Net soos sprinkane
HET jy al ooit in die somer deur ’n weiveld geloop en gesien hoe tallose sprinkane uit jou pad spring? Dit het gelyk of hulle oral is, al het jy nie veel aandag aan hulle geskenk nie. Hulle lyk mos maar onskadelik en onbelangrik.
Tog maak die feit dat sprinkane wesenlik onbelangrik is hulle ’n gepaste simbool vir die mensdom. Hoewel sommige prominente mense hulleself as uiters belangrik beskou, huldig ons Skepper nie dieselfde beskouing nie. Sy profeet Jesaja het gesê: “Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane.”—Jesaja 40:22.
Jehovah God se grootsheid, mag en wysheid verhoog hom ver bo die sfeer van gewone mense, net soos die mens ver bo die sprinkaan verhewe is wat sy intellek en mag betref. Maar God se belangrikste eienskap is liefde. En sy weergalose liefde beweeg hom om van ons kennis te neem, ons te help en ons te red—as ons hom liefhet en gehoorsaam. Jehovah tree liefdevol teenoor ons op, al is ons soos nietige sprinkane. Die psalmis het gesê: “Wie is soos die HERE onse God, wat hoog woon, wat laag neersien, in die hemel en op die aarde? Wat die geringe uit die stof oprig, die behoeftige van die ashoop af verhef.”—Psalm 113:5-7.
Soos hierdie psalm verduidelik, verleen Jehovah liefdevol hulp aan die geringe. Ja, Hy help diegene wat nederig na ‘God soek dat hulle hom kan vind’ (Handelinge 17:27). Diegene wat God wel vind—en hom dien—word selfs kosbaar in sy oë. (Vergelyk Jesaja 43:4, 10.) Die nietige sprinkaan herinner ons dus aan ons eie nietigheid en aan die liefde van ons almagtige Skepper, wat gehoorsame mense sy vriendskap en onverdiende goedhartigheid gee. Toon jy waardering vir God se liefde?