Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 12/15 bl. 19-22
  • ’n Gesondheidstoets vir jou?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Gesondheidstoets vir jou?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Streef na gesondheid—Maar tot elke prys?
  • Watter kragte is hierby betrokke?
  • Pas op!
  • “Goeie gesondheid” en Christelike redelikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Spiere—meesterstukke van ontwerp
    Ontwaak!—1999
  • Behou ’n skriftuurlike beskouing van gesondheidsorg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Mag ’n Christen mediese behandeling aanvaar?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 12/15 bl. 19-22

’n Gesondheidstoets vir jou?

Die Wagtoringgenootskap maak nie aanbevelings of neem nie besluite vir individue met betrekking tot mediese en diagnostiese gebruike nie. Indien sekere gebruike egter aspekte bevat wat in die lig van Bybelbeginsels verdag voorkom, kan aandag hierop gevestig word. Dan kan elke persoon dit wat daarby betrokke is, oorweeg en besluit wat om te doen.

Liewe Broers: Ek wil graag julle mening hoor. Dit lyk of ’n [sekere gesondheidspraktisyn] sukses behaal, maar ’n metode wat sy gebruik, kom vir my verdag voor. . . . Met behulp van ’n ondersoek bepaal sy wat verkeerd is. Dan, om uit te vind watter soort medisyne of hoeveel daarvan gebruik moet word, plaas sy ’n medisynebottel teen die vel naby ’n klier of ’n orgaan. Sy probeer om die pasiënt se uitgestrekte arm af te trek. Die soort medisyne of die hoeveelheid wat nodig is, word bepaal deur die krag wat sy moet gebruik om die arm af te trek. Volgens die teorie beweeg elektrone, soos ’n stroom, van die medisyne af deur die metaaldoppie van die bottel na ’n liggaamsdeel en word dit versterk. Is dit soos wateraanwysing?

HIERDIE brief uit Oregon, VSA, handel oor ’n gebruik waardeur sommige mense voedingstekorte bepaal, emosionele probleme vasstel, herinneringe evalueer en vraagstukke oor die daaglikse lewe oplos. Is die skrywer se agterdog geregverdig, al is die gebruik ook hoe algemeen?

Streef na gesondheid—Maar tot elke prys?

Sedert vroeë tye probeer mense verstaan waarom hulle siek word en hoe om gesond te word. Die Israeliete was in ’n bevoorregte posisie want hulle het geweet dat hulle sondaars was, en hulle het wette van God gehad wat hulle gehelp het om te voorkom dat hulle talle siektes opdoen of versprei (Levitikus 5:2; 11:39, 40; 13:1-4; 15:4-12; Deuteronomium 23:12-14). God se volk het nietemin ook by gekwalifiseerde geneeshere van hulle tyd om hulp aangeklop.—Jesaja 1:6; 38:21; Markus 2:17; 5:25, 26; Lukas 10:34; Kolossense 4:14.

Wat ’n teenstelling het dit tog met mense in eertydse Babilon en Egipte gevorm! Hoewel hulle “dokters” geneesmiddels van natuurlike bestanddele gehad het, sal baie van hulle “behandelingsmetodes” vandag as kwaksalwery beskou word. ’n Egiptiese hiëroglifiese teks vertel hoe ’n geneesheer blindheid behandel met ’n walglike mengsel van varkoë, antimonium, rooi oker en heuning. Hierdie brousel is in die siek persoon se oor gegooi! ’n Antieke getuigskrif beweer dat hierdie behandeling “werklik uitstekend” was. Die vreemdheid of geheimsinnigheid daarvan het moontlik selfs die aantrekkingskrag daarvan vergroot.

Die Babiloniërs en Egiptenaars het hulle dikwels op okkulte kragte beroep.a ’n Priester/geneesheer het dalk ’n pasiënt gevra om in ’n skaap se neus te blaas en geglo dat die een of ander krag, of energie, uit die pasiënt na ’n ander wese kan vloei en ’n uitwerking kan hê. Die skaap is doodgemaak, en sy lewer kon kwansuis die pasiënt se siekte of sy toekoms openbaar.—Jesaja 47:1, 9-13; Esegiël 21:21.

’n Godvresende geneesheer in eertydse Israel sou hom natuurlik nie tot spiritistiese gebruike gewend het nie. God het wyslik beveel: “Daar mag niemand by jou gevind word . . . wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie . . . Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ’n gruwel” (Deuteronomium 18:10-12; Levitikus 19:26; 20:27). Dieselfde geld vandag vir God se Christenknegte. Ons moet versigtig wees.

In onlangse jare het baie mense hulle tot “alternatiewe” diagnostiese tegnieke en behandelingsmetodes gewend. Dit is basies ’n gebied waarop daar persoonlik besluit moet word (Mattheüs 7:1; vergelyk Romeine 14:3, 4.). Dit sal natuurlik jammer wees as enige Christen so behep raak met omstrede gesondheidskwessies dat die bediening, wat die enigste seker manier is om lewens te red, daardeur oorskadu word (1 Timotheüs 4:16). Die Bybel sê nie dat siekte in die nuwe wêreld genees en volmaakte gesondheid bereik sal word deur mediese benaderings, kruie, diëte of holistiese lewenswyses nie. In werklikheid sal volkome genesing net verkry word deur vergifnis van sonde op grond van Jesus se losprysofferande.—Jesaja 33:24; Openbaring 22:1, 2.

Watter kragte is hierby betrokke?

Wat sal ’n Christen in aanmerking wil neem wanneer hy sy eie besluit neem oor die gebruik wat in die inleidingsbrief gemeld is, naamlik om spiere te toets?

Sekere metodes om die sterkte of reaksie van spiere te toets, is deel van konvensionele geneeskunde, en min mense sal die nut daarvan in twyfel trek. Byvoorbeeld, poliomiëlitis kan die spiere verswak en terapie hiervoor kan dalk kinesiologie—“die studie van spiere en spierbeweging”—insluit. Sulke kinesiologie word ook gebruik in die rehabiliteringsterapie vir beroerteslagoffers. Die meeste mense sal sulke behandeling verstaan.

Maar wat van die spiertoetse wat in die brief aan die begin van hierdie artikel beskryf word? Hierdie soort “kinesiologie” is al gebruik in ’n poging om vas te stel of sekere voedselsoorte, kruie of vitamiene ’n mens kan help of benadeel. Dit is ’n algemene gebruik dat die persoon sy arm uithou en ’n praktisyn die arm afdruk om die spierkrag te toets. Dan plaas die pasiënt ’n voedingstof of ’n ander stof in sy mond, op sy maag of in sy hand. Die armspiere word dan weer getoets. Na bewering sal sy arm sterker wees as hy daardie voedingstof nodig het; as dit sleg is vir hom sal die spiere swakker wees.b

Party mense wat dit probeer het, glo dat dit werk en dat die uitwerking op kragte binne die liggaam gegrond is. Hulle redeneer dat daar baie dinge is wat die moderne wetenskap nie kan verduidelik nie, maar wat gebeur of waargeneem kan word. Daarom beweer hulle dat daar energiekanale of wisselwerking tussen kragte en stowwe kan wees, selfs al het geneeshere dit nog nie ontdek of aanvaar nie.

Daarteenoor sê die boek Applied Kinesiology: “[Boeke] leer soms dat die nut van chemiese stowwe, soos voedingstowwe, bepaal word deur die stof in die hand te hou en die spier te toets. Daar is geen bewys dat hierdie toetsmetode enigsins betroubaar is nie. . . . ’n Filosofiese gesindheid kan so sterk wees dat die praktisyn se vooroordeel die insameling van akkurate inligting uit die toetsproses teëwerk.” “’n Ondersoeker wat weet hoe om spiertoetse met die hand uit te voer, kan maklik ’n pasiënt se spier na willekeur swakker of sterker laat voorkom deur bloot die . . . toets effens [te verander].”

Pas op!

Sommige spiertoetse word egter ’n stap verder geneem. Neem die metode wat “surrogaat-toetsing” genoem word. Dit kan gebruik word in die geval van ’n bejaarde persoon of ’n baba wat te swak is om getoets te word. Terwyl ’n surrogaat aan die baba raak, toets die praktisyn die surrogaat se arm. Dit is selfs al op diere toegepas; die surrogaat se arm word getoets terwyl hy sy hand op ’n kollie, Duitse herdershond of ’n ander siek troeteldier laat rus.

Ons is nie in die posisie om sulke toetse te veroordeel nie, maar jy kan jou afvra: ‘Is liggaamskragte verantwoordelik vir hierdie reaksies?’ Wetenskaplikes het die bestaan van kosmiese strale, mikrogolwe en verskeie soorte elektromagnetiese straling bewys. Maar het alle wesens, selfs babas en troeteldiere, interne kragte wat uit hulle kan vloei en ’n toetsbare effek op ’n tweede persoon kan uitoefen? Die Babiloniërs het gedink dat kragte na ’n skaap kon uitvloei en ’n uitwerking op die dier kon hê. Jy kan jou afvra: ‘Glo ek dat iets soortgelyks vandag met mense of diere kan gebeur? Of is daar dalk ’n ander verduideliking?’

Party helers meet glo ’n persoon se “kragte” met instrumente soos metaalspirale of pendulums. Dit beweeg blykbaar wanneer daar interaksie tussen die heler se “energieveld” en dié van die pasiënt is. ’n Praktisyn en skrywer op hierdie gebied, wat vroeër navorsing as ’n wetenskaplike gedoen het, gebruik soms ’n pendulum om te diagnoseer. Sy kan glo ook “die menslike energieveld” of gekleurde aura visualiseer wat individue na bewering omring. Sy beweer dat sy “interne visie” gebruik om binne-in die liggaam na gewasse, bloedselle of mikrobes te kyk sowel as om die verlede te sien.c

Soos vroeër gemeld, is kragte wat deur middel van armsterkte bepaal is al gebruik om emosies te toets. ’n Wydverspreide boek het gesê: “As jy terselfdertyd ’n klein emosietoets wil insluit, vra dan hardop: ‘Het jy ’n probleem?’ en doen weer die toets. Dit sal soms die arm verswak as die voedingstof swak is.” Sommige mense gebruik so ’n toets “om vas te stel op watter ouderdom ’n spesifieke fisiese, emosionele of geestelike trauma” plaasgevind het. Dit word ook ingespan om ‘ja-of-nee’-besluite oor alledaagse dinge te neem.

Baie wat sulke spiertoetse (kinesiologie) doen, sal waarskynlik sê dat wat hulle doen, verskil van wat so pas beskryf is en dat geen spiritisme daarby betrokke is of dat hulle geen emosietoetse doen nie. Maar hoe dit ook al sy, is dít wat hulle doen steeds gegrond op ’n opvatting dat elke mens interne kragte besit wat slegs deur sekere mense getoets of gesien kan word wat na bewering spesiale kragte besit?

Christene neem nie sulke kwessies ligtelik op nie. God het Israel beveel: “Nuwemaan en sabbat, die uitroep van ’n samekoms—Ek verdra nie die gebruik van magiese krag saam met die plegtige vergadering nie” (Jesaja 1:13, NW). Toe daardie nasie afvallig geraak het, het hulle met “waarsêery omgegaan en voortekens verklaar” (2 Konings 17:17; 2 Kronieke 33:1-6). Hulle het blykbaar inligting deur spesiale ritusse probeer verkry, en hulle het “magiese dinge” gespreek.—Sagaria 10:2, NW.

Sommige spiertoetse is dalk onskadelik en kan sonder enige gevaar vir die pasiënt of die praktisyn uitgevoer word. Maar dit is duidelik dat daar magiese of bonatuurlike aspekte aan party verbonde kan wees, soos interne visie, geheimsinnige auras en die gebruik van ’n pendulum. Christene moet nie van magiese kragte gebruik maak nie. Hulle moet nie eers met hierdie dinge eksperimenteer nie, want hulle is nie nuuskierig oor die diep dinge van Satan nie (Openbaring 2:24). Daar is eerder goeie rede om versigtig te wees oor enigiets wat lyk of dit dalk verband hou met die beoefening van spiritisme, wat in God se Woord veroordeel word.—Galasiërs 5:19-21.

Wat ’n praktisyn doen, is sý verantwoordelikheid, en dit is nie ons oogmerk om elkeen se bewerings of prosedures na te gaan en te oordeel nie. Selfs al meen jy dat van hierdie gebruike magiese krag behels, is dit duidelik dat baie wat dit probeer het dit heeltemal onskuldig gedoen het, sonder om enigsins te dink dat spiritisme daarby betrokke is. Dit was moontlik net ’n weerspieëling van hulle desperate begeerte na goeie gesondheid. Tog het sommige wat by sulke gebruike betrokke was later besluit dat enige moontlike fisiese voordeel nie die geestelike risiko werd was nie.

Weer eens moet elke individu self besluit wat hy met betrekking tot sulke persoonlike sake gaan doen. Christene moet nietemin God se raad ter harte neem: “Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe” (Spreuke 14:15). Dit is ook op gesondheidsbewerings van toepassing.

Satan wil graag God se knegte van ware aanbidding af weglei. Die Duiwel sal verheug wees as hy dit kan regkry om Christene se aandag deur ander belange te boei. Dit sal hom selfs meer verheug as hulle deur dinge wat onverklaarbaar is, of wat so lyk, geboei raak en hulle by spiritisme betrokke kan laat raak.—1 Petrus 5:8.

Hoewel Christene nie onder die Mosaïese Wet is nie, het Jehovah God se gesindheid teenoor okkulte gebruike nie verander nie. Soos vroeër gemeld is, het God die Israeliete beveel dat niemand “wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan . . . of wat met besweringe omgaan” onder hulle gevind moes word nie. “Elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ’n gruwel . . . Opreg moet jy wees met die HERE.”—Deuteronomium 18:10-13.

Hoe verstandig is dit dan vir Christene vandag om “die volle wapenrusting van God” aan te trek, “want ons worstelstryd is . . . teen die bose geeste in die lug”!—Efesiërs 6:11, 12.

[Voetnote]

a Baie mense raadpleeg steeds sjamane, toordokters of soortgelyke helers. ’n Sjamaan is “’n priester wat toorkuns gebruik om siekes te genees, verborge dinge te voorspel en beheer oor gebeure uit te oefen”. ’n Toordokter, of sjamaan, kombineer dalk kruie met spiritistiese gebruike (deur hom op geheimsinnige kragte te beroep). ’n Waaksame, lojale Christen sal sulke betrokkenheid by spiritisme verwerp, al bied dit blykbaar genesing.—2 Korinthiërs 2:11; Openbaring 2:24; 21:8; 22:15.

b Dit is ’n algemene beskrywing, hoewel die toetsmetodes kan verskil. ’n Pasiënt kan byvoorbeeld gevra word om sy duim en voorvinger teen mekaar te druk, terwyl die praktisyn hulle dan van mekaar probeer wegtrek.

c Sy skryf: “Hoe vind hierdie oënskynlike wonderwerke plaas? . . . Die proses wat ek gebruik, word handoplegging, geloofsgenesing of geestelike genesing genoem. Dit is hoegenaamd nie ’n geheimsinnige proses nie, maar baie eenvoudig . . . Almal het ’n energieveld of aura wat die fisiese liggaam omring en heeltemal deurdring. Daar is ’n noue verband tussen hierdie energieveld en gesondheid. . . . Hoë Sinspersepsie is ’n soort ‘visie’ waarin jy ’n beeld in jou gedagtes sien sonder die gebruik van jou gewone visie. Dit is nie verbeelding nie. Daar word soms daarna verwys as heldersiendheid.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel