Vlugtelinge, en tog gelukkig in God se diens
OORLOË, hongersnode, rampe en onrus. Vir sommige is dit bloot voorbladnuus. Vir baie ander is dit ’n deel van hulle daaglikse lewe. Aangesien Jehovah se Getuies ’n wêreldwye broederskap van Christene is, is hulle deeglik daarvan bewus dat ’n deel van hulle internasionale broederskap kan swaarkry wanneer ’n oorlog uitbreek of ’n ramp ’n gebied tref. En wanneer mense moet vlug omdat hulle lewe daarvan afhang, is ons broers dalk verplig om dieselfde te doen.
Getuies in ’n aantal lande in Afrika moes al jare lank sulke ondervindinge verduur. Baie van hulle moes inpak wat hulle ook al kon dra en êrens anders ’n heenkome soek. Hoewel ’n paar die een of ander vorm van vervoer gehad het, soos miskien ’n fiets, moes die meerderheid stap, en stap, en stap—dae, en selfs weke lank—om hulle bestemming te bereik.
Een so ’n bestemming was ’n klein dorpie met die naam Mboki, in die Sentraal-Afrikaanse Republiek. Deur die jare heen het mans en vroue, oud en jonk, in hulle duisende daar aangekom. Onder hulle was ’n paar van ons Christenbroers en -susters asook belangstellendes. Hulle mede-Christene by die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Bangui, die hoofstad van die Sentraal-Afrikaanse Republiek, wou natuurlik graag met hierdie vlugtelinge in aanraking kom om hulle van hulp te voorsien. ’n Verteenwoordiger is vyf keer gestuur met geld, kos, klere en medisyne wat ruimhartig voorsien is deur die Getuies in Bangui, ongeveer 1 130 kilometer daarvandaan. Hoewel diegene wat hierdie ruimhartige hulp aangebied het finansieel min gehad het, het hulle met vreugde gedoen wat hulle kon.
Ons vertrek na Mboki
Die broers by die takkantoor wou sien wat hulle nog kon doen en hoe die vlugtelinge geestelik gehelp kon word. Ek en my vrou het dus saam met Symphorien, ’n spesiale pionier, en sy vrou in ’n vierwielaangedrewe Land Cruiser vertrek. Symphorien het die pad goed geken en hy kon Zande praat, ’n taal van die vlugtelinge in Mboki. Dit het ons vier lange dae geneem om daar te kom.
Die laaste 400 kilometer was deur ’n pragtige landelike gebied met golwende heuwels en groot kremetartbome. Hier en daar het ons by klein dorpies verbygery. Op hierdie pad het my vrou presies 50 brûe getel—waarvan talle in ’n baie slegte toestand, en sommige onbegaanbaar, was. Ons het sommige brûe met stokke en verrotte balke herstel, die motor na vierwielaandrywing oorgeskakel, gebid en baie versigtig gery. Wanneer daar ’n dorpie naby was, het kinders aangehardloop gekom om te help—vir ’n fooitjie. Ons was verbaas dat hulle altyd stukke hout en planke van die brug in die lang gras en onder bosse daar naby gevind het. Dit het ons laat wonder of dit afgehaal en daar gebêre is vir klante wat in die knyp was.
By drie geleenthede het ons die kinders se hulp van die hand gewys, omdat die brûe te gevaarlik gelyk het om oor te steek. Ons het dan van die pad afgedraai en tot onder in die spruit, oor rotse, teen die oorkantste bult uit en terug tot op die pad gery. Hoe dankbaar was ons tog dat dit die droë seisoen was, want anders sou dit vir ons onmoontlik gewees het om die reis af te lê, behalwe miskien met ’n helikopter!
Watter soort plek sou Mboki wees? Ons het dikwels daaroor gedink terwyl ons op hierdie eindelose piste gery het, ’n Franse woord wat in die Sentraal-Afrikaanse Republiek gebruik word vir ’n pad of ’n voetpad van sand, rotse en rotsstukke—en duisende gate.
Op die vierde dag, net ná twaalf, het Symphorien na ’n paar grashutte gewys wat deur papajabome en kassawelande omring is. “Voilà! Dit is waar Mboki begin”, het hy uitgeroep. Ons was nogal verbaas oor wat ons gesien het. “Is dit Mboki? Waar is die kamp?” het ons gevra, want wat ons gesien het, was nie ’n kamp nie, maar verspreide huise. Dit was klein, maar skoon hutjies met grasdakke. Daar was ook oral bome en bosse. Die mense plant gewasse langs hulle huise. Mboki was nie die soort kamp wat ons verwag het om te sien nie; dit was ’n groot dorp, ongeveer 35 kilometer lank.
Ons ontmoet die broers
Die broers in Mboki het geweet ons kom, hoewel hulle gedink het dat ons reis vyf dae sou duur. Toe hulle ons motor gehoor het, het hulle aangehardloop gekom. Mans, vrouens en kinders het uit hulle hutte en krale gestroom en van hulle landerye af gekom om ons te groet. Almal het geglimlag, gelag en ons met die hand gegroet, verskeie kere as hulle kon. Hulle het hulle babas uitgehou. Almal wou hallo sê, en hulle het ons hartlik verwelkom.
Ek en my vrou kon as gevolg van die taalprobleem op daardie stadium nie veel doen nie. Ons het in ’n bietjie Frans, ’n bietjie Sango, ’n bietjie Engels en Arabies probeer gesels. Die meeste van ons broers praat, lees en skryf Zande. Symphorien moes vertaal en die program vir ons besoek verduidelik.
Ons het ’n paar kilometer verder gegaan en by die Koninkryksaal aangekom. Dit was die eerste “kerk” van enige godsdiens wat deur vlugtelinge in Mboki gebou is. Nog broers en hulle kinders en belangstellendes het opgedaag om ons hand te skud. Selfs talle van die kinders in die buurt het saam met die broers gekom om ons hand te skud.
Ons broers het twee huisies vir ons, hulle besoekers, in gereedheid gebring. Hulle was silwerskoon. Emmers skoon water het vir ons reg gestaan. Ons het ons eie kos en drinkwater saamgebring omdat ons die ergste verwag het en nie ’n las vir ons broers wou wees nie. Terwyl ons die motor uitgepak het, het ’n jong meisie gekom en gevra hoe ons ons hoender daardie aand wou hê—gebraai of in sous gekook? Ons het dít nooit verwag nie, en vra toe wat hulle van plan was om daarmee saam te eet. Die antwoord: kassawe, of maniok. Ons het toe die hoender in ’n geurige sous gekies. Ons geweldige honger was daardie aand deeglik gestil. Maar hulle het ons nog elke dag kos gegee—smiddae en saans. Ons kon dit skaars glo—vlugtelinge wat vir óns kos gee en sorg, hoewel hulle self nie veel gehad het nie.
’n Gelukkige gemeentetjie
Hier was ons, in so ’n afgeleë plek, maar tussen 21 van ons broers. Slegs twee van hulle was reeds gedoop toe hulle hierheen gekom het. Die ander was belangstellendes toe hulle gekom het. Hulle het aangehou studeer en is gedurende die afgelope twee jaar gedoop. Nog vier ander is tydens ons besoek in ’n rivier daar naby gedoop.
Een uitsonderlike voorbeeld is Faustino. Voordat hy na Mboki toe gekom het, het hy basiese Bybelwaarhede by ’n vriend geleer. Faustino het waardering gehad vir wat hy geleer het. Kort voor lank het hy en sy vriend vir ander begin preek, maar hulle het teëstand ondervind en in die tronk beland omdat hulle met hulle godsdiens “onrus onder die bevolking veroorsaak” het. Terwyl hulle in die tronk was, het Faustino se vriend voor vrees geswig en is hy vrygelaat. Twee maande later is Faustino verhoor. Maar dit was duidelik dat die beskuldigings teen hom ongegrond was, en hy is dus vrygelaat. Toe daar in sy omgewing oorlog uitgebreek het, het Faustino na die Sentraal-Afrikaanse Republiek gevlug, waar hy die broers ontmoet het en sy Bybelstudie voortgesit het. Hy is in Julie 1991 gedoop, en in 1992 het hy die voltydse bediening as ’n pionier betree.
Die gelukkige en vriendelike gemeentetjie in Mboki bestaan nou uit een spesiale pionier en 21 verkondigers. Twee Engelssprekende broers dien as ouere manne en behou kontak met die takkantoor in Bangui. Ons het verwag dat ons vlugtelingbroers hulle in ’n benarde toestand sou bevind, maar dit was nie die geval nie. Hoewel hulle materieel arm is, het niemand gekla nie, en niemand was bekommerd of het gemurmureer nie. Sedert die broers daar aangekom het, het hulle hulle hutte en huise gebou en begin om kos aan te plant en hoenders te teel. Hulle het minder as wat hulle voorheen gehad het, maar hulle lewe nog en is tussen mede-Christene.
Aangesien daar tussen 17 000 en 20 000 vlugtelinge in Mboki is en die getal elke maand toeneem, het ons broers ’n groot veld vir hulle bediening. Ons het saam met hulle aan die predikingswerk deelgeneem, wat werklik baie interessant was. Hulle gebruik dikwels die Bybel in Zande, en hierdie vertaling bevat God se naam in die Hebreeuse Geskrifte en op verskeie plekke in die Christelike Griekse Geskrifte. Vir hierdie mense is God nie bloot “Mboli” (Zande vir “God”) nie, maar “Yekova”, wat hulle uitspraak van God se persoonlike naam is. “Mboli Yekova” is ’n algemene uitdrukking. Protestantse vertalings in baie ander Afrikatale volg nie hierdie juiste vertaling nie; hulle vervang “Jehovah” met “Nzapa”, “Nzambe” of ander Afrikaname vir God.
Net soos Jesus voorspel het, word die goeie nuus van die Koninkryk oor die hele wêreld verkondig, selfs in Mboki (Mattheüs 24:14). Die gemeente het nou ’n goeie voorraad Bybels, boeke, tydskrifte, boekies en traktate in al die tale wat hulle nodig het. Daar sal miskien in die toekoms meer publikasies in Zande beskikbaar wees.
Hulle wag op ’n blywende tuiste
Die eerste aand het ons die Genootskap se skyfies “Vreugdevolle byeenkomsgangers in Oos-Europa loof Jehovah” vertoon. Die volgende aand was die titel van die vertoning: “Baie word tot regverdigheid gelei in die tyd van die einde.” Die skyfies is in die ope lug vertoon, langs die Koninkryksaal, onder ’n wolklose hemel en ’n silwer maan. Wat ’n atmosfeer het dit tog voorsien! Honderde het na hierdie skyfievertonings kom kyk, en ons broers was bly en trots daarop dat hulle iets spesiaals aan die bevolking kon bied.
Maandag het ons vir ons terugtog voorberei. Dit sou nog ’n vierdaagse reis oor dieselfde paaie en oor dieselfde 50 brûe wees. ’n Suster het daarop aangedring dat sy kos vir die reis gaarmaak—nog twee hoenders, reeds gebraai en met knoffel gegeur. Hulle het besonder goed geruik gedurende die oggendure in die Land Cruiser. Daardie middag het ons in die bos stilgehou om die gebraaide hoender te geniet terwyl ons aan ons broers in Mboki gedink het. Hoewel hulle nie anders kon as om vlugtelinge te wees nie, hou hulle aan om Jehovah getrou te dien terwyl hulle op ’n blywende, vreedsame tuiste in God se beloofde nuwe aarde wag (2 Petrus 3:13).—Bygedra.