“Gawes in die vorm van mense” om vir Jehovah se skape te sorg
“Toe hy na bo opgevaar het, het hy gevangenes weggevoer; hy het gawes in die vorm van mense gegee.”—EFESIËRS 4:8.
1. Wat het ’n Christensuster oor die ouer manne in haar gemeente gesê?
“BAIE dankie dat julle soveel vir ons omgee. Julle glimlaggende gesigte, julle hartlikheid en julle besorgdheid is so opreg. Julle is altyd bereid om ons ’n horende oor te gee en ons met gedagtes uit die Bybel te bemoedig. Ek bid dat ek nooit wat julle doen as vanselfsprekend sal aanvaar nie.” Dit is wat ’n Christensuster aan die ouer manne in haar gemeente geskryf het. Die liefde wat besorgde Christenherders aan haar betoon het, het ongetwyfeld haar hart geraak.—1 Petrus 5:2, 3.
2, 3. (a) Hoe sorg medelydende ouer manne vir Jehovah se skape volgens Jesaja 32:1, 2? (b) Wanneer kan ’n ouer man as ’n gawe beskou word?
2 Ouer manne is ’n voorsiening van Jehovah om na sy skape om te sien (Lukas 12:32; Johannes 10:16). Jehovah is baie lief vir sy skape—trouens, so lief dat hy hulle met die kosbare bloed van Jesus gekoop het. Dit is dus geen wonder nie dat dit Jehovah behaag wanneer ouer manne sy kudde met teerheid behandel (Handelinge 20:28, 29). Let op die profetiese beskrywing van hierdie ouer manne, of “vorste”: “Elkeen sal wees soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag” (Jesaja 32:1, 2). Ja, hulle moet sy skape beskerm, verkwik en bemoedig. Ouer manne wat met medelye oor die kudde toesig hou, probeer derhalwe doen wat God van hulle verwag.
3 Die Bybel verwys na sulke ouer manne as “gawes in die vorm van mense” (Efesiërs 4:8). Wanneer jy aan ’n gawe, of ’n geskenk, dink, dink jy aan iets wat gegee word om in ’n behoefte te voorsien of om die ontvanger gelukkig te maak. ’n Ouer man kan as ’n gawe beskou word wanneer hy sy vermoëns gebruik om die nodige bystand te gee en tot die geluk van die kudde by te dra. Hoe kan hy dit doen? Die antwoord, wat in Paulus se woorde in Efesiërs 4:7-16 gevind word, gee ons ’n duideliker beeld van Jehovah se liefdevolle besorgdheid oor sy skape.
“Gawes in die vorm van mense”—Van waar?
4. In watter sin het Jehovah “na bo opgevaar” ter vervulling van Psalm 68:18, en wie was die “gawes in die vorm van mense”?
4 Toe Paulus die uitdrukking “gawes in die vorm van mense” gebruik het, het hy koning Dawid aangehaal wat van Jehovah gesê het: “U het na bo opgevaar; U het gevangenes weggevoer; U het gawes in die vorm van mense geneem” (Psalm 68:18, NW). Nadat die Israeliete ’n aantal jare in die Beloofde Land was, het Jehovah figuurlik gesproke na die berg Sion “opgevaar” en Jerusalem die hoofstad van die koninkryk van Israel gemaak met Dawid as die koning daarvan. Maar wie was die “gawes in die vorm van mense”? Hulle was manne wat tydens die verowering van die land gevange geneem is. Van hierdie gevangenes is later aan die Leviete gegee om met die werk by die tabernakel te help.—Esra 8:20.
5. (a) Hoe toon Paulus dat Psalm 68:18 ’n vervulling in die Christengemeente het? (b) Hoe het Jesus “na bo opgevaar”?
5 In sy brief aan die Efesiërs het Paulus getoon dat die psalmis se woorde ’n groter vervulling in die Christengemeente het. Paulus parafraseer Psalm 68:18 en skryf: “Aan elkeen van ons is daar dan nou onverdiende goedhartigheid gegee ooreenkomstig die wyse waarop die Christus die vrye gawe toegemeet het. Derhalwe sê hy: ‘Toe hy na bo opgevaar het, het hy gevangenes weggevoer; hy het gawes in die vorm van mense gegee’” (Efesiërs 4:7, 8). Paulus pas dié psalm hier op Jesus as God se verteenwoordiger toe. Jesus het deur sy getroue lewenswandel “die wêreld oorwin” (Johannes 16:33). Hy het ook oor die dood en oor Satan geseëvier, aangesien God hom uit die dood opgewek het (Handelinge 2:24; Hebreërs 2:14). In 33 G.J. het die verrese Jesus “ver bo al die hemele” opgevaar—hoër as al die ander hemelse skepsele (Efesiërs 4:9, 10; Filippense 2:9-11). As ’n oorwinnaar het Jesus “gevangenes” uit die midde van die vyand geneem. Hoe so?
6. Hoe het die verrese Jesus van Pinkster 33 G.J. af Satan se huis begin plunder, en wat het hy met die “gevangenes” gedoen?
6 Toe Jesus op aarde was, het hy sy mag oor Satan getoon deur diegene wat slawe van die demone was vry te maak. Dit was asof Jesus Satan se huis binnegedring het, hom vasgebind en sy goed gegryp het (Matteus 12:22-29). Dink net watter slag Jesus hom kon toedien nadat hy opgewek is en “alle gesag in die hemel en op die aarde” aan hom toevertrou is! (Matteus 28:18). Vanaf Pinkster 33 G.J. het die verrese Jesus, as God se verteenwoordiger, Satan se huis begin plunder deur ‘gevangenes weg te voer’—mense wat lank slawe van sonde en die dood en onder Satan se beheer was. Hierdie “gevangenes” het gewillig “Christus se slawe [geword], wat die wil van God met hulle hele siel doen” (Efesiërs 6:6). Jesus het hulle as ’t ware uit Satan se mag weggeruk en hulle, namens Jehovah, aan die gemeente gegee as “gawes in die vorm van mense”. Stel jou Satan se magtelose woede voor toe hulle voor sy neus weggeraap is!
7. (a) In watter hoedanighede in die gemeentes dien die “gawes in die vorm van mense”? (b) Watter geleentheid bied Jehovah aan elke man wat as ’n ouer man dien?
7 Vind ons vandag sulke “gawes in die vorm van mense” in die gemeente? Inderdaad! Hulle dien as ouer manne, werk hard as ‘evangeliste, herders en leermeesters’ in die meer as 87 000 gemeentes van God se volk regoor die wêreld (Efesiërs 4:11). Daar is niks wat Satan méér wil hê as dat hulle die kudde mishandel nie. Maar dit is nie waarom God hulle deur Christus aan die gemeente gegee het nie. Jehovah het eerder hierdie manne gegee om na die gemeente se welsyn om te sien, en hulle moet aan hom rekenskap gee vir die skape wat aan hulle toevertrou is (Hebreërs 13:17). As jy as ’n ouer man dien, het Jehovah jou die wonderlike geleentheid gegee om te bewys dat jy ’n gawe, of ’n seën, vir jou broers is. Jy kan dit doen deur vier belangrike verantwoordelikhede na te kom.
Wanneer iemand ‘reggehelp’ moet word
8. In watter opsigte moet ons almal soms reggehelp word?
8 Eerstens word die “gawes in die vorm van mense” voorsien “om die heiliges reg te help”, sê Paulus (Efesiërs 4:12). Die Griekse woord wat met ‘reghelp’ vertaal word, verwys daarna om iets “behoorlik in lyn te bring”. As onvolmaakte mense moet ons almal van tyd tot tyd reggehelp word—om ons denke, gesindhede of gedrag “behoorlik in lyn te bring” met God se denke en wil. Jehovah het liefdevol “gawes in die vorm van mense” voorsien om ons te help om die nodige veranderinge aan te bring. Hoe doen hulle dit?
9. Hoe kan ’n ouer man ’n skaap wat oortree het, reghelp?
9 Soms word ’n ouer man moontlik gevra om ’n skaap te help wat oortree het, wat dalk ‘’n misstap begaan het voordat hy daarvan bewus was’. Hoe kan ’n ouer man help? ‘Probeer so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp’, sê Galasiërs 6:1. Wanneer ’n ouer man dus raad gee, sal hy die oortreder nie met harde woorde oor die kole haal nie. Raad moet die een wat dit ontvang aanmoedig, nie “bang maak” nie. (2 Korintiërs 10:9; vergelyk Job 33:7.) Die persoon voel dalk reeds sleg; daarom sal ’n liefdevolle herder nie daardie persoon moedeloser maak nie. Wanneer dit duidelik is dat die raad, selfs streng teregwysing, uit liefde gegee word, sal dit waarskynlik die denke of gedrag van die oortreder weer in lyn bring en hom sodoende herstel.—2 Timoteus 4:2.
10. Wat behels dit om ander reg te help?
10 Toe Jehovah “gawes in die vorm van mense” voorsien het om ons reg te help, het hy in gedagte gehad dat ouer manne geestelik verkwikkend moet wees en dat sy volk hulle moet kan navolg (1 Korintiërs 16:17, 18; Filippense 3:17). Om ander reg te help, behels nie net dat diegene wat ’n verkeerde weg ingeslaan het, tereggewys moet word nie, maar ook dat getroues gehelp moet word om op die regte weg te bly.a Met soveel probleme wat mense vandag ontmoedig, het baie persone aanmoediging nodig om te volhard. Party het moontlik liefdevolle hulp nodig om hulle denke in lyn met God s’n te bring. Sommige getroue Christene worstel byvoorbeeld met diepe gevoelens van onbekwaamheid of onwaardigheid. Sulke “terneergedrukte siele” voel dalk dat Jehovah hulle beslis nie kan liefhê en dat hulle nooit vir God aanneemlik kan wees nie, al probeer hulle ook hoe hard om hom te dien (1 Tessalonisense 5:14). Maar hierdie denkwyse is nie in lyn met hoe God werklik teenoor sy aanbidders voel nie.
11. Wat kan ouer manne doen om diegene te help wat met gevoelens van onwaardigheid worstel?
11 Ouer manne, wat kan julle doen om sulke persone te help? Julle kan hulle liefdevol help met skriftuurlike bewyse dat Jehovah vir elkeen van sy knegte omgee en hulle daarvan verseker dat hierdie Bybeltekste op hulle as individue van toepassing is (Lukas 12:6, 7, 24). Help hulle om te besef dat Jehovah hulle ‘getrek’ het om hom te dien en hulle dus ongetwyfeld as kosbaar beskou (Johannes 6:44). Gee hulle die versekering dat hulle nie alleen is nie—talle getroue knegte van Jehovah het soortgelyke gevoelens gehad. Die profeet Elia was eenkeer só terneergedruk dat hy wou sterf (1 Konings 19:1-4). Party gesalfde Christene in die eerste eeu het gevoel dat hulle eie hart hulle “veroordeel” (1 Johannes 3:20). Dit is vertroostend om te weet dat getroue persone in Bybeltye “gevoelens soos ons s’n” gehad het (Jakobus 5:17). Julle kan ook bemoedigende artikels in Die Wagtoring en Ontwaak! met neerslagtiges bespreek. Julle liefdevolle pogings om die vertroue van sulke persone weer op te bou, sal beslis raakgesien word deur die God wat julle as “gawes in die vorm van mense” gegee het.—Hebreërs 6:10.
“Die opbouing” van die kudde
12. Waarna verwys die uitdrukking “die opbouing van die liggaam van die Christus”, en wat is die sleutel tot die opbouing van die kudde?
12 Tweedens word die “gawes in die vorm van mense” gegee om ‘die liggaam van die Christus op te bou’ (Efesiërs 4:12). Paulus maak hier van beeldspraak gebruik. “Opbouing” laat ’n mens aan konstruksie dink, en “die liggaam van die Christus” verwys na mense—die lede van die gesalfde Christengemeente (1 Korintiërs 12:27; Efesiërs 5:23, 29, 30). Ouer manne moet hulle broers help om geestelik sterk te word. Hulle oogmerk is om die kudde ‘op te bou en nie af te breek nie’ (2 Korintiërs 10:8). Die sleutel tot die opbouing van die kudde is liefde, want “liefde bou op”.—1 Korintiërs 8:1.
13. Wat beteken dit om empatie te betoon, en waarom is dit belangrik dat ouer manne empatie betoon?
13 Een faset van liefde wat ouer manne help om die kudde op te bou, is empatie. Om empatie te betoon, beteken om meegevoel met ander te hê—om jou met hulle denke en gevoelens te vereenselwig en hulle beperkings in ag te neem (1 Petrus 3:8). Waarom is dit belangrik vir ouer manne om empatie te hê? Bowenal omdat Jehovah—die een wat die “gawes in die vorm van mense” gee—’n God van empatie is. Wanneer sy knegte ly of pyn verduur, het hy meegevoel met hulle (Exodus 3:7; Jesaja 63:9). Hy neem hulle beperkings in ag (Psalm 103:14). Hoe kan ouer manne dus empatie betoon?
14. Op watter maniere kan ouer manne empatie aan ander betoon?
14 Wanneer iemand wat mismoedig voel na hulle toe kom, luister hulle en erken hulle dat die persoon se gevoelens werklik bestaan. Hulle probeer die agtergrond, persoonlikheid en omstandighede van hulle broers verstaan. Wanneer die ouer manne dan opbouende skriftuurlike hulp gee, sal dit vir die skape maklik wees om dit te aanvaar omdat dit van herders kom wat werklik verstaan en vir hulle omgee (Spreuke 16:23). Empatie beweeg ouer manne ook om die beperkings van ander en die gevoelens wat dit tot gevolg kan hê in ag te neem. Byvoorbeeld, party pligsgetroue Christene voel moontlik skuldig omdat hulle nie méér in God se diens kan doen nie, dalk weens ouderdom of swak gesondheid. Daarenteen het sommige moontlik aanmoediging nodig om beter te doen in hulle bediening (Hebreërs 5:12; 6:1). Empatie sal ouer manne beweeg om “welgevallige woorde” te vind wat ander opbou (Prediker 12:10). Wanneer Jehovah se skape opgebou en gemotiveer word, sal hulle liefde vir God hulle beweeg om hulle bes in sy diens te doen!
Manne wat eenheid bevorder
15. Wat beteken die uitdrukking “eenheid in die geloof”?
15 Derdens word die “gawes in die vorm van mense” voorsien sodat “ons almal [kan] kom tot die eenheid in die geloof en in die juiste kennis van die Seun van God” (Efesiërs 4:13). Die frase “eenheid in die geloof” beteken nie net eenheid van oortuiging nie, maar ook van gelowiges. Dit is dus nog ’n rede waarom God ons “gawes in die vorm van mense” gegee het—om eenheid onder sy volk te bevorder. Hoe doen hulle dit?
16. Waarom is dit belangrik dat ouer manne eenheid onder mekaar handhaaf?
16 Vir eers moet hulle eenheid onder mekaar handhaaf. As die herders verdeeld is, sal die skape dalk verwaarloos word. Kosbare tyd wat gebruik kon word om oor die kudde toesig te hou, word moontlik onnodig deur lang vergaderinge en woordestryde oor minder belangrike sake in beslag geneem (1 Timoteus 2:8). Ouer manne sal waarskynlik nie outomaties saamstem oor elke saak wat hulle bespreek nie, want hulle is manne wie se persoonlikhede dalk hemelsbreed van mekaar verskil. Eenheid beteken nie dat hulle nie verskillende menings kan hê of dit selfs nie op ’n redelike wyse gedurende ’n openlike bespreking kan uitspreek nie. Ouer manne bewaar hulle eenheid deur met respek na mekaar te luister sonder vooroordeel. En solank geen Bybelbeginsel geskend word nie, moet elkeen bereid wees om toe te gee aan die uiteindelike besluit van die liggaam van ouer manne en dit te ondersteun. ’n Toegewende gees toon dat hulle deur die “wysheid van bo” gelei word, wat “vredeliewend [en] redelik” is.—Jakobus 3:17, 18.
17. Hoe kan die ouer manne help om die eenheid in die gemeente te bewaar?
17 Ouer manne is ook daarop ingestel om eenheid in die gemeente te bevorder. Wanneer verdelende invloede—soos skadelike skinderpraatjies, ’n neiging om verkeerde beweegredes aan ander toe te skryf of ’n twisgierige gees—’n bedreiging vir vrede is, gee hulle sonder versuim nuttige raad (Filippense 2:2, 3). Byvoorbeeld, ouer manne is dalk bewus van persone wat oorkrities is of wat geneig is om hulle met ander se sake te bemoei (1 Timoteus 5:13; 1 Petrus 4:15). Die ouer manne sal sulke persone probeer help om te besef dat hierdie gedrag in stryd is met wat God ons geleer het en dat elkeen “sy eie vrag [moet] dra” (Galasiërs 6:5, 7; 1 Tessalonisense 4:9-12). Hulle sal die Bybel gebruik om te verduidelik dat Jehovah baie dinge aan ons persoonlike gewete oorlaat en dat nie een van ons ander oor sulke sake moet oordeel nie (Matteus 7:1, 2; Jakobus 4:10-12). Ten einde in eenheid saam te dien, moet daar ’n atmosfeer van vertroue en respek in die gemeente heers. Deur skriftuurlike raad te gee wanneer dit nodig is, help die “gawes in die vorm van mense” ons om ons vrede en eenheid te bewaar.—Romeine 14:19.
Hulle beskerm die kudde
18, 19. (a) Teen wie beskerm die “gawes in die vorm van mense” ons? (b) Teen watter ander gevaar moet die skape beskerm word, en wat doen die ouer manne om die skape te beskerm?
18 Vierdens voorsien Jehovah die “gawes in die vorm van mense” om ons te beskerm sodat ons nie beïnvloed word “deur elke wind van lering deur middel van die bedrieëry van mense, deur middel van listigheid in die versinning van dwaling” nie (Efesiërs 4:14). Die oorspronklike woord vir “bedrieëry” beteken na bewering om “met die dobbelstene te kul” of “vernuf om dobbelstene slinks te hanteer”. Laat dit jou nie dink aan hoe slu afvalliges te werk gaan nie? Hulle gebruik slim redenasies en verdraai die Skrif op slinkse wyse om ware Christene van hulle geloof te probeer afrokkel. Ouer manne moet op hulle hoede wees vir sulke “onderdrukkende wolwe”!—Handelinge 20:29, 30.
19 Jehovah se skape moet ook teen ander gevare beskerm word. Die eertydse herder Dawid het sy vader se kudde moedig teen roofdiere beskerm (1 Samuel 17:34-36). Vandag sal daar dalk ook tye wees wanneer besorgde Christenherders moed aan die dag moet lê om die kudde te beskerm teen enigeen wat moontlik Jehovah se skape, veral dié wat maklik kwesbaar is, mishandel of verdruk. Ouer manne sal vinnig optree om moedswillige sondaars uit die gemeente te sit wat opsetlik van bedrieëry, misleiding en konkelry gebruik maak om goddelose dinge te doen.b—1 Korintiërs 5:9-13; vergelyk Psalm 101:7.
20. Waarom kan ons veilig voel in die sorg van die “gawes in die vorm van mense”?
20 Hoe dankbaar is ons tog vir die “gawes in die vorm van mense”! In hulle liefdevolle sorg kan ons veilig voel, want hulle help ons reg met teerheid, bou ons liefdevol op, bewaar graag ons eenheid en beskerm ons moedig. Maar hoe moet die “gawes in die vorm van mense” hulle rol in die gemeente beskou? En hoe kan ons toon dat ons hulle waardeer? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
a In die Griekse Septuagint-vertaling is hierdie selfde werkwoord wat met ‘reghelp’ vertaal word in Psalm 17[16]:5 (NW) gebruik waar die getroue Dawid gebid het dat sy treë mag vashou aan Jehovah se spore.
b Sien byvoorbeeld “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 1 Februarie 1980, bladsye 31-2, en “Laat ons verafsku wat goddeloos is” in die nommer van 1 Januarie 1997, bladsye 26-9.
Onthou jy?
◻ Wie is die “gawes in die vorm van mense”, en waarom het God hulle deur Christus aan die gemeente gegee?
◻ Hoe kom ouer manne hulle verantwoordelikheid na om die kudde reg te help?
◻ Wat kan ouer manne doen om hulle medegelowiges op te bou?
◻ Hoe kan ouer manne die eenheid van die gemeente bewaar?
[Prent op bladsy 10]
Empatie help ouer manne om die terneergedruktes te bemoedig
[Prent op bladsy 10]
Eenheid onder ouer manne bevorder eenheid in die gemeente