Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 12/15 bl. 3-4
  • Wat is die Evangelie werklik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is die Evangelie werklik?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is die Evangelie?
  • Wat die Evangelie is
  • ’n Duidelike boodskap
  • Wat is die “Evangelie van Judas”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Hoe kan jy by die Evangelie baat vind?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Geneesheer Lukas doen die beste werk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Juwele uit Lukas se Evangelie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 12/15 bl. 3-4

Wat is die Evangelie werklik?

GEDURENDE die Kerstyd hoor mense in baie lande van, en praat hulle selfs oor, die Evangelie. Die woord is baie bekend, maar beteken dit meer as wat die meeste mense meen? Kan die Evangelie iets wonderliks vir jou en jou geliefdes beteken?

“Evangelie” beteken “goeie nuus”, en goeie nuus is beslis enige tyd welkom en nie net gedurende die Kerstyd nie. Maar die Evangelie is nie net enige goeie nuus nie. Dit is ’n bepaalde goeie nuus van ’n definitiewe bron oor ’n spesifieke onderwerp. Dit is trouens ’n boodskap wat God bepaal het aan alle mense verkondig moet word.

Eugênio Salles, die aartsbiskop van Rio de Janeiro, Brasilië, het van daardie goeie nuus gepraat toe hy gesê het: “Ons moet optree in ooreenstemming met die Evangelie en nie met die oog op ideologieë nie.” Die aartsbiskop was reg. Maar as ons in ooreenstemming met die Evangelie wil optree, moet ons weet wat die Evangelie is. Hoe kan ons dit uitvind? En hoe sal ons daarby baat vind as ons in ooreenstemming met die Evangelie optree?

Wat is die Evangelie?

Die aard van die Evangelie word dikwels verkeerd verstaan. In 1918 het die Federale Raad van die Kerke van Christus in Amerika die Volkebond wat nou ontbind is, beskou as die politieke beliggaming van die Koninkryk van God op aarde en het verklaar dat dit “op die Evangelie gegrond” is. Daardie liggaam het jammerlik misluk in sy doel om die vrede te bewaar. Dit was duidelik dat daardie raad verkeerd was. Die Volkebond het niks met die Evangelie te doen gehad nie.

In onlangse jare het voorstanders van die vryheidsteologie openlik oor die Evangelie gepraat wanneer hulle hulle idees vir politieke en maatskaplike hervorming bespreek het. Hulle het die ware Evangelie in die proses veronagsaam. Die Brasiliaanse tydskrif Veja het gesê: “Die Katolieke Kerk het voorstanders van die maatskaplike koninkryk begin word en het die geestelike behoeftes van sy getroues geïgnoreer. Diegene wat die woord God in ’n preek wou hoor, het dikwels net hoogdrawende redenasies teen maatskaplike ongeregtighede gevind.”

Sommige beskou verbeterde lewensomstandighede of ’n verandering in politieke stelsels moontlik as goeie nuus. Maar dit is nie die goeie nuus, die Evangelie, nie. Een biskop het erken dat sy kerk versuim om die ware Evangelie te verkondig en het gesê: “Ons het sedert die sestigerjare die geestelike onderrigting van ons getroues afgeskeep omdat materialisme ons leer belemmer het.”

’n Verslag in die Amerikaanse nuustydskrif Time sê dat Protestante ook die Evangelie uit die oog verloor het. Die tydskrif sê: “Die tradisionele denominasies sukkel nie net om hulle boodskap oor te dra nie; hulle is in toenemende mate onseker oor wat daardie boodskap eintlik is.” Wat moet hulle boodskap wees? Wat is die Evangelie?

Wat die Evangelie is

Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary definieer “Evangelie” as “die boodskap aangaande Christus, die koninkryk van God en redding”. Die woord “evangelie” word ook gedefinieer as “’n interpretasie van die Christelike boodskap (die maatskaplike evangelie)”; “die boodskap of leerstellings van ’n godsdiensleraar”. Geld al hierdie definisies? Nee, nie as ons van die Evangelie praat nie. Die ware Evangelie is op die Bybel gegrond; daarom is net die eerste van daardie drie definisies reg. Die laaste twee toon eenvoudig hoe die woord “evangelie” vandag gebruik word.

Vine’s Expository Dictionary of New Testament Words sê in ooreenstemming met hierdie gedagte dat die Evangelie in die Christelike Griekse Geskrifte (die “Nuwe Testament”) “die betekenis bevat van die goeie tyding van die Koninkryk van God en van redding deur Christus, wat deur geloof op grond van Sy versoeningsdood ontvang sal word”. Dit is belangrik dat ons dit verstaan omdat ons teenswoordige welsyn en toekomstige geluk grootliks van ’n korrekte begrip van die ware goeie nuus afhang.

’n Duidelike boodskap

Soos die voorafgaande naslaanwerk toon, hou die Evangelie ten nouste verband met Jesus Christus—in so ’n mate dat die vier Bybelverslae oor sy lewe op aarde die vier Evangelies genoem word. Reg van die begin van sy menselewe af was nuus oor Jesus goeie nuus. Toe ’n engel sy geboorte aangekondig het, het hy gesê: “Kyk, ek bring julle ’n goeie tyding [of, evangelie] van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.”—Lukas 2:10, 11.

Die pasgebore Jesus sou grootword om die Christus, die beloofde Messias, te wees. Hy sou God se voorneme met betrekking tot redding openbaar, sy volmaakte menselewe ten behoewe van die mensdom opoffer, opgewek word en dan die uitverkore Koning van God se Koninkryk word. Dit is inderdaad goeie nuus! Dit is waarom die boodskap aangaande hom die Evangelie genoem word.

Jesus was gedurende sy kort aardse bediening ’n baie ywerige verkondiger van die goeie nuus. Ons lees in die Evangelie van Mattheüs: “Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie [“goeie nuus”, NW] van die koninkryk verkondig” (Mattheüs 9:35). Hy het nie gepreek net om mense beter te laat voel nie. Volgens Markus het Jesus gesê: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie [“goeie nuus”, NW]” (Markus 1:15). Ja, diegene wat op die goeie nuus gereageer en dit gehoorsaam het, het gevind dat dit hulle lewe verander het.

Jesus se volgelinge het na sy dood steeds die Evangelie verkondig. Hulle het nie net oor die Koninkryk gepraat nie, maar ook oor die vreugdevolle nuus dat Jesus opgewek is na die regterhand van God in die hemel en dat hy die waarde van sy volmaakte menselewe ten behoewe van die mensdom aangebied het. As die een wat deur God gekies is om as Koning van God se Koninkryk oor die aarde te heers, sal hy God se Verteenwoordiger wees wat God se vyande sal vernietig en die aarde tot ’n paradys sal herstel.—Handelinge 2:32-36; 2 Thessalonicense 1:6-10; Hebreërs 9:24-28; Openbaring 22:1-5.

Vandag behels die goeie nuus nog ’n element. Volgens al die getuienis van die vervulling van profesieë is Jesus nou as koning gekroon en lewe ons in die laaste dae van hierdie stelsel van dinge (2 Timotheüs 3:1-5; Openbaring 12:7-12). Die tyd wanneer die Koninkryk teen God se vyande sal optree, sal binnekort aanbreek. Watter beter nuus kan daar wees?

Ons sal in die volgende artikel sien hoe kragtig die Evangelie is. Dit het een vrou wat in duiwelskuns verstrik geraak het, gehelp om vryheid te vind. Dit het ’n man wat weens roof in die tronk was, gehelp om geluk te vind. En jy sal ook grootliks daarby baat vind—as jy na die goeie nuus luister en dit gehoorsaam.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel