’n Kompromis was eenvoudig ondenkbaar!
JEHOVAH se hand was met Jesus Christus se vroeë volgelinge (Handelinge 11:21). Met God se hulp het hulle onversetlik ’n weg van regskapenheid gevolg. Dit is ’n welbekende geskiedkundige feit dat hulle ook vyandigheid en selfs hewige vervolging verduur het.
Die onkreukbaarheid van Christus se eerste getroue volgelinge het spreekwoordelik geword. Hulle het selfs ten koste van hulle lewe geweier om hulle geloof prys te gee. Maar waarom is hulle so wreed behandel?
Sonder oorsaak gehaat
Soos Jesus het ware Christene nie dieselfde strewes en oortuigings as hierdie wêreld gehad nie (1 Johannes 4:4–6). Boonop het die Christelike geloof “so vinnig [gegroei] en sulke verstommende welslae behaal dat ’n geweldige botsing [met die keiserlike mag van Rome] onvermydelik was”, sê die geskiedskrywer Edmond de Pressensé.
Jesus het eenkeer ’n profetiese psalm op homself toegepas en gesê: “Hulle het My sonder oorsaak gehaat” (Johannes 15:25; Psalm 69:5). Voordat hy dit vir sy dissipels gesê het, het hy hulle gewaarsku: “’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg” (Johannes 15:20). Dit sou nie maklik wees om sy voetstappe na te volg nie. Om maar een ding te noem, godsdiensleiers onder die Jode sou Jesus se Joodse dissipels as afvalliges van die Judaïsme beskou. Maar toe Jesus se volgelinge beveel is om nie meer oor hom te spreek nie, het hulle geweier om daardie bevel te gehoorsaam en hulle geloof sodoende prys te gee.—Handelinge 4:17-20; 5:27-32.
As gevolg van getuienis wat kort ná Pinkster 33 G.J. voor die Joodse Sanhedrin gelewer is, is die dissipel Stefanus daarvan beskuldig dat hy ‘lasterlike dinge teen Moses en God gepraat het’. Hoewel die beskuldigings verregaande was, is hy gestenig. Gevolglik het daar “’n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judea en Samaria, behalwe die apostels” (Handelinge 6:11, 13; 8:1). Baie is in die tronk gegooi.
Die boek Christianity and the Roman Empire sê dat die Jode Jesus se volgelinge “met ’n wrewelige haat” vervolg het. Trouens, die Romeinse regering moes dikwels ingryp om Christene te beskerm! Romeinse soldate het byvoorbeeld die apostel Paulus te hulp gekom toe van die Jode hom wou doodmaak (Handelinge 21:26-36). Die verhouding tussen die Christene en die Romeine het nietemin gespanne gebly.
Rome verskerp die vervolging
Omtrent nege jaar ná Stefanus se dood het die Romeinse heerser Herodus Agrippa I die apostel Jakobus om die lewe laat bring om in die Jode se guns te probeer kom (Handelinge 12:1-3). Geloof in Christus het toe reeds tot in Rome versprei (Handelinge 2:10). In 64 G.J. is ’n groot deel van daardie stad deur ’n brand vernietig. Die Christene is daarna wreed vervolg omdat Nero hulle vir die ramp blameer het in ’n poging om gerugte te smoor dat hy vir die verwoestende brand verantwoordelik was. Het hy die stad aan die brand gesteek sodat hy ’n verskoning sou hê om ’n luisterryker stad te bou en dit Neropolis na homself te hernoem? Of het sy keiserin Poppea, ’n Joodse proseliet wat daarvoor bekend was dat sy die Christene gehaat het, sy besluit beïnvloed om hulle te beskuldig? Navorsers is nie seker nie, maar die gevolge was skrikwekkend.
Die Romeinse geskiedskrywer Tacitus sê: “Daar is met hulle die spot gedryf wanneer hulle doodgemaak is; [die Christene] is met die velle van wilde diere bedek en deur honde verskeur; hulle is aan kruise genael; hulle is aan die brand gesteek om as nagtelike verligting te dien wanneer die son gesak het”—menslike fakkels om die keiserlike tuine te verlig. Tacitus, wat geensins ’n vriend van die Christene was nie, voeg by: “Al was hulle skuldig en het hulle verdien om gestraf te word sodat dit as ’n waarskuwing vir ander kon dien, het ’n mens medelye vir hulle gevoel, want dit was nie vir die heil van die volk dat hulle om die lewe gebring is nie, maar as gevolg van die wreedheid van één mens”, Nero.
Duidelike verskille
Hoewel dit Nero goed gepas het om die Christene vir Rome se vernietiging te blameer, het hy hulle nooit verban of die Christelike geloof as ’n godsdiens binne die Staat verbied nie. Waarom het die Romeine dan die vervolging goedgekeur? Omdat “die klein Christengemeenskappe met hulle vroomheid en hulle ordentlikheid die genotsugtige heidense wêreld gekwel het”, sê die geskiedskrywer Will Durant. Daar kon nie ’n groter verskil gewees het as dié tussen die Christelike geloof en die bloedvergieting van die Romeinse gladiatoriese spele nie. Die Romeine kon nie so ’n geleentheid laat verbygaan om van die Christene ontslae te raak en sodoende hulle eie gewete te sus nie.
As ’n wêreldmoondheid was Rome skynbaar onoorwinlik. Die Romeine het geglo dat hulle aanbidding van alle gode een van die redes vir hulle sukses op militêre gebied was. Daarom kon hulle nie verstaan dat Christene een God aanbid het en alle ander gode, met inbegrip van die aanbidding van die keiser, verwerp het nie. Dit is nie verbasend nie dat Rome die Christelike geloof beskou het as ’n mag wat selfs die fondamente van die ryk deur sy invloed kon ondermyn.
Die prys van die getuieniswerk
Aan die einde van die eerste eeu G.J. is die apostel Johannes na die eiland Patmos verban omdat hy “die woord van God en die getuienis van Jesus verkondig het” (Openbaring 1:9, NAV). Die Romeinse keiser Domitianus was blykbaar hiervoor verantwoordelik. Maar ten spyte van die druk wat op Jesus se volgelinge uitgeoefen is, het die Christelike geloof teen die begin van die tweede eeu reeds deur die hele Romeinse Ryk uitgebrei. Hoe was dit moontlik? A History of the Early Church sê dat die Christelike geloof “deur sy bediening aanmekaar gehou is”. Soos Johannes het die vervolgde vroeë Christene geweier om hulle geloof prys te gee en het hulle ywerig voortgegaan om oor God te praat en van Jesus te getuig.—Handelinge 20:20, 21; 2 Timotheüs 4:2.
Die vervolging van die Christene het teen 112 G.J., twee jaar nadat Plinius deur keiser Trajanus as goewerneur van Bithinië (nou die noordweste van Turkye) aangestel is, ’n nuwe wending geneem. Die vorige regering was baie laks, en dit het tot wanorde gelei. Tempels was so te sê verlate, en die verkope van voer vir offerdiere het aansienlik afgeneem. Handelaars het die eenvoud van die Christene se aanbidding daarvoor blameer, aangesien hulle nie diere geoffer het of afgode aanbid het nie.
Plinius het hard gewerk om heidense aanbidding te herstel en Christene het met hulle lewe geboet omdat hulle geweier het om wyn en wierook voor beelde van die keiser te offer. Op die ou end het die Romeinse owerhede erken dat die Christene “deugsame mense was, maar dat hulle om die een of ander duistere rede die ou godsdienstradisie vyandiggesind was”, sê professor Henry Chadwick. Hoewel hulle steeds met die dood gestraf kon word omdat hulle Christene was, was dit vir Jesus se ware volgelinge ondenkbaar om hulle geloof prys te gee.
Haat is ook aangeblaas deur “die ergernis wat in heidense families ontstaan het wanneer individuele familielede Christene geword het”, sê professor W. M. Ramsay. “Dit het ’n mens se sosiale lewe baie bemoeilik wanneer jou buurman nie eens aan die mees basiese gebruike kon voldoen nie omdat dit met die erkenning van heidense gode verband gehou het”, sê dr. J. W. C. Wand. Dit is geen wonder dat baie die vroeë Christene as haters van die mensdom of as ateïste beskou het nie.
Groei bring groter vervolging mee
Polycarpus, wat na bewering deur die apostel Johannes onderrig is, het ’n gerespekteerde ouere man in die stad Smirna (nou Izmir) geword. Hy het in 155 G.J. vir sy geloof op die brandstapel gesterf. Die Romeinse provinsiale goewerneur Statius Quadratus het die skares byeengeroep. Die stadion was vol vyandiggesinde heidene wat die 86-jarige Polycarpus verag het omdat hy mense aangespoor het om nie heidense gode te aanbid nie, en fanatieke Jode het gewillig die vuurmaakhout bymekaargemaak, ofskoon hulle dit op ’n groot Sabbat moes doen.
’n Vlaag van vervolging het daarna teen Christene deur die hele Romeinse Ryk uitgebreek. Onder keiser Marcus Aurelius is nog meer van hulle om die lewe gebring. As hulle Romeinse burgers was, is hulle met die swaard om die lewe gebring; indien nie, is hulle deur wilde diere in die amfiteaters doodgemaak. Hulle oortreding? Bloot dat hulle Christene was wat geweier het om ’n kompromis aan te gaan of hulle geloof prys te gee.
Die hedendaagse Franse stad Lyon het ontstaan uit die Romeinse nedersetting Lugdunum, ’n belangrike administratiewe sentrum en die enigste Romeinse garnisoen tussen Rome en die Rynrivier. Teen 177 G.J. was daar ’n sterk Christengemeenskap in daardie plek gevestig wat heftig deur die heidense bevolking teëgestaan is. Dit het begin toe Christene verbied is om in openbare plekke te verskyn. Die gepeupel het ’n opstand aangehits, en die daaropvolgende vervolging was so erg dat geen Christen dit buite gewaag het nie. Die Romeinse goewerneur het beveel dat Christene opgespoor en doodgemaak moes word.
Die beloning
Nadat Jesus se apostels afgesterf het en hulle beskermende invloed nie meer daar was nie, het afvalligheid onder verklaarde Christene begin ontwikkel (2 Thessalonicense 2:7). Teen die einde van die vierde eeu G.J. het die afvallige Christelike geloof ’n Staatsgodsdiens geword. Dit was toe reeds verdorwe en was bereid om ’n kompromis aan te gaan en met die wêreld vereenselwig te word—iets wat Jesus en sy vroeë dissipels nooit gedoen het nie (Johannes 17:16). Maar die Bybelkanon, met sy geskiedenis van Christelike geloof, is reeds heelwat vroeër voltooi.
Het duisende van die vroeë Christene tevergeefs gely en gesterf? Beslis nie! Omdat dit vir hulle ondenkbaar was om ’n kompromis met betrekking tot hulle geloof aan te gaan, ‘was hulle getrou tot die dood toe, en is hulle die kroon van die lewe gegee’ (Openbaring 2:10). Jehovah se knegte word nog vandag vervolg, maar die geloof en onkreukbaarheid van vroeë medegelowiges is vir hulle steeds ’n bron van groot bemoediging. Vir hedendaagse Christene is dit derhalwe ook ondenkbaar om ’n kompromis aan te gaan.
[Prente op bladsy 8, 9]
Nero
’n Model van keiserlike Rome
’n Altaar wat vir keiseraanbidding gebruik is
[Erkennings]
Nero: Courtesy of The British Museum
Museo della Civiltà Romana, Roma
[Prent op bladsy 10]
Marcus Aurelius
[Erkenning]
The Bettmann Archive