Ek “verkoop sout” in Mosambiek
FRANCISCO COANA, ’n lid van die landskomitee van Mosambiek, het tien jaar in “konsentrasiekampe” deurgebring. Hy vertel sy ondervinding: “Ek het geweet dat ons ’n tyd lank hier sou wees, en daarom het ek die kringopsiener gevra of ek my gewone pionierdiens kon voortsit. Maar hoe sou ek genoeg tyd aan die openbare bediening kon wy, aangesien byna almal in die kampe Getuies van Jehovah was? Ek het gesê dat ek na Milange, ’n dorp 47 kilometer daarvandaan, sou gaan om mense te vind vir wie ek kon getuig.
“Hoewel ons amptelik nie toegelaat is om die kamp te verlaat nie, is hierdie reël nie streng toegepas nie. Ek kan nog onthou hoe ek die bos ingegaan, gekniel en gebid het om ’n manier te vind waarop ek vir die plaaslike mense kon getuig. Jehovah het spoedig my gebed verhoor.
“Ek het met ’n man in aanraking gekom wat ’n fiets gehad het, en ek het ’n ooreenkoms met hom aangegaan. Hy het ingestem om my hierdie fiets as betaling te gee as ek sy stuk grond van driekwart hektaar voor die reënseisoen bewerk. Ek het toe elke oggend in sy landerye gaan werk. Jehovah het hierdie reëling geseën, want ek het uiteindelik my fiets gekry.
“Ek kon gevolglik die groot dorp Milange bereik en my pionierdiens in hierdie vrugbare veld met welslae voortsit. Aangesien ons werk verbied was, moes ek ’n plan beraam om die waarheid aan die mense oor te dra. Ek het boeke en tydskrifte onder my hemp ingedruk, sout in ’n sak geneem en dit gaan verkoop. Ek het nie 5 meticals daarvoor gevra nie, maar eerder 15 meticals. (As dit te goedkoop was, sou die mense alles gekoop het en sou ek geen sout meer gehad het om mee te preek nie!) My gesprekke het min of meer so verloop:
“‘Goeiedag! Ek verkoop vandag sout.’
“‘Hoeveel kos dit?’
“‘Vyftien meticals.’
“‘Nee, nee. Dis heeltemal te duur!’
“‘Ja, ek stem saam dis duur. Maar as jy dink dis nou duur, wag net ’n rukkie, want in die toekoms gaan dit baie duurder wees. Het jy geweet dit is in die Bybel voorspel?’
“‘Ek het dit nog nooit in my Bybel gelees nie.’
“‘Ja, dis daar. Bring gerus jou Bybel, dat ek jou wys.’
“Dit sou dan tot ’n gesprek lei waarin ons sý Bybel gebruik, sodat myne onder my hemp weggesteek kon bly. Dan het ek na Openbaring hoofstuk 6 verwys wat kritieke toestande en voedseltekorte bespreek. As ek ’n gunstige reaksie bemerk het, het ek die boekie Die waarheid wat lei tot die ewige lewe of Goeie nuus om jou gelukkig te maak uitgehaal en ’n behoorlike Bybelstudie begin.
“Die resultaat was dat ek ’n groepie van 15 belangstellendes in Milange kon vorm. Maar dit het nie lank geneem voordat die gereg ons ingehaal het nie. Terwyl ek eendag besig was om ’n Bybelstudie te hou, het die polisie daar ingebars en ons in hegtenis geneem. Ons is almal, ook die kindertjies in die gesin, na die plaaslike gevangenis geneem. Ná ’n maand is ons almal na die kamp toe teruggestuur.”
Hierdie ondervindinge het nie ons broers se ywer gedemp nie. Inteendeel, Francisco en sy gesin, saam met duisende van hulle broers wat in die kampe was, aanbid en getuig nou vrylik in Mosambiek.