Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 5/15 bl. 12-17
  • ‘Roep die ouere manne in’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Roep die ouere manne in’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulp is byderhand
  • “Gawes in mense”
  • Neem die inisiatief
  • Hoe “die ouere manne” help
  • Persoonlike verantwoordelikheid en gebed
  • “Gawes in die vorm van mense” om vir Jehovah se skape te sorg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Roep die ouermanne
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Waardeer die “gawes in die vorm van mense”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Wees gehoorsaam aan diegene wat die leiding neem
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 5/15 bl. 12-17

‘Roep die ouere manne in’

“Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge [oftewel, “ouere manne”, NW] van die gemeente inroep.”—JAKOBUS 5:14.

1, 2. (a) In watter gevaarlike situasie bevind Jehovah se knegte hulle nou, en hoe voel hulle dalk? (b) Watter vrae moet nou beantwoord word?

“SWAAR tye” is hier. Mense is selfsugtig, materialisties, trots, en hulle veroorsaak dikwels onrus in hierdie “laaste dae” (2 Timotheüs 3:1-5). As Christene wat in die huidige goddelose stelsel van dinge lewe, word ons deur drie groot gevare bedreig: Satan die Duiwel, die wêreld van goddelose mense en ons eie oorgeërfde sondige neigings.—Romeine 5:12; 1 Petrus 5:8; 1 Johannes 5:19.

2 Die bedreiging van hierdie gevare laat ons dalk met tye oorweldig voel. Waar kan ons dan ondersteuning vind om ons te help sodat ons getrou kan volhard? Na wie kan ons ons wend vir leiding wanneer ons besluite moet neem oor ons Christelike bedrywighede en ons aanbidding?

Hulp is byderhand

3. By wie kan ons vertroosting vind, en hoe?

3 Die wete dat Jehovah die Bron van ons krag is, is vir ons ’n vertroosting (2 Korinthiërs 1:3, 4; Filippense 4:13, NW). Die psalmis Dawid, wat Goddelike hulp ontvang het, het gesê: “Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hý sal dit uitvoer.” “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie” (Psalm 37:5; 55:23). Hoe dankbaar is ons tog vir sulke ondersteuning!

4. Hoe bied Petrus sowel as Paulus vertroosting?

4 Ons kan ook vertroosting put uit die wete dat ons nie die enigstes is wat beproewinge en gevare moet trotseer nie. Die apostel Petrus het mede-Christene aangespoor: “Hom [Satan die Duiwel] moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die hele wêreld is” (1 Petrus 5:9). Dit is tog sekerlik alle Christene se begeerte om standvastig in die geloof te bly. Soms voel ons weliswaar “in elke opsig geknel”, soos die apostel Paulus gevoel het. Tog was hy nie “so vasgekeer dat [hy] nie [kon] beweeg nie”. Soos hy is ons miskien raadop “maar nie heeltemal sonder uitweg nie”. Al word ons vervolg, word ons “nie in die steek gelaat nie”. As ons ‘neergewerp word’, word ons ‘nie vernietig nie’. Daarom “gee ons nie moed op nie”. Ons streef daarna om “ons oë nie gerig [te] hou op die dinge wat gesien word nie, maar op die dinge wat nie gesien word nie” (2 Korinthiërs 4:8, 9, 16, 18, NW). Hoe kry ons dit reg?

5. Op watter drievoudige wyse voorsien Jehovah hulp?

5 Jehovah, die “Hoorder van die gebed”, voorsien op ’n drievoudige wyse hulp (Psalm 65:3; 1 Johannes 5:14). Eerstens gee hy leiding deur sy geïnspireerde Woord, die Bybel (Psalm 119:105; 2 Timotheüs 3:16). Tweedens stel sy heilige gees ons in staat om sy wil te doen. (Vergelyk Handelinge 4:29-31.) En derdens is Jehovah se aardse organisasie altyd gereed om ons te help. Wat moet ons doen om hulp te ontvang?

“Gawes in mense”

6. Watter hulp het Jehovah by Tabera voorsien, en hoe?

6 Iets wat in Moses se dag gebeur het, help ons om te besef watter liefdevolle besorgdheid Jehovah toon deur Sy knegte van hulp te voorsien. Dit het by Tabera gebeur wat “verbranding; verwoestende brand; vuur”; beteken. Op hierdie plek in die woestyn van Sinai het God vuur onder die murmurerende Israeliete ingestuur. “Die gemengde bevolking” wat die volk Israel uit Egipte vergesel het, het saam met hulle hulle ontevredenheid uitgespreek oor die voedsel wat God voorsien het. Toe Moses bewus raak van God se toorn het hy oorweldig gevoel deur die verantwoordelikheid om na die volk en hulle behoeftes om te sien, en hy het uitgeroep: “Ek alleen kan hierdie hele volk nie dra nie, want dit is vir my te swaar. En as U so met my wil handel, slaan my dan maar liewer dood as ek genade in u oë gevind het, en laat ek my ongeluk nie aansien nie” (Numeri 11:1-15). Wat was Jehovah se antwoord hierop? Hy het “sewentig manne uit die oudstes van Israel” aangestel en sy gees op hulle gelê sodat hulle Moses voldoende hulp met die administratiewe werk kon gee (Numeri 11:16, 17, 24, 25). Met die aanstelling van sulke bekwame manne was hulp vir die Israeliete en die “menigte mense van gemengde bloed” meer geredelik beskikbaar.—Exodus 12:38.

7, 8. (a) Hoe het Jehovah in eertydse Israel “gawes in die vorm van mense” voorsien? (b) Watter eerste-eeuse toepassing van Psalm 68:19 het Paulus gemaak?

7 Nadat die Israeliete jare lank in die Beloofde Land was, het Jehovah die berg Sion in figuurlike sin bestyg en Jerusalem die hoofstad van ’n tipiese koninkryk met Dawid as die koning daarvan gemaak. Tot lof van God, “die Almagtige”, het Dawid sy stem verhef om te sing: “U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het [gawes in die vorm van mense] geneem” (Psalm 68:15, 19, vgl. vers 18, NW). Ja, manne wat gedurende die verowering van die Beloofde Land as gevangenes weggevoer is, kon die Leviete later met hulle pligte help.—Esra 8:20.

8 In die eerste eeu G.J. het die Christenapostel Paulus die aandag op ’n profetiese vervulling van die psalmis se woorde gevestig. Paulus het geskryf: “Aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus. Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense [“gawes in mense”, NW] gegee. Maar dit: Hy het opgevaar—wat beteken dit anders as dat Hy eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde? Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring” (Efesiërs 4:7-10). Wie is hierdie “hy”? Niemand anders nie as Jehovah se verteenwoordiger, die Grotere Dawid en Messiaanse Koning, Jesus Christus. Hy is die een wat deur God opgewek en “uitermate verhoog” is.—Filippense 2:5-11.

9. (a) Wie was die eerste-eeuse gawes in mense? (b) Wie is die hedendaagse gawes in mense?

9 Wie is hierdie “gawes in mense” (of, “bestaande uit mense”, voetnoot, NW) dan? Paulus verduidelik dat God se Hoofverteenwoordiger “sommige [gegee het] as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus” (Efesiërs 4:11, 12). Al Christus se volgelinge wat as apostels, profete, evangeliste, herders en leraars gedien het, het dit onder teokratiese leiding gedoen (Lukas 6:12-16; Handelinge 8:12; 11:27, 28; 15:22; 1 Petrus 5:1-3). In ons dag word geestelik bekwame ouere manne deur die heilige gees aangestel om as opsieners in sowat 70 000 gemeentes van Jehovah se Getuies oor die hele wêreld te dien. Hulle is ons gawes in mense (Handelinge 20:28). Met die wêreldwye uitbreiding van die Koninkrykspredikingswerk wat so vinnig plaasvind, is daar al hoe meer broers wat ‘na ’n opsienersamp strewe’ en die verantwoordelikhede aanvaar wat daarmee gepaardgaan (1 Timotheüs 3:1). Wanneer hulle aangestel word, word hulle ook gawes in mense.

10. Hoe pas Jesaja se beskrywing van “prinse” by die rol van hedendaagse Christen- ouere manne?

10 Die beskrywing wat die profeet Jesaja gegee het toe hy die rol van die “prinse”, die administrateurs onder die Koninkryksheerskappy, voorspel het, pas by hierdie Christen- ouere manne, oftewel gawes in mense. Elkeen van hulle moet “wees soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag” (Jesaja 32:1, 2, vgl. NW). Dit toon hoe ondersteunend die liefdevolle toesig van hierdie aangestelde manne moet wees. Hoe kan jy ten volle hierby baat vind?

Neem die inisiatief

11. Hoe ontvang ons hulp wanneer ons geestelik swak voel?

11 ’n Drenkeling roep instinktief om hulp. Hy aarsel glad nie. Wanneer ’n mens se lewe op die spel is, het jy nie aansporing nodig om om hulp te roep nie. Het koning Dawid nie herhaaldelik tot Jehovah om hulp geroep nie? (Psalm 3:5; 4:2; 5:2-4; 17:1, 6; 34:7, 18-20; 39:13). Wanneer ons geestelik swak voel en dalk in diepe wanhoop wegsink, wend ons ons eweneens tot Jehovah in gebed en smeek ons hom om ons met sy heilige gees te rig (Psalm 55:23; Filippense 4:6, 7). Ons soek vertroosting in die Skrif (Romeine 15:4). Ons raadpleeg die Christelike publikasies van die Wagtoringgenootskap vir praktiese raad. Dit help ons dikwels om ons eie probleme op te los. As ons egter voel dat ons deur probleme oorweldig word, kan ons ook die aangestelde gemeentelike ouere manne om raad vra. Trouens, daar kan tye wees wanneer ons werklik ‘die ouere manne moet inroep’. Waarom sal ’n mens die Christen- ouere manne inroep? Hoe kan hulle diegene help wat geestelike bystand nodig het?

12-14. (a) Watter verstandige optrede is nodig wanneer ’n mens siek is? (b) Wat word “siek” Christene volgens Jakobus 5:14 aangeraai om te doen? (c) Van watter soort siekte praat Jakobus 5:14, en waarom sê jy so?

12 Wanneer ons siek word, rus ons sodat ons liggaam se herstelvermoë die geleentheid gegee word om te werk. Maar as ons siek bly, sal ons verstandig optree en professionele mediese hulp soek. Moet ons nie ook dieselfde doen as ons geestelik swak raak nie?

13 Let op die raad wat die dissipel Jakobus ons in hierdie verband gee. Hy sê: “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouere manne van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het” (Jakobus 5:14). Van watter soort siekte praat Jakobus hier? Sommige Bybelkommentators sê dat dit fisiese siekte is, en hulle redeneer dat die salwing met olie ’n algemene mediese gebruik in daardie dae was (Lukas 10:34). Hulle glo ook dat Jakobus ’n wonderdadige geneeswyse deur die gawe van genesing in gedagte gehad het. Maar wat toon die konteks?

14 ‘Opgeruimdheid’ word met die ‘lyding van kwaad’ gekontrasteer. Dit gee te kenne dat Jakobus geestelike siekte bespreek het (Jakobus 5:13, NW). “Ouere manne van die gemeente”, en nie dokters of selfs diegene met die wonderdadige gawe van genesing nie, moes ingeroep word. En wat moes hulle doen? Jakobus sê: “Laat hulle oor hom bid . . . en die gebed van die geloof sal die kranke red.” (Jakobus 5:14, 15; vergelyk Psalm 119:9-16.) Die feit dat Jakobus die belydenis van sondes in verband met die verwagte genesing aanmoedig, is oortuigende bewys dat hy van geestelike siekte praat. Hy skryf: “Bely julle sondes openlik aan mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.” As ernstige sonde die oorsaak van die geestelike siekte is, kan die sieke slegs verwag om te herstel as hy gunstig reageer op vermaning wat op God se Woord gegrond is, berou toon en sy sondige weg laat vaar.—Jakobus 5:16, NW; Handelinge 3:19, NW.

15. Watter optrede word in Jakobus 5:13, 14 aanbeveel?

15 In die raad wat Jakobus gee, is daar iets anders waarop daar gelet moet word. Wanneer ’n Christen kwaad ly, moet hy aanhou “bid”. As hy opgeruimd is, ‘moet hy psalmsing’. Elke situasie—of ’n mens kwaad ly of opgeruimd is—verg optrede. Gebed is aan die een kant nodig, vreugdevolle uitroepe aan die ander kant. Wat moet ons dan verwag wanneer Jakobus vra: “Is daar iemand siek onder julle?” Hy beveel weer eens positiewe optrede aan, ja, ’n mens moet die inisiatief neem. ‘Laat hom die ouere manne van die gemeente inroep.’—Psalm 50:15; Efesiërs 5:19; Kolossense 3:16.

Hoe “die ouere manne” help

16, 17. Hoe help die ouere manne ons om Bybelbeginsels toe te pas?

16 Soms is dit vir ons moeilik om te weet hoe ons Bybelbeginsels op ons persoonlike omstandighede moet toepas. Hier kan Christen- ouere manne ’n bron van onskatbare hulp wees. Hulle bid byvoorbeeld oor die persoon wat geestelik siek is en ‘salf hom met olie in die naam van Jehovah’ deur op bekwame wyse helende onderrigting uit God se Woord toe te pas. Ouere manne kan sodoende baie tot ons geestelike herstel bydra (Psalm 141:5). Dikwels het ons net bevestiging nodig dat ons op die regte manier redeneer. As ons sake met ’n ervare Christen- ouere man bespreek, sal dit ons meer vasbeslote maak om te doen wat reg is.—Spreuke 27:17.

17 Wanneer Christen- ouere manne ingeroep word, moet hulle ‘bemoedigend tot die neerslagtige siele spreek’. Hulle sal ook ‘die swakkes ondersteun en lankmoedig teenoor almal wees’ (1 Thessalonicense 5:14, NW). So ’n intieme verhouding wat op begrip tussen “die ouere manne” en “die swakkes” berus, dra baie tot die algehele herstel van geestelike gesondheid by.

Persoonlike verantwoordelikheid en gebed

18, 19. Watter rol speel Christen- ouere manne met betrekking tot Galasiërs 6:2, 5?

18 Christen- ouere manne moet hulle verantwoordelikheid teenoor God se kudde nakom. Hulle moet ondersteuning verleen. Paulus het byvoorbeeld gesê: “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie. Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.” Die apostel het ook geskryf: “Elkeen sal sy eie pak dra.”—Galasiërs 6:1, 2, 5.

19 Hoe kan ons mekaar se laste dra en nogtans ons eie pak dra? Die verskil in die betekenis van die Griekse woorde wat met “laste” en “pak” vertaal word, gee die antwoord. As ’n Christen in geestelike moeilikheid beland wat vir hom ’n groot las is, sal ouere manne en ander medegelowiges hom ondersteun, en hom sodoende help om sy “laste” te dra. Maar daar word verwag dat die persoon self sy eie “pak” of verantwoordelikheid voor God moet dra.a Die ouere manne dra met graagte die “laste” van hulle broers deur hulle te bemoedig, skriftuurlike raad te gee en vir hulle te bid. Tog neem ouere manne nie ons persoonlike “pak” of geestelike verantwoordelikheid van ons af weg nie.—Romeine 15:1.

20. Waarom moet gebed nie verwaarloos word nie?

20 Gebed is absoluut noodsaaklik en moet nie verwaarloos word nie. Maar talle Christene wat geestelik siek is, vind dit moeilik om te bid. Met watter doel sal ouere manne gebede van geloof ten behoewe van iemand doen wat geestelik siek is? “[Jehovah] sal hom oprig”, hom verlos van ’n gevoel van neerslagtigheid, en sal hom versterk om ’n weg van waarheid en geregtigheid na te jaag. ’n Christen wat geestelik siek is, het miskien ’n verkeerde gesindheid, maar het nie noodwendig ’n ernstige sonde gedoen nie, want Jakobus sê: “Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.” Die ouere manne se skriftuurlike raad tesame met ernstige gebed spoor die geestelik swak persoon soms aan om ernstige sondes wat hy gedoen het te bely en ’n berouvolle gees te openbaar. Dit lei weer tot God se vergifnis.—Jakobus 5:15, 16.

21. (a) Waarom huiwer sommige Christene om die ouere manne in te roep? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

21 Aangesien pligsgetroue ouere manne voor die uitdaging te staan kom om na die menigte nuwes om te sien wat in die Christengemeente instroom, het hulle ’n groot taak om geskikte toesig te voorsien. Hierdie gawes in mense is waarlik ’n uitstekende voorsiening van Jehovah om ons te help sodat ons in hierdie swaar tye kan volhard. Tog aarsel sommige Christene om die ouere manne se hulp in te roep, omdat hulle meen dat hierdie broers te besig is of dat hulle onder probleme toegegooi is. Die volgende artikel sal ons help om te besef dat hierdie manne met graagte hulp verleen, aangesien hulle gewillig as onderherders in die Christengemeente dien.

[Voetnoot]

a A Linguistic Key to the Greek New Testament, deur Fritz Rienecker, definieer phor·tiʹon as “’n pak wat ’n mens moet dra” en voeg by: “Dit is as ’n militêre term gebruik vir ’n man se pak of ’n soldaat se uitrusting.”

Hoe sou jy antwoord?

◻ Op watter drievoudige wyse voorsien Jehovah hulp wanneer ons dit nodig het?

◻ Wie is die hedendaagse gawes in mense?

◻ Wanneer moet ons die ouere manne inroep?

◻ Watter hulp kan ons van Christen- ouere manne verwag?

[Prent op bladsy 15]

Geniet jy die geestelike voordele van gebed, Bybelstudie en die hulp van die Christen- ouere manne?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel