Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 10/15 bl. 12-15
  • Kon Jesus geloof in God gehad het?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kon Jesus geloof in God gehad het?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gebede sonder geloof?
  • Die “Vervolmaker van ons geloof” word vervolmaak
  • Het hy nie in God se Woord geglo nie?
  • Jesus, die toonbeeld van navolgenswaardige geloof
  • Beoefen geloof wat op die waarheid gegrond is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Beoefen geloof in Jehovah se beloftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Stel jy werklik geloof in die goeie nuus?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • “Kom my te hulp waar ek in geloof te kort skiet!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 10/15 bl. 12-15

Kon Jesus geloof in God gehad het?

’n Trinitariese dilemma

“HOE kon Jesus geloof gehad het? Hy is God; hy weet en sien alles sonder dat hy hom tot enigiemand anders hoef te wend. Geloof lê juis daarin dat daar op iemand anders gesteun word en dat ’n persoon aanvaar wat hy nie kan sien nie; dat Jesus-God geloof kon gehad het, is dus onmoontlik.”

Volgens die Franse teoloog Jacques Guillet is dít die heersende mening in die Katolisisme. Verbaas hierdie verduideliking jou? Jy het dalk gedink dat Jesus, aangesien hy vir Christene in alles ’n voorbeeld is, ook ’n voorbeeld van geloof moet wees. As jy so gedink het, het jy nie met die Christendom se dogma van die Drie-eenheid rekening gehou nie.

Die kwessie van Jesus se geloof is in werklikheid ’n raaisel vir Katolieke, Protestantse en Ortodokse teoloë, wat glo dat die Drie-eenheid “die sentrale verborgenheid van die Christelike geloof en lewe” is.a Nie almal loën egter Jesus se geloof nie. Jacques Guillet bevestig dat “dit onmoontlik is om te ontken dat Jesus geloof gehad het”, hoewel hy toegee dat dit, in die lig van die Drie-eenheidsleerstelling, ’n “paradoks” is.

Die Franse Jesuïet Jean Galot, asook die meeste ander teoloë, sê onomwonde dat “Christus nie in homself kan glo nie . . . [aangesien] hy werklik God en werklik mens is”. “Geloof behels dat ’n mens in iemand anders glo, nie in jouself nie”, sê die tydskrif La Civiltà Cattolica. Dit is dus die dogma van die Drie-eenheid wat dit moeilik maak om te erken dat Jesus geloof gehad het, aangesien die twee begrippe mekaar sonder twyfel weerspreek.

“Die Evangelies maak nooit melding van Jesus se geloof nie”, sê die teoloë. Die terme wat in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik word, pi·steuʹo (glo, om geloof te hê) en piʹstis (geloof), verwys oor die algemeen eerder na die geloof van die dissipels in God of in Christus as na Jesus se geloof in sy hemelse Vader. Moet ons dus tot die gevolgtrekking kom dat God se Seun nie geloof gehad het nie? Wat kan ons uit sy dade en woorde verstaan? Wat sê die Skrif?

Gebede sonder geloof?

Jesus was ’n man van gebed. Hy het by elke geleentheid gebid—toe hy gedoop is (Lukas 3:21); die hele nag voordat hy sy 12 apostels gekies het (Lukas 6:12, 13) en voor sy wonderdadige verheerliking op die berg terwyl hy saam met die apostel Petrus, Johannes en Jakobus was (Lukas 9:28, 29). Dit was terwyl hy gebid het dat een van die dissipels hom gevra het: “Leer ons bid”, waarop hy hulle die Gebed van die Here (die “Onse Vader”) geleer het (Lukas 11:1-4; Mattheüs 6:9-13). Soggens vroeg het hy lank en op sy eie gebid (Markus 1:35-39); in die laat namiddag, op ’n berg, nadat hy sy dissipels weggestuur het (Markus 6:45, 46); saam met sy dissipels en vir sy dissipels (Lukas 22:32; Johannes 17:1-26). Ja, gebed was ’n belangrike deel van Jesus se lewe.

Hy het gebid voordat hy wonderwerke verrig het, voordat hy byvoorbeeld sy vriend Lasarus opgewek het: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het; en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het” (Johannes 11:41, 42). Sy oortuiging dat sy Vader daardie gebed sou verhoor, toon hoe sterk sy geloof was. Hierdie skakel tussen gebed tot God en geloof in Hom kan gesien word in dit wat Christus aan die dissipels gesê het: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang.”—Markus 11:24.

Waarom het Jesus tot God gebid as hy nie geloof gehad het nie? Die Christendom se onskriftuurlike Drie-eenheidsleerstelling, dat Jesus terselfdertyd mens sowel as God was, vertroebel die Bybel se boodskap. Dit verhinder dat mense die Bybel se eenvoud en krag verstaan. Tot wie het die mens Jesus gebid? Tot homself? Was hy onbewus daarvan dat hy God is? En as hy God was en dit geweet het, waarom het hy gebid?

Jesus se gebede op die laaste dag van sy aardse lewe gee ons selfs dieper insig in sy vaste geloof in sy hemelse Vader. Hy het hoop en vertroue geopenbaar toe hy gevra het: “En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.”—Johannes 17:5.

Omdat Jesus geweet het dat sy moeilikste beproewinge en sy dood op hande was, het hy die nag toe hy in die tuin van Getsemane op die Olyfberg was “begin bedroef en benoud word” en gesê: “My siel is diep bedroef tot die dood toe” (Mattheüs 26:36-38). Hy het daarna gekniel en gebid: “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” Toe het “’n engel uit die hemel . . . aan Hom verskyn en Hom versterk”. God het na sy gebed geluister. Vanweë die intensiteit van sy emosies en die hewigheid van die beproewing het “sy sweet . . . geword soos bloeddruppels wat op die grond val”.—Lukas 22:42-44.

Waarop dui Jesus se lyding, sy behoefte om versterk te word en sy smekinge? “Een ding is seker”, skryf Jacques Guillet, “Jesus het gebid, en gebed was ’n onontbeerlike aspek van sy lewe en van sy dade. Hy het gebid soos mense bid, en hy het ten behoewe van mense gebid. Maar dit is ondenkbaar dat mense sal bid as hulle nie glo nie. Sou Jesus se gebede sonder geloof dan denkbaar wees?”

Terwyl Jesus kort voor sy dood aan die folterpaal gehang het, het hy hard uitgeroep en ’n psalm van Dawid aangehaal. Daarna het hy met geloof finaal hardop gesmeek: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” (Lukas 23:46; Mattheüs 27:46). Een Italiaanse interkerklike vertaling, die Parola del Signore, sê dat Jesus ‘sy lewe toevertrou het’ aan die Vader.

Jacques Guillet sê: “Deur aan ons die gekruisigde Christus te toon wat deur middel van die psalms van Israel tot sy Vader uitroep, oortuig die Evangelieskrywers ons dat daardie uitroep, die uitroep van die eniggebore Seun, ’n uitroep van volslae angs, van volkome vertroue, ’n uitroep van geloof is, die uitroep van iemand wat met geloof sterf.”

In die lig van hierdie duidelike en treffende blyk van geloof probeer sommige teoloë ’n onderskeid tussen geloof en “vertroue” tref. So ’n onderskeid is egter nie op die Skrif gegrond nie.

Maar presies wat openbaar die strawwe beproewinge wat Jesus verduur het aangaande sy geloof?

Die “Vervolmaker van ons geloof” word vervolmaak

In die 11de hoofstuk van sy brief aan die Hebreërs 11 maak die apostel Paulus melding van die groot wolk van getroue mans en vroue in voor-Christelike tye. Hy sluit af deur die aandag op die grootste en volmaakte voorbeeld van geloof te vestig: “Ons [hou] die blik stip gerig . . . op die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof, Jesus. Vir die vreugde wat hom voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het . . . Let noukeurig op die een wat sulke teëspraak deur sondaars teen hulle eie belange verduur het, sodat julle nie moeg word en in julle siele beswyk nie.”—Hebreërs 12:1-3, NW.

Die meeste teoloë sê dat hierdie teks nie van “Jesus se persoonlike geloof” praat nie, maar eerder van sy rol as die “insteller of die grondlegger van geloof”. Die Griekse term te·lei·o·teś, wat in hierdie frase voorkom, verwys na iemand wat iets vervolmaak, dit verwesenlik of dit voltooi. As die “Vervolmaker” het Jesus geloof voltooi in die sin dat sy koms na die aarde toe Bybelprofesieë vervul het en sodoende ’n stewiger grondslag vir geloof voorsien het. Maar beteken dit dat hy nie geloof gehad het nie?

Die gedeeltes uit die brief aan die Hebreërs wat jy in die venster op bladsy 15 kan sien, laat geen twyfel nie. Jesus is deur sy lyding en sy gehoorsaamheid vervolmaak. Hoewel hy reeds ’n volmaakte man was, het sy ondervindinge hom in alle dinge volmaak en volkome gemaak, selfs in geloof, sodat hy as Hoëpriester ten volle bevoeg vir die redding van ware Christene kon word. Hy het sy Vader “met sterk uitroepe en trane” gesmeek, hy was aan God “getrou”, en hy het “godvrugtige vrees” gehad (Hebreërs 3:1, 2; 5:7-9, NW). Hy was “in alle opsigte versoek”, presies “net soos ons”, sê Hebreërs 4:15, dit wil sê net soos enige getroue Christen wie se geloof “allerhande versoekinge” ondergaan (Jakobus 1:2, 3). Is dit redelik om te glo dat Jesus “net soos” sy navolgers versoek kon word as hy nie, soos hulle, ten opsigte van sy geloof getoets is nie?

Jesus se smekinge, gehoorsaamheid, lyding, beproewinge, getrouheid en godvrugtige vrees getuig van sy volmaakte geloof. Hulle dui daarop dat hy die “Vervolmaker van ons geloof” geword het slegs nadat hy in sy eie geloof vervolmaak is. Hy was beslis nie, soos die Drie-eenheidsleerstelling beweer, God die Seun nie.—1 Johannes 5:5.

Het hy nie in God se Woord geglo nie?

Die Drie-eenheidsleerstelling kondisioneer teoloë se denke in so ’n mate dat hulle selfs so ver gaan as om te sê dat Jesus “nie in God se Woord en die boodskap daarvan kan glo nie” omdat “hy as die ware Woord van God daardie woord slegs kan verkondig”.—Angelo Amato, Gesù il Signore, met kerklike drukverlof.

Maar waarop dui Jesus se voortdurende verwysings na die Skrif in werklikheid? Toe hy versoek is, het hy drie keer uit die Skrif aangehaal. Sy derde antwoord het aan Satan getoon dat Jesus slegs God aanbid (Mattheüs 4:4, 7, 10). By verskeie geleenthede het Jesus melding gemaak van profesieë wat op hom betrekking gehad het, en hy het geloof in die vervulling daarvan getoon. (Markus 14:21, 27; Lukas 18:31-33; 22:37; vergelyk Lukas 9:22; 24:44-46.) Uit hierdie ondersoek moet ons aflei dat Jesus die Skrif geken het wat deur sy Vader geïnspireer is, dat hy met geloof daarvolgens geleef het en volkome vertroue gehad het in die vervulling van die profesieë wat sy beproewinge, dood en opstanding voorspel het.

Jesus, die toonbeeld van navolgenswaardige geloof

Jesus moes die goeie stryd van die geloof tot die einde toe stry om sy lojaliteit teenoor sy Vader te handhaaf en ‘die wêreld te oorwin’ (Johannes 16:33). Sonder geloof is dit onmoontlik om so ’n oorwinning te behaal (Hebreërs 11:6; 1 Johannes 5:4). Op grond van daardie seëvierende geloof was hy vir sy getroue navolgers ’n voorbeeld. Hy het waarlik geloof in die ware God gehad.

[Voetnoot]

a ’n Breedvoeriger bespreking van die ongegrondheid van die Drie-eenheidsleerstelling kan gevind word in die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo?, wat deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania uitgegee word.

[Venster op bladsy 15]

Jesus, die “Vervolmaker”, word vervolmaak

Hebreërs 2:10: “Dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak.”

Hebreërs 2:17, 18: “Hy [moes] in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.”

Hebreërs 3:2: “[Hy was] getrou . . . aan Hom wat Hom aangestel het, net soos Moses ook in sy hele huis.”

Hebreërs 4:15: “Ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.”

Hebreërs 5:7-9, NW: “In die dae van sy vlees het Christus smekinge en ook bedes met sterk uitroepe en trane aan die Een opgedra wat hom uit die dood kon red, en hy is weens sy godvrugtige vrees verhoor. Hoewel hy ’n Seun was, het hy gehoorsaamheid geleer uit die dinge wat hy gely het; en nadat hy vervolmaak is, het hy verantwoordelik geword vir die ewige redding.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel