Die belonings vir volharding
SY WAS ’n Griekse vrou wat in 32 G.J. in Fenisië gewoon het. Haar dogter was baie siek en die vrou het naarstig na ’n geneesmiddel gesoek. Toe sy hoor dat ’n vreemdeling haar gebied besoek—’n buitelander wat na bewering kragte gehad het om siekes te genees—was sy vasbeslote om hom te sien en hom om hulp te smeek.
Toe sy hom ontmoet, het sy op haar knieë geval en gepleit: “Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid. My dogter is erg van ’n demoon besete.” So het die Griekse vrou Jesus gesmeek om haar dogter te genees.
Kan jy jou voorstel hoeveel moed en nederigheid dit van haar geverg het om dit te doen? Jesus was ’n gesagsfiguur met ’n mate van mag en aansien, en hy het dit vroeër bekend gemaak dat hy nie wou hê dat enigiemand moes uitvind waar hy hom bevind nie. Hy het sy apostels na Fenisië geneem om ’n bietjie broodnodige rus te kry en nie om tussen die ongelowige nie-Jode te werk nie. Bowendien was Jesus ’n Jood en sy ’n nie-Jood, en sy het ongetwyfeld geweet van die Joodse weersin teen omgang met die veragtelike mense van die nasies. Sy was nogtans vasbeslote om ’n genesing vir haar kind te vind.
Jesus en sy apostels het die vrou probeer afraai om op daardie stadium hulp te vra. Jesus wou aanvanklik nie met haar praat nie. Toe, weens haar herhaalde, aanhoudende uitroepe, het die apostels ergerlik vir Jesus gesê: “Stuur haar weg; want sy hou aan om ons agterna te roep.”
Maar sy het nie moed opgegee nie. Sy het haar eerder voor Jesus se voete neergewerp en gesê: “Here, help my!”
Jesus het haar daarop gewys dat sy vernaamste verantwoordelikheid teenoor die kinders van Israel was en het terselfdertyd haar geloof en vasberadenheid getoets deur met deernis aan haar te verduidelik: “Dit is nie reg om die kinders [van Israel] se brood te neem en dit vir hondjies [nie-Jode] te gooi nie.”
Sy het nie aanstoot geneem aan die negatiewe verwysing na haar ras nie, maar het nederig aangehou om hulp te soek deur te antwoord: “Ja, Here; maar die hondjies eet tog van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.”
Jesus het die Griekse vrou se volharding beloon deur haar te prys vir haar geloof en gunstig op haar smekinge te reageer. Stel jou haar vreugde voor toe sy tuiskom en vind dat haar dogter heeltemal gesond is!—Matteus 15:21-28; Markus 7:24-30.
Net soos daardie vrou van die eerste eeu moet ons volhard in ons pogings om Jehovah te behaag en sy guns te wen. Die Bybel verseker ons dat ons volharding “om te doen wat voortreflik is”, soos in die geval van die Griekse vrou, ryklik beloon sal word.—Galasiërs 6:9.
Wat is volharding? Waarom is dit nodig? Watter faktore kan veroorsaak dat ons hierdie eienskap verloor, dat ons tou opgooi of oorgee? Watter belonings kan ons verwag as ons nou reeds volhard in ons diens aan ons Skepper en Vader, Jehovah?
Een woordeboek omskryf die werkwoord “volhard” as “om jou stewig en standvastig aan die een of ander voorneme, toestand of onderneming te hou ondanks struikelblokke, waarskuwings of terugslae . . . om aan te hou bestaan; om voort te duur.”
Die Bybel vermaan Jehovah se knegte herhaaldelik om daarin te volhard om sy wil te doen. Daar word byvoorbeeld vir ons gesê: “Hou dan aan om eers die koninkryk . . . te soek”, “Hou vas aan wat voortreflik is”, “Hou vol met gebed” en dat ons nie “moeg moet word” om te doen wat goed is nie.—Matteus 6:33; 1 Tessalonisense 5:21; Romeine 12:12; Galasiërs 6:9.
In die alledaagse lewe is volharding ’n eienskap wat ons almal moet hê en ontwikkel om te kan voortbestaan. Daarsonder kan ons niks van ware, blywende nut teweegbring nie. Neem die voorbeeld van ’n baba wat probeer om op te staan en sy eerste wankelende treë te gee. Dit sou ’n ongewone kindjie wees wat in net een dag kan leer om op te staan en vryelik rond te loop. As kinders het ons almal moontlik probeer loop en baie keer misluk voordat ons uiteindelik ’n mate van sukses daarin behaal het. Wat sou gebeur het as ons ná die eerste val besluit het om nie weer te probeer nie? Ons sou dalk nog steeds op die grond rondgekruip het! Volharding is noodsaaklik om doelwitte te bereik wat die moeite werd is en om dienooreenkomstig in bekwaamheid en selfrespek toe te neem. Soos ’n spreekwoord sê: “Presteerders gooi nooit tou op nie en touopgooiers presteer nooit.”
Pioniers wat al lank dien, besef dat sukses nie deur buitengewone vermoëns of talente gewaarborg word nie. Dit vereis deursettingsvermoë, ’n vasberadenheid om Jehovah se wil ten volle te doen, asook moed ongeag tydelike terugslae, selfs depressie. Die doelwit om ’n ewige aandeel in God se seëninge te hê, moet duidelik voor oë gehou word.
Ja, ons almal wat Jehovah se guns probeer verkry en daarna streef om die wedloop om die lewe met welslae te voltooi, het volharding en deursettingsvermoë nodig. Sonder hierdie eienskappe kan ons moontlik Jehovah se guns en die beloning van die werklike lewe verloor.—Psalm 18:21; Matteus 24:13; 1 Timoteus 6:18, 19.
Dit is dikwels moeiliker vir ’n Christen om te volhard in sy geestelike bedrywighede as in sy ander verpligtinge. ’n Man werk dalk altyd hard by ’n sekulêre werk om in sy gesin se fisiese behoeftes te voorsien, maar hy is dalk ‘te moeg’ om ’n gereelde Bybelstudie met sy vrou en kinders te hou. Watter faktore maak volharding in Christelike werke vir baie so moeilik?
Een oorsaak is ontmoediging, wat uit ons eie individuele gebreke en swakhede spruit. As ons oor ons foute tob, kan ons wanhopig raak en moed opgee, omdat ons voel dat Jehovah ons nooit vir al ons sondes sal kan vergewe nie.
Nog ’n faktor is die wêreldse atmosfeer van onsedelikheid, verdorwenheid en haat (1 Johannes 2:15, 16). Een van die “nuttige gewoontes” wat deur wêreldse invloed bederf kan word, is Christelike volharding.—1 Korintiërs 15:33.
Ons volharding in die predikingswerk kan deur die publiek se teenstand teen en onverskilligheid teenoor ons heilige diens verswak word. Uit frustrasie besluit ons dalk dat die mense in ons gebied die waarheid eenvoudig nie wil hê nie. Dit kan maak dat ons vra: ‘Wat is die nut daarvan?’ en dat ons dan ons spesiale voorreg van die bediening laat vaar.
Ons kan ook deur die wêreld se gees van genotsug beïnvloed word. Waarom moet ons so baie worstel en opoffer terwyl dit lyk of al die ander mense die lewe geniet of ’n gemaklike lewe lei?—Vergelyk Matteus 16:23, 24.
Om aan te hou om Jehovah se wil te doen, moet ons ons met die Christelike persoonlikheid beklee en in ooreenstemming met die gees lewe, nie die vlees nie (Romeine 8:4-8; Kolossense 3:10, 12, 14). As ons Jehovah se beskouing van die saak het, sal dit ons in staat stel om aan te hou met ons lewensbelangrike geestelike bedrywighede.—1 Korintiërs 16:13.
Voorbeelde van volharding
Jehovah het ons van talle bemoedigende voorbeelde voorsien van knegte wat deur menige kwaai beproewing lojaal en getrou aan hom gebly het. As ons na hulle kyk, sien ons hoe ons Christelike volharding kan aankweek en beoefen, asook waarom dit so kosbaar is.
Die grootste voorbeeld is Jesus, wat soveel verduur het om Jehovah se naam te verheerlik. Die Bybel spoor ons aan om sy dade van volgehoue toegewydheid noukeurig te bestudeer: “Daarom dan, omdat ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke gewig aflê en die sonde wat ons maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat voor ons gestel is met volharding hardloop, terwyl ons die blik stip gerig hou op die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof, Jesus. Vir die vreugde wat hom voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en aan die regterhand van die troon van God gaan sit. Ja, let noukeurig op die een wat sulke teëspraak deur sondaars teen hulle eie belange verduur het, sodat julle nie moeg word en in julle siele beswyk nie.”—Hebreërs 12:1-3.
Die wedloop om die lewe is ’n langafstandwedloop, nie ’n kort naelloop nie. Dit is waarom ons Christelike volharding nodig het. Die doelwit, die wenstreep, is dalk tydens die grootste deel van die wedloop nie in sig nie. Die doelwit moet duidelik in ons geestesoog wees sodat ons gedurende die hele, veeleisende pad verstandelik daarna kan uitreik. Jesus het so ’n beeld voor hom gehad, naamlik “die vreugde wat hom voorgehou is”.
Wat word vir hedendaagse Christene in hierdie vreugde ingesluit? Om maar een ding te noem, dit is die beloning van onsterflike lewe in die hemel vir ’n paar en ewige lewe op aarde vir baie. Dit is ook die gevoel van tevredenheid wat ondervind word wanneer ’n mens weet dat jy Jehovah se hart verbly het en ’n aandeel gehad het aan die heiliging van God se naam.—Spreuke 27:11; Johannes 17:4.
’n Hegte, aangename verhouding met Jehovah word in hierdie vreugde ingesluit (Psalm 40:9; Johannes 4:34). So ’n verhouding is besielend en lewensonderhoudend en gee ’n mens die krag om die wedloop met volharding te hardloop en om nie tou op te gooi nie. Jehovah seën daarbenewens daardie verhouding deur sy heilige gees op sy knegte uit te stort, wat tot ’n toename in vreugde en vreugdevolle bedrywigheid lei.—Romeine 12:11; Galasiërs 5:22.
Dit is nuttig om Job se voorbeeld van volgehoue geloof te beskou. Hy was onvolmaak en het ’n beperkte begrip van sy omstandighede gehad. Hy het dus soms in selfregverdiging en wanhoop verval. Maar hy het steeds ’n taaie vasberadenheid geopenbaar om sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah te handhaaf en Hom nooit te verlaat nie (Job 1:20-22; 2:9, 10; 27:2-6). Jehovah het Job vir sy volgehoue toegewydheid beloon deur geestelike en materiële seëninge en die hoop op die ewige lewe aan hom te gee (Job 42:10-17; Jakobus 5:10, 11). Soos Job ervaar ons dalk nou gedurende ons lewe baie lyding en verliese, maar ons kan ook verseker wees van Jehovah se seën op ons getroue volharding.—Hebreërs 6:10-12.
In hedendaagse tye het Jehovah se Getuies as ’n groep Christelike volharding in die uitvoering van Jehovah se wil aan die dag gelê. Neem byvoorbeeld hulle volgehoue huis-tot-huis-werk en ander openbare predikingswerk wat wêreldwyd aandag op hulle en hulle boodskap gevestig het. Die media het al baie keer verwys na hulle ywer en vasberadenheid om die goeie nuus ondanks vervolging en beproewinge te verkondig. Daar was selfs ’n strokiesprent wat gesê het: “Niemand kom van Jehovah se Getuies af weg nie!”—Matteus 5:16.
Jehovah het die volgehoue pogings van sy Getuies met ’n groter opbrengs in die bediening geseën. Let op die ondervinding van sekere vindingryke Getuies in die sestigerjare in Italië, toe sowat 10 000 Getuies vir ’n nasie van meer as 53 000 000 inwoners gepreek het. In een dorp met 6 000 inwoners was daar geen Getuies nie. Daar was ’n vyandige reaksie op die besoekende broers se bediening.
Elke keer as die broers daar gepreek het, het baie van die vroue, en selfs die mans, van die dorp die seuns bymekaargemaak en hulle aangehits om die Getuies te volg en vir hulle te fluit en baie geraas te maak. Ná ’n paar minute hiervan moes die broers vertrek en na ’n ander dorp gaan. In ’n poging om ten minste een goeie getuienis aan al die inwoners van die dorp te gee, het die broers besluit om net op baie reënerige dae daar te preek, met die hoop dat hulle nie deur die jongmense gepla sal word nie. Hulle het opgemerk dat die dorpsmense onwillig was om nat te word net om die verkondigers te steur. So is ’n goeie getuienis gegee. Belangstellendes is gevind. Nuwe Bybelstudies is begin. Die gevolg is dat daar nie net ’n florerende gemeente in daardie dorpie gestig is nie, maar dat die predikingswerk mettertyd ook op sonnige dae gedoen is. Jehovah het die volharding van sy Getuies in daardie gebied en deur die hele Italië geseën. Daar is nou meer as 200 000 Getuies van Jehovah in daardie land.
As ’n mens daarin volhard om te doen wat reg is, is die belonings groot. Deur die krag van God se gees kon Jehovah se Getuies ’n ongehoorde prestasie in die mensegeskiedenis behaal, naamlik om die goeie nuus van die Koninkryk aan miljoene mense by hulle deure en op ander maniere te verkondig (Sagaria 4:6). Hulle het met vreugde gesien hoe Bybelprofesieë vervul word deur die verstommende groei en lewenskragtigheid van Jehovah se aardse organisasie (Jesaja 54:2; 60:22). Hulle behou ’n goeie gewete voor God, en hulle verheug hulle in die hoop op die ewige lewe. Hulle geniet bowenal ’n intieme verhouding met die Skepper, Jehovah God.—Psalm 11:7.
[Prente op bladsy 25]
Jesus het die nederige volharding van hierdie Griekse vrou beloon
[Prent op bladsy 26]
Lewe in die Paradys is ingesluit in die vreugde wat vir hedendaagse Christene voorgehou word