Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 10/1 bl. 29-31
  • Singapoer vertrap vryheid van aanbidding

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Singapoer vertrap vryheid van aanbidding
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Geen bedreiging vir die volksidentiteit en -eenheid nie
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 10/1 bl. 29-31

Singapoer vertrap vryheid van aanbidding

DIE aand van 24 Februarie 1995 is vier huise in die stad Singapoer in ’n klopjag deur die polisie binnegeval. Altesaam 69 mense is in hegtenis geneem.a Onder hulle was ’n 71-jarige vrou en twee 15-jarige meisies. Waarom? Was dit weens kriminele of ondermynende bedrywighede? Nee. Nie een van hulle was by enigiets betrokke wat selfs in die geringste opsig as gevaarlik, onsedelik of antisosiaal beskou kon word nie. Hulle het geen bedreiging vir die sedelike waardes, veiligheid of welsyn van hulle mede-Singapoereane ingehou nie. Tog het die polisie, nadat hulle die vier huise deursoek het, die 69 mense wat byeengekom het om die Bybel te bestudeer en ’n geselligheid te geniet, na die polisiestasie geneem. Hulle is die nag gevange gehou, ondervra, hulle vingerafdrukke is geneem en daar is foto’s van hulle geneem—ja, hulle is soos gemene misdadigers behandel! Gedurende hierdie tyd—18 uur lank in swak toestande—is hulle regsadvies geweier en selfs verbied om ’n telefoonoproep te maak om hulle familielede te laat weet waar hulle is. ’n Mens kan jou net voorstel hoe sulke summiere optrede hierdie vreedsame, wetsgehoorsame burgers geraak het!

Die scenario laat ’n mens dink aan toestande gedurende die donker dae van Nazi-Duitsland en die Kommunistiese era in die Sowjetunie en Oos-Europa. Dit is nie wat ’n toevallige besoeker aan Singapoer sou verwag om in daardie uiters skoon en welvarende, moderne stadstaat aan te tref nie. Singapoer het ’n reputasie opgebou as ’n 20ste-eeuse wonder wat ekonomiese en maatskaplike vooruitgang betref. Dit is ’n verklaarde demokrasie met ’n grondwet wat sy burgers basiese menseregte waarborg, met inbegrip van vryheid van spraak en godsdiens en die reg van vergadering.

Tog is daardie persone wat in Februarie in hegtenis geneem is die teiken gemaak uitsluitlik omdat hulle Jehovah se Getuies is wat vergader het om die Bybel te bestudeer en Christelike assosiasie te geniet. Die aanklag teen hulle was dat hulle “’n vergadering van ’n onwettige genootskap bygewoon het”.

Trouens, Jehovah se Getuies is al sedert 1972 wetlike erkenning in Singapoer geweier toe die Singapoer-gemeente van die registrasielys geskrap is en die lektuur, waaronder Bybels, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word, verbied is. Daar is geen geleentheid gebied om protes aan te teken teen die veronderstellings waarop daardie optrede berus het nie. Die wetlikheid van hierdie amptelike diskriminasie is onlangs in Singapoer se howe betwis in die saak van vier Getuies wat in Februarie 1994 skuldig bevind is aan die besit van verbode Bybellektuur. Die appèl teen hulle veroordelings is in Augustus 1994 aangehoor en summier verwerp. Hoofregter Jong Poeng How van die Hooggeregshof het sy oordeel die daaropvolgende maand uitgespreek. Hy het beslis dat daar geen skending van godsdiensvryheid was nie en dat die veroordelings geregverdig was op grond van die feit dat Jehovah se Getuies ’n bedreiging vir die landsveiligheid inhou omdat hulle lede nie aan krygsdiens wil deelneem nie. Op 17 Februarie 1995 het die vier Getuies vergunning probeer kry om hierdie ongunstige beslissing na Singapoer se Appèlhof te appelleer. Die aansoek is geweier.

Die Singapoer-pers, wat deur die regering beheer word, het aan hierdie laaste beslissing prominensie verleen. Hierdie hofbeslissing en die gevolglike publisiteit het ongetwyfeld die daaropvolgende gebeure voorafgeskadu. Binne ’n week het die inhegtenisneming van die 69 Getuies plaasgevind. Die aanklagte teen vier van hulle—burgers van Brittanje, Frankryk en Luxemburg—is later teruggetrek. Maar selfs vir hulle was dit ’n skrikwekkende ondervinding. Een man en sy vrou het al jare lank in Singapoer gewoon en gewerk. Hulle het hulle werk en hulle huurhuis verloor en was verplig om afskeid te neem van talle goeie vriende.

Die 63 oorblywende volwassenes is daarvan aangekla dat hulle aan ’n verbode genootskap behoort, en party is ook aangekla weens die besit van verbode lektuur. Hulle is ’n vonnis van drie jaar tronkstraf of ’n boete van S$3 000 (R7 600) of albei opgelê. Die twee 15-jarige meisies het afsonderlik in ’n jeughof verskyn.

Geen bedreiging vir die volksidentiteit en -eenheid nie

Oor die hele wêreld, in die meer as 200 lande waar hulle woon, staan Jehovah se Getuies as ordentlike, eerlike, wetsgehoorsame mense bekend. Hulle word geken aan hulle standvastige weiering om deel te neem aan enige soort ondermynende, antiregeringsbedrywighede—onchristelike gedrag wat daartoe kan lei dat hulle uitgesit, of geëkskommunikeer, word. Daar is waarlik niks omtrent hulle wat die Singapoer-regering hoef te vrees nie. Hulle is in geen opsig ’n bedreiging vir Singapoer se landsveiligheid of gevoel van volksidentiteit en -eenheid nie (Romeine 13:1-7). Dit is duidelik uiteengesit in ’n brief gedateer 21 Maart 1995, van Milton G. Henschel, die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, aan eerste minister Goh Tsjok Tong van Singapoer. Dié brief word hier om ons lesers se onthalwe weergegee.

Vryheidsliewende mense in die sakewêreld, die regering en die privaatsektor sal hierdie situasie in Singapoer met belangstelling dophou om te sien hoe dit ontwikkel. Sal die regering van Singapoer in ooreenstemming met die basiese menseregte en vryhede optree wat deur sy eie grondwet en die internasionale gemeenskap van volke voorgestaan word? Jehovah se Getuies oor die hele wêreld is beslis innig besorg oor hulle medeaanbidders in Singapoer. Hulle bid vir hulle en hou die versekering in gedagte wat in die Bybel aangetref word: “Die HERE het die reg lief en sal sy gunsgenote nie verlaat nie.”—Psalm 37:28.

[Voetnoot]

a In die maande sedert hierdie 69 mense in hegtenis geneem is, is nog 11 Getuies in hegtenis geneem en aangekla weens die besit van onwettige lektuur.

[Venster op bladsy 30]

21 Maart 1995

Goh Tsjok Tong

Eerste Minister

Istana-anneks

Singapoer 0923

Republiek van Singapoer

Lee Koean Joe

Senior Minister

Eersteministerskantoor

Alexandraweg 460

VSA-gebou 37-00

Singapoer 0511

Republiek van Singapoer

Geagte Here:

’n Onlangse Reuters-berig uit Singapoer gedateer 25 Februarie 1995 was uiters ontstellend. Dit het getoon dat Bybelstudievergaderinge van Jehovah se Getuies deur die polisie opgebreek is en dat 69 mense in hegtenis geneem is. Hierdie berig het die wêreld se aandag gevestig op die situasie van Jehovah se Getuies in Singapoer, waar hulle bedrywighede en lektuur al meer as 20 jaar lank verbied word.

Dit is moeilik om te begryp waarom ’n godsdiensorganisasie wat in meer as 200 lande openlik funksioneer en volle beskerming van die wet geniet, verbied moet word in Singapoer, ’n land wat die beginsels van demokrasie voorstaan. Dit is selfs ontstellender met die oog op Singapoer se grondwetlike waarborg van vryheid van aanbidding vir sy burgers.

Jehovah se Getuies het nog nooit ’n bedreiging vir enige land se veiligheid ingehou nie. Trouens, oor die hele wêreld het hulle die reputasie dat hulle vreedsaam, hardwerkend, sedelik opreg en wetsgehoorsaam is—eienskappe wat ek seker is julle in julle land bevorder.

Weens die feit dat hulle streng by Bybelstandaarde vir Christene bly, is die standpunt van Jehovah se Getuies weliswaar soms al misverstaan of verkeerd voorgestel. Maar was dit nie die geval met die stigter van die Christelike geloof wat ook verkeerdelik voorgestel is as iemand wat teen “Caesar”, die regering van sy tyd, was nie? Jehovah se Getuies volg bloot die voorbeeld van Jesus en die vroeë Christene na. Hulle respekteer die regering waar hulle woon, betaal hulle belasting en bevorder goeie sedes. Hulle is pligsgetroue en deugsame burgers. Jehovah se Getuies het nog nooit aan enige soort ondermynende bedrywighede in enige land deelgeneem nie en ek kan u daarvan verseker dat hulle teenwoordigheid in Singapoer geen bedreiging vir julle land se volksbelange inhou nie.

Weens onlangse persberigte is die dwangmaatreëls wat julle regering teen Jehovah se Getuies in Singapoer geneem het nou algemeen bekend. Dit is veral ’n rede tot kommer vir hulle 12 miljoen metgeselle oor die hele wêreld. Ek vra u om u gesag te gebruik om die situasie reg te stel en Jehovah se Getuies in julle land die vryheid van aanbidding en gewete te gee wat deur die Grondwet gewaarborg word.

Ek vertrou dat ’n openhartige bespreking met verteenwoordigers van Jehovah se Getuies sal help om enige misverstande oor ons organisasie en bedrywighede uit die weg te ruim en u daarvan sal verseker dat die regering van Singapoer geen rede het om Jehovah se Getuies te vrees nie. Dit sal vir my ’n genoeë wees om reëlings vir so ’n vergadering te tref.

Ek sien uit na u antwoord.

Hoogagtend die uwe

Milton G. Henschel

President

[Foto-erkenning op bladsy 31]

Nik Wheeler/H. Armstrong Roberts

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel