Bloedoortappings heroorweeg
IN HIERDIE sombere eeu van vigs kan die grootste bedreiging vir ’n pasiënt se gesondheid in die operasiekamer skuil. “Daar is geen manier waarop ons die bloedvoorraad heeltemal steriel kan maak nie”, sê dr. Richard Spence, wat meer as ’n dekade lank die Sentrum vir Bloedlose Chirurgie by die Mediese Sentrum van die Cooper-hospitaaluniversiteit in Camden, New Jersey, VSA, bestuur het.
Dit is nie verbasend nie dat die sentrum baie Getuies van Jehovah behandel, wie se Bybelse standpunt om bloedoortappings te weier goed bekend is (Levitikus 17:11; Handelinge 15:28, 29). Maar ’n aantal pasiënte wat nie Getuies is nie, daag ook by die sentrum op, aangesien hulle besorg is oor die moontlike gevare van bloedoortappings, onder andere dat siektes soos hepatitis, vigs en ander kwale opgedoen kan word. “Die verskyning van vigs dui op die nodigheid om bloed te toets”, sê die Courier-Post Weekly Report on Science and Medicine. “Maar party gevalle kan steeds deur die toetsproses glip omdat iemand die virus kan hê voordat dit deur die toets opgespoor kan word.”
Weens sulke gevare gebruik die Sentrum vir Bloedlose Chirurgie alternatiewe vir bloedoortappings, wat die terugtapping van ’n pasiënt se eie bloed insluit—’n prosedure waarteen sommige Getuies in sekere omstandighede geen beswaar sal hê nie.a Nog ’n behandeling behels die gebruik van geneesmiddels wat die pasiënt se bloedproduksie stimuleer. Daarbenewens word ’n sintetiese bloedplaasvervanger soms ingespan om die voorsiening van suurstof te verbeter sonder om oorgetapte bloed te gebruik. “Jehovah se Getuies wil die beste mediese sorg hê”, sê dr. Spence, “maar hulle wil alternatiewe vir oortappings hê.”
Jehovah se Getuies is dankbaar vir die samewerking en bystand wat hulle van dokters ontvang het wat hulle geloofsoortuiging respekteer. Gevolglik het hulle werklik “die beste mediese sorg” gekry en ’n skoon gewete voor Jehovah God behou.—2 Timoteus 1:3.
[Voetnoot]
a ’n Breedvoerige bespreking van hierdie proses en die faktore wat oorweeg moet word om ’n persoonlike, gewetensgetroue besluit te neem, word in Die Wagtoring van 1 Maart 1989, bladsye 30-1, uiteengesit.