Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 4/15 bl. 26-28
  • ’n Berg wat “beweeg”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Berg wat “beweeg”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Al lank ’n pelgrimsbestemming
  • Kenmerke van die pelgrimstog
  • Waarom klim hulle?
  • Beweeg om die Skepper te waardeer
  • My ouers het my verlaat, maar God het my lief
    Ontwaak!—2001
  • Ek het die allerbeste berg geklim
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Ek dien Jehovah op sy heilige berg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Die Pelgrims en hulle stryd om vryheid
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 4/15 bl. 26-28

’n Berg wat “beweeg”

IN DIE weste van Ierland is die unieke keëlvorm van Croagh Patrick opvallend tussen die omliggende berge. Elke jaar, op die laaste Sondag in Julie, lyk dit asof die bergspits beweeg wanneer tot 30 000 mense, jonk sowel as oud, op ’n jaarlikse pelgrimstog na die kruin (765 meter) klim.

Op hierdie dag klim pelgrims boontoe en ondertoe met ’n paadjie wat nou, hobbelrig en, op plekke, gevaarlik is. Trouens, die laaste gedeelte (ongeveer driehonderd meter) is uiters steil en bestaan byna geheel en al uit los rotse, wat die klim gevaarlik sowel as uitputtend maak.

Party sal kaalvoet klim en ’n paar sal selfs sommige dele op hulle knieë aflê. In vroeër jare het die pelgrimstog in die nag begin.

Waarom is Croagh Patrick so ’n belangrike ervaring vir soveel mense?

Al lank ’n pelgrimsbestemming

Vroeg in die vyfde eeu G.J. het die Rooms-Katolieke Kerk Patrick as ’n sendeling-biskop na Ierland gestuur. Patrick se hoofdoel was om die Iere tot die Christelike godsdiens te bekeer, en vir die jare wat hy gepreek en onder die mense gewerk het, kry hy die erkenning dat hy die grondslag vir die Katolieke Kerk daar gelê het.

Sy werk het hom na ’n hele paar plekke in die land geneem. Een van hulle was die weste van Ierland waar hy, volgens party bronne, 40 dae en nagte bo-op ‘n berg deur- gebring het wat later na hom vernoem is—Croagh Patrick (wat “Heuwel van Patrick” beteken). Daar het hy gevas en om die sukses van sy sending gebid.

Oor die jare heen het baie legendes oor sy heldedade ontwikkel. Een van die bekendste is dat Patrick, terwyl hy op daardie berg was, al die slange uit Ierland verdryf het.

Volgens tradisie het hy ’n klein kerkie op die kruin gebou. Hoewel daardie gebou lankal nie meer daar is nie, is die oorspronklike fondament nog daar, en die plek sowel as die berg was oor die jare heen ’n pelgrimsbestemming.

Kenmerke van die pelgrimstog

Vir iemand op gevorderde leeftyd of wat nie gewoond is aan bergklim nie, is dit op sigself ’n prestasie net om die vyf kilometer lange klimtog te voltooi en veilig af te kom.

Op spesifieke plekke langs die paadjie staan noodhulpspanne gereed om na ’n verskeidenheid beserings om te sien.

Op pad is daar drie plekke, of stasies, waar die pelgrims verskeie boetedoenings uitvoer. Dit word breedvoerig verduidelik op ’n kennisgewingbord by die begin van die klimtog.—Sien venster.

Waarom klim hulle?

Waarom onderneem soveel mense hierdie veeleisende pelgrimstog? Waarom gaan party tot sulke uiterstes wanneer hulle klim?

Wel, party glo dat, indien hulle tydens die pelgrimstog bid, daar ’n groter kans is dat hulle persoonlike versoeke verhoor sal word. Ander doen dit om vergifnis te verkry vir die een of ander oortreding. Vir ander is dit ’n manier om dankie te sê. Daar is beslis baie mense wat dit vir die sosiale sy daarvan doen. Een gesaghebbende het gesê dat dit ‘’n uiting van gemeenskapsgees en -liefde is’. Hy het ook gesê dat om Croagh Patrick te klim “hulle manier is om in St. Patrick se voetstappe te volg en erkenning is vir dit wat hulle aan hom verskuldig is op die gebied van geloof”. Die belangrikste rede vir die klimtog, het hy bygevoeg, is dat dit “’n vorm van straf is, omdat die fisiese inspanning wat dit behels ’n ware boetedoening is. Die stadige klimtog na die spits is ’n lang daad van berou”.

Een man het met trots gesê dat hy dit al 25 keer gedoen het! Hy het dit gedoen, het hy gesê, “om ’n bietjie boetedoening te doen!” ’n Ander man het net gesê: “Sonder moeite kry ’n mens niks!”

Hoewel dit nie ’n vereiste is nie, klim baie mense die berg kaalvoet. Waarom doen hulle dit? In die eerste plek beskou hulle die grond as “heilig” en trek daarom hulle skoene uit. In die tweede plek kom dit ooreen met hulle oogmerk om ‘’n bietjie boetedoening te doen’. Dit verklaar ook waarom party die boetedoenings op hulle knieë uitvoer.

Beweeg om die Skepper te waardeer

Maar gestel iemand het nie dieselfde godsdiensidees as die pelgrims wat die berg op ’n spesiale dag klim nie? Met goeie weerstoestande en ’n goeie paar skoene kan die berg enige tyd geklim word. Ons het nie die berg geklim op ’n dag toe ’n bewegende massa pelgrims die klimtog onderneem het nie. Tydens ons gereelde rusposes kon ons dink oor die klimtog self en die uitwerking wat dit op soveel mense gehad het. Terwyl ons ons duisende pelgrims voorstel wat hierdie uitputtende klimtog onderneem en die verskeie boetedoenings uitvoer, moes ons onwillekeurig wonder: ‘Is dit wat God vereis? Bring die ritueel om sekere monumente te klim of daar rond te loop terwyl jy gebede oor en oor herhaal werklik ’n mens nader aan God?’ Wat van Jesus se raad in Matteus 6:6, 7 oor gebede wat oor en oor herhaal word?

Ons het beslis nie die berg geklim om ’n godsdienservaring te hê nie. Ons het nogtans nader aan ons Skepper gevoel omdat ons sy skepping kon waardeer, aangesien berge op enige plek ’n deel van die aarde se wonders is. Vanaf die kruin kon ons ’n onbelemmerde uitsig op die pragtige landskap geniet en selfs sien waar die land die Atlantiese Oseaan ontmoet. Die eilandjies in die baai wat aan die een kant onder ons gelê en skitter het, het ’n skerp teenstelling met die ruwe en onvrugbare bergstreek aan die ander kant gevorm.

Ons het aan die drie stasies gedink. Jesus se eie woorde aan sy ware volgelinge het by ons opgekom: “Wanneer julle bid, moenie dieselfde dinge oor en oor sê, net soos die mense van die nasies nie, want hulle dink dat hulle verhoor sal word omdat hulle baie woorde gebruik.”—Matteus 6:7.

Ons het besef dat die berg deel van ’n tradisie geword het wat duisende mense in moeitevolle rituele vasvang. Ons het gedink aan die teenstelling wat dit vorm met die vryheid waarvan die apostel Johannes gepraat het toe hy gesê het: “Ons [onderhou God se] gebooie . . . en tog is sy gebooie nie swaar nie.”—1 Johannes 5:3.

Ons het ons uitstappie, onder andere om Croagh Patrick te klim, geniet. Dit het ons laat uitsien na die tyd wanneer die hele mensdom van nie-Bybelse tradisies bevry sal wees en die aarde se liefdevolle Skepper “met gees en waarheid” sal kan aanbid.—Johannes 4:24.

[Venster op bladsy 27]

Hooftrekke van die pelgrimstog

Elke pelgrim wat die berg op die dag van St. Patrick of binne agt dae, of enige tyd gedurende Junie, Julie, Augustus & September klim, & IN OF NABY DIE KERKIE BID tot intensie van die pous mag ’n volle aflaat kry mits hy die Geloofsbelydenis en Heilige Nagmaal op die Kruin of binne dieselfde week bywoon.

DIE TRADISIONELE STASIES

Daar is drie “stasies” (1) Aan die voet van die keël of Leacht Benain, (2) Op die kruin, (3) Roilig Muire, ’n ent teen die Lecanvey- [’n dorp] kant van die berg af.

1ste Stasie - LEACHT BENAIN

Die pelgrim loop sewe keer om die hoop klippe en sê 7 Onse Vaders, 7 keer die Wees gegroet, Maria en een Geloofsbelydenis op

2de Stasie - DIE KRUIN

(a) Die pelgrim kniel en sê 7 Onse Vaders, 7 keer die Wees gegroet, Maria en een Geloofsbelydenis op

(b) Die pelgrim bid naby die Kerkie tot intensie van die pous

(c) Die pelgrim loop 15 keer om die Kerkie terwyl hy 15 Onse Vaders, 15 keer die Wees gegroet, Maria en een Geloofsbelydenis opsê

(d) Die pelgrim loop 7 keer om Leaba Phadraig [Patrick se bed] terwyl hy 7 Onse Vaders, 7 keer die Wees gegroet, Maria en een Geloofsbelydenis opsê

3de Stasie - ROILIG MUIRE

Die pelgrim loop 7 keer om elke hoop klippe terwyl hy 7 Onse Vaders, 7 keer die Wees gegroet, Maria en een Geloofsbelydenis by elkeen opsê [daar is drie hope], en laastens loop hy 7 keer om die omheinde Roilig Muire terwyl hy bid.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel