Jehovah kan jou kragtig maak
“Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.”—JESAJA 40:29.
1, 2. Wat is party bewyse van Jehovah se oorvloedige krag?
JEHOVAH is ’n God “oorvloedig in krag”. Ons kan bewys van God se “ewige krag en goddelikheid” in die grootsheid van sy fisiese skepping sien. Dié wat weier om hierdie bewys van sy Skepperskap te erken, het geen verontskuldiging nie.—Psalm 147:5, NW; Romeine 1:19, 20.
2 Jehovah se krag word al hoe duideliker namate wetenskaplikes deeglik ondersoek instel na die heelal met sy ontelbare sterrestelsels wat honderdmiljoene ligjare ver strek. Kyk op ’n donker maar helder nag na die hemele en jy sal heel waarskynlik soos die psalmis voel: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?” (Psalm 8:4, 5, NAV). En hoe goed sien Jehovah tog nie na die mens, na ons, om nie! Hy het die eerste man en vrou ’n pragtige aardse tuiste gegee. Selfs die grond het krag gehad—om plante te laat groei wat voedsame, onbesoedelde voedsel opgelewer het. Mense en diere put fisiese krag uit hierdie blyk van God se krag.—Genesis 1:12; 4:12, vgl. NW; 1 Samuel 28:22.
3. Wat behalwe die fisiese dinge van die heelal openbaar God se krag?
3 Behalwe dat die hemele fassinerend is en die aarde se plante en diere genot verskaf, openbaar hulle ook God se krag aan ons. Die apostel Paulus het geskryf: “Sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid” (Romeine 1:20). Maar daar is nog ’n bewys van sy krag wat ons aandag en waardering verdien. ‘Wat’, wonder jy dalk, ‘is dan groter bewys van God se krag as die heelal?’ Die antwoord is Jesus Christus. Trouens, die apostel Paulus sê onder inspirasie dat Christus wat aan die paal gehang is “die krag van God en die wysheid van God” is (1 Korinthiërs 1:24). ‘Waarom is dit so?’ vra jy moontlik, ‘En watter invloed kan dit nóú op my lewe hê?’
Krag geopenbaar deur sy Seun
4. Hoe is God se krag met betrekking tot sy Seun getoon?
4 God se krag is aanvanklik getoon toe hy sy eniggebore Seun, wat na sy beeld gemaak is, geskep het. Hierdie Geesseun het Jehovah as ’n “meesterwerker” gedien deur God se oorvloedige krag te gebruik om alle ander dinge te skep (Spreuke 8:22, 30, NW). Paulus het aan sy Christenbroers in Kolosse geskryf: “[Deur] Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is . . . alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.”—Kolossense 1:15, 16.
5-7. (a) Hoe was mense in die verlede betrokke by die openbaring van God se krag? (b) Watter rede is daar om te glo dat God se krag in die geval van hedendaagse Christene geopenbaar kan word?
5 Ons is ’n deel van die ‘dinge wat op die aarde geskape is’. Kon God se krag dus aan ons as mense gegee word? Wel, in al God se handelinge met onvolmaakte mense het Jehovah sy knegte van tyd tot tyd ekstra krag gegee sodat hulle sy voornemens kon uitvoer. Moses het geweet dat onvolmaakte mense oor die algemeen 70 of 80 jaar lewe (Psalm 90:10). Wat van Moses self? Hy het 120 jaar oud geword, en tog ‘was sy oog nie verswak nie en het sy krag nie vergaan nie’ (Deuteronomium 34:7). Hoewel dit nie beteken dat God elkeen van sy knegte in staat stel om so lank te lewe of so sterk te bly nie, bewys dit wel dat Jehovah mense krag kan gee.
6 Wat God in die geval van Abraham se vrou gedoen het, is verdere bewys van sy vermoë om mans en vroue krag te gee. “Sara self [het] ook krag ontvang om bevrug te word; en toe sy oor die leeftyd was, het sy gebaar, omdat sy Hom getrou geag het wat dit beloof het.” Of dink aan hoe God rigters en ander in Israel krag gegee het: “Gideon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete [het] . . . krag uit swakheid ontvang.”—Hebreërs 11:11, 32-34.
7 Sulke krag kan ook op ons inwerk. Ons sal weliswaar nie nou vanweë ’n wonderwerk ’n kind verwag of soveel krag soos Simson hê nie. Maar ons kan kragtig wees, soos Paulus vir gemiddelde mense in Kolosse gesê het. Ja, Paulus het geskryf aan mans, vrouens en kinders, soos dié wat ons vandag in die gemeentes aantref, en hy het gesê dat hulle “kragtig gemaak . . . word met alle krag”.—Kolossense 1:11, NW.
8, 9. Hoe is Jehovah se krag in die eerste eeu met betrekking tot mense soos ons geopenbaar?
8 Gedurende Jesus se aardse bediening het Jehovah duidelik getoon dat sy krag deur sy Seun in werking was. Toe menigtes byvoorbeeld na Jesus in Kapernaüm gestroom het, ‘was Jehovah se krag daar sodat hy gesond kon maak’.—Lukas 5:17, NW.
9 Ná sy opstanding het Jesus sy volgelinge die versekering gegee dat hulle ‘krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom’ (Handelinge 1:8). En dit hét gebeur! ’n Geskiedskrywer sê die volgende oor gebeurtenisse ’n paar dae ná Pinkster in 33 G.J.: “Met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus” (Handelinge 4:33). Paulus self was iemand wat krag ontvang het vir die werk wat God aan hom opgedra het. Nadat hy tot bekering gekom het en weer kon sien, het hy “al meer krag ontvang en die Jode wat in Damaskus woon, in die war gebring deur te bewys dat Hy, Jesus, die Christus is”.—Handelinge 9:22.
10. Hoe het krag van God af in Paulus se geval gehelp?
10 Paulus het beslis ekstra krag nodig gehad as ons dink aan die geestelike en verstandelike stamina wat dit geverg het om drie sendingreise van duisende kilometers te onderneem. Hy het ook allerhande ontberinge gely, is opgesluit en het voor ’n marteldood te staan gekom. Hoe? Hy het geantwoord: “Die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking heeltemal volbring kan word.”—2 Timotheüs 4:6-8, 17; 2 Korinthiërs 11:23-27.
11. Na watter hoop het Paulus, ten opsigte van God se krag, vir sy medeknegte in Kolosse verwys?
11 Dit is dus nie verbasend nie dat Paulus, toe hy aan sy “broers in eenheid met Christus” in Kolosse geskryf het, hulle die versekering gegee het dat hulle “na die mate van [Jehovah se] heerlike mag kragtig gemaak [kan] word met alle krag om ten volle te volhard en lankmoedig te wees met vreugde” (Kolossense 1:2, 11, NW). Hoewel daardie woorde hoofsaaklik aan die gesalfde Christene gerig is, kan almal wat Christus se voetstappe navolg grootliks baat vind by wat Paulus geskryf het.
Kragtig gemaak in Kolosse
12, 13. Wat is die agtergrond van die brief aan die Kolossense, en hoe het hulle waarskynlik daarop gereageer?
12 Die gemeente in Kolosse, wat in die Romeinse provinsie Asië geleë was, is waarskynlik vanweë die predikingswerk van die getroue Christen Epafras gestig. Toe Epafras van Paulus se gevangenskap in Rome in ongeveer 58 G.J. gehoor het, het hy blykbaar besluit om die apostel te besoek en hom met ’n goeie verslag van die liefde en standvastigheid van sy broers in Kolosse te bemoedig. Epafras het waarskynlik ook getrou verslag gegee van party van die probleme in die Kolossiese gemeente wat reggestel moes word. Paulus het op sy beurt gevoel dat hy vir die gemeente ’n brief van bemoediging en vermaning moet skryf. Hoofstuk 1 van daardie brief kan jou ook baie bemoedig, want dit werp lig op hoe Jehovah sy knegte kragtig kan maak.
13 Jy kan jou voorstel hoe die broers en susters in Kolosse moes gevoel het toe Paulus hulle as “gelowige broeders in Christus” beskryf het. Hulle het lof verdien weens hulle ‘liefde vir al die heiliges’ en omdat ‘die evangelie onder hulle vrug gedra het’ sedert hulle Christene geword het! Kan dieselfde van ons gemeente, van ons persoonlik, gesê word?—Kolossense 1:2-8.
14. Wat was Paulus se begeerte ten opsigte van die Kolossense?
14 Paulus was so ontroer deur die verslag wat hy ontvang het dat hy vir die Kolossense gesê het dat hy nie opgehou het nie om vir hulle te bid en te vra dat hulle “vervul mag word met die kennis van [God se] wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat [hulle] waardiglik voor die Here mag wandel”. Hy het gebid dat hulle “voortgaan om vrug te dra in elke goeie werk en toe te neem in die juiste kennis van God en om na die mate van sy heerlike mag kragtig gemaak te word met alle krag om ten volle te volhard en lankmoedig te wees met vreugde”.—Kolossense 1:9-11, vgl. NW.
Ons word vandag ook kragtig gemaak
15. Hoe kan ons dieselfde gesindheid openbaar soos getoon is deur wat Paulus aan die Kolossense geskryf het?
15 Wat ’n goeie voorbeeld het Paulus tog nie vir ons gestel nie! Ons broers in alle wêrelddele het ons gebede nodig sodat hulle kan volhard en hulle vreugde ondanks hulle lyding kan behou. Soos Paulus moet ons spesifiek in ons gebede wees wanneer ons hoor dat broers in ’n ander gemeente, of ’n ander land, moeilike tye beleef. Dit kan wees dat ’n nabygeleë gemeente deur ’n natuurramp getref is of op geestelike gebied die een of ander probleem ervaar. Of dit kan wees dat Christene ly in ’n land wat deur burgeroorlog of stammoorde geteister word. Ons moet God in gebed vra om te help dat ons broers “waardiglik voor die Here mag wandel”, dat hulle aanhou om Koninkryksvrug te dra terwyl hulle lyding verduur en dat hulle in kennis toeneem. Só ontvang God se knegte die krag van sy gees en word hulle “kragtig gemaak . . . met alle krag”. Jy kan seker wees dat jou Vader sal hoor en gunstig sal reageer.—1 Johannes 5:14, 15.
16, 17. (a) Waarvoor moet ons dankbaar wees, soos Paulus geskryf het? (b) In watter sin is God se volk verlos en vergewe?
16 Paulus het geskryf dat die Kolossense ‘die Vader moet dank wat hulle bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig’. Laat ons ook ons hemelse Vader dank vir ons plek in sy reëling, of dit nou in die hemelse of aardse ryk van sy Koninkryk is. Hoe het God onvolmaakte mense bekwaam in sy oë gemaak? Paulus het aan sy gesalfde broers geskryf: “Hy [het] ons verlos . . . uit die mag van die duisternis en oorgebring . . . in die koninkryk van die Seun van sy liefde, in wie ons die verlossing het deur sy bloed [losprys, NW], naamlik die vergifnis van die sondes.”—Kolossense 1:12-14.
17 Of ons nou ’n hemelse of ’n aardse hoop het, ons dank God elke dag vir ons verlossing uit hierdie bose stelsel van duisternis, wat moontlik gemaak word deur ons geloof in die kosbare voorsiening van die losprysoffer van Jehovah se dierbare Seun (Mattheüs 20:28). Geesgesalfde Christene vind by die losprys baat omdat dit op ’n spesiale wyse ten behoewe van hulle aangewend word sodat hulle ‘oorgebring kan word in die koninkryk van die Seun van God se liefde’ (Lukas 22:20, 29, 30). Maar die “ander skape” vind ook nou al by die losprys baat (Johannes 10:16). Hulle kan God se vergifnis ontvang sodat hulle ’n regverdige posisie voor hom as sy vriende kan hê. Hulle het ’n groot aandeel aan die verkondiging van “hierdie evangelie van die koninkryk” in hierdie tyd van die einde (Mattheüs 24:14). Daarbenewens het hulle die wonderlike hoop om teen die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy heeltemal regverdig en fisies volmaak te wees. Kyk of jy nie, terwyl jy die beskrywing in Openbaring 7:13-17 lees, saamstem dat dít bewys dat ons verlos en geseën gaan word nie.
18. Met watter versoening wat in Kolossense genoem word, is God nog besig?
18 Paulus se brief help ons om te besef hoeveel ons verskuldig is aan die grootste mens wat nog geleef het. Wat het God deur Christus vermag? “[Dit was] om . . . alle ander dinge weer met homself te versoen deur vrede te maak deur die bloed wat hy aan die folterpaal vergiet het, ongeag of hulle die dinge op die aarde of die dinge in die hemele is.” God se voorneme is om die hele skepping weer in volle harmonie met hom te bring, soos dit voor die opstand in Eden was. Dieselfde Een wat gebruik is om alle dinge te skep, word nou gebruik om hierdie versoening te bewerkstellig.—Kolossense 1:20, NW.
Waarom ontvang mense krag?
19, 20. Waarvan hang ons heiligheid en smetloosheid af?
19 Dié van ons wat met God versoen is, ontvang verantwoordelikhede. Ons was voorheen sondig en van God vervreemd. Maar noudat ons geloof in Jesus se offerande stel en ons verstand nie meer op goddelose werke gerig is nie, bevind ons ons as ’t ware in ’n toestand waar ons “heilig en smetloos” en “vry van enige beskuldiging voor [God]” is (Kolossense 1:21, 22, NW). Stel jou voor, net soos God hom nie vir daardie getroue getuies van die ou tyd geskaam het nie, skaam hy hom ook nie vir ons, om ons God genoem te word, nie (Hebreërs 11:16). Vandag kan niemand ons daarvan beskuldig dat ons sy roemryke naam wederregtelik dra of dat ons bang is om daardie naam tot aan die uiterste van die aarde te verkondig nie!
20 Maar let op die waarskuwing wat Paulus in Kolossense 1:23 bygevoeg het: ‘Bly ten minste gegrond en vas in die geloof en laat julle nie afbring van die hoop van die evangelie nie, wat julle gehoor het en wat verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel.’ Soveel hang daarvan af of ons aan Jehovah getrou bly en die voetstappe van sy dierbare Seun navolg. Jehovah en Jesus het soveel vir ons gedoen! Mag ons ons liefde vir hulle toon deur Paulus se raad te volg.
21. Waarom het ons vandag groot rede tot vreugde?
21 Die Christene in Kolosse moes verheug gewees het om te hoor dat ‘die evangelie wat hulle gehoor het’ reeds “verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel”. Dit is vandag selfs opwindender om te hoor in watter mate die goeie nuus van die Koninkryk verkondig word—deur heelwat meer as vier en ’n half miljoen Getuies in meer as 230 lande. Trouens, byna 300 000 uit alle nasies word jaarliks met God versoen!—Mattheüs 24:14; 28:19.
22. Wat kan God vir ons doen al verduur ons lyding?
22 Hoewel Paulus klaarblyklik in die gevangenis was toe hy die brief aan die Kolossense geskryf het, het hy glad nie oor sy lot gekla nie. Hy het eerder gesê: “Nou verbly ek my in my lyding vir julle.” Paulus het geweet wat dit behels om “ten volle te volhard en lankmoedig te wees met vreugde” (Kolossense 1:11, 24, vgl. NW). Maar hy het geweet dat hy dit nie uit eie krag gedoen het nie. Jehovah het hom kragtig gemaak! Dit is vandag dieselfde. Duisende Getuies wat al opgesluit en vervolg is, het nie hulle vreugde in Jehovah se diens verloor nie. Hulle het eerder besef hoe waar God se woorde is wat in Jesaja 40:29-31 aangetref word: “Hy gee die vermoeide krag . . . Die wat op die HERE wag, kry nuwe krag.”
23, 24. Wat is die heilige geheim waarvan Kolossense 1:26 praat?
23 Die bediening van die goeie nuus wat om Christus draai, het vir Paulus soveel beteken. Hy wou hê dat ander die waarde van Christus se rol in God se voorneme besef, en daarom het hy dit beskryf as “die heilige geheim wat van die vergange stelsels van dinge en van die vergange geslagte af verborge was”. Maar dit sou nie altyd ’n geheim bly nie. Paulus het bygevoeg: “Nou is dit aan sy heiliges openbaar gemaak” (Kolossense 1:26, NW). Toe die opstand in Eden uitgebreek het, het Jehovah iets beters vir die toekoms beloof, en hy het voorspel dat ‘die vrou se saad die slang se kop sal vermorsel’ (Genesis 3:15). Wat het dit beteken? Dit het geslagte lank, eeue lank, ’n geheim gebly. Toe het Jesus gekom, en hy het “die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring . . . deur die evangelie”.—2 Timotheüs 1:10.
24 Ja, die “heilige geheim” draai om Christus en die Messiaanse Koninkryk. Paulus het melding gemaak van “die dinge in die hemele” met verwysing na diegene wat saam met Christus in die Koninkryk sal heers. Hulle sal help om ongekende seëninge te bring vir al die “dinge op die aarde”, diegene wat ’n ewige paradys hier sal geniet. Jy kan dus sien hoe gepas dit vir Paulus was om van “die heerlike rykdom van hierdie heilige geheim” te praat.—Kolossense 1:20, 27, NW.
25. Wat moet ons gesindheid nou wees, soos Kolossense 1:29 toon?
25 Paulus het na sy plek in die Koninkryk uitgesien. Tog het hy besef dat dit nie iets was waarop hy kon hoop sonder om enigiets te doen nie. ‘Ek werk inderdaad hard en span my in ooreenkomstig sy werking, wat met krag in my aan die werk is’ (Kolossense 1:29, NW). Let op dat Jehovah Paulus deur Christus kragtig gemaak het om ’n lewensreddende bediening te vervul. Jehovah kan vandag dieselfde vir ons doen. Maar ons moet ons afvra: ‘Het ek dieselfde evangelisasiegees as wat ek gehad het toe ek die waarheid leer ken het?’ Wat is jou antwoord? Wat kan elkeen van ons help om aan te hou om ‘hard te werk en ons in te span ooreenkomstig die werking van Jehovah se krag’? Die volgende artikel handel oor hierdie saak.
Het jy opgemerk?
◻ Waarom kan ons seker wees dat Jehovah sy krag ten behoewe van mense kan openbaar?
◻ Wat is die agtergrond van Paulus se woorde in Kolossense hoofstuk 1?
◻ Hoe bewerkstellig God die versoening waarvan Kolossense 1:20 praat?
◻ Wat kan Jehovah deur middel van sy krag deur ons vermag?
[Kaart/Prent op bladsy 8]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
KOLOSSE