Die onkreukbare nasie
“Maak oop die poorte, dat die regverdige nasie kan ingaan wat die trou bewaar!”—JESAJA 26:2.
1. Waarom kan Jesaja se stelling oor ’n “regverdige nasie” verbasend wees?
DAAR is vandag allerhande soorte nasies. Party is demokrasieë, party is diktatorskappe. Party is ryk, party is arm. Maar een ding het hulle in gemeen: Almal maak deel uit van die wêreld waarvan Satan die god is (2 Korinthiërs 4:4). In die lig hiervan sal die woorde van Jesaja sommige dalk verbaas wanneer hy sê: “Maak oop die poorte, dat die regverdige nasie kan ingaan wat die trou bewaar” (Jesaja 26:2). ’n Regverdige nasie? Ja, daar is ’n regverdige nasie, aangesien die profesie na die bestaan daarvan in ons dag verwys. Hoe kan hierdie ongewone nasie geïdentifiseer word?
2. Wat is “die regverdige nasie”? Hoe weet ons dit?
2 In die New World Translation se weergawe van Jesaja 26:2 sê dit dat die nasie “getroue gedrag bewaar”. Die King James Version (kantlyn) vertaal die vers as “die regverdige nasie wat die waarhede bewaar”. Albei is gepaste beskrywings. Trouens, die regverdige nasie kan maklik uitgeken word omdat dit die enigste nasie op aarde is wat aan Christus die Koning onderdanig is, en gevolglik nie ’n deel van Satan se wêreld is nie (Johannes 17:16). As sodanig is die lede daarvan bekend daarvoor dat hulle ‘voortreflike gedrag onder die nasies handhaaf’. Hulle volg ’n lewenswyse wat God verheerlik (1 Petrus 2:12, NW). Daarbenewens is hulle, waar hulle ook al in die wêreld is, ’n deel van ‘die gemeente van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid’ (1 Timotheüs 3:15). Aangesien hulle voorstanders van die waarheid is, verwerp hulle heidense filosofieë wat deur die Christendom geleer word, en hulle staan “die onvervalste melk van die woord”—God se Woord, die Bybel—voor (1 Petrus 2:2). Verder verkondig hulle die goeie nuus van die Koninkryk ywerig “in die ganse mensdom onder die hemel” (Kolossense 1:23). Kan daar enige twyfel bestaan dat die oorblyfsel van “die Israel van God”, die gemeente van gesalfde Christene, hierdie nasie uitmaak? Geensins nie!—Galasiërs 6:16.
Die nasie word gebore
3. Beskryf hoe “die regverdige nasie” gebore is.
3 Wanneer is “die regverdige nasie” gebore? Die begin daarvan is in die boek Jesaja voorspel. In Jesaja 66:7, 8 lees ons: “Voordat sy [Sion] weë gekry het, het sy gebaar; voordat smart oor haar gekom het, is sy van ’n seuntjie [“’n manlike kind”, NW] verlos. . . . Want Sion het weë gekry, meteens haar kinders gebaar.” Dit was heel buitengewoon dat Sion, God se hemelse organisasie, “’n manlike kind” sou voortbring voordat sy barensweë gehad het. Die Messiaanse Koninkryk is in 1914 in die hemele voortgebring (Openbaring 12:5). Daarna het die eerste wêreldoorlog al hoe meer nasies betrek, en gesalfde Christene het hewige benoudheid en vervolging deurgemaak. Uiteindelik, in die jaar 1919, is die geestelike nasie, die “manlike kind”, op die aarde voortgebring. Só het Sion “haar kinders gebaar”—die gesalfde lede van die nuwe “regverdige nasie”—en hulle is georganiseer om ’n getuieniswerk op ’n al hoe omvattender skaal te doen.—Mattheüs 24:3, 7, 8, 14; 1 Petrus 2:9.
4. Waarom moes God se regverdige nasie hard stry om onkreukbaarheid te handhaaf?
4 Sedert sy geboorte het hierdie nasie met strawwe toetse van onkreukbaarheid te kampe gehad. Waarom? Toe die hemelse Koninkryk gebore is, is Satan en sy demone uit die hemel na die aarde neergewerp. ’n Harde stem het uitgeroep: “Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag. En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.” Satan het met groot woede op hierdie veranderde omstandighede gereageer, “en hy het weggegaan om oorlog te voer teen [die vrou se] ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou”. Gesalfde Christene het voor die aanslae van Satan standvastig gebly. Tot vandag toe beoefen ywerige lede van God se regverdige nasie geloof in Jesus se losprysbloed en hou hulle aan om Jehovah ’n antwoord te gee vir die groot smader deur hulle onkreukbaarheid selfs “tot die dood toe” te handhaaf.—Openbaring 12:1, 5, 9-12, 17; Spreuke 27:11.
5. Watter uitstekende gesindheid van hedendaagse Getuies het hulle gehelp om hulle onkreukbaarheid te handhaaf?
5 Toe die hedendaagse getuieniswerk aangaande God se Koninkryk in 1919 op dreef gekom het, was die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, klein in getal maar sterk in geloof. Hulle het ’n deel uitgemaak van die fondament van ‘’n sterk stad, met heil tot mure en skanse’. Hulle het hulle vertroue gestel in ‘Jah, Jehovah wat ’n ewige rots is’ (Jesaja 26:1, 3, 4). Soos Moses van die ou tyd, het hulle uitgeroep: “Want die Naam van [Jehovah] roep ek uit: Gee grootheid aan onse God! Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ’n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.”—Deuteronomium 32:3, 4.
6. Op watter wyse het Jehovah sy volk in hierdie laaste dae geseën?
6 Sedertdien het die deure van God se Koninkryksreëling wyd oopgebly namate die oorblyfsel van die 144 000 gesalfde Christene eers versamel is, en nou is daar ’n groot menigte “ander skape” wat saam met hulle Jehovah se Koninkryksvoornemens verkondig (Johannes 10:16). Daar kan dus met vreugde aangekondig word: “U het, o HERE, die nasie vermeerder; U het die nasie vermeerder, Uself verheerlik; U het al die grense van die land uitgebrei” (Jesaja 26:15). Ons sien hoe waar daardie woorde is wanneer ons die wêreldveld vandag in oënskou neem! Deur die krag van die heilige gees is daar “tot aan die uiterste van die aarde” oor Christus se inkomende Koninkryk getuig (Handelinge 1:8). Die omvang van daardie uitbreiding kan gesien word uit die Wêreldrapport van Jehovah se Getuies vir die 1994-diensjaar wat op bladsye 12 tot 15 verskyn.
’n Nuwe verkondigershoogtepunt
7, 8. (a) Watter bewys is daar dat God se volk ‘hulle tentlyne lank gemaak’ het? (b) Watter gebiede is volgens die 1994-Diensrapport besig om op buitengewone wyse ‘hulle grense uit te brei’?
7 Kyk na sommige van die hoogtepunte van hierdie rapport. Die Koninkryksverkondigers in die veld het ’n hoogtepunt van 4 914-094 bereik! Hoe opwindend is dit tog om die voortdurende insameling te sien van die “groot menigte . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere”! Ja, hierdie persone het ook bewys dat hulle handhawers van onkreukbaarheid is. “Hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam”, hulle word as regverdig beskou omdat hulle geloof in Jesus se losprysofferande stel.—Openbaring 7:9, 14.
8 Die uitroep gaan veral sedert 1919 na Jehovah se organisasie uit: “Maak die plek van jou tent wyd, en laat hulle die doeke van jou tentwonings oopspan. Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in” (Jesaja 54:2). In antwoord hierop gaan die predikingswerk onverpoos voort, selfs in die ysige Yukon, wat aan Alaska grens, waar ’n groep geharde pioniers temperature trotseer wat weke lank tot 45 of 50 grade onder vriespunt kan daal. In onlangse jare het skares al hoe vinniger na Jehovah se onkreukbare nasie gestroom. Die deure is al hoe wyer oopgemaak om hierdie mense uit Asiatiese lande buite die Christendom, uit voormalige Kommunistiese vestings, uit talle Afrikalande en uit Katolieke gebiede, soos Italië, Spanje, Portugal en Suid-Amerika, te ontvang. Mense wat ontwortel is, het nog ’n veld geopen. In Engeland sien die Getuies byvoorbeeld om na die behoeftes van 13 etniese groepe wat buitelandse tale praat.
‘Hou aan om dit te doen’
9. (a) Wat toon die Gedenkmaalbywoningsyfer vir 1994? (b) Watter is van die lande met ’n buitengewoon hoë bywoningsyfer vir die Gedenkmaal?
9 ’n Ander hoogtepunt van die jaarverslag is die bywoning van die Gedenkmaal. Kort voor sy dood het Jesus die Gedenkmaal ingestel om sy dood te herdenk en vir sy volgelinge gesê: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen” (1 Korinthiërs 11:24, NW). Dit was opwindend om in 1994 te sien hoe 12 288 917—baie meer as twee keer die getal bedrywige verkondigers—bymekaarkom om daardie bevel te gehoorsaam, óf as deelnemers óf as toeskouers. In sommige lande was die verhouding van Gedenkmaalbywoners tot verkondigers selfs hoër. Die 4 049 verkondigers in Estland, Letland en Litaue was verheug om 12 876 by die Gedenkmaal te hê, meer as drie keer die getal verkondigers. En in Benin was die 16 786 Gedenkmaalbywoners verteenwoordigend van amper vyf keer die getal verkondigers. Een gemeente van 45 verkondigers het 831 by hulle Gedenkmaal gehad!
10. (a) Watter verantwoordelikheid plaas die hoë bywoningsyfer van die Gedenkmaal op ons? (b) Beskryf wat kan gebeur wanneer iemand wat die Gedenkmaal bygewoon het verdere hulp ontvang?
10 Jehovah se Getuies is bly dat soveel belangstellendes op daardie heuglike geleentheid saam met hulle vergader het. Nou wil hulle hierdie persone help om verdere vordering te maak in hulle begrip van en liefde vir die waarheid. Party sal dalk reageer soos Alla in Rusland gereageer het. Alla het saam met ’n spesialepionier-suster gestudeer, maar nie eintlik vordering gemaak nie, en die studie is dus gestaak. Alla het nietemin ’n uitnodiging na die Gedenkmaal aanvaar. Daardie vergadering, wat so betekenisvol is, het ’n diep indruk op haar gemaak. Toe sy by die huis gekom het, het sy al haar ikone weggegooi en tot Jehovah om hulp gebid. Twee dae later het die pioniersuster Alla besoek om uit te vind hoe sy die Gedenkmaal geniet het. ’n Vrugbare gesprek het gevolg. Alla se studie is hervat. Nie lank daarna nie het sy aan die getuieniswerk begin deelneem. Hierdie ondervinding toon die waarde daarvan om diegene wat die Gedenkmaal bygewoon het, ná die tyd te besoek. Baie sal waarskynlik soos Alla reageer.
‘Laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim nie’
11-13. (a) Wat maak deel uit van die getroue gedrag van die regverdige nasie? (b) Waarom moet ware Christene vergaderinge bywoon?
11 Die Gedenkmaal is die belangrikste vergadering op die kalender van Jehovah se Getuies, maar dit is geensins die enigste een nie. Elke week vergader Jehovah se Getuies in gehoorsaamheid aan die apostel Paulus se woorde: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). Hulle word geassosieer met Jehovah se regverdige nasie wat deur hulle getroue gedrag gekenmerk word. Getroue gedrag sluit getroue vergaderingbywoning in.
12 Dit is blykbaar iets wat goed begryp word in die Filippyne, waar die land se gemiddelde bywoning van die Sondagvergaderinge 125 persent van die getal verkondigers is. ’n Groep Getuies en belangstellendes in Argentinië besef dit ook terdeë. Hulle woon ongeveer 20 kilometer van die Koninkryksaal af. Die kringopsiener berig nietemin dat nie een van hulle die vergaderinge ooit mis nie, tensy hulle siek is. Hulle reis vier uur lank in ’n oop karretjie of te perd, en in die winter moet hulle die terugrit in die donker doen.
13 Namate die einde van hierdie stelsel nader kom, raak die lewe al hoe moeiliker, probleme neem toe en die gereelde bywoning van vergaderinge kan ’n al hoe groter uitdaging word. Maar onder sulke omstandighede het ons meer as ooit tevore ’n behoefte aan die geestelike voedsel en hartlike omgang wat ons net by sulke vergaderinge kan kry.
“Bly dringend daarmee besig”
14. Waarom voel Jehovah se Getuies dat hulle bediening dringend is, en deur watter resultate word dit toegelig?
14 Verlede jaar het die Katolieke Kerk in Italië die werk van Jehovah se Getuies “barbaarse proselitisme” genoem. Maar daar is werklik niks barbaars aan wat die Getuies doen nie. Hulle bediening is eerder ’n blyk van hulle innige liefde vir hulle naaste. Dit is ook ’n bewys van hulle gehoorsaamheid aan Paulus se woorde: “Verkondig die woord, bly dringend daarmee besig in gunstige tye, in moeilike tye” (2 Timotheüs 4:2, NW). ’n Gevoel van dringendheid beweeg Jehovah se Getuies om ywerig in hulle bediening te wees, soos gesien kan word uit die feit dat hulle ’n totaal van 1 096 065 354 uur in 1994 daaraan bestee het om vir hulle naaste te preek, herbesoeke te doen en weekliks 4 701 357 Bybelstudies te hou. Baie kon aan die pionierdiens deelneem, wat toon dat die pioniergees gedy. Die wêreldwye gemiddelde van 636 202 pioniers is ’n bewys hiervan.
15, 16. (a) Hoe het jonk sowel as oud die pioniergees geopenbaar? (b) Waar sien jy uitstaande getalle pioniers wanneer jy na die 1994-Diensrapport kyk?
15 Onder daardie pioniers is daar talle jongmense. Party in die Verenigde State dien nou as gewone pioniers terwyl hulle op hoërskool is, met klasmaats as hulle hoofgebied. Hierdie jongmense het gevind dat die pionierdiens die heel beste manier is om hulleself teen die dwelms, onsedelikheid en geweld te beskerm waarvan die skole in daardie land deurtrek is. Baie ander jongmense het die pionierdiens as doelwit wanneer hulle die skool verlaat. Irina, in die Oekraïne, het regdeur haar hoërskoolloopbaan aan die hulppionierdiens deelgeneem om haar vir pionierdiens voor te berei nadat sy haar skoolloopbaan voltooi het. Toe sy haar skoolopleiding voltooi het, het haar gesin aangebied om haar te help wat sekulêre werk betref, sodat sy hulle in die gewone pionierdiens kan verteenwoordig. Op ekonomiese gebied is dinge nie maklik in die Oekraïne nie. Maar Irina sê: “Ek weet dat ek ’n werk doen wat nie net vir my lewe beteken nie, maar ook vir almal vir wie ek preek.” Dit is waarlik ’n genot om vandag soveel jonges te sien wat soos Irina dink. Watter beter manier is daar vir hulle om ‘aan hulle Skepper te dink in hulle dae as jong manne en vroue’?—Prediker 12:1.
16 ’n Groot aantal pioniers is al bejaard. Een van hulle vertel dat haar vader en broer gedurende die tweede wêreldoorlog gesterf het toe hulle in die oorlog geveg het, en haar moeder en suster in ’n ghetto geskiet is. Later het sy haar seun verloor. Nou, op haar gevorderde leeftyd en met swak gesondheid, het Jehovah haar in die Christengemeente ’n baie groter gesin gegee as die een wat sy verloor het. En sy vind vreugde daarin om ander as ’n gewone pionier te help.
17, 18. Hoe kan elkeen van ons, of ons nou ’n pionier is of nie, die pioniergees openbaar?
17 Almal kan natuurlik nie ’n pionier wees nie. Jehovah aanvaar met graagte ons hele tiende, die beste wat ons kan gee, wat dit ook al in ons spesifieke geval mag wees (Maleagi 3:10). Ja, ons kan almal die gees van hierdie ywerige pioniers aankweek en doen wat ons omstandighede ook al toelaat om die verkondiging van die goeie nuus te bevorder.
18 In Australië is 16 April byvoorbeeld opsy gesit as ’n spesiale dag vir straatgetuieniswerk. Dit is goed ondersteun deur die verkondigers sowel as die pioniers, soos getoon word deur die nuwe verkondigershoogtepunt van 58 780 vir daardie maand. Daarbenewens is 90 000 meer tydskrifte versprei as gedurende dieselfde maand verlede jaar. Gedurende die spesiale dag het ’n man tydskrifte by ’n suster geneem, en terwyl sy sy naam en adres neergeskryf het om ’n opvolgbesoek by hom te doen, het sy ontdek dat hulle familie is! Hulle was toe al die tyd neef en niggie wat mekaar 30 jaar laas gesien het. Dit het beslis tot baie gelukkige herbesoeke aanleiding gegee!
Handhaaf jou onkreukbaarheid tot die einde toe
19. Waarom is dit noodsaaklik dat Jehovah se regverdige nasie hulle onkreukbaarheid reg tot die einde toe handhaaf?
19 Dit is noodsaaklik dat almal in God se regverdige nasie hulle onkreukbaarheid handhaaf terwyl Satan se wêreld sy laaste doodsnikke gee. Jehovah se heilige volk gaan binnekort dié uitroep hoor: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ’n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan.” Hierdie bloedskuldige wêreld gaan onvermydelik voor goddelike oordeel te staan kom. “Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie” (Jesaja 26:20, 21). Mag elkeen van ons standvastig bly as ’n onkreukbare Christen wat met Jehovah se regverdig nasie omgaan. Dan sal ons ons daarin verheug om die ewige lewe in die aardse of hemelse ryk van Christus se Koninkryk te verkry.
Onthou jy?
◻ Wanneer is “die regverdige nasie” gebore?
◻ Waarom moes God se volk gedurende hierdie laaste dae volhard?
◻ Waarop dui die groot getal verkondigers en die ure wat in die bediening bestee is, soos die Diensrapport vir 1994 toon?
◻ Waarom is die bywoning van vergaderinge so belangrik namate hierdie wêreld se einde nader kom?
◻ Waarom moet almal wat met God se regverdige nasie omgaan hulle onkreukbaarheid handhaaf?
[Tabel op bladsy 12-15]
WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 1994-DIENSJAAR
(See bound volume)
[Prent op bladsy 18]
Handhawers van onkreukbaarheid onder Jehovah se regverdige nasie sal die ewige lewe in volmaaktheid verkry