Wanneer oorlewering met die waarheid bots
GEVAAR—MOENIE DIE WATER DRINK NIE. Ons is dalk daaraan gewoond om sulke waarskuwingstekens te sien. In baie gebiede is mense versigtig wat hulle drink omdat hulle weet dat van die watervoorrade vergiftig word deur wat bestempel word as “’n heksebrousel” van besoedelende gifstowwe. As gevolg van hierdie besoedeling, sê een studie, kan water “siekteorganismes en . . . chemiese besoedelstowwe oordra” pleks van “lewe te onderhou en te beskerm”.—Water Pollu-tion.
Die waters van waarheid word besoedel
Oorleweringe wat met die waarheid bots, is soos besoedelde watervoorrade. Ons hou dalk onskuldig vas aan oorleweringe—inligting, menings, opvattings of gebruike wat van geslag tot geslag oorgedra word—wat in werklikheid deur “’n heksebrousel” van valse, misleidende idees en filosofieë besoedel is. Net soos besoedelde water kan dit eindelose skade—geestelike skade—aanrig.
Selfs al meen ons dat ons tradisionele godsdiensopvattings op die Bybel gegrond is, moet ons almal tyd inruim om dit sorgvuldig te ondersoek. Hou in gedagte dat Martin Luther, toe hy aan die tradisionele opvatting van sy tyd vasgehou en Copernicus veroordeel het, geglo het dat die Bybel sy opvatting steun. Tog het Luther nagelaat om die goeie voorbeeld van die eertydse Bereane te volg wat ‘edelmoedig was en die Skrif sorgvuldig ondersoek het of hierdie dinge so was’.—Handelinge 17:10, 11.
Dink aan die skade wat tradisionele opvattings party van die Jode van Jesus se dag berokken het. Hulle het vas geglo dat hulle oorleweringe waar is. Toe hulle beswaar gemaak het teen die feit dat Jesus se dissipels nie die oorleweringe hou nie, het Jesus hulle uitgedaag met die vraag: “Waarom oortree julle ook die gebod van God weens julle oorlewering?” (Matteus 15:1-3). Waar het die fout gelê? Jesus het die probleem geïdentifiseer toe hy die woorde van die profeet Jesaja aangehaal het: “Tevergeefs bly hulle [God] aanbid, want hulle leer gebooie van mense as leerstellings.”—Matteus 15:9; Jesaja 29:13.
Ja, hulle het waarhede wat hulle oorsprong by God het deur idees vervang wat hulle oorsprong by mense het of, selfs erger, wat hulle oorsprong by die demone het. Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsy 506, verduidelik byvoorbeeld: “Die Fariseërs het destyds geleer dat sodra iemand sy besittings ‘korban’, of ’n gawe wat aan God gewy is, verklaar het hy dit nie kon gebruik om in die behoeftes van sy ouers te voorsien nie, al was hulle ook hoe behoeftig, hoewel hy self tot sy dood hierdie besittings kon gebruik as hy wou.” Die menslike wysheid wat die waters van waarheid besoedel het, het ’n slegte invloed op die Jode se geestelikheid gehad. Die meeste het selfs hulle langverwagte Messias verwerp.
Die Christendom dra tot die besoedeling by
Ná Jesus se dood is soortgelyke geestelike skade aangerig. Baie wat beweer het dat hulle sy volgelinge is, het mondelinge oorlewering as gesag vir nuwe leringe gebruik. Volgens McClintock en Strong se Cyclopedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature het party sogenaamde Christene gemeen dat sulke oorlewering “onderrig [is] wat die eerste Christenkerke van die apostels ontvang het en wat van die apostoliese era oorgedra is en tot in hulle tyd suiwer bewaar is”.—Ons kursiveer.
Baie van hierdie oorleweringe was in werklikheid onsuiwer, verkeerde idees. Soos die Cyclopedia verduidelik, was hierdie nuwe filosofieë “nie net in stryd met ander oorleweringe nie, maar ook met die geskrifte van die apostels wat hulle tot hulle beskikking gehad het”. Dit was nie heeltemal onverwags nie. Die apostel Paulus het die Christene gewaarsku: “Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie.”—Kolossense 2:8.
Vandag is baie tradisionele opvattings ook ‘in stryd met die geskrifte van die apostels’. Die Christendom het die waters van waarheid met talle demoongeïnspireerde idees besoedel, soos die Drie-eenheid, die helse vuur, die onsterflikheid van die mensesiel, nasionalisme en afgodediens (1 Timoteus 4:1-3).a Die geskiedenis getuig van die geestelik siek toestand van die mense wat slagoffers geword het van die demoniese leringe wat die tradisionele leringe van die Christendom geword het.—Vergelyk Jesaja 1:4-7.
Trouens, hierdie besoedeling van die waarheid vind al sedert die mensdom se begin plaas. Satan het voortgegaan met die proses wat hy in Eden begin het om mense se verstande deur leuens en bedrog te vergiftig (Johannes 8:44; 2 Korintiërs 11:3). Namate die mensdom ná die Vloed van Noag se dag oor die aarde versprei het, het mense van alle kulture slagoffers geword van ’n doelbewuste vergiftiging van mensekennis deur demoongeïnspireerde filosofieë en idees.
Die gevolge van geestelike besoedeling
Watter skade kan sulke geestelike besoedeling veroorsaak? Ons kan dit vergelyk met die uitwerking wat besoedelde water op ons fisiese gesondheid het. Een kenner sê: “Omtrent 200 miljoen mense is slagoffers van skistosomiase (bilharzia) [rooiwater, wat tot bloedarmoede, ongemak, algemene slegte gesondheid en selfs die dood lei], wat veroorsaak word as besoedelde water met die vel in aanraking kom. Vyfhonderdmiljoen mense het tragoom, een van die hoofoorsake van blindheid, weens die vuil water waarin hulle hulle was. . . . Sowat tweemiljard mense het nie veilige drinkwater nie” (Our Country, the Planet). Miljoene mense is geestelik swak, blind en selfs dood omdat hulle oorleweringe navolg wat met valse, demoniese leringe besoedel is.—1 Korintiërs 10:20, 21; 2 Korintiërs 4:3, 4.
Baie mense is byvoorbeeld verward of verblind wat betref die verhouding tussen Jesus Christus en sy Vader, Jehovah God. Onder party wat beweer het dat hulle Christene is, het dit die gebruik geword om God se heilige naam, Jehovah, uit die Christelike Griekse Geskrifte weg te laat. George Howard sê in die Journal of Biblical Literature: “Hierdie verwydering van die Tetragrammaton het na ons mening verwarring in die verstande van vroeë nie-Joodse Christene veroorsaak wat die verhouding tussen die ‘Here God’ en die ‘Here Christus’ betref.”
Dink ook aan die verwarring, bygeloof en vrees wat veroorsaak is deur die onskriftuurlike oorlewering dat die mensesiel onsterflik is. (Vergelyk Prediker 9:5; Esegiël 18:4.) Hoeveel mense is slawe van vooroueraanbidding of lewe voortdurend in vrees dat die dooies gaan terugkeer om hulle kwaad aan te doen? Hierdie opvatting het mense selfs beweeg om hulleself en ander dood te maak.
Baie Japannese glo dat hulle heengegane geeste ná hulle dood in die hiernamaals sal ontmoet. Party ouers wat selfmoord gepleeg het, het dit derhalwe goedgedink om ook hulle kinders dood te maak. An English Dictionary of Japanese Ways of Thinking verduidelik: “In Japan word selfmoord nie altyd veroordeel nie, maar word dikwels as ’n aanvaarbare manier beskou om vir ’n ernstige fout om verskoning te vra . . . Selfs gesinselfmoorde sal waarskynlik met simpatie oorvertel word.”
Stel die oorleweringe op die proef
Wat moet ons doen met die oog op die gevare daaraan verbonde om tradisionele opvattings en gebruike blindelings te volg? Teen die einde van die eerste eeu het die apostel Johannes hierdie raad aan sy mede-Christene gegee: “Geliefdes, moenie elke geïnspireerde uiting glo nie, maar stel die geïnspireerde uitinge op die proef [net soos jy water vir suiwerheid sal toets] om te sien of hulle hulle oorsprong by God het, want talle valse profete het in die wêreld uitgegaan.” (1 Johannes 4:1; sien ook 1 Tessalonisense 5:21.) Hoe weet ’n mens of ’n oorlewering skadelik is? Jy het die een of ander soort gesag, ’n maatstaf van suiwerheid, nodig om dit wat jy glo op die proef te stel.
Die Bybel is so ’n gesag. Jesus Christus het gesê: “Heilig hulle deur middel van die waarheid; u woord is waarheid” (Johannes 17:17). Hy het ook gesê: “Die uur [kom], en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader met gees en waarheid sal aanbid” (Johannes 4:23). Deur God se geïnspireerde Woord te gebruik, kom ’n mens by die suiwer waters van waarheid uit pleks van by die besoedelde waters van mense- en demoniese filosofie.—Johannes 8:31, 32; 2 Timoteus 3:16.
Onthou dat selfs klein hoeveelhede besoedelstowwe verskriklike gevolge kan hê. Dit neem soms jare voor die gevolge sigbaar word. “Vuil water”, sê Shridath Ramphal, die voormalige president van die Wêreldbewaringsvereniging, “het die wêreld se gevaarlikste doder geword. Ten minste vyf-en-twintigduisend mense sterf daagliks omdat hulle dit gebruik.” Geestelik besoedelde oorleweringe is selfs gevaarliker.
Het jy die moed om weg te breek van tradisionele opvattings wat jy dalk jare lank gevolg het as jy uitvind dat dit met die waarheid bots? Gee ag op die waarskuwings. Beskerm jouself en jou gesin deur seker te maak dat jou oorleweringe in ooreenstemming met God se suiwer Woord van waarheid is.—Psalm 19:8-11; Spreuke 14:15; Handelinge 17:11.
[Voetnoot]
a Sien Redenering uit die Skrif vir bewyse dat hierdie leringe geen Bybelse grondslag het nie. Hierdie boek word uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 7]
God se Woord van waarheid is soos ’n rivier van suiwer, skoon water