Vrae van lesers
▪ Was die apostel Paulus ’n lid van die Christelike bestuursliggaam?
Dit is redelik om tot die slotsom te kom dat Paulus ’n lid van die eerste-eeuse Christelike bestuursliggaam was.
Die Bybel verstrek nie baie besonderhede oor die samestelling van die vroeë bestuursliggaam nie, en die meeste van die inligting kom voor in Handelinge hoofstuk 15. Daardie verslag toon dat die groep manne wat in 49 G.J. die bestuursliggaam uitgemaak het uit “die apostels en ouderlinge in Jerusalem” bestaan het. Wie was hulle?—Handelinge 15:2, 4, 6.
Jakobus, die halfbroer van Jesus, was voorsitter by daardie vergadering om die kwessie te bespreek of nie-Jode wat tot die Christelike godsdiens bekeer is die Mosaïese Wet, met inbegrip van die besnydenis, moes onderhou. Die apostel Petrus het deelgeneem aan daardie bespreking. Die verslag praat van Judas (genoem Barsabbas), en Silas as “voorgangers onder die broeders”, maar dit sê nie spesifiek dat hulle lede van die bestuursliggaam was nie (Handelinge 15:7,13, 22). Die feit is dat die Bybel nie ’n volledige lys name gee van die wat die bestuursliggaam uitgemaak het nie. Party het gemeen dat Paulus moontlik nie ingesluit is nie, aangesien hy ’n reisende sendeling was en daar hy die vraag van die gemeente in Antiochië, Sirië, af gebring het.
Paulus was weliswaar nie een van “die twaalf” wat met Jesus gewandel het nie, want Matthias is gekies om Judas Iskariot te vervang.a Maar die dissipel Jakobus was ook nie een nie, hoewel hy duidelik deel van die bestuursliggaam uitgemaak het (Handelinge 6:2; 1:15-26). Daarbenewens het Jesus aan Paulus verskyn en hom benoem as ‘’n uitverkore werktuig om Sy naam na die nasies te dra’. Paulus het gevolglik “’n apostel nie vanweë mense of deur ’n mens nie, maar deur Jesus Christus en God” geword. Hy het homself “’n apostel van die heidene” genoem.—Handelinge 9:3-6, 15; Galasiërs 1:1; Romeine 11:13; 1 Korinthiërs 9:1; 15:7, 8.
As verdere aanduiding dat Paulus ’n lid geword het van die liggaam van “apostels en ouderlinge” wat die gemeentes van leiding voorsien het, kan ons kyk na wat hy in God se krag gedoen het. Paulus het 14 boeke van die Christelike Griekse Skrifte geskryf. Petrus het die geskrifte van “ons geliefde broeder Paulus” met “die ander Skrifte” gelykgestel (2 Petrus 3:15, 16). Paulus het ’n belangrike rol in die verspreiding van die Christelike godsdiens gespeel, en hy het die gemeentes van volop leiding voorsien. Sy geïnspireerde geskrifte toon dat Paulus soms self geskille besleg het. Dit is wat destyds verwag sou word van ’n lid van die bestuursliggaam wat ver is van die sentrale liggaam en met die stadige kommunikasiemiddele te kampe het (1 Korinthiërs 5:11-13; 7:10, 17). Maar by ander tye het hy sake voor die hele liggaam gelê, soos die verslag in Handelinge 15 toelig.
“Paulus, ’n dienskneg van God en ’n apostel van Jesus Christus” het aan Titus geskryf: “Om hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy nog verder sou regmaak wat oorgebly het, en van stad tot stad ouderlinge sou aanstel soos ek jou beveel het” (Titus 1:1, 5). Gedurende sy reise het Paulus dus beslis namens die sentrale bestuursliggaam gespreek.—Handelinge 16:4, 5.
Hoewel sy toewysing van die Here uitgebreide reise beteken het sodat hy party vergaderinge van die sentrale bestuursliggaam nie kon bywoon nie, dui die getuienis van hoe hy deur God en Christus gebruik is egter daarop dat Paulus ’n lid van daardie liggaam was.
[Voetnote]
a Teen hierdie tyd was die apostel Jakobus ook reeds om die lewe gebring.—Handelinge 12:2.