringgenootskap het byvoorbeeld ’n brief ontvang van ’n dame in Johannesburg wat sê: “Ek het verlede week met my beursie bo-op my motor weggery. Dit het in Jan Smutslaan afgeval en ’n lid van julle gemeente, mnr. R—, het dit met alles wat daarin was, opgetel, my geskakel en dit aan my terugbesorg. . . . Ek waardeer werklik hierdie eerlikheid wat so ’n skaars eienskap in hedendaagse tye geword het en prys julle gemeente vir die beginsels wat julle neergelê het en waarby julle lede bly.”
Ja, as Jehovah se volk by sy regverdige beginsels bly, staan hulle uit as anders as die wêreld. Omdat hulle Jehovah se regverdigheid aan die dag lê, word opregte persone na die Christengemeente aangetrek. Dit is natuurlik om aangetrek te word na iets wat skoon en rein is. ’n Vreemdeling het byvoorbeeld ’n ruk gelede ’n vergadering van Jehovah se Getuies in Zürich, Switserland, bygewoon en gesê dat hy ’n lid van die gemeente wil word. Hy het verduidelik dat sy suster weens onsedelikheid uit die gemeente gesit is en het bygevoeg dat hy by ’n organisasie wil aansluit wat “nie slegte gedrag duld nie”. Selfs die New Catholic Encyclopedia erken dat Jehovah se Getuies bekend is as “een van die groepe met die beste maniere ter wêreld”.
Terwyl regverdigheid ’n mens verhef, kan sonde skande oor jou goeie naam bring, veral as ernstige oortreding in die gemeenskap bekend word. Die Christengemeente moet soms die skande dra wanneer individuele lede growwe sonde pleeg. Die getroue lede van die gemeente kan natuurlik die goeie naam van die gemeente verdedig deur te toon dat die oortreder op ’n barmhartige wyse gedissiplineer is, dit wil sê in harmonie met skriftuurlike beginsels. As iemand sonde beoefen en weier om berou te toon, sal hy van die gemeente afgesny word—uitgesit word.—1 Korintiërs 5:9-13.
Waarom sommige uitgesit word
Hoewel duisende elke jaar uit die Christengemeente gesit word, is dit slegs ’n klein persentasie van die bykans vyfmiljoen Getuies in die wêreld. Waarom moet daar so drasties teen enigeen in die Christengemeente opgetree word? Die aard van die oortreding is een van die bepalende faktore. Of die oortreder opregte berou het oor die ernstige sonde wat hy gepleeg het, is egter ’n belangriker faktor. As hy waarlik berouvol is, hom in hartgrondige gebed tot Jehovah gewend en vergifnis gesmeek het vir die sonde wat hy teen Hom gepleeg het en hulp van die verantwoordelike manne in die gemeente gevra het, kan hy gehelp word om weer God se guns te verkry en deel van die gemeente te bly.—Spreuke 28:13; Jakobus 5:14, 15.
Wanneer ’n kind wat ’n goeie, gesonde verhouding met sy vader het iets doen wat die vader bedroef, moet albei vinnig optree om daardie kosbare verhouding te herstel. Toe ons ons lewe aan Jehovah toegewy het, het ons eweneens ’n uiters kosbare verhouding met hom aangeknoop. Wanneer ons iets doen wat ons Hemelse Vader bedroef, moet ons derhalwe vinnig optree om daardie verhouding met hom te herstel.
Gelukkig het party van dié wat in ’n uitgesette toestand was die gelykenis van die verlore seun ter harte geneem. Jehovah word hier met ’n liefdevolle Vader vergelyk wat bereid is om ’n berouvolle sondaar terug te neem as daardie persoon hom bekeer en God om vergifnis smeek (Lukas 15:11-24). Om opregte, hartgrondige berou te hê en om slegte dinge die rug toe te keer, is ’n manier om weer Jehovah se guns te verkry en na die Christengemeente terug te keer. Sommige berouvolle oortreders wat verbrysel gevoel het onder hulle skuldelas is beweeg om berou te hê en stappe te doen om na die liefdevolle milieu van die Christengemeente terug te keer. Hulle het dus Jehovah se woorde in Jesaja 57:15 begin waardeer.
In ’n poging om persone te verhinder om tot Jehovah se liefdevolle sorg terug te keer, wil Satan graag voorgee dat daar geen vergifnis is vir sondes wat gepleeg is nie. Maar die losprysofferande van Christus Jesus is voldoende om die sondes te bedek van enigeen wat berou toon—ja, selfs “die hele wêreld” se oorgeërfde sondigheid (1 Johannes 2:1, 2). Die een sonde wat nie deur die losprys bedek word nie, is sonde teen God se heilige gees, wat daarop neerkom dat iemand opsetlik teen die werking van God se gees rebelleer, soos die growwe sondes van Judas Iskariot en baie van die skrifgeleerdes en Fariseërs.—Matteus 12:24, 31, 32; 23:13, 33; Johannes 17:12.
Hou Jehovah se regverdigheid hoog
Sedert die oorblyfsel van geestelike Israeliete in 1919 in Jehovah se guns herstel is, het hulle al hoe meer verhewe geraak bo die wêreld om hulle. Dit is nie vanweë hulle eie goedheid nie, maar omdat hulle hulle gewillig aan Jehovah se wette en standaarde onderwerp. Gevolglik is miljoene van Christus se “ander skape” aangetrek om met geestelike Israel as lojale metgeselle te assosieer (Johannes 10:16). Hierdie mense bring heerlikheid en eer aan Jehovah in ’n wêreld wat ver van God se regverdige standaarde verwyderd is. Dit is soos die Suid-Afrikaanse tydskrif Personality eenkeer gesê het: “Dit lyk of Jehovah se Getuies oorloop van goeie eienskappe en bykans vry is van die kwaad.”
Om hierdie verhewe posisie in ’n goddelose wêreld te handhaaf, moet elke individuele lid van die Christengemeente ’n rein, onberispelike lewe voor Jehovah lei. In die Bybel word Jehovah se hemelse organisasie deur rein dinge afgebeeld. Dit word gesien as ’n pragtige vrou wat met die son geklee is en die maan onder haar voete het (Openbaring 12:1). Die Nuwe Jerusalem word beskryf as ’n heilige, pragtige stad (Openbaring 21:2). Die getroue lede van die bruid van Christus word “blink, skoon, fyn linne” gegee (Openbaring 19:8). Lede van die groot skare word uitgebeeld as “geklee in lang wit gewade” (Openbaring 7:9). Mense wat tot regverdigheid neig, word na ’n rein organisasie aangetrek. In teenstelling hiermee is Satan se organisasie onrein. Sy godsdiensstelsel word uitgebeeld as ’n hoer, en diegene buite die heilige stad word beskryf as vuil, onrein.—Openbaring 17:1; 22:15.
Die ewige lewe word aan regverdiges belowe. Die versamelde mense wat Jehovah se regverdigheid hoog hou, het die vooruitsig om die einde van hierdie goddelose stelsel te oorleef. “Die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil”, belowe God in Spreuke 1:33.
Hoe opwindend sal dit tog wees wanneer die Grotere Salomo, Christus Jesus, oor daardie nuwe wêreld in regverdigheid heers, in die vrees van Jehovah! (2 Petrus 3:13). Dit sal soos die môrelig by sonsopgang, ’n môre sonder wolke wees. Al die bewoners van die aarde sal in veiligheid woon, elkeen sal as ’t ware onder sy eie wingerdstok en vyeboom sit. Die regverdige mensegemeenskap sal die aarde verfraai en sy regmatige plek in die heelal inneem tot die ewige lof van ons God, Jehovah.—Miga 4:3, 4; sien ook Jesaja 65:17-19, 25.
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Garo Nalbandian