Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 12/15 bl. 26-29
  • Tragedie in Rwanda—Wie is daarvoor verantwoordelik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Tragedie in Rwanda—Wie is daarvoor verantwoordelik?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Hutu’s en die Tutsi’s
  • Wie is daarvoor verantwoordelik?
  • Godsdiens se rol
  • Ware Christene is anders
  • Kan jy godsdiens vertrou wanneer dit kom by oorlog?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Hulp aan die slagoffers van Rwanda se tragedie
    Ontwaak!—1994
  • Wat het van naasteliefde geword?
    Ontwaak!—1998
  • Deelgenote in die vertroosting wat Jehovah voorsien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 12/15 bl. 26-29

Tragedie in Rwanda—Wie is daarvoor verantwoordelik?

“Net voor die 23-jarige werktuigkundige se kop oopgekap is”, het die U.S.News & World Report gesê, “het een van die aanvallers vir Hitiyise gesê: ‘Jy moet sterf, want jy is ’n Tutsi.’”

HOE dikwels het sulke tonele tog nie gedurende April en Mei in die klein Sentraal-Afrikaanse land Rwanda voorgekom nie! Op daardie stadium was daar 15 gemeentes van Jehovah se Getuies in en om Kigali, die hoofstad van Rwanda. Die stadsopsiener, Ntabana Eugène, was ’n Tutsi. Hy, sy vrou, sy seun en sy negejarige dogter, Shami, was onder die eerstes wat vermoor is toe die vlaag van geweld uitgebreek het.

Duisende Rwandese is daagliks—week na week—vermoor. “Gedurende die laaste ses weke”, het die voorgenoemde nuustydskrif in die middel van Mei berig, “het tot 250-000 mense gesterf in ’n veldtog van menseslagting en vergelding wat die Khmer Rouge se bloedige suiwering van Kambodja in die middel-sewentigerjare amper oortref.”

Die tydskrif Time het gesê: “In ’n toneel wat jou aan Nazi-Duitsland laat dink het, is die kinders uit ’n groep van 500 gekies bloot omdat hulle soos Tutsi’s gelyk het. . . . Hutu’s het die burgemeester van die suidelike dorp Butare, wat met ’n Tutsi getroud is, voor [’n pynlike] keuse gestel: hy kan sy vrou en kinders red as hy sy vrou se familie—haar ouers en haar suster—oorhandig om doodgemaak te word. Hy het ingestem.”

Ses mense het in die Vertaalkantoor van Jehovah se Getuies in Kigali gewerk, vier Hutu’s en twee Tutsi’s. Die Tutsi’s was Ananie Mbanda en Mukagisagara Denise. Toe die soldate en die plunderaars na die huis toe kom, was hulle woedend toe hulle vind dat Hutu’s en Tutsi’s saamwoon. Hulle wou Mbanda en Denise doodmaak.

“Hulle het die slagpenne uit hulle handgranate begin trek”, het Emmanuel Ngirente, een van die Hutu-broers gesê, “en gedreig om ons dood te maak, aangesien ons van hulle vyande by ons gehad het. . . . Hulle wou ’n groot som geld hê. Ons het al die geld wat ons gehad het vir hulle gegee, maar hulle was nie tevrede nie. Hulle het besluit om as vergoeding alles te neem wat hulle kon gebruik, onder andere ’n skootrekenaar wat in ons vertaalwerk gebruik word, ons fotokopieermasjien, ons radio’s, ons skoene, ensovoorts. Ewe skielik is hulle daar weg sonder om een van ons dood te maak, maar hulle het gesê dat hulle later sou terugkom.”

Die daaropvolgende dae het die plunderaars herhaaldelik teruggekom, en elke keer het die Hutu-Getuies gesmeek om die lewe van hulle Tutsi-vriende. Toe dit te gevaarlik geword het en Mbanda en Denise nie langer kon bly nie, is reëlings uiteindelik getref dat hulle saam met ander Tutsi-vlugtelinge na ’n nabygeleë skool toe gaan. Toe die skool aangeval is, het Mbanda en Denise daarin geslaag om te vlug. Hulle het by verskeie padversperrings verbygegaan, maar by een is al die Tutsi’s uiteindelik eenkant toe geneem, en Mbanda en Denise is doodgemaak.

Toe die soldate na die Vertaalkantoor terugkeer en uitvind dat die Tutsi-Getuies weg is, het die soldate die Hutu-broers vreeslik geslaan. Op daardie tydstip het ’n bom daar naby ontplof, en die broers het lewendig daarvan afgekom.

Namate die slagting deur die land voortgewoed het, het die dodetal amper tot ’n halfmiljoen gestyg. Uiteindelik het tussen twee- en driemiljoen, of meer, van Rwanda se agtmiljoen inwoners hulle huise verlaat. Baie van hulle het na die nabygeleë Zaïre en Tanzanië gevlug. ’n Paar honderd Getuies van Jehovah is doodgemaak, en baie ander was onder diegene wat na kampe in ander lande gevlug het.

Wat het tot hierdie ongekende slagting en uittog aanleiding gegee? Kon dit verhoed word? Wat was die situasie voordat die geweld uitgebreek het?

Die Hutu’s en die Tutsi’s

Rwanda en sy buurland Burundi word bewoon deur Hutu’s, oor die algemeen ’n kort, stewig geboude Bantoevolk, en Tutsi’s, oor die algemeen langer mense met ’n ligter vel wat ook as Watusi’s bekend staan. In albei lande bestaan die bevolking uit ongeveer 85 persent Hutu’s en 14 persent Tutsi’s. Botsings tussen hierdie etniese groepe is al in die 15de eeu opgeteken. Maar hulle het merendeels in vrede saamgeleef.

“Ons het in vrede saamgewoon”, het ’n 29-jarige vrou van die 3 000 Hutu’s en Tutsi’s gesê wat in die dorpie Ruganda, ’n paar kilometer oos van Zaïre, gewoon het. Maar in April het Hutu-bendes amper die hele Tutsi-bevolking van die dorpie uitgewis. The New York Times het verduidelik:

“Die verhaal van hierdie dorpie is die verhaal van Rwanda: Hutu’s en Tutsi’s wat saamwoon, met mekaar trou, nie omgee of selfs weet wie ’n Hutu en wie ’n Tutsi is nie.

“Ewe skielik het alles verander. In April het Hutu-bendes deur die hele land getrek en Tutsi’s begin doodmaak waar hulle hulle ook al gevind het. Toe die slagting begin het, het Tutsi’s na kerke vir beskerming gevlug. Die bendes het hulle gevolg en toevlugsoorde in begraafplase verander wat nou nog met bloed bespat is.”

Wat het tot die slagting aanleiding gegee? Dit was die dood van die presidente van Rwanda en Burundi, albei Hutu’s, op 6 April in ’n vliegtuigongeluk in Kigali. Hierdie gebeurtenis het die slagting op die een of ander manier laat losbreek, nie net van Tutsi’s nie, maar ook van enige Hutu wat hulle gedink het die Tutsi’s goedgesind was.

Terselfdertyd het die gevegte verskerp tussen die rebellemagte—die Tutsi-beheerde R.P.F. (Rwandese Patriotiese Front)—en die Hutu-beheerde Regeringsmagte. Teen Julie het die R.P.F. die Regeringsmagte verslaan en beheer oorgeneem van Kigali en die grootste deel van Rwanda. Uit vrees vir weerwraak het honderdduisende Hutu’s vroeg in Julie uit die land gevlug.

Wie is daarvoor verantwoordelik?

Toe ’n Tutsi-boer gevra is waarom die geweld skielik in April begin het, het hy gesê: “Dit is vanweë slegte leiers.”

Deur die eeue heen het politieke leiers inderdaad leuens oor hulle vyande versprei. Onder leiding van “die owerste van hierdie wêreld”, Satan die Duiwel, het wêreldlike politici hulle eie mense oorreed om teen diegene van ’n ander ras, stam of nasie te veg en hulle selfs dood te maak (Johannes 12:31; 2 Korinthiërs 4:4; 1 Johannes 5:19). Die situasie was nie veel anders in Rwanda nie. The New York Times het gesê: “Politici het herhaaldelik probeer om etniese lojaliteit en etniese vrese aan te wakker—in die geval van die Hutu’s om beheer oor die Regering te behou; in die geval van die Tutsi’s om ondersteuning vir die rebelle te werf.”

Aangesien die mense van Rwanda in baie opsigte dieselfde is, sal ’n mens nooit verwag dat hulle mekaar sal haat en sal doodmaak nie. “Die Hutu’s en die Tutsi’s praat dieselfde taal en deel oor die algemeen dieselfde tradisies”, het die verslaggewer Raymond Bonner geskryf. “Nadat baie geslagte ondertrou het, het die fisiese verskille—die Tutsi’s lank en maer, die Hutu’s korter en stewiger gebou—in so ’n mate verdwyn dat Rwandese dikwels nie seker is of iemand ’n Hutu of ’n Tutsi is nie.”

Maar die onlangse stortvloed van propaganda het ’n ongelooflike uitwerking gehad. Ter toeligting het Alex de Waal, direkteur van die groep African Rights, gesê: “Plattelanders in gebiede waar die R.P.F. deur is, is glo verstom oor die feit dat die Tutsi-soldate nie horings, sterte en oë het wat in die duister gloei nie—dít is hoe erg radio-uitsendings waarna hulle luister dit laat klink.”

Dit is nie net politieke leiers wat mense se denke vorm nie; godsdiens doen dit ook. Wat is die hoofgodsdienste in Rwanda? Is hulle ook verantwoordelik vir die tragedie?

Godsdiens se rol

The World Book Encyclopedia (1994) sê van Rwanda: “Die meeste mense is Rooms-Katolieke. . . . Die Rooms-Katolieke en ander Christelike kerke het beheer oor die meeste laer- en hoërskole.” Trouens, die National Catholic Reporter noem Rwanda ’n “nasie wat uit 70% Katolieke” bestaan.

The Observer van Groot-Brittanje gee die agtergrond van die godsdienssituasie in Rwanda en verduidelik: “Gedurende die dertigerjare, toe die kerke beheer oor die onderwysstelsel probeer verkry het, het die Katolieke die Tutsi-aristokrasie begunstig terwyl die Protestante hulleself aan die kant van die verdrukte Hutu-meerderheid geskaar het. In 1959 het die Hutu’s die mag oorgeneem en gou die ondersteuning van die Katolieke en Protestante geniet. Protestantse ondersteuning van die Hutu-meerderheid is nog baie sterk.”

Het Protestantse kerkleiers byvoorbeeld die bloedbad veroordeel? The Observer antwoord: “Twee [Anglikaanse] geestelikes is gevra of hulle die moordenaars veroordeel wat die gange van Rwandese kerke met die liggame van onthoofde kinders gevul het.

“Hulle wou nie antwoord nie. Hulle het vrae ontwyk, kwaad geword, hulle stemtoon het al hoe skriller geraak, en die diep oorsprong van die Rwandese krisis het aan die lig gekom—die mees senior lede van die Anglikaanse kerk tree op as boodskappers vir politieke meesters wat moord verkondig en die riviere met bloed gevul het.”

Die Christendom se kerke in Rwanda is weliswaar nie anders as kerke op ander plekke nie. Die Britse brigadier Frank P. Crozier het byvoorbeeld van die kerke se ondersteuning van politieke leiers in die Eerste Wêreldoorlog gesê: “Die Christelike Kerke is die beste aanstigters van bloeddorstigheid wat ons het, en ons het hulle vryelik gebruik.”

Ja, godsdiensleiers is grotendeels verantwoordelik vir wat gebeur het! Die National Catholic Reporter van 3 Junie 1994 het berig: “Die gevegte in die Afrika-nasie is ‘’n ware rassemoord waarvoor selfs Katolieke ongelukkig verantwoordelik is’, het die pous gesê.”

Die kerke het mense beslis nie ware Christelike beginsels, wat op tekste soos Jesaja 2:4 en Mattheüs 26:52 gebaseer is, geleer nie. Volgens die Franse koerant Le Monde het ’n priester gesê: “Hulle vermoor mekaar terwyl hulle die hele tyd vergeet dat hulle broers is.” ’n Ander Rwandese priester het erken: “Ná ’n eeu van preke oor liefde en vergifnis is Christene deur ander Christene doodgemaak. Dit was ’n mislukking.” Le Monde het gevra: “Hoe kan ’n mens vergeet dat die Tutsi’s en Hutu’s wat in Burundi en Rwanda in oorlog gewikkel is deur dieselfde Christensendelinge geleer is en na dieselfde kerke toe gegaan het?”

Ware Christene is anders

Die ware volgelinge van Jesus Christus gehoorsaam sy bevel om ‘mekaar lief te hê’ (Johannes 13:34). Kan jy jou voorstel dat Jesus of een van sy apostels ’n kapmes neem en iemand doodkap? Sulke wettelose moorde identifiseer mense as “die kinders van die duiwel”.—1 Johannes 3:10-12.

Jehovah se Getuies neem glad nie deel aan oorloë, revolusies of enige ander konflik wat bevorder word deur die wêreldlike politici wat onder die beheer van Satan die Duiwel is nie (Johannes 17:14, 16; 18:36; Openbaring 12:9). Jehovah se Getuies betoon eerder opregte liefde aan mekaar. Daarom het Hutu-Getuies hulle lewens gewillig tydens die slagting in gevaar gestel om hulle Tutsi-broers te probeer beskerm.

Nogtans behoort sulke tragedies ons nie te verbaas nie. In Jesus se profesie aangaande “die voleinding van die wêreld” het hy voorspel: “Dan sal hulle . . . julle doodmaak” (Mattheüs 24:3, 9). Gelukkig het Jesus gesê dat getroues in die opstanding van die dooies onthou sal word.—Johannes 5:28, 29.

Intussen is Jehovah se Getuies in Rwanda en elders vasbeslote om steeds te toon dat hulle Christus se dissipels is deur mekaar lief te hê (Johannes 13:35). Selfs onder hierdie huidige moeilikhede dien hulle liefde as ’n getuienis, soos die verslag “Getuies in vlugtelingekampe” toon. Ons almal moet onthou wat Jesus in sy profesie gesê het: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”—Mattheüs 24:13.

[Venster op bladsy 29]

GETUIES IN VLUGTELINGEKAMPE

Vanaf Julie hierdie jaar was ongeveer 4 700 Getuies en hulle metgeselle in vlugtelingekampe. In Zaïre was 2 376 in Goma, 454 in Bukavu en 1 592 in Uvira. Daarbenewens was daar in Tanzanië ongeveer 230 in Benaco.

Dit was selfs moeilik om by die vlugtelingesentrums uit te kom. Een gemeente van 60 Getuies het die Rusumo-brug, ’n hoofontvlugtingsroete na die vlugtelingekampe in Tanzanië, probeer oorsteek. Toe hulle oorgang geweier is, het hulle ’n week lank langs die rivieroewer gedwaal. Daarna het hulle besluit om met kano’s te probeer oorgaan. Hulle het dit reggekry, en ná ’n paar dae het hulle die kamp in Tanzanië veilig bereik.

Jehovah se Getuies in ander lande het groot noodlenigingsvoorrade gereël. Getuies in Frankryk het meer as honderd ton klere en nege ton skoene bymekaargemaak, en hierdie voorrade tesame met voedingsartikels en medisyne is na gebiede verskeep waar dit nodig was. Maar die eerste ding waarvoor broers dikwels in die vlugtelingekampe gevra het, was ’n Bybel of ’n Wagtoring of Ontwaak!

Baie waarnemers was beïndruk deur die liefde wat Getuies in Zaïre en Tanzanië geopenbaar het toe hulle hulle uitgeweke broers besoek en gehelp het. “Mense van julle geloof het julle besoek”, sê vlugtelinge, “maar ons het nie ’n besoek van een van ons priesters ontvang nie.”

Die Getuies het goed in die kampe bekend geraak, veral weens hulle eenheid, ordelikheid en liefdevolle gesindheid (Johannes 13:35). Dit is interessant dat dit die Getuies in Benaco, Tanzanië, net 15 minute geneem het om mede-Getuies tussen ongeveer 250 000 mense in die vlugtelingekamp op te spoor.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel