Watter voordeel hou dit in om godsdiens te bespreek?
OUERS wag gretig dat hulle baba sy eerste woorde sê. Wanneer hulle ’n herhaalde lettergreep tussen die keelgeluidjies hoor, miskien “Mamma” of “Pappa”, swel hulle harte van geluk. Sommer gou vertel hulle hierdie nuus vir hulle vriende sowel as bure. ’n Baba se eerste kommunikasie is werklik goeie nuus wat vreugde meebring.
Die geluide, beelde en geure wat deur die klein kindjie se sintuie opgeneem word, lei tot ’n reaksie. Reaksies verskil natuurlik. Maar as ’n baba ná ’n sekere tyd nie op hierdie prikkelings reageer nie, sal die ouers tereg bekommerd wees dat hulle kind se ontwikkeling moontlik belemmer is.
Babas reageer die beste op mense wat hulle ken. Wanneer ’n ma haar baba troetel, verskyn ’n breë glimlag gewoonlik. Maar as ’n besoekende familielid aan die baba raak, kan hy begin huil of selfs koppig weier om deur daardie persoon vasgehou te word. Die meeste familielede wat dit ondervind, gooi nie tou op nie. Namate die baba hulle beter leer ken, word die skeidsmuur van onbekendheid tot hulle vreugde afgebreek, en die baba se glimlag verskyn stadigaan.
Talle volwassenes huiwer eweneens om hulle godsdienstige opvattings openlik te bespreek met iemand wat nie ’n ou kennis is nie. Hulle verstaan moontlik nie waarom ’n vreemdeling oor ’n persoonlike saak—godsdiens—wil gesels nie. Die gevolg is dat hulle ’n skeidsmuur laat vorm tussen hulle en dié wat oor die Skepper praat. Hulle weier selfs om iets te bespreek wat, per slot van rekening, ’n ingebore kenmerk van die mens is: die begeerte om te aanbid.
Ons behoort in werklikheid daarin belang te stel om te leer omtrent ons Skepper, en gesprekke met ander kan ons in staat stel om te leer. Dit is die geval omdat God lank reeds met openhartige kommunikasie geassosieer word. Kom ons kyk hoe.
‘Luister en leer’
God se eerste gesprek met ’n mens was met Adam in die tuin van Eden. Maar nadat Adam en Eva gesondig het, het hulle verkies om weg te kruip toe God hulle geroep het, toe hy verder met hulle wou kommunikeer (Genesis 3:8-13). Die Bybel meld egter besonderhede van manne en vroue wat kommunikasie van God af verwelkom het.
God het met Noag oor die naderende vernietiging van die goddelose wêreld van sy dag gekommunikeer, waarna Noag “’n prediker van regverdigheid” geword het (2 Petrus 2:5). As God se woordvoerder onder sy geslag, het Noag nie alleen geloof in God se handelinge met die mens getoon nie, maar ook in die openbaar bekend gemaak dat hy aan Jehovah se kant was. Wat was die reaksie wat Noag gesien het? Wat ’n jammerte tog dat die meeste van sy tydgenote “geen ag daarop geslaan [het] totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie” (Matteus 24:37-39). Maar ons kan bly wees dat sewe lede van Noag se gesin geluister, God se opdragte gehoorsaam en die wêreldvloed oorleef het. Alle mense wat vandag lewe, stam van hulle af.
Later het God met ’n hele nasie van mense, eertydse Israel, gekommunikeer. Deur Moses het God hulle die Tien Gebooie asook sowat 600 ander wette gegee wat net so bindend was. Jehovah het verwag dat die Israeliete al die wette gehoorsaam. Moses het beveel dat God se Wet elke sewe jaar, gedurende die jaarlikse Huttefees, voorgelees word. “Laat die volk byeenkom”, het hy beveel, “die vroue en die kinders en jou vreemdeling wat in jou poorte is.” Met watter doel? “Dat hulle kan hoor [luister, NAV] en dat hulle kan leer om die HERE julle God te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet te hou.” Almal moes luister en leer. Stel jou voor hoe hulle dit moes geniet het om te praat oor wat hulle gehoor het!—Deuteronomium 31:10-12.
Meer as vyf eeue later het die Judese koning Josafat prinse en Leviete georganiseer in ’n veldtog om die suiwer aanbidding van Jehovah te herstel. Hierdie manne het dwarsdeur die stede van Juda gegaan en die inwoners Jehovah se wette geleer. Deur dit in die openbaar te laat bespreek, het die koning sy onverskrokkenheid ten opsigte van ware aanbidding getoon. Wat sy onderdane betref, hulle moes luister en leer.—2 Kronieke 17:1-6, 9.
Getuig deur gesprekke te voer
God het sy eie Seun, Jesus, na die aarde toe gestuur om as Sy Woordvoerder te dien (Johannes 1:14). Terwyl drie dissipels gesien het hoe Jesus voor hulle van gedaante verander, het hulle God se eie stem hoor sê: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het; luister na hom” (Matteus 17:5). Hulle het geredelik gehoorsaam.
Jesus het eweneens sy apostels beveel om God se voornemens aan ander te verkondig. Maar toe daar nog sowat ses maande van Jesus se bediening op aarde oor was, het hy bekend gemaak dat die verkondiging van die Koninkryk van die hemele so ’n ontsaglike taak is dat meer dissipels nodig sou wees. Hy het 70 van hulle geleer hoe om oor die Koninkryk van God met vreemdelinge te praat en het hulle toe uitgestuur om daardie boodskap in die openbaar te verkondig (Lukas 10:1, 2, 9). Kort voordat Jesus na sy Vader in die hemel teruggekeer het, het hy sy volgelinge aangespoor om die inisiatief te neem om met ander oor hierdie boodskap te praat en het hulle selfs beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Vandag vervul ware Christene daardie opdrag wêreldwyd deur die goeie nuus van God se Koninkryk met hulle medemens te bespreek. Hierdie gesprekke stel hulle in staat om van die waarheid oor die Skepper, Jehovah, te getuig.—Matteus 24:14.
Vreedsame, opbouende gesprekke
Op watter wyse moes Jesus se dissipels hulle opvattings met ander bespreek? Hulle moes nie teenstanders irriteer en hulle moes ook nie met teenstanders argumenteer nie. Hulle moes eerder na diegene soek wat die goeie nuus verwelkom, en daarna die skriftuurlike feite ter stawing daarvan bekend maak. God het natuurlik die reaksies waargeneem van dié wat met sy Seun se dissipels in aanraking gekom het, net soos Jesus gesê het: “Hy wat julle ontvang, ontvang my ook, en hy wat my ontvang, ontvang ook hom wat my uitgestuur het” (Matteus 10:40). Wat ’n klap in die gesig was dit tog toe die meeste van Jesus se tydgenote sy boodskap verwerp het!
“’n Slaaf van die Here hoef nie te baklei nie”, was die Christenapostel Paulus se raad. Hy moet eerder “teer wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig, iemand wat hom onder die kwaad in bedwang hou, wat dié wat nie gunstiggesind is nie met sagmoedigheid onderrig; daar God hulle miskien berou sal gee wat tot juiste kennis van die waarheid lei” (2 Timoteus 2:24, 25). Die manier waarop Paulus die goeie nuus aan die mense van Atene, Griekeland, verkondig het, voorsien ’n goeie voorbeeld. Hy het met die Jode in hulle sinagoge geredeneer. Hy het daagliks op die markplein gepraat met “dié wat daar was”. Hoewel party ongetwyfeld net daarvan gehou het om na nuwe idees te luister, het Paulus reguit en op ’n vriendelike manier gepraat. Hy het God se boodskap, wat hulle aangespoor het om berou te toon, met sy luisteraars bespreek. Hulle reaksie was min of meer dieselfde as dié van mense van vandag. “Party [het] die spot begin dryf, terwyl ander gesê het: ‘Ons sal jou weer hieroor hoor.’” Paulus het nie daarop aangedring dat die bespreking voortgesit word nie. Aangesien hy sy boodskap verkondig het, het hy “uit hulle midde weggegaan”.—Handelinge 17:16-34.
Paulus het later vir lede van die Christengemeente in Efese gesê dat hy hom ‘nie daarvan weerhou het om hulle alles te vertel wat nuttig is of om hulle in die openbaar en van huis tot huis te leer nie’. Hy het daarbenewens ‘aan Jode sowel as Grieke deeglik oor berou teenoor God en geloof in Jesus Christus getuig’.—Handelinge 20:20, 21.
Hierdie skriftuurlike voorbeelde toon hoe God se getroue knegte in Bybeltye oor godsdiens gepraat het. Uit gehoorsaamheid bespreek Jehovah se Getuies vandag ook godsdiens met hulle medemens.
Doeltreffende gesprekke
‘Hoor die Woord van God.’ ‘Luister na sy gebooie.’ Hoe dikwels kom sulke vermanings tog in die Bybel voor! Wanneer Jehovah se Getuies volgende keer met jou praat, kan jy op hierdie Bybelse riglyne ag slaan. Luister gerus na die Bybelse boodskap wat hulle jou bring. Hierdie boodskap is nie polities nie, maar verkondig ’n hemelse regering deur God, sy Koninkryk. Dit is God se middel om die oorsake van hedendaagse konflikte te verwyder (Daniël 2:44). Daarna sal hierdie hemelse regering deur God reëlings tref sodat die hele aarde in ’n paradys soos die tuin van Eden omskep kan word.
’n Voormalige speurder het telkens geweier om te luister wanneer Jehovah se Getuies met hom oor die Bybel gepraat het. Maar vanweë die toenemende misdaad waarmee hy te kampe gehad het, was hy teleurgesteld met die lewe. Hy het dus vir die volgende Getuie wat hom besoek het, gesê dat hy die bewyse vir die Bybelboodskap sou ondersoek. Gereelde besprekings het gevolg. Hoewel die polisieman etlike kere verhuis het, het die Getuies hom met graagte by elke nuwe plek opgesoek en die gesprekke voortgesit. Uiteindelik het die polisiebeampte erken: “Die bewyse waarna ek gesoek het, was heeltyd híér in die Heilige Skrif. As daardie Getuies nie volgehou het om met my te praat nie, sou ek nog steeds gewonder het wat die doel van die lewe is. Maar ek het die waarheid geleer, en ek gaan die res van my lewe gebruik om ander te probeer vind wat, net soos ek, na God soek.”
Belangstellende hoorders wil werklik meer weet. Hulle verwag tereg redes vir die opvattings wat aan hulle meegedeel word (1 Petrus 3:15). Net soos ’n kindjie sy ouers met vrae bestook en antwoorde van hulle verwag, verwag jy tereg dat die Getuies jou gegronde antwoorde moet gee. Jy kan daarvan seker wees dat hulle met graagte sal terugkom en die Bybelboodskap verder met jou sal bespreek.
Miskien weet jy reeds ’n bietjie van die Bybel. Jy besef moontlik dat wat God van jou verwag sekere veranderinge in jou lewenswyse sal vereis. Moenie huiwer om sake verder te voer omdat jy vrees dat God te veel van jou sal vereis nie. Sy vereistes sal net ware geluk meebring. Jy sal dit besef namate jy stap vir stap vorder.
Eerstens moet jy nadink oor wie Jehovah is, wat hy van jou verwag en wat hy aanbied. Vra die Getuies om jou te wys wat die Bybel hieroor sê. Gaan dit wat hulle sê in jou eie eksemplaar van die Bybel na. Namate jy uitvind dat die Getuies redelik is met wat hulle as die waarheid oor godsdiens verkondig, sal jy ongetwyfeld baie meer goeie dinge wil ondersoek wat hulle jou uit die Skrif kan meedeel.—Spreuke 27:17.
Jy is welkom om die Getuies by hulle plaaslike vergaderplek, die Koninkryksaal, te besoek. Daar sal jy opbouende besprekings van God se Woord hoor. Jy sal opmerk hoe die aanwesiges dit geniet om met mekaar oor God se voornemens te praat. Laat toe dat hierdie Getuies jou help om die waarheid oor God se wil vir ons wat vandag leef te wete te kom. Gee gerus gehoor aan God se uitnodiging om oor ware aanbidding te praat en verkry sy goedkeuring, asook die ewige lewe in die Paradys.—Maleagi 3:16; Johannes 17:3.
[Prent op bladsy 5]
Noag het vrymoedig oor God se voorneme gepraat
[Prente op bladsy 7]
Soos Paulus in eertydse Atene, leer Jehovah se Getuies Bybelwaarhede aan ander