Leer om genot te vind in die vrees van Jehovah
“Kom, kinders, luister na my; ek wil julle die vrees van [Jehovah] leer.”—PSALM 34:12.
1. Hoe sal vrees deur God se Koninkryk verwyder word, maar sluit dit alle soorte vrees in?
ORAL smag mense na vryheid van vrees—vrees vir misdaad en geweld, vrees vir werkloosheid en vrees vir ernstige siekte. Wat ’n wonderlike dag sal dit tog wees wanneer daardie vryheid onder God se Koninkryk ’n werklikheid word! (Jesaja 33:24; 65:21-23; Miga 4:4). Maar nie alle vrees sal dan tot die verlede behoort nie, en ons moet ook nie probeer om alle vrees nou uit ons lewe te verwyder nie. Daar is vrees wat goed is en vrees wat sleg is.
2. (a) Watter soort vrees is sleg, en watter soort is heilsaam? (b) Wat is godvrugtige vrees, en hoe toon die teksverwysings dit?
2 Vrees kan gif vir die verstand wees en ’n mens se redeneervermoë belemmer. Dit kan moed ondermyn en hoop vernietig. Sulke vrees kan ondervind word deur iemand wat fisies deur ’n vyand bedreig word (Jeremia 51:30). Dit kan ondervind word deur iemand wat te veel waarde daaraan heg om die goedkeuring van sekere invloedryke mense te geniet (Spreuke 29:25). Maar daar is ook vrees wat heilsaam is, die soort wat ons daarvan weerhou om iets onbesonne te doen, om onsself seer te maak. Godvrugtige vrees behels selfs meer as dit. Dit is ontsag vir Jehovah, ’n diepe eerbied vir hom, wat gepaardgaan met ’n heilsame vrees om hom te mishaag (Psalm 89:7, NW). Hierdie vrees om ons God se misnoeë op die hals te haal, spruit voort uit waardering vir sy liefderyke goedhartigheid en goedheid (Psalm 5:7, NW; Hosea 3:5). Dit sluit ook die wete in dat Jehovah die Opperregter en die Almagtige is, wat die mag het om diegene wat hom ongehoorsaam is te straf, selfs met die dood.—Romeine 14:10-12.
3. Hoe verskil die vrees van Jehovah van die vrees wat met sommige heidense godhede in verband gebring word?
3 Godvrugtige vrees is heilsaam, nie morbied nie. Dit beweeg ’n mens om ’n ferm standpunt in te neem vir wat reg is en nie ontrou te wees deur te doen wat verkeerd is nie. Dit is nie soos die vrees wat in verband gebring word met die eertydse Griekse god Fobos, wat beskryf word as ’n bose god wat vrees ingeboesem het nie. En dit is nie soos die vrees wat in verband gebring word met die Hindoe-godin Kali, wat soms as bloeddorstig uitgebeeld word en lyke, slange en kopbene as versiersels gebruik nie. Godvrugtige vrees trek ’n mens aan; dit stoot ’n mens nie af nie. Dit gaan hand aan hand met liefde en waardering. Daarom trek godvrugtige vrees ons tot Jehovah aan.—Deuteronomium 10:12, 13; Psalm 2:11.
Waarom sommige dit het en ander nie
4. Soos getoon deur die apostel Paulus, hoe het die mensdom agteruitgegaan, en wat is die rede hiervoor?
4 Die mensdom in die geheel word nie deur die eienskap van godvrugtige vrees aangedryf nie. In Romeine 3:9-18 beskryf die apostel Paulus hoe ver die mens van sy oorspronklike volmaaktheid af geval het. Nadat Paulus gesê het dat ons almal onder die sonde is, haal hy uit die Psalms aan en sê: “Daar is nie ’n regverdige mens nie, nie eens een nie.” (Sien Psalm 14:1.) Dan voorsien hy besonderhede deur dinge te noem soos die mensdom se versuim om God te soek, hulle gebrek aan goedhartigheid, hulle bedrieglike spraak, vloekery en bloedvergieting. Hoe noukeurig beskryf dit tog nie die wêreld van vandag nie! Die meeste mense stel glad nie in God en sy voornemens belang nie. Enige sweem van goedheid word alte dikwels gehou vir geleenthede wanneer hulle voordeel daaruit kan trek. Leuens en vuil taal is aan die orde van die dag. Bloedvergieting word nie net op die nuus gewys nie, maar word ook in vermaak opgedis. Wat is vir hierdie situasie verantwoordelik? Ons is almal weliswaar nakomelinge van die sondaar Adam, maar wanneer mense die dinge wat deur die apostel Paulus beskryf word as hulle lewenswyse aanvaar, is meer daarby betrokke. Vers 18 verduidelik wat dit is en sê: “Daar is geen vrees vir God voor hulle oë nie.”—Sien Psalm 36:2.
5. Waarom het sommige mense godvrugtige vrees, terwyl ander dit nie het nie?
5 Maar waarom is dit so dat sommige mense godvrugtige vrees het terwyl ander dit nie het nie? Dit is bloot omdat sommige mense dit aankweek, terwyl ander dit nie doen nie. Nie een van ons word daarmee gebore nie, maar ons almal het die vermoë om dit te hê. Godvrugtige vrees is iets wat ons moet leer. Dan, voordat dit ’n sterk motiverende krag in ons lewe kan wees, moet ons dit aankweek.
’n Roerende uitnodiging
6. Wie rig die uitnodiging in Psalm 34:12 aan ons, en hoe toon hierdie teks dat godvrugtige vrees geleer moet word?
6 ’n Roerende uitnodiging om die vrees van Jehovah te leer, word in Psalm 34 aan ons gerig. Dit is ’n psalm van Dawid. En wie is deur Dawid voorafgeskadu? Niemand anders as die Here Jesus Christus nie. ’n Profesie wat die apostel Johannes spesifiek op Jesus toegepas het, is in vers 21 van hierdie psalm opgeteken (Johannes 19:36). Jesus is die een wat in ons dag ’n soortgelyke uitnodiging as dié in vers 12 aan ons rig: “Kom, kinders, luister na my; ek wil julle die vrees van [Jehovah] leer.” Dit toon duidelik dat godvrugtige vrees iets is wat geleer kan word; en Jesus Christus is by uitstek bekwaam om ons te leer. Waarom is dit so?
7. Waarom moet godvrugtige vrees veral by Jesus geleer word?
7 Jesus Christus weet hoe belangrik godvrugtige vrees is. Hebreërs 5:7 sê van hom: “In die dae van sy vlees het Christus smekinge en ook bedes met sterk uitroepe en trane aan die Een opgedra wat hom uit die dood kon red, en hy is weens sy godvrugtige vrees verhoor.” Sulke godvrugtige vrees was ’n eienskap wat Jesus Christus aan die dag gelê het selfs voordat hy voor die dood aan ’n folterpaal te staan gekom het. Onthou dat die Seun van God in Spreuke hoofstuk 8 as die verpersoonliking van wysheid beskryf word. En in Spreuke 9:10 word daar vir ons gesê: “Die beginsel van die wysheid is die vrees van [Jehovah].” Hierdie godvrugtige vrees was dus ’n fundamentele deel van die persoonlikheid van God se Seun lank voordat hy na die aarde toe gekom het.
8. Wat leer ons in Jesaja 11:2, 3 oor die vrees van Jehovah?
8 Daarbenewens sê Jesaja 11:2, 3 van Jesus as die Messiaanse Koning: “Op Hom sal die Gees van [Jehovah] rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van [Jehovah]. En Hy het ’n welgevalle aan die vrees van [Jehovah].” Hoe pragtig word dit tog gestel! Die vrees van Jehovah is nie iets onaangenaams nie. Dit is positief en opbouend. Dit is ’n eienskap wat oral aangetref sal word in die domein waaroor Christus as Koning heers. Hy heers nou, en almal wat as sy onderdane versamel word, word deur hom in die vrees van Jehovah onderrig. Hoe?
9. Hoe leer Jesus Christus ons die vrees van Jehovah, en wat wil hy hê moet ons daaromtrent leer?
9 Deur middel van ons gemeentelike vergaderinge en kring- en streekbyeenkomste help Jesus, as die aangestelde Hoof van die gemeente en as die Messiaanse Koning, ons om duidelik te verstaan wat godvrugtige vrees is. Hy help ons sodoende om ons waardering daarvoor te vergroot sodat ons sal leer om, soos hy, vreugde uit die vrees van Jehovah te put.
Gaan jy ’n poging aanwend?
10. Wat moet ons doen wanneer ons Christelike vergaderinge bywoon as ons die vrees van Jehovah wil verstaan?
10 Natuurlik sal die blote feit dat ons die Bybel lees of vergaderinge in ’n Koninkryksaal bywoon nie ’n waarborg wees dat ons godvrugtige vrees het nie. Let op wat ons moet doen as ons die vrees van Jehovah werklik wil verstaan. Spreuke 2:1-5 sê: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van [Jehovah] verstaan en die kennis van God vind.” Wanneer ons vergaderinge bywoon, moet ons dus luister na wat gesê word, ons inspan om op sleutelgedagtes te konsentreer en dit te onthou en diep nadink oor hoe ons gevoel vir Jehovah ons gesindheid moet beïnvloed ten opsigte van raad wat gegee word—ja, dit moet ons hart oopmaak. Dan sal ons die vrees van Jehovah verstaan.
11. Wat moet ons ernstig en dikwels doen as ons godvrugtige vrees wil aankweek?
11 Psalm 86:11 vestig die aandag op ’n ander belangrike faktor—gebed. “Onderrig my‚ o Jehovah‚ aangaande u weg. Ek sal in u waarheid wandel”, het die psalmis gebid. “Verenig my hart om u naam te vrees” (NW). Daardie gebed het Jehovah se goedkeuring weggedra, want hy het dit in die Bybel laat opteken. Om godvrugtige vrees aan te kweek, moet ons ook tot Jehovah om hulp bid, en ons sal daarby baat vind om ernstig en dikwels te bid.—Lukas 18:1-8.
Jou hart is daarby betrokke
12. Waarom moet die hart spesiale aandag kry, en wat sluit dit onder andere in?
12 Daar is nog iets waarop ons in Psalm 86:11 moet let. Die psalmis het nie net om ’n intellektuele begrip van die vrees van God gevra nie. Hy maak melding van sy hart. Om godvrugtige vrees aan te kweek, het met die figuurlike hart te doen wat besondere aandag vereis omdat dit die innerlike mens is soos dit in al ons lewensbedrywighede geopenbaar word, en dit sluit ons gedagtes, ons gesindhede, ons begeertes, ons beweegredes en ons doelwitte in.
13. (a) Wat kan ’n aanduiding daarvan wees dat iemand se hart verdeeld is? (b) Watter doelwit moet ons nastreef terwyl ons godvrugtige vrees aankweek?
13 Die Bybel waarsku ons dat ’n mens se hart verdeeld kan wees. Dit kan bedrieglik wees (Psalm 12:3; Jeremia 17:9). Dit kan ons beweeg om aan heilsame bedrywighede deel te neem—soos om gemeentelike vergaderinge by te woon en in die veldbediening uit te gaan—maar dit kan ook sekere aspekte van die wêreld se lewenswyse liefhê. Dit kan ons daarvan weerhou om Koninkryksbelange op ’n waarlik heelhartige wyse te bevorder. Dan kan die bedrieglike hart ons probeer oortuig dat ons tog maar net soveel doen soos baie ander. Of die hart word dalk, by die skool of by die werk, deur mensevrees beïnvloed. Gevolglik huiwer ons dalk om ons in daardie situasies as Jehovah se Getuies te identifiseer, en ons doen dalk selfs dinge wat nie vir Christene gepas is nie. Maar daarna kwel ons gewete ons. Dit is nie die soort mens wat ons wil wees nie. Ons bid dus saam met die psalmis tot Jehovah: “Verenig my hart om u naam te vrees.” Ons wil hê dat die hele innerlike mens, soos dit in al ons lewensbedrywighede geopenbaar word, daarvan bewys lewer dat ons ‘God vrees en sy gebooie hou’.—Prediker 12:13.
14, 15. (a) Wat het Jehovah belowe om sy volk te gee toe hy voorspel het dat Israel uit ballingskap in Babilon herstel sou word? (b) Wat het Jehovah gedoen met die oog daarop om die vrees van God in die harte van sy volk te plant? (c) Waarom het Israel Jehovah se weë verlaat?
14 Jehovah het belowe dat hy sy volk so ’n godvresende hart sou gee. Hy het die herstel van Israel voorspel en die volgende in Jeremia 32:37-39 gesê: “Ek sal hulle na hierdie plek terugbring en hulle veilig laat woon. En hulle sal vir My ’n volk wees, en Ek sal vir hulle ’n God wees. En Ek sal hulle een hart en een weg gee om My altyd te vrees, hulle ten goede en hulle kinders ná hulle.” In vers 40 word God se belofte beklemtoon: “Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie.” In 537 v.G.J. het Jehovah hulle wel na Jerusalem teruggebring, soos hy belowe het. Maar wat van die res van daardie belofte—dat hy hulle ‘een hart sou gee om hom altyd te vrees’? Waarom het die eertydse nasie Israel Jehovah verlaat nadat hy hulle van Babilon af teruggebring het, sodat hulle tempel in 70 G.J. vernietig is en nooit weer herbou is nie?
15 Dit was nie omdat Jehovah enigsins gefaal het nie. Jehovah het inderdaad stappe gedoen om die vrees van God in die hart van sy volk te plaas. Deur die barmhartigheid wat hy getoon het toe hy hulle uit Babilon verlos en hulle in hulle tuisland herstel het, het hy hulle meer as genoeg rede gegee om hom met diepe eerbied te bejeën. God het dit alles ingeskerp deur vermanings, raad en teregwysing deur middel van die profete Haggai, Sagaria en Maleagi; deur Esra wat as ’n onderrigter na hulle gestuur is; deur middel van goewerneur Nehemia sowel as deur God se eie Seun. Soms het die volk geluister. Hulle het geluister toe hulle Jehovah se tempel op aandrang van Haggai en Sagaria herbou het en toe hulle hulle vreemde vrouens in die dae van Esra weggestuur het (Esra 5:1, 2; 10:1-4). Maar hulle was meestal nie gehoorsaam nie. Hulle het nie altyd geluister nie; hulle was nie die hele tyd ontvanklik vir raad nie; hulle het nie hulle hart oopgehou nie. Die Israeliete het nie godvrugtige vrees aangekweek nie, en gevolglik was dit nie ’n sterk motiverende krag in hulle lewe nie.—Maleagi 1:6; Matteus 15:7, 8.
16. In wie se hart het Jehovah godvrugtige vrees geplant?
16 Tog het Jehovah se belofte om godvrugtige vrees in die hart van sy volk te plaas nie onvervuld gebly nie. Hy het ’n nuwe verbond gesluit met geestelike Israel, dié Christene vir wie hy ’n hemelse hoop in die vooruitsig stel (Jeremia 31:33; Galasiërs 6:16). In 1919 het God hulle uit ballingskap in Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, bevry. Hy het vrees vir hom diep in hulle hart geplant. Dit het tot ryk seëninge gelei vir hulle en vir die “groot skare” wat die hoop het op lewe as aardse onderdane van die Koninkryk (Jeremia 32:39; Openbaring 7:9). Die vrees van Jehovah is ook in hulle hart.
Hoe godvrugtige vrees in ons hart geplant word
17. Hoe het Jehovah godvrugtige vrees in ons hart geplaas?
17 Hoe het Jehovah hierdie godvrugtige vrees in ons hart geplant? Deur die werking van sy gees. En wat het ons wat ’n produk van die heilige gees is? Die Bybel, God se geïnspireerde Woord (2 Timoteus 3:16, 17). Deur dít wat hy in die verlede gedoen het, deur sy handelinge nou met sy knegte ter vervulling van sy profetiese Woord en deur profesieë oor dinge wat nog moet kom, voorsien Jehovah ’n betroubare grondslag waarop ons almal godvrugtige vrees kan ontwikkel.—Josua 24:2-15; Hebreërs 10:30, 31.
18, 19. Hoe help kring- en streekbyeenkomste en gemeentelike vergaderinge ons om godvrugtige vrees te verkry?
18 Dit is opmerklik dat Jehovah volgens Deuteronomium 4:10 vir Moses gesê het: “Vergader die volk vir My, en Ek sal hulle my woorde laat hoor, dat hulle kan leer om My te vrees al die dae wat hulle op die aarde lewe, en dit aan hulle kinders kan leer.” Net so het Jehovah vandag vir ’n oorvloed voorsienings gesorg om sy volk te help om hom te leer vrees. By kring- en streekbyeenkomste en gemeentelike vergaderinge bespreek ons die blyke van Jehovah se liefderyke goedhartigheid en sy goedheid. Dit is wat ons gedoen het toe ons die boek Die grootste mens wat nog geleef het bestudeer het. Hoe het daardie studie jou en jou gesindheid teenoor Jehovah beïnvloed? Het die feit dat jy gesien het hoe verskillende fasette van ons hemelse Vader se grootse persoonlikheid in sy Seun weerspieël word nie jou begeerte versterk om God nooit te mishaag nie?—Kolossense 1:15.
19 By ons vergaderinge bestudeer ons ook verslae oor Jehovah se verlossing van sy volk in die ou tyd (2 Samuel 7:23). Terwyl ons die Bybelboek Openbaring met behulp van die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande! bestudeer, leer ons van profetiese gesigte wat reeds in hierdie 20ste eeu vervul is en van vreesinboesemende gebeurtenisse wat nog moet kom. Psalm 66:5 sê oor al sulke dade van God: “Kom, julle volke, en sien die werksaamhede van God. Die wyse waarop hy met die menseseuns handel, is vreesinboesemend” (NW). Ja, as ons die regte beskouing van hierdie dade van God het, boesem hulle vrees, ’n diepe eerbied, vir Jehovah in ons hart in. Ons kan dus sien hoe Jehovah God sy belofte vervul: “Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie.”—Jeremia 32:40.
20. Wat word van ons vereis sodat godvrugtige vrees diep in ons hart geplant kan word?
20 Dit is egter duidelik dat godvrugtige vrees nie sonder ywerige inspanning van ons kant af in ons hart kan posvat nie. Die resultate kom nie vanself nie. Jehovah dra sy deel by. Ons moet ons deel bydra deur godvrugtige vrees aan te kweek (Deuteronomium 5:29). Natuurlike Israel het versuim om dit te doen. Maar omdat geestelike Israel en hulle metgeselle op Jehovah vertrou, geniet hulle reeds baie van die voordele wat godvresendes te beurt val. Ons sal sommige van hierdie voordele in die volgende artikel bespreek.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wat is godvrugtige vrees?
◻ Hoe word ons geleer om genot in die vrees van Jehovah te vind?
◻ Watter inspanning verg dit van ons om godvrugtige vrees te hê?
◻ Waarom is alle aspekte van ons figuurlike hart betrokke by die verkryging van godvrugtige vrees?
[Prente op bladsy 12, 13]
Ywerige studie is noodsaaklik om die vrees van Jehovah te verstaan