Vrae van lesers
Was God partydig toe hy manne van dieselfde ras en nasionale agtergrond—almal Jode—vir die vroeë bestuursliggaam gekies het?
Nee, hy was beslis nie. Almal wat aanvanklik deur Jesus as dissipels geroep is, was Jode. Toe, op Pinkster 33 G.J., was Jode en Joodse proseliete die eerstes wat met heilige gees gesalf is en dus in aanmerking gekom het om saam met Christus in die hemel te regeer. Samaritane en onbesnede nie-Joodse bekeerlinge is eers later ingesluit. Dit is derhalwe verstaanbaar dat die bestuursliggaam in daardie tyd uit Jode, “apostels en ouer manne in Jerusalem”, bestaan het, soos Handelinge 15:2 sê. Hulle was manne wat ’n breër grondslag van skriftuurlike kennis en jare se ondervinding in ware aanbidding gehad het, en hulle het al meer tyd gehad om tot ryp Christen- ouer manne te ontwikkel.—Vergelyk Romeine 3:1, 2.
Teen die tyd van die bestuursliggaam se vergadering wat in hoofstuk 15 van Handelinge genoem word, het talle nie-Jode al Christene geword. Hulle het mense uit Afrika, Europa en ander plekke ingesluit. Tog is daar geen verslag dat enige van hierdie nie-Jode by die bestuursliggaam gevoeg is om die Christelike godsdiens vir nie-Jode aanloklik te maak nie. Hoewel hierdie pas bekeerde nie-Joodse Christene gelyke lede van “die Israel van God” was, sou hulle respek gehad het vir die rypheid en groter ondervinding van die Joodse Christene, soos die apostels, wat destyds lede van die bestuursliggaam was (Galasiërs 6:16). Let in Handelinge 1:21, 22 op hoe hoog sulke ondervinding geag is.—Hebreërs 2:3; 2 Petrus 1:18; 1 Johannes 1:1-3.
God het baie eeue lank op ’n spesiale wyse met die nasie Israel gehandel, waaruit Jesus sy apostels gekies het. Dit was nie ’n fout of ’n onreg dat geen apostels gekom het uit wat nou Suid-Amerika, Afrika of die Verre-Ooste is nie. Mettertyd sou manne en vroue uit daardie plekke die geleentheid hê om voorregte te ontvang wat veel groter is as om ’n apostel op aarde of ’n lid van die eerste-eeuse bestuursliggaam te wees, of as enige ander aanstelling wat vandag onder God se volk ontvang kan word.—Galasiërs 3:27-29.
Een apostel is beweeg om te sê dat “God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). Ja, die voordele van Christus se losprys is vir almal beskikbaar, sonder enige partydigheid. En mense uit elke stam en taal en nasie sal ingesluit word in die hemelse Koninkryk en in die groot skare wat vir ewig op die aarde sal lewe.
Baie mense raak gevoelig oor ras, taal of nasionale agtergrond. Dit word toegelig deur wat ons in Handelinge 6:1 lees oor ’n geskil wat murmurering tussen die Grieks- en Hebreeussprekende Christene veroorsaak het. Ons het moontlik met die hedendaagse gevoeligheid oor taal, ras, etniese agtergrond of geslag grootgeword of is daardeur beïnvloed. In die lig van die werklikheid daarvan sal dit goed wees as ons ’n doelgerigte poging aanwend om ons gevoelens en reaksies deur God se beskouing te laat vorm, naamlik dat alle mense voor hom gelyk is, ongeag wat ons uiterlike voorkoms is. Toe God die kwalifikasies vir ouer manne en bedieningsknegte laat opteken het, het hy geen melding van ras en nasionale agtergrond gemaak nie. Nee, hy het klem gelê op die geestelike kwalifikasies van diegene wat moontlik beskikbaar is om te dien. Dit geld vandag vir plaaslike ouer manne, reisende opsieners en takkantoorpersoneel, net soos dit in die eerste eeu vir die bestuursliggaam gegeld het.