Ethiopië se “Goddelike Onderrigting”-Byeenkoms—’n tyd van buitengewone vreugde
DIT was nie Ethiopië se eerste streekbyeenkoms in vryheid nie, maar dit was beslis spesiaal. Sedert Jehovah se Getuies op 11 November 1991 wetlik erken is, het hulle vir die derde keer in die land se grootste stadion, die City-stadion, reg in die middel van Addis Ababa, bymekaargekom. Aangesien hierdie stadion aanvanklik nie die Sondag beskikbaar was en geen ander fasiliteit wat groot genoeg is, gevind kon word nie, is die program in drie dae, van Donderdag tot Saterdag, 13-15 Januarie 1994, ingepas.
Gedurende hierdie drie dae het almal nie net die heerlike, gematigde weer onder die blou hemel geniet nie, maar ook die geestelike lig wat met die volle trefkrag van “Goddelike Onderrigting” gegee is. Daardie byeenkomstema in Amharies het duidelik vertoon teen die agtergrond van ’n pragtige blommerangskikking om die verhoog.
Maar wat het die byeenkoms spesiaal gemaak? Benewens die uitstekende program, was almal se gedagtes en gevoelens op ons liefdevolle internasionale broederskap gerig en op die duidelike blyk van God se seën op sy volk in die vorm van Koninkryksvermeerdering. Daar was sowat 270 buitelandse byeenkomsgangers uit 16 lande, met sommige wat selfs van Djiboeti en Jemen af gekom het. Meer as die helfte het uit winterweer in Europa en Noord-Amerika gekom. Onder die besoekers was daar twee lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, naamlik Lloyd Barry en Daniel Sydlik.
Tradisionele Ethiopiese gasvryheid tesame met opregte liefde vir hulle besoekende broers het tot ’n uitbundige vreugde gelei wat taalgrense oorbrug het. Daar is nie bloot met die hand gegroet nie, maar hulle het mekaar omhels en gesoen—tot ses keer toe! Baie besoekers het oor die Koninkrykswerk in Ethiopië gelees en geweet dat hulle Ethiopiese broers beproefde handhawers van onkreukbaarheid is wat ten spyte van gevangesetting en ander vorme van vervolging volhard het.a Maar besoekende byeenkomsgangers was verbaas om so baie jongmense met stralende gesigte te sien en met ’n beleefdheid wat vandag in die meeste lande aan die verdwyn is. Baie Ethiopiese susters het hulle wit, kunstig geborduurde tradisionele drag aangehad, wat tot ’n waarlik feestelike stemming bygedra het.
Die doopplegtigheid Vrydag was opwindend. ’n Lang ry van 530 pastoegewydes, van 10 tot 80 jaar, het oor die helfte van die stadion se speelveld gestrek. Dit was baie meer as wat enigiemand verwag het—meer as 1 uit elke 7 Getuies in die land. Wat ’n bewys van Jehovah se seën op sy volk hier! Hierdie gesig het baie vreugdetrane laat vloei, en die pragtige sang deur meer as 40 Italiaanse byeenkomsgangers het dit selfs treffender gemaak. Baie het aan die profetiese woorde in Jesaja 60:5 gedink: “Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word; want die rykdom van die see gaan na jou toe oor, die skatte van die nasies kom na jou toe aan.”
Spesiale redes tot vreugde
Jehovah se seën is Vrydag verder beklemtoon toe die klein begin van die Koninkrykswerk in Ethiopië tydens onderhoude herleef is. Die onderhoude is gevoer met ’n groep van die vroeë sendelinge wat in die vyftiger- en sewentigerjare daar gedien het. Meer as 8 000 het gehoor hoe Ray Casson, John Kamphuis en Haywood Ward hulle Bybelopvoedkundige werk beskryf wat op 14 September 1950 begin het toe hulle in Addis Ababa aangekom het. Die destydse imperiale regering het vereis dat hulle by algemene opvoeding betrokke moet wees. Hulle het dus ’n skool vir die onderrigting van volwassenes in die middestad begin en ’n verskeidenheid vakke aangebied. Maar in hulle vrye tyd het hierdie sendelinge hulle daarop toegelê om onderrigting te bevorder wat op die Goddelike leer gegrond is. Hulle het gesukkel om Amharies te leer, ’n moeilike taal met ’n alfabet van 250 karakters. Ongeveer ’n halwe jaar het verbygegaan voordat hulle hulle eerste tuisbybelstudie kon hou. Ongeveer 43 jaar later het hulle mense op straat teëgekom wat hierdie eertydse onderwysers onthou het. Maar by die byeenkoms was hulle verheug om herenig te wees met tientalle van hulle eertydse Bybelstudente wat staatmakers in die geloof geword het en hulle aan hulle eie geestelike kinders en kleinkinders voorgestel het.—1 Thessalonicense 2:19, 20.
Die vreugdevolle gehoor wat aandagtig geluister het, het nie net ná die onderhoude met eertydse sendelinge lank hande geklap nie, maar ook ná verslae en groete uit Brittanje, Duitsland, Israel, Italië, Kanada, Kenia, Nederland en die Verenigde State—wat deur buitelandse verteenwoordigers gebring is. Dit het weer die liefdevolle, wêreldwye broederskap van God se volk beklemtoon. Die hooftoesprake wat deur die gesalfde broers van die Bestuursliggaam gehou is, asook hulle hartgrondige gebede, het die gehoor diep geraak. Die jongmense in die stadion kon hulle vereenselwig met die karakters in die drama oor jongmense wat aan hulle Skepper dink omdat die drama op ’n baie natuurlike en lewendige wyse aangebied is. Benewens die nuwe vrystellings in Engels het drie nuwe vrystellings in Amharies baie geesdrif opgewek.b
Gedurende pouses en ander tye was daar goeie geleenthede om talle dierbare mense te leer ken. Byvoorbeeld, in die voorste ry het die oudste verkondiger in Ethiopië, Tulu Mekuria, met ’n handgemaakte kierie gesit. Hy is die vorige jaar op die hoë ouderdom van 113 as een van Jehovah se Getuies gedoop. By hierdie byeenkoms het hy die vreugde gehad om te sien hoe sy 80-jarige vrou sy voorbeeld volg en ook sy geestelike suster word. Sy teenwoordigheid tydens die hele program was ’n goeie aansporing vir jongmense. Een van hulle is Yohanes Gorems wat 16 en nog ’n skoolleerling is en reeds vier jaar as ’n gewone pionierverkondiger dien. Hy en ander skoolgaande pioniers wat selfs jonger is, het geleer om die geleë tyd uit te koop, soos om vroeg soggens op pad skool toe te getuig of pouses en die ure ná skool te gebruik.
Watter voorbeelde van onkreukbaarheid!
Honderde in die gehoor is onder vorige regerings opgesluit of gemartel. Mandefro Yifru kyk terug op vyf sulke jare in die gevangenis, maar nou geniet hy die voorreg om in Addis Ababa te dien in die pas gestigte kantoor wat na die vertaal-, druk- en versendingswerk omsien. Nog ’n jong man wat saam met hom dien, Zecarias Eshetu, het agt jaar gelede nie sy onkreukbaarheid prysgegee toe sy vader vermoor is omdat hy sy Christelike neutraliteit gedurende drie jaar van gevangenskap gehandhaaf het nie. Zecarias, een van vyf kinders, was tien toe sy vader opgesluit is. Meswat Girma en sy suster Yoalan wat nou in hulle laat tienderjare is en nog op skool is, kan hulle vader net van foto’s onthou, aangesien hulle baie klein was toe hy skielik vir sy neutraliteit tereggestel is. Sy lojaliteit het hulle besiel, en hulle dien albei as gewone pioniers, net soos hulle vader ten tye van sy dood gedoen het.
Nog ’n handhawer van onkreukbaarheid is Tamirat Yadette, wat nou as ’n spesiale pionier in die pragtige omgewing van die Skeurvallei dien. Vanweë sy Christelike neutraliteit het hy drie jaar in sewe verskillende gevangenisse deurgebring waar hy soms in kettings was en wreed geslaan is. Tog het hy ’n stuk of twaalf mense in die gevangenis gehelp om hulle standpunt vir God se Koninkryk in te neem. Tesfu Temelso, wat nou as ’n kringopsiener dien, is 17 keer gedurende sy jare as ’n spesiale pionier opgesluit. Hy het letsels soos hy geslaan is, maar hy is verheug om te sien dat daar nou gemeentes in sy vorige toewysings is. Tientalle broers en susters van die Akaki-gemeente is opgesluit en wreed mishandel, en tog het die gemeente tot oor die honderd verkondigers gegroei. Hulle het die eerste Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in Ethiopië gebou. Uit Dese, ’n dorp in ’n skilderagtige omgewing ongeveer 300 kilometer noord van die hoofstad, het ’n groep van vyf gekom wat voor die dood te staan gekom het en gesien het hoe ’n plaaslike broer sterf weens die marteling waaraan hy blootgestel is. Een ouere man onder hulle, Maseresha Kasa, het verduidelik dat hy tydens ses jaar van opsluiting volhard het, nie omdat hy enigsins spesiaal is nie, maar net omdat hy geleer het om op Jehovah te vertrou.—Romeine 8:35-39; vergelyk Handelinge 8:1.
Ander het selfs onlangs nog hulle getrouheid onder beproewing getoon. ’n Groot groep het na die byeenkoms toe gekom van ’n nabygeleë land waar Getuies, vanweë hulle neutraliteit, polisiebeskerming, reisdokumente, huweliksertifikate, hospitaalbehandeling en werk geweier is. Toe daar oorlog naby Mesewa, ’n Eritreaanse hawe aan die Rooi See, gewoed het, het die hele gemeente, altesaam 39, onder andere kinders, ongeveer vier maande lank onder ’n lae brug in die woestyn gewoon omdat hulle van hulle huise af gevlug het wat deur die vorige regering gebombardeer is. In hierdie hitte en haglike omstandighede het hulle dagteksbesprekings en ander vergaderinge hulle groot krag gegee en hulle gehelp om ’n hegte band met Jehovah asook met mekaar te smee. Twee susters, spesiale pioniers, wat naby die oorsprong van die Blou Nyl dien, het dreigemente en teistering deur opswepers verduur wat deur die Ortodokse Kerk aangestig is, maar die twee het volhard en gesien hoe etlike van hulle Bybelstudente hulle toewyding deur doop by hierdie byeenkoms simboliseer.
Een broer het vertel van sy beproewing weens afsondering toe hy diep in die dorre Ogaden-streek, nie ver van Somalië af nie, moes werk. Hy het geestelik lewendig gebly deur te preek en dan vergaderinge met belangstellendes te hou, onder andere dokters, wat by Goddelike onderrigting baat gevind het en nou ander onderrig. Nog ’n goeie voorbeeld van iemand wat sy onkreukbaarheid gehandhaaf het, is ’n spesiale pionier in Addis Ababa wat in 1992 wreed geslaan en vir dood agtergelaat is deur ’n bende wat deur Ortodokse priesters aangehits is. Hy het gelukkig herstel en dien nog in dieselfde gebied. Die stralende glimlag op sy gesig openbaar nie ’n greintjie bitterheid nie. Vir hom, soos vir al die ander beproefdes en nuwelinge, was hierdie “Goddelike Onderrigting”-Byeenkoms ’n fees van vreugde.
Die byeenkomsorganisasie het so glad verloop dat besoekers gedink het dat die vrywilligers al baie jare se ondervinding het. Om die waarheid te sê, hulle het gedurende die afgelope twee jaar vinnig vooruitgang gemaak. Die driedaagse byeenkoms het gans en al te gou geëindig. Die opkomshoogtepunt Saterdag was 9 556. Die nasionale televisie, radio en die pers het ’n gunstige dekking gegee. Almal kon sien dat Jehovah sy volk geestelik verryk. In die gehoor was daar duisende belangstellendes wat by “Goddelike Onderrigting” begin baat vind het. ’n Groot veld is oop vir Jehovah se Getuies in hierdie land van ongeveer 50 miljoen mense, en die byeenkoms het almal meer vasbeslote gemaak om die oorblywende tyd in hierdie stelsel van dinge te gebruik om opregtes te help sodat hulle ook by Goddelike onderrigting kan baat vind.
[Voetnote]
a Sien die 1992 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word.
b Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut, Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou en Jehovah se Getuies—Verenig in die uitvoering van God se wil wêreldwyd.
[Prente op bladsy 23]
Addis Ababa, 13-15 Januarie 1994
[Prente op bladsy 24]
’n Groep pioniers in Addis Ababa (regs); handhawers van onkreukbaarheid wat almal in die gevangenis was (onder); die 113-jarige Getuie en sy vrou