Het jy die regte godsdiens gevind?
“Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dit.”—JAKOBUS 1:27.
1, 2. (a) Wat bepaal vir baie mense of hulle die regte godsdiens het? (b) Waaroor moet ’n mens ernstig nadink wanneer jy ’n godsdiens beoordeel?
ONS lewe in ’n tyd waarin mense tevrede is om godsdiens ’n betreklike klein plekkie in hulle lewe te gee. Hulle woon moontlik party kerkdienste by, maar min mense doen dit gereeld. Die meeste mense glo nie dat alle ander godsdienste verkeerd is en dat hulle s’n reg is nie. Hulle voel moontlik net dat hulle godsdiens vir húlle reg is.
2 In die lig hiervan kan ons vra of die vraag: Het jy die regte godsdiens gevind? bloot beteken: Het jy ’n godsdiens gevind waarvan jy hou? Wat bepaal waarvan jy hou? Jou familie? Jou metgeselle? Jou eie gevoelens? Hoe ernstig het jy al oor God se beskouing van die saak nagedink?
Hoe kan ons weet wat God se beskouing is?
3. (a) Wat moet vir ons beskikbaar wees as ons wil weet wat God se beskouing is? (b) Watter vrae moet ons vra oor waarom ons persoonlik glo dat die Bybel van God af kom?
3 As ons veronderstel is om te weet wat God dink, moet daar die een of ander openbaring van hom af wees. Die Bybel is die oudste boek wat sê dat dit deur God geïnspireer is (2 Timotheüs 3:16, 17, NW). Maar kan daar met sekerheid gesê word dat hierdie boek, in teenstelling met alle ander boeke, God se boodskap vir die hele mensdom bevat? Hoe sal jy daardie vraag beantwoord, en waarom? Is dit omdat jou ouers so gedink het? Is dit vanweë jou metgeselle se gesindheid? Het jy self die bewyse ondersoek? Jy kan dit gerus nou doen deur die volgende vier bewysvoerings te gebruik.
4. As ons na die beskikbaarheid van die Bybel kyk, wat toon dat die Bybel, en nie ’n ander boek nie, van God af kom?
4 Beskikbaarheid: ’n Boodskap wat werklik van God af kom en vir die hele mensdom bedoel is, moet vir hulle beskikbaar wees. Is dit waar van die Bybel? Beskou die volgende: Die hele Bybel of dele daarvan word nou in meer as 2 000 tale gedruk. Volgens die Amerikaanse Bybelgenootskap was die Bybel byna ’n dekade gelede vanweë die tale waarin dit gedruk is vir sowat 98 persent van die wêreldbevolking beskikbaar. Volgens die Guinness Book of World Records is die Bybel verreweg “die boek wat die grootste verspreiding ter wêreld geniet”. Dit is wat ons sal verwag van ’n Goddelike boodskap wat vir mense van alle rasse en nasies en taalgroepe bedoel is. (Vergelyk Openbaring 14:6.) Daar is geen ander boek ter wêreld wat naastenby so ’n rekord het nie.
5. Waarom is die geskiedkundige grondslag van die Bybel belangrik?
5 Historisiteit: ’n Sorgvuldige ondersoek van Bybelverhale voorsien nog ’n rede waarom die Bybel van ander sogenaamde heilige boeke verskil. Die Bybel bevat geskiedkundige feite, nie onbewysbare legendes nie. Irwin Linton, wat as ’n regsgeleerde daaraan gewoond was om bewyse wat deur ’n geregshof vereis sou word noukeurig te ondersoek, het geskryf: “Terwyl romans, legendes en valse getuienis die gebeurtenisse sorgvuldig in die een of ander afgeleë plek en in die een of ander onbepaalde tyd plaas, . . . gee die Bybelverslae met die grootste akkuraatheid vir ons die datum en plek van die dinge waarvan daar vertel word.” (Vir voorbeelde sien 1 Konings 14:25; Jesaja 36:1; Lukas 3:1, 2.) Vir mense wat hulle tot godsdiens wend om die waarheid te leer, en nie om aan die werklikheid te ontvlug nie, is dit ’n belangrike oorweging.
6. (a) Hoe help die Bybel ’n mens werklik met die probleme van die lewe? (b) Op watter drie maniere help die Bybel ’n mens om harde werklikhede die hoof te bied?
6 Praktiese waarde: Diegene wat die Bybel ernstig ondersoek, besef gou dat die bevele en beginsels daarin nie bedoel is om hulle uit te buit nie. Inteendeel, hierdie bevele en beginsels sit ’n lewenswyse uiteen wat diegene wat getrou daarby bly tot nut strek (Jesaja 48:17, 18). Die vertroosting wat dit mense in benoudheid bied, is nie vals en op leë filosofieë gegrond nie. Dit help mense eerder om die harde werklikhede van die lewe die hoof te bied. Hoe? Op drie maniere: (1) deur betroubare raad te gee oor hoe probleme die hoof gebied kan word, (2) deur te verduidelik hoe ’n mens die liefdevolle hulp kan ontvang wat God sy knegte nou gee en (3) deur die wonderlike toekoms te openbaar wat God in die vooruitsig stel vir dié wat hom dien en vir hulle grondige redes vir vertroue in sy beloftes te gee.
7. (a) Gebruik die tekste in die voetnoot en verduidelik die Bybel se antwoord op een van die vername kwessies waaroor mense vandag besorg is. (b) Toon hoe die Bybel se raad ons beskerm of help om ’n spanningsvolle situasie die hoof te bied.
7 Hoewel die Bybel se raad dikwels nie gewild is onder diegene wat gesag verwerp en ’n lewe van selfbevrediging najaag nie, het baie al tot die besef gekom dat so ’n lewe nie vir hulle ware geluk gebring het nie (Galasiërs 6:7, 8). Die Bybel gee reguit antwoorde op vrae oor aborsie, egskeiding en homoseksualiteit. Die raad daarin dien as ’n beskerming teen dwelm- en alkoholmisbruik en teen vigs wat deur besmette bloed of seksuele promiskuïteit opgedoen kan word. Dit wys vir ons hoe ons gelukkige gesinne kan hê. Dit voorsien antwoorde wat ’n mens in staat stel om lewensituasies wat groot druk op ons plaas die hoof te bied, waaronder verwerping deur familielede wat na aan jou is, ’n ernstige siekte en die dood van ’n geliefde. Dit help ons om ons prioriteite te onderskei sodat ons lewe eerder sinvol as vol verdriet is.a
8, 9. (a) Watter profesie beïndruk jóú as bewys dat die Bybel geïnspireer is? (b) Wat bewys die profesieë in die Bybel ten opsigte van hulle oorsprong?
8 Profesieë: Die Bybel is uniek as ’n boek van profesieë, ’n boek wat vir ons sê wat in die toekoms gaan gebeur, en hy doen dit breedvoerig. Dit het die vernietiging van eertydse Tirus voorspel, die val van Babilon, die herbouing van Jerusalem, die opkoms en val van die konings van Medo-Persië en Griekeland asook talle gebeurtenisse in die lewe van Jesus Christus. Dit het ook die wêreldtoestande wat in hierdie eeu ontwikkel het breedvoerig voorspel, en dit verduidelik die betekenis daarvan. Dit toon hoe die probleme waardeur menseheersers oorweldig word, opgelos gaan word, en dit identifiseer die Heerser wat blywende vrede en ware veiligheid vir die mensdom gaan bring.b—Jesaja 9:5, 6; 11:1-5, 9; 53:4-6.
9 Dit is betekenisvol dat die Bybel die vermoë om die toekoms akkuraat te voorspel as ’n toets van Godheid beskou (Jesaja 41:1–46:13). Die Een wat dit kan doen of ander kan inspireer om dit te doen, is nie net ’n lewelose afgod nie. Hy is nie bloot ’n godvrugtige mens nie. Hy is die ware God, en die boek wat sulke profesieë bevat, is sy Woord.—1 Thessalonicense 2:13.
Is almal wat die Bybel gebruik reg?
10, 11. Wat het Jesus getoon kan die godsdiens wat deur ’n geestelike voorgestaan word waardeloos maak, al gebruik hy moontlik die Bybel?
10 Is dit dan redelik—en nog belangriker, is dit skriftuurlik—om die gevolgtrekking te maak dat alle godsdiensgroepe wat verklaar dat hulle die Bybel gebruik die ware godsdiens leer? Beoefen almal wat ’n Bybel het of daaruit aanhaal die regte godsdiens?
11 Hoewel baie geestelikes die Bybel het, gebruik hulle godsdiens as ’n middel om hulleself te verheerlik. Hulle verwater suiwer waarhede met tradisies en menslike filosofieë. Is hulle aanbidding vir God aanneemlik? Jesus Christus het gepas God se verklaring deur die profeet Jesaja toegepas op godsdiensleiers in die eerste-eeuse Jerusalem wat juis dít gedoen het toe hy gesê het: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Mattheüs 15:8, 9; 23:5-10). Dit is duidelik dat daardie soort godsdiens nie die ware godsdiens is nie.
12, 13. (a) Hoe kan die gedrag van kerklidmate iemand help bepaal of sy godsdiens die regte godsdiens is? (b) Hoe sal God ons aanbidding beskou as ons met dié omgaan wat hy afkeur? (2 Kronieke 19:2).
12 Sê nou die vrugte wat deur die leerstellings van sekere godsdienste voortgebring word, is sleg, soos duidelik gesien kan word uit die lewe van hulle lidmate wat volgens hulle ’n goeie reputasie het? In sy Bergpredikasie het Jesus gewaarsku: “Maar pas op vir die valse profete . . . Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. . . . So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte” (Mattheüs 7:15-17). Dit is wel so dat individue kan sondig en dan tereggewys moet word. Dit is egter anders wanneer kerklidmate, en selfs die geestelikes, betrokke raak by hoerery en owerspel, bakleiery, dronkenskap, hebsug, leuens, spiritisme, afgodediens—by enige van of by al hierdie dinge—maar daar geen dissipline toegepas word en dié wat dit aanhou doen nie uit die gemeente gesit word nie. Die Bybel sê duidelik dat diegene wat sulke dinge beoefen uit die gemeente gesit moet word; daar is nie plek vir hulle in God se Koninkryk nie (Galasiërs 5:19-21). Hulle aanbidding is nie vir God welgevallig nie, en ons aanbidding sal God ook nie behaag as ons omgaan met dié wat hy afkeur nie.—1 Korinthiërs 5:11-13; 6:9, 10; Openbaring 21:8.
13 Dit is duidelik dat nie alle groepe wat beweer dat hulle die Bybel gebruik die ware godsdiens beoefen wat daarin beskryf word nie. Wat is die kenmerke van die ware godsdiens dan volgens die Bybel?
Kenmerke van die ware godsdiens
14. (a) Waarop is alle leringe van die ware godsdiens gegrond? (b) Hoe vaar die Christendom se leerstellings oor God en die siel in hierdie verband?
14 Die leringe daarvan is deeglik op die geïnspireerde Skrif gegrond. “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel” (2 Timotheüs 3:16, NW). Maar waar praat die Heilige Bybel van die Christendom se Drie-eenheid? En waar leer die Bybel, soos die geestelikes, dat mense ’n siel het wat ná die dood van die fisiese liggaam voortleef? Het jy al ooit ’n geestelike gevra om jou daardie leerstellings in jou Bybel te wys? The New Encyclopædia Britannica sê: “Nóg die woord Drie-eenheid nóg die uitdruklike leerstelling kom in die Nuwe Testament voor” (1992, Micropædia, Deel 11, bladsy 928). En die New Catholic Encyclopedia erken: “Onder die Apostoliese Vaders was daar niks wat in die minste met so ’n beskouing of perspektief ooreengekom het nie” (1967, Deel XIV, bladsy 299). Kerkgeleerdes erken dat die Christendom hulle konsep dat ’n siel die liggaam by die dood verlaat aan die Griekse filosofie ontleen het. Maar die ware godsdiens verontagsaam nie Bybelwaarheid ten gunste van menslike filosofieë nie.—Genesis 2:7; Deuteronomium 6:4, vgl. NW; Esegiël 18:4; Johannes 14:28.
15. (a) Hoe identifiseer die Bybel die Een wat alleen aanbid moet word? (b) Hoe voel ware aanbidders daaroor om nader aan Jehovah te kom?
15 Die ware godsdiens staan die aanbidding van net die een ware God, Jehovah, voor (Deuteronomium 4:35; Johannes 17:3). Waar Jesus Christus Deuteronomium 5:9 en 6:13 weergegee het, het hy onomwonde gesê: “[Jehovah] jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Mattheüs 4:10). Jesus het in ooreenstemming daarmee sy Vader se naam aan sy dissipels bekend gemaak (Johannes 17:26). Het jou godsdiens jou geleer om Jehovah te aanbid? Het jy die Persoon wat daardie naam dra, leer ken—sy voornemens, sy bedrywighede, sy eienskappe—sodat jy kan voel dat jy met vertroue nader aan hom kan kom? As jou godsdiens die ware godsdiens is, is die antwoord ja.—Lukas 10:22; 1 Johannes 5:14.
16. Wat beteken geloof in Christus vir diegene wat die ware godsdiens beoefen?
16 ’n Belangrike aspek van aanbidding wat vir God welgevallig is, is geloof in sy Seun, Jesus Christus (Johannes 3:36; Handelinge 4:12). Dit beteken nie bloot dat ons moet glo dat hy gelewe het of dat hy ’n uitsonderlike mens was nie. Dit behels ook waardering vir wat die Bybel leer oor die waarde van die offerande van Jesus se volmaakte menselewe en die erkenning van sy posisie as hemelse Koning vandag (Psalm 2:6-8; Johannes 3:16; Openbaring 12:10). As jy omgaan met diegene wat die ware godsdiens beoefen, weet jy dat hulle ’n nougesette poging in hulle daaglikse lewe aanwend om Jesus te gehoorsaam, sy voorbeeld na te volg en persoonlik en ywerig aan die werk deel te neem wat hy sy dissipels gegee het (Mattheüs 28:19; Johannes 15:14; 1 Petrus 2:21). As dit nie waar is van diegene saam met wie jy aanbid nie, moet jy êrens anders soek.
17. Waarom sorg ware aanbidders dat hulle hulle vlekkeloos van die wêreld bewaar, en wat behels dit onder andere?
17 Ware aanbidding word nie besoedel deur betrokkenheid by die politiek en wêreldse konflikte nie (Jakobus 1:27). Waarom nie? Omdat Jesus aangaande sy volgelinge gesê het: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:16). Jesus het hom nie met die politiek bemoei nie, en hy het sy volgelinge daarvan weerhou om hulle tot vleeslike wapens te wend (Mattheüs 26:52). Diegene wat ter harte neem wat God se Woord sê, ‘leer nie meer om oorlog te voer nie’ (Jesaja 2:2-4). As enige godsdiens waaraan jy selfs net in naam behoort nie aan daardie beskrywing voldoen nie, het die tyd aangebreek om alle bande daarmee te verbreek.—Jakobus 4:4; Openbaring 18:4, 5.
18. (a) Wat identifiseer Johannes 13:35 as ’n uitstaande kenmerk van die ware godsdiens? (b) Hoe kan jy iemand help vasstel watter groep waarlik aan die vereiste in Johannes 13:35 voldoen?
18 Die ware godsdiens leer en openbaar onselfsugtige liefde (Johannes 13:35; 1 Johannes 3:10-12). Daar word nie net oor sulke liefde gepreek nie. Dit verenig mense van alle rasse, alle ekonomiese groepe, alle tale en alle nasies in ’n ware broederskap (Openbaring 7:9, 10). Dit skei ware Christene af van die wêreld om hulle. As jy dit nie reeds gedoen het nie, kan jy gerus vergaderinge by ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies, asook hulle groter byeenkomste, bywoon. Kyk hoe hulle saamwerk wanneer hulle een van hulle Koninkryksale bou. Let op hoe hulle die bejaardes (sowel as weduwees) en jongmense (ook dié wat net een ouer of geen ouers het nie) behandel (Jakobus 1:27). Vergelyk wat jy sien met wat jy al in enige ander godsdiens gesien het. Vra jou dan af: ‘Wie beoefen die ware godsdiens?’
19. (a) Watter oplossing vir die mensdom se probleme staan die ware godsdiens voor? (b) Wat behoort die lidmate te doen van die groep wat die ware godsdiens aanhang?
19 Die ware godsdiens staan God se Koninkryk voor as die blywende oplossing vir die mensdom se probleme (Daniël 2:44; 7:13, 14; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:4, 5). Doen enige van die Christendom se kerke dit? Wanneer laas het jy ’n geestelike hoor verduidelik wat God se Koninkryk is en wat die Skrif toon dit tot stand gaan bring? Moedig die organisasie waaraan jy behoort jou aan om met ander oor God se Koninkryk te praat, en indien dit die geval is, doen al die lidmate dit? Jesus het sulke getuieniswerk gedoen; sy vroeë dissipels het ook. Jy kan ook die voorreg hê om aan hierdie bedrywigheid deel te neem. Dit is die belangrikste werk wat vandag op die aarde gedoen word.—Mattheüs 24:14.
20. Wat moet ons doen buiten om die regte godsdiens te identifiseer?
20 Hoewel daar duisende godsdienste is, help die Bybel ons gou om die verwarring uit te skakel sodat ons die ware godsdiens kan identifiseer. Maar ons moet meer doen as om dit te identifiseer. Dit is lewensbelangrik dat ons dit beoefen. Wat dit behels, sal breedvoeriger in ons volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
a Aborsie: Handelinge 17:28; Psalm 139:1, 16; Exodus 21:22, 23. Egskeiding: Mattheüs 19:8, 9; Romeine 7:2, 3. Homoseksualiteit: Romeine 1:24-27; 1 Korinthiërs 6:9-11. Dwelm- en alkoholmisbruik: 2 Korinthiërs 7:1; Lukas 10:25-27; Spreuke 23:20, 21; Galasiërs 5:19-21. Bloed en promiskuïteit: Handelinge 15:28, 29; Spreuke 5:15-23; Jeremia 5:7-9. Gesin: Efesiërs 5:22–6:4; Kolossense 3:18-21. Verwerping: Psalm 27:10; Maleagi 2:13-16; Romeine 8:35-39. Siekte: Openbaring 21:4, 5; 22:1, 2; Titus 1:2; Psalm 23:1-4. Dood: Jesaja 25:8; Handelinge 24:15. Prioriteite: Mattheüs 6:19-34; Lukas 12:16-21; 1 Timotheüs 6:6-12.
b Vir voorbeelde van sulke profesieë en hulle vervulling, sien die boeke Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, bladsye 117-61, en Redenering uit die Skrif, bladsye 76-9, 246-52, 259-65. Albei word deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wie se beskouing is die belangrikste as ’n mens die regte godsdiens wil identifiseer?
◻ Watter vier bewysvoerings toon dat die Bybel God se Woord is?
◻ Waarom is nie alle godsdienste wat die Bybel gebruik vir God aanvaarbaar nie?
◻ Wat is ses kenmerke van die enigste regte godsdiens?
[Venster op bladsy 10]
Jehovah se Getuies . . .
◆ Grond al hulle leringe op die Bybel.
◆ Aanbid die een ware God, Jehovah.
◆ Lewe in ooreenstemming met hulle geloof in Jesus Christus.
◆ Is nie betrokke by die politiek en wêreldse konflikte nie.
◆ Streef daarna om onselfsugtige liefde in hulle daaglikse lewe te openbaar.
◆ Verkondig God se Koninkryk as die blywende oplossing vir die mensdom se probleme.
[Prent op bladsy 9]
DIE BYBEL—wat toon dat dit God se boodskap aan die hele mensdom bevat?