Moet oorlewering met die waarheid bots?
MARTIN LUTHER was daarvan oortuig dat hy reg is. Hy het gemeen dat die Bybel sy opvatting steun. Die Poolse sterrekundige Copernicus het daarenteen gedink dat die tradisionele opvatting van sy tyd verkeerd is.
Watter opvatting? Dat die aarde die middelpunt van die heelal is en dat alles daarom draai. Die waarheid, het Copernicus gesê, is dat die aarde om die son draai. Luther het dit verwerp en gesê: “Mense luister na ’n verwaande sterrekundige wat probeer bewys het dat die aarde beweeg en nie die hemele of die uitspansel, of die son en maan nie.”—History of Western Philosophy.
TRADISIONELE opvattings het al dikwels met die feite, met die waarheid, gebots. Dit kan mense selfs skadelike dinge laat doen.
Dit beteken natuurlik nie dat oorlewering altyd met die waarheid bots nie. Trouens, die apostel Paulus het Christene van sy tyd aangemoedig om aan te hou om die oorleweringe wat hy aan hulle oorgedra het na te volg: “Ek prys julle, omdat julle . . . aan die oorleweringe vashou net soos ek dit aan julle oorgedra het.”—1 Korintiërs 11:2; sien ook 2 Tessalonisense 2:15; 3:6.
Wat het Paulus met “oorleweringe” bedoel? Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsy 1118, wys daarop dat die Griekse woord wat hy vir “oorlewering” gebruik het, pa·raʹdo·sis, iets beteken wat “mondeling of skriftelik oorgedra” word. Die Afrikaanse woord beteken “inligting, leerstellings of gebruike wat van ouers aan kinders oorgelewer is of wat die gevestigde denkpatroon of handelswyse gevorm het”.a Omdat die oorleweringe wat die apostel Paulus aan Christene oorgedra het uit ’n goeie bron gekom het, was dit tot hulle voordeel om daaraan vas te hou.
Maar oorlewering kan natuurlik waar of vals, goed of sleg, wees. Die Britse filosoof Bertrand Russell loof byvoorbeeld mense soos Copernicus van die 16de eeu wat eerlik was en die moed gehad het om tradisionele opvattings te bevraagteken. Hulle het begin “besef dat wat sedert die ou tyd geglo is vals kan wees”. Sien jy ook hoe verstandig dit is om oorlewering nie blindelings te volg nie?—Vergelyk Matteus 15:1-9, 14.
Wat dan van godsdiensopvattings en -gebruike? Kan ons net vanselfsprekend aanvaar dat dit juis en onskadelik is? Hoe kan ons uitvind? Wat moet ons doen as ons uitvind dat godsdiensoorleweringe wel met die waarheid bots? Die volgende artikel sal hierdie vrae ondersoek.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Foto-erkenning op bladsy 2]
Voorblad: Jean-Leon Huens © National Geographic Society
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Universität Leipzig