Wanneer ‘geen wind die regte wind is nie’
“WANNEER ’n man nie weet na watter hawe hy op pad is nie, is geen wind die regte wind nie.” Hierdie woorde, wat aan die eerste-eeuse Romeinse filosoof Lucius Anneus Seneka toegeskryf word, bevestig ’n ou erkende feit: Doelwitte is noodsaaklik vir die lewe om rigting te hê.
Maar die lewe is dikwels ’n doellose gedryf. Baie is daarmee tevrede om bloot die rotse en maalstrome van die daaglikse lewe te vermy. Omdat hulle geen vaste koers het nie, word hulle soos golwe wat “die een oomblik deur die wind vorentoe gewaai en die volgende oomblik agtertoe gedryf word” (Jakobus 1:6, “Phillips”). Vir sulke mense “is geen wind die regte wind nie”.
Die Bybel voorsien voorbeelde van mense wat doelgerig was en dus as rolmodelle vir hedendaagse Christene dien. Moses “het sy blik stip op die beloning gerig gehou” (Hebreërs 11:26). Paulus het geskryf: “Ek hardloop reguit na die doel toe om die prys te wen.” Hy het medegelowiges aangemoedig om “hierdie selfde gesindheid te hê”.—Filippense 3:14, 15, “Today’s English Version”.
Mag ons die geloof van sulke doelgerigte manne navolg, terwyl ons ons oë stip gerig hou op die Bybel se beloftes.—Vergelyk Hebreërs 13:7.