Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 12/1 bl. 28-31
  • “Waar kom die geld vandaan?”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Waar kom die geld vandaan?”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die voorbeeld van eertydse Israel
  • Die behoefte vandag
  • Wat word van die geld?
  • Jehovah sal jou beloon
  • Hoe party tot die Koninkrykspredikingswerk bydra
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • “Eer Jehovah met jou waardevolle dinge”—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Die Gewer van “elke goeie gawe”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Waarom moet ons vir Jehovah gee?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 12/1 bl. 28-31

“Waar kom die geld vandaan?”

MENSE wat die Wagtoringgenootskap se video “Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name” gesien het, is beïndruk. Hulle sien netjiese mans en vrouens van verskillende rasse en agtergronde, wat glimlaggend en in eenheid saamwerk. Dit is nie net die duisende gelukkige werkers wat hulle opval nie, maar ook die groot gebouekompleks by die Genootskap se hoofkwartier in Brooklyn en by hulle plase in Wallkill, New York. Die video wys dat die nuutste tegnologie in hierdie geboue gevind kan word—sneldruk- en -bindtoerusting wat elke maand miljoene publikasies produseer, ’n groot verskeidenheid rekenaartoerusting en al die steundienste wat daarmee gepaardgaan.

Dit is duidelik dat baie geld hier bestee word. Daarom vra party: “Waar kom die geld vandaan?”

Besoekers aan die Genootskap se wêreldhoofkwartier is net so beïndruk. Hulle rek hulle nekke om na die nuwe woongebou van 30 verdiepings te kyk, en dit is maar een van die baie geboue wat gebruik word om die meer as 3 000 vrywillige bedienaars wat daar werk te huisves. ’n Besoek aan die nuwe Wagtoring-onderrigsentrum wat ongeveer 110 kilometer noord van Brooklyn lê, laat baie verwonderd staan. Hoewel dit steeds in aanbou is, huisves dit sowat 1 200 werkers. Twee sendelingklasse sal elke jaar daar opgelei en na hulle toewysings in die buiteland gestuur word. Riglyne word ook hiervandaan aan die meer as 10 000 gemeentes van Jehovah se Getuies in die Verenigde State gegee. Baie takkantore regoor die wêreld het hulle fasiliteite onlangs vergroot of is besig om dit te doen. Dit verg groot somme geld om al hierdie dinge te doen. Mense vra: “Waar kom die geld vandaan?”

Die antwoord is dat dit van gewone mense soos enige van ons kom. Hulle is wêreldwyd mense wat alles moontlik wil doen om die lewensbelangrike Christelike predikings- en onderrigtingswerk te bevorder. So ’n gewillige gees is nie uniek in die geskiedenis nie.

Die voorbeeld van eertydse Israel

Meer as 3 500 jaar gelede het daar ’n behoefte aan milde bydraes ontstaan. Jehovah het Moses die opdrag gegee om ’n tabernakel, of “tent van samekoms”, te laat oprig wat in Sy aanbidding gebruik sou word. Die godgegewe ontwerp het ’n verskeidenheid kosbare items geverg. Jehovah het beveel: “Neem van julle besittings ’n offergawe aan die HERE. Laat elkeen wat gewillig is in sy hart, dit bring, die offergawe van die HERE” (Exodus 35:4-9). Hoe het die volk gereageer? Die verslag sê vir ons: “Elkeen wie se hart hom opgewek en elkeen wie se gees hom aangedryf het, het gekom: hulle het die offergawe van die HERE gebring vir die werk aan die tent van samekoms en vir sy hele bediening en vir die heilige klere.” Hierdie “vrywillige offergawes” het gaandeweg so groot geword dat dit baie ‘meer was as wat nodig was vir die uitvoering van die werk wat die HERE beveel het’ (Exodus 35:21-29; 36:3-5). Wat ’n onselfsugtige, vrygewige gees het die volk tog geopenbaar!

Minder as 500 jaar later is die Israeliete weer eens gevra om milde bydraes te maak. Koning Dawid se begeerte om ’n permanente huis vir Jehovah in Jerusalem te bou, sou binnekort deur sy seun Salomo verwesenlik word. Dawid het self ’n groot deel van wat benodig sou word, bymekaargemaak en bygedra. Ander het ook ’n aandeel hieraan gehad toe Dawid gevra het dat “’n offer aan die HERE” gebring moet word. Die gevolg? “Die volk was bly oor hulle gewilligheid, want met ’n volkome hart het hulle vrywillig aan die HERE gegee, en ook koning Dawid was baie bly” (1 Kronieke 22:14; 29:3-9). Net die silwer en goud sou teen die huidige pryse omtrent R180 miljard werd wees!—2 Kronieke 5:1.

Ons sien uit hierdie voorbeelde dat niemand gedwing is om te gee nie. Dit is slegs “vrywillig” en “met ’n volkome hart” gedoen. Jehovah sou met niks minder tevrede gewees het nie. Toe die geleentheid ontstaan het om geld by te dra om behoeftige Christene te help, het die apostel Paulus geskryf dat dit eweneens nie iets moes wees wat “afgepers is” nie. Hy het verder bygevoeg: “Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.”—2 Korintiërs 9:5, 7.

Die behoefte vandag

Is bydraes vandag nodig? Ja, dit is, en dit sal met verloop van tyd nodiger word. Waarom?

Christene het spesifieke instruksies met betrekking tot hierdie tyd van die einde ontvang. Jesus het sy dissipels beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”—Matteus 28:19, 20.

Dit verg baie tyd en middele om hierdie groot onderrigtings- en predikingswerk te verrig namate ons immer nader aan die klimaks van “die voleinding van die stelsel van dinge” beweeg. Waarom? Weens alles wat die verkondiging van die boodskap van God se Koninkryk “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” behels (Handelinge 1:8). Die meeste mense ken nie die Skrif so goed soos die eerste-eeuse Jode nie. Trouens, talle van die aarde se bewoners is glad nie eers vertroud met die Bybel nie en beskou dit nie as die Woord van God nie. Predikers moet opgelei en na verafgeleë lande gestuur word (Romeine 10:13-15). En dink aan die aantal tale wat hierby betrokke is! Diegene vir wie gepreek word, het Bybels en Bybelpublikasies nodig wat hulle in hulle eie taal kan lees en bestudeer. Om almal stelselmatig te bereik en hulle geleidelik tot geestelike volwassenheid te help vorder sodat hulle ander weer kan help, vereis grootskaalse organisasie.—2 Timoteus 2:2.

Jesus het gesê dat die “goeie nuus van die koninkryk” eers “in die hele bewoonde aarde verkondig [moet] word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Dit is dus nou die tyd om soveel moontlik van ons middele te gebruik om hierdie noodsaaklike werk gedoen te kry. Só kan ons middele ten beste benut word voordat materiële rykdom geen praktiese waarde meer het nie.—Esegiël 7:19; Lukas 16:9.

Wat word van die geld?

Die Wagtoringgenootskap publiseer Bybellektuur in meer as 230 tale, asook in braille vir die blindes en op video’s in vingertaal vir die dowes. Dit verg spanne vertalers en proeflesers in elke taal. Die blote gedagte aan al hierdie werk wat gedoen word, veral met Die Wagtoring wat elke maand in 121 tale uitgegee word, waarvan 101 gelyktydig verskyn, is eenvoudig oorweldigend. Maar dit is noodsaaklik sodat mense aardwyd dieselfde inligting kan hê en kan lees. Die prys van papier en ander materiale wat gebruik word om die Koninkryksboodskap in gedrukte vorm of deur middel van oudio- of video-opnames te voorsien, styg elke jaar. Sulke onkoste moet gedek word deur die bydraes van die broers te gebruik.

Die predikings- en onderrigtingswerk word gedoen in gebiede wat wêreldwyd deur meer as 75 000 gemeentes van Jehovah se Getuies gedek word. Om hulle te verenig en aan te moedig, word elke gemeente omtrent twee keer per jaar deur opgeleide reisende opsieners besoek. Byeenkomste speel ook ’n belangrike rol as ’n bron van onderrigting. Groot fasiliteite moet gehuur word vir die byeenkomste wat so geloofversterkend is. Jou bydraes word ook hiervoor gebruik.

Hoewel byeenkomste gewoonlik net drie keer per jaar gehou word, kom plaaslike gemeentes vir vyf weeklikse vergaderinge bymekaar. (Vergelyk Exodus 34:23, 24.) Die toestroming van nuwelinge wat aan die goeie nuus gehoor gee, beteken dat daar elke jaar duisende nuwe gemeentes gevorm word. Met behulp van miljoene rande se lenings wat deur die Genootskap verskaf word, word honderde nuwe Koninkryksale elke jaar gebou, en talle ander word opgeknap en vergroot. Hoewel dit ’n roterende fonds is wat oor en oor gebruik word, neem die aanvraag voortdurend toe.

Een gebied waar daar ongekende groei is, is in die lande van Oos-Europa wat aan die voormalige Sowjetunie onderworpe was. Hoe verblydend was die nuus tog dat die werk in die een plek na die ander oopgestel is! Nou word sendelinge na baie van hierdie lande gestuur. Nuwe takkantore is in party lande gevestig, wat die aantal vrywillige bedienaars wat die Bethelgesin wêreldwyd uitmaak tot meer as 15 000 laat toeneem het. Daar moet natuurlik takkantoorgeboue gekoop of gebou word om hulle te huisves. Jou bydraes help om in dié behoefte te voorsien.

Al hierdie werk het nie ongemerk by Satan en sy demone verbygegaan nie. Hulle doen alles in hulle vermoë om die pogings van Jehovah se getroue knegte te dwarsboom of om vir hulle moeilikheid te veroorsaak (Openbaring 12:17). Dit beteken al hoe meer hofsake ter beskerming van die reg van God se volk om te preek en in ooreenstemming met sy regverdige wette te lewe. En die verwoestende gevolge van oorloë in Satan se stelsel van dinge sowel as natuurrampe beteken baie maal dat ons geteisterde broers en susters, en ander saam met hulle, noodlenigingsvoorrade nodig het. Jou bydraes help om hierdie noodsaaklike hulp te verleen.

Jehovah sal jou beloon

Dit bring groot seëninge mee as ons ons tyd en middele mildelik gebruik om die Here se werk te bevorder. Hoe so? Omdat God, aan wie alles per slot van rekening behoort, ons sal beloon. Spreuke 11:25 sê: “Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf.” Dit behaag Jehovah werklik wanneer ons ons deel doen om sy aanbidding te bevorder (Hebreërs 13:15, 16). Hy het die eertydse Israeliete wat die bydraes sou bring wat deur die Wetsverbond vereis is, belowe: “Beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie” (Maleagi 3:10). Die geestelike voorspoed wat Jehovah se knegte vandag geniet, getuig daarvan dat God sy belofte hou.

Hierdie grootse werk om die dag van redding aan alle mense bekend te maak en om opregtes van hart op die pad na die lewe te help, sal nie vir ewig aanhou nie (Matteus 7:14; 2 Korintiërs 6:2). Maar die Here se “ander skape” moet ingesamel word (Johannes 10:16). Hoe noodsaaklik is dit tog om vandag daardie uitdaging te aanvaar! En hoe gelukkig sal elkeen van ons tog wees wanneer ons in daardie nuwe wêreld van regverdigheid terugkyk en kan sê: ‘Ek het ’n volle aandeel aan die finale insamelingswerk gehad’!—2 Petrus 3:13.

[Venster/Prent op bladsy 30, 31]

Hoe party tot die koninkrykswerk bydra

BYDRAES VIR DIE WÊRELDWYE WERK: Baie sit ’n bedrag opsy wat hulle in die bydraebussie by die Koninkryksaal plaas. Gemeentes stuur hierdie geld elke maand aan die wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, of aan die naaste takkantoor.

SKENKINGS: Vrywillige geldelike bydraes kan regstreeks na die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, 25 Columbia Heights, Brooklyn, New York 11201-2483 of na die Genootskap se plaaslike takkantoor gestuur word. Juwele of ander kosbare artikels kan ook geskenk word. ’n Kort briefie wat meld dat dit ’n onvoorwaardelike skenking is, moet hierdie bydraes vergesel.

REËLING VIR VOORWAARDELIKE SKENKINGS: Geld kan aan die Wagtoringgenootskap gegee word om in trust gehou te word tot die skenker te sterwe kom, op voorwaarde dat dit aan die skenker terugbetaal sal word indien hy dit self nodig sou kry.

VERSEKERING: Die Wagtoringgenootskap kan as die begunstigde van ’n lewensversekeringspolis of in ’n aftree-/pensioenskema benoem word. Die Genootskap moet van sulke reëlings in kennis gestel word.

AANDELE EN OBLIGASIES: Aandele en obligasies kan aan die Wagtoringgenootskap geskenk word, hetsy as ’n regstreekse skenking of ooreenkomstig ’n reëling waarvolgens die inkomste steeds aan die skenker betaal word.

VASTE EIENDOM: Verkoopbare vaste eiendom kan regstreeks aan die Wagtoringgenootskap geskenk word of dit kan geskenk word terwyl die skenker gedurende sy of haar leeftyd daar kan bly woon. Voordat enige vaste eiendom aan die Genootskap oorgedra word, moet daar eers met die Genootskap in aanraking gekom word.

TESTAMENTE: Eiendom of geld kan deur ’n wettige testament aan die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania bemaak word. ’n Kopie van die testament moet aan die Genootskap gestuur word.

Skryf aan die Tesourierskantoor, Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740 of na die Genootskap se naaste takkantoor vir verdere inligting oor sulke aangeleenthede.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel