Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 2/1 bl. 28-29
  • Waarom jy moet belangstel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom jy moet belangstel
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Toe talle nie belanggestel het nie
  • Diegene wat in Jesus se dag nie belanggestel het nie
  • Toon belangstelling—Dit beteken jou lewe!
  • Waarom praat Jehovah se Getuies met persone al het hulle voorheen gesê “Ek stel nie belang nie”?
    Algemene vrae oor Jehovah se Getuies
  • Voorbereiding vir verlossing tot in ’n nuwe wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Dit is dringender as ooit tevore dat ons waaksaam bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 2/1 bl. 28-29

Waarom jy moet belangstel

‘BELANGSTEL waarin?’ In die grootste verandering wat in die mensegeskiedenis gaan plaasvind! ’n Heeltemal nuwe regering waarvan God die skepper is, staan op die punt om die aardse toneel oor te neem (Daniël 2:44). Die oorname gaan elke man, vrou en kind raak—òf ten goede òf ten kwade. Hierdie merkwaardige verandering gaan plaasvind in die geslag wat in Mattheüs 24:34 genoem word. Die boodskap aangaande daardie verandering verg derhalwe die opregte en dringende aandag van alle mense. Dit sal inderdaad verkeerd wees om te sê: ‘Ek stel nie belang nie.’

Toe talle nie belanggestel het nie

Ons huidige dag is nie die eerste keer dat ’n belangrike en dringende boodskap bekend gemaak is wat die belangstelling moes wek van diegene wat genooi is om daarna te luister nie. Noag se dag was so ’n tyd. As gevolg van die goddelose, sedelose en gewelddadige persoonlikheid van die mens destyds, het Jehovah God hom voorgeneem om die mensdom in ’n wêreldwye vloed uit te delg (Genesis 6:5-7, 13). Maar alvorens hy opgetree het om die goddeloses te verdelg, het hy gereël dat Noag, ’n prediker van geregtigheid, hulle waarsku teen die komende Sondvloed en hulle vertel wat hulle moet doen om behoue te bly. Hoewel daardie boodskap uiters belangrik was, het die meeste mense wat dit gehoor het daar “geen ag op geslaan nie” (Mattheüs 24:39, NW; Lukas 17:26, 27; 2 Petrus 2:5). Hulle was apaties, onverskillig—hulle het eenvoudig nie belanggestel nie! As gevolg daarvan het hulle alles verloor.

Die situasie in die tyd van die inwoners van die stede Sodom en Gomorra, wat vir hulle onsedelikheid berug was, was baie eenders. Ofskoon hulle gewaarsku is teen hulle naderende vernietiging weens hulle walglike verdorwenheid het hulle nie geluister nie. Hulle het eweneens nie in enigiemand belanggestel wat hulle lewensroetine in die war sou bring nie. Die man Lot was die enigste uitsondering.—Genesis 18:20-30; 19:1-29; Lukas 17:28-30.

Die boodskap was dus nie gewild onder die inwoners van daardie stede nie. Hulle was dalk meer besorg oor wat hulle bure van hulle sou dink as hulle belangstelling sou toon. Of miskien was hulle bang dat hulle veranderinge in hulle lewe sou moes aanbring wat hulle nie wou aanbring nie. Hulle het klaarblyklik hulle losbandige lewe geniet (Judas 7). Tot op die dag toe hulle vernietiging wel gekom het, het hulle dus niks vermoed nie en nie besef wat met hulle gaan gebeur nie.

Diegene wat in Jesus se dag nie belanggestel het nie

Toe die Seun van God, Jesus Christus, op die aarde was, het hy sy volgelinge uitgestuur om die goeie nuus van God se hemelse regering bekend te maak (Mattheüs 10:7). Trouens, hy het sy dissipels geleer hoe om hierdie ongewone en belangrike boodskap by elke huis aan te bied en wat hulle moes doen waar die huisbewoners nie opregte belangstelling getoon het nie. Luister na hoe hy sy dissipels oplei: “As julle die huis ingaan, groet dit; en as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom, maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer. En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af.”—Mattheüs 10:12-14.

Let op dat Jesus sy dissipels opdrag gegee het om ‘die stof van hulle voete af te skud’ wanneer hulle ’n huis of ’n dorp verlaat het waar daar ’n algehele gebrek aan belangstelling in Jehovah se Koninkryk was. Wat het hy met hierdie raad bedoel? Om die stof van jou voete af te skud het getoon dat jy nie verantwoordelik of aanspreeklik gehou kon word vir die gevolge wat ’n huisbewoner weens sy gebrek aan belangstelling in God se boodskap sou ly nie. Dit het te kenne gegee dat Jesus se volgelinge vreedsaam weggaan en daardie huis of stad oorlaat aan die gevolge wat uiteindelik van God sou kom.

Toon belangstelling—Dit beteken jou lewe!

Dit is interessant om te merk dat Jesus Christus die hedendaagse reaksies met dié in die dae van Noag en van Sodom en Gomorra vergelyk het (Mattheüs 24:37-39; Lukas 17:26-30). Onsedelikheid en geweld het in die dae van Noag sowel as van Lot hoogty gevier. Dit het die regverdige man Lot inderdaad gefolter en ontstel om die inwoners van Sodom en Gomorra se wetteloosheid en losbandige lewenswyse te aanskou.—2 Petrus 2:6-8.

Wanneer Jesus van die dae van Noag en van Lot praat, vestig hy egter nie ons aandag op die onsedelikheid en geweld van daardie tye nie, maar eerder op alledaagse dinge—eet, drink, trou, in die huwelik gee, koop, verkoop, bou en plant. Hy het aangedui dat talle nie aan die boodskap van die goeie nuus van God se Koninkryk gehoor sou gee nie, maar dat hulle te verdiep sou wees in die alledaagse dinge en gevolglik nie belangstelling sou toon in wat Jehovah voornemens is om te doen nie. Die boodskap is ’n saak van lewe of dood. Versuim om daarna te luister, kan ’n mens duur te staan kom. Dit is ’n ernstige sonde om nie ag te gee of om geen belangstelling te toon nie.—Vergelyk Mattheüs 6:31, 32.

Hoe ernstig is dit presies? Jesus het voorts verduidelik: “Dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad” wat nie geluister of belanggestel het nie (Mattheüs 10:15). As iemand, hoewel hy dalk onsedelik en gewelddadig is, wel belangstelling toon, luister, en die boodskap glo, kan hy sy persoonlikheid verander en Jehovah se goedkeuring wegdra om ’n waardige onderdaan van die Koninkryk te wees, soos die vroeë Christene in Korinthe gedoen het.—1 Korinthiërs 6:9-11.

Jesus Christus het sy dissipels in al sy gesprekke aangespoor om te luister, aandag te skenk en belangstelling te toon in die belangrike boodskap van God se Koninkryk. Om diegene met wie hy gepraat het se aandag te wek, het hy hulle vermaan: “Skenk aandag aan die wyse waarop julle luister.” “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.” “Luister almal na My en verstaan.” “Luister en verstaan!”—Lukas 8:18, NW; Markus 4:9; 7:14; Mattheüs 15:10.

Dit sal dus tot jou voordeel wees as jy die volgende keer wanneer Jehovah se Getuies jou huis besoek, sê: ‘Kom binne, ek stel belang.’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel