Koninkryksverkondigers berig
Ware Christene sal vervolg word
SEDERT die dae van Abel het baie van Jehovah se knegte godsdiensvervolging verduur (Lukas 11:49-51). En dit is geen wonder nie, aangesien die Bybel waarsku dat ‘almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, ook vervolg sal word’! (2 Timoteus 3:12). Gevolglik is daar meer as 25 lande waar daar ’n verbod op Jehovah se Getuies is en hulle vervolging verduur. In ’n land waar Jehovah se Getuies nie net verbied is nie maar ook deur godsdienselemente vervolg word, is daar meer as 12 000 verkondigers van die goeie nuus wat ywerig aanhou werk en die Bybel saam met meer as 15 000 mense studeer. Hulle doen natuurlik hulle predikingswerk oordeelkundig. Christelike vergaderinge word hoofsaaklik in huise gehou, en hulle is versigtig wanneer hulle belangstellendes na sulke vergaderinge uitnooi.
Die regering het onlangs ’n meer toegeeflike gesindheid begin openbaar teenoor die Getuies, wat nou baie van hulle werk sonder direkte inmenging doen. Maar verskeie godsdiensgroepe het hulle invloed gebruik om moeilikheid te veroorsaak.
In een stad het ’n oproerige skare van sowat 200 godsdiensfanatici op ’n huis toegesak waar nagenoeg 50 Getuies van Jehovah met ’n gemeentelike vergadering besig was. Party in die skare het klippe gehad en godsdiensslagspreuke geskreeu. Hulle wou klaarblyklik die Getuies aanval en die huis beskadig. Die godsdiensleiers het blykbaar die vergaderinge ’n geruime tyd dopgehou en vir die regte oomblik gewag om aan te val. Die skare was op die punt om die huis binne te gaan toe 15 polisiemanne daar aankom en die klomp beveel om uiteen te gaan. Dit het die Getuies verbaas, aangesien nie een van hulle eers kans gehad het om die polisie te bel nie.
Maar by ander geleenthede was die teenstanders meer suksesvol. Verskeie Getuies is verhoor en tot gevangenisstraf gevonnis. Een hofsaak was ’n hele paar jaar lank hangende, en blykbaar het die aanklaers belangstelling daarin verloor. Dit was egter op aandrang van die plaaslike geestelikes dat die saak weer hof toe geneem is, en die Getuie is tot tronkstraf gevonnis.
Op ’n ander plek het ’n groep Getuies in ’n huis vergader om die Here se Aandmaal te herdenk. Later daardie aand het ’n paar polisiemanne die huisbewoner en die ouer man wat die vergadering gehou het, in hegtenis geneem. By die polisiestasie is hulle erg geslaan. ’n Genadelose ondervraging het etlike ure geduur. Een van die Getuies moes ook die pyniging verduur om in ’n put met koue water gehou te word.
Waarom sou die polisie dan so ’n aanval uitvoer? Dit was weer ’n groep godsdiensfanatici wat met die hulp van die plaaslike geestelikes agter die polisieoptrede gesit het. Die polisiehoof het later bekend gemaak dat die arrestasies sonder sy toestemming gedoen is. ’n Verskoning is aangebied en die mense wat vir die slae verantwoordelik was, is gedissiplineer.
Oor die hele wêreld hou Jehovah se Getuies aan om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig, al kom hulle voor gewelddadige teenstand te staan. Hulle volg Jesus se raad: “Kyk! Ek stuur julle soos skape onder wolwe uit; betoon julle dus versigtig soos slange en tog onskuldig soos duiwe.”—Matteus 10:16.
[Prent op bladsy 31]
Abel is die eerste mens wat vervolg is