Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 12/15 bl. 5-7
  • Hoe kan jy by die Evangelie baat vind?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan jy by die Evangelie baat vind?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Mense wat deur die Evangelie gehelp is
  • Wat beteken die goeie nuus vandag?
  • Die krag wat die Evangelie vandag het
  • Toekomstige seëninge
  • Ons bring “goeie nuus van iets beters”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Wat is die Evangelie werklik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • “Goeie nuus”!
    ‘Sing met vreugde’ vir Jehovah
  • Daar is goeie nuus wat almal nodig het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 12/15 bl. 5-7

Hoe kan jy by die Evangelie baat vind?

DIE Bybel word hooggewaardeer vir sy letterkundige waarde—selfs deur sommige ateïste. Maar min mense lees dit met die doel om toe te pas wat dit sê. Boonop glo baie mense dat dit gemoderniseer, bygewerk, moet word aangesien die goeie nuus daarin byna tweeduisend jaar oud is. Is die Evangelie verouderd of uitgedien? Geensins nie.

Daar is mans en vroue, jonk en oud, miljoene van hulle, wat weet dat die Bybel ’n uiters waardevolle bron van hulp is. Dit is soos die voorwoord in die Today’s English Version lui: “Die Bybel is nie net ’n uitstekende letterkundige werk wat bewonder en hooggewaardeer moet word nie; dit is Goeie Nuus vir alle mense op alle plekke—’n boodskap wat verstaan én in die daaglikse lewe toegepas moet word.”

Wat beteken die Evangelie vir jou? Gebruik jy dit as ’n gids in jou daaglikse lewe? Kyk hoe sommige in die eerste eeu daarby baat gevind het deur na die goeie nuus te luister en hoe sommige in ons dag daarby baat gevind het.

Mense wat deur die Evangelie gehelp is

Mense soos hardwerkende vissermanne en huisvroue is in Jesus se dag deur die goeie nuus aangetrek en het die waarheid aangaande God se voorneme vir die mens geleer. Die goeie nuus het hulle lewe drasties verander en het hulle dikwels volkome verligting verskaf. Maria Magdalena is byvoorbeeld van duiwelbesetenheid genees. Saggeüs, wat voorheen ’n hoof van die tollenaars was, het sy hebsugtige lewenswyse laat vaar (Lukas 8:2; 19:1-10). Die blindes en die melaatses is gehelp toe hulle na Jesus, die een wat die goeie nuus verkondig het, gekom het (Lukas 17:11-19; Johannes 9:1-7). Jesus kon tereg sê: “[Die] blindes sien weer en die kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie [“goeie nuus”, NW] verkondig.”—Mattheüs 11:5.

Maar nog belangriker as hulle genesing was die manier waarop die goeie nuus baie van daardie minder bevoorregte mense as persoon verander het. Opregtes van hart is met ’n toekomshoop vervul. Hulle het hulle vertroue in God se Koninkryk gestel—iets beters as enige maatskaplike evangelie (Mattheüs 4:23). Hulle hoop is nie deur Jesus se dood verydel nie. Waar Handelinge 5:42 sake beskryf wat selfs na daardie gebeurtenis plaasgevind het, sê dit van sy dissipels: “Hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie [“goeie nuus”, NW] te verkondig dat Jesus die Christus is.” In die eerste eeu het mense in baie lande geestelike hulp ontvang omdat hulle gunstig op hierdie prediking gereageer het.

Die Koninkryk was toe die beste nuus. Is die Koninkryksboodskap steeds goeie nuus?

Wat beteken die goeie nuus vandag?

As jy na ’n vreedsame, veilige wêreld hunker, is die nuus van die Koninkryk beslis goed. Trouens, dit is die enigste ware en blywende goeie nuus in ’n wêreld waar honderdmiljoene ondervoed is en van honger omkom, waar vreeslike siektes almal bedreig, waar daar ’n onrusbarende toename in misdaad is en waar politieke onbestendigheid toeneem. Dit verteenwoordig die enigste hoop op ware verbetering.

Dit is waarom Jesus vir ons dag voorspel het: “Hierdie evangelie [“goeie nuus”, NW] van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Hierdie woorde word op ’n merkwaardige wyse vervul namate Jehovah se Getuies die goeie nuus in meer as 200 lande verkondig. ’n Katolieke publikasie, Nova Evangelização 2000, prys die Getuies hiervoor en sê: “Waar tref ons Jehovah se Getuies aan? Op die drumpels van die huise. En om ’n Getuie van Jehovah te wees, beteken dat ’n mens, buiten dat jy aan Jehovah behoort, ’n getuie moet wees. Daarom vind ons dat hulle besig is, besig om wat hulle ondervind het te verkondig en aan te bied.”

Maar niemand vind outomaties baat by die goeie nuus nie. Dit sal slegs diegene help wat daarna luister en dit gehoorsaam. Jesus het ter verduideliking van hierdie punt die gelykenis vertel van ’n man wat uitgaan om saad te saai. Die verskillende soorte grond waarop die saad geval het, het die verskillende soorte hartstoestande van die hoorders van die goeie nuus toegelig. Jesus het gesê: “As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is . . . By wie op die goeie grond gesaai is—dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd-, die ander sestig-, die ander dertigvoudig.”—Mattheüs 13:18-23.

Soos in die eerste eeu die geval was, doen die meeste mense vandag nie veel om die goeie nuus te verstaan nie. Hulle het nie ’n begrip daarvan en ontvang gevolglik nie die voordele daarvan nie. Ander toon waardering vir die goeie nuus en leer hoe om hulle lewe in ooreenstemming met God se wil te bring. Só word hulle geseën. Aan watter groep behoort jy?

Die krag wat die Evangelie vandag het

Ondervindinge toon dat ’n begrip van die goeie nuus diegene help wat “sonder hoop en sonder God” was (Efesiërs 2:12; 4:22-24). Roberto van Rio de Janeiro het hulp nodig gehad. Hy het as jongmens ’n losbandige lewe begin lei en was by dwelms, onsedelikheid en diefstal betrokke. Hy het uiteindelik in die tronk beland. Daar het Roberto die Bybel saam met ’n besoekende Getuie gestudeer. Hy het geestelik so goed gevorder dat sy tronkstraf drasties verminder is.

Nadat hy vrygelaat is, het Roberto ’n jong meisie ontmoet wat hy eenkeer beroof en met ’n vuurwapen gedreig het. Sy het ook die Bybel saam met Getuies van Jehovah gestudeer. Wat het gebeur? Die volgende is ’n uittreksel uit ’n brief wat die voorval beskryf: “Hulle het mekaar weer vir die eerste keer ná die aanval in die Koninkryksaal raakgeloop. Dit was ’n roerende herontmoeting. Albei het van emosie gehuil en mekaar as broer en suster omhels. Nou loof die voormalige dief en sy slagoffer albei Jehovah.”

Nog iemand, Isabel, het ook hulp nodig gehad aangesien sy vir haar slegte humeur bekend was. Sy was diep by spiritisme en heksery betrokke en is deur demone geteister. Terwyl sy die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het, het sy gevind dat die goeie nuus haar werklik help. Sy het mettertyd aan die beheer van die demone ontsnap en haar persoonlikheid verander—en uiteindelik geleer hoe om haar humeur te beteuel. Sy is nou ’n getroue Christen en daarvoor bekend dat sy mense vriendelik behandel.

Ja, die goeie nuus is nie net teorie nie. Dit het werklik krag om lewens te verander (1 Korinthiërs 6:9-11). Die goeie nuus doen selfs meer as dit. Dit dui ook op toekomstige seëninge.

Toekomstige seëninge

Volgens God se Woord hou die toekoms wonderlike vooruitsigte in. Ons sal die vervulling sien van Jesus se gebed dat God se Koninkryk moet kom en dat Sy wil gedoen moet word soos in die hemel net so ook op die aarde (Mattheüs 6:10). Die teenswoordige stelsel van dinge met sy neerdrukkende korrupsie en geweld sal uit die weg geruim word en God se hemelse regering, sy Koninkryk, sal oor regskape mense regeer wat bereid was om na die goeie nuus te luister en dit te gehoorsaam.—Daniël 2:44.

Ingrypende verbeteringe sal die gevolg wees namate getroue mense gelei word om die aarde in ’n paradys te omskep waar sagmoediges vir ewig sal leef (Psalm 37:11, 29). Dit is inderdaad goeie nuus dat misdaad, siekte, hongersnood, besoedeling en oorloë vir ewig sal verdwyn! Kan jy jouself en jou gesin in daardie nuwe wêreld sien leef waar daar vrede en volmaakte gesondheid sonder die vrees vir siekte of die dood sal wees?—Openbaring 21:4.

Dit is weliswaar so dat baie mense sulke goeie nuus as baie eenvoudig of as iets denkbeeldigs beskou. Maar hulle is verkeerd. Die goeie nuus is op die betroubaarste getuienis gegrond, en dit het reeds miljoene lewens verander. Jy moet dus nie geïntimideer word as ander nie daaraan glo nie.

Stel jou ’n verstandige persoon voor wat grond in ’n ontwikkelende gebied koop en hoop om wins uit sy belegging te maak. Sal enigeen hom kwalik neem omdat hy sy geld só belê het? Nee. Mense sal eerder sê dat hy verstandig optree. Jy kan gerus ook voorsorg met betrekking tot die Koninkryk tref en as ’t ware in die goeie nuus belê. Aangesien dit redding beteken as ons die goeie nuus aanvaar, sal geen ander belegging sulke goeie winste toon nie.—Romeine 1:16.

Hoe kan jy in die goeie nuus belê? Jy moet eerstens bereid wees om deur God geleer te word. Dan moet jy optree in ooreenstemming met wat jy leer. Volg die basiese vereistes soos die eertydse Hebreeuse profeet hulle opgenoem het: “Wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Miga 6:8). Dit verg tyd en inspanning om te leer om met God te wandel. Jehovah se Getuies, wat Roberto en Isabel gehelp het, sal nietemin verheug wees om jou in hierdie opsig te help—soos hulle miljoene ander oor die jare gehelp het.

Terwyl jy op die vervulling van God se beloftes wag, moet jy jou belegging koester deur in ooreenstemming met die goeie nuus te leef, gemoedsrus te geniet en ’n hegter verhouding met God aan te kweek. Jou belegging sal veilig wees—geen ekonomiese depressie of politieke omwentelings sal dit bedreig nie. En dit sal uiteindelik vir jou ’n wonderlike wins lewer. Wat is daardie wins? Die apostel Johannes het geskryf: “Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17.

[Prent op bladsy 7]

Saad van die goeie nuus val op verskillende soorte grond

[Erkenning]

Garo Nalbandian

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel