Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 8/15 bl. 26-29
  • Het jy die koste bereken?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het jy die koste bereken?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Meer as gesonde verstand
  • ’n Gebalanseerde beskouing
  • Ware wysheid ’n beskerming
  • Vind baat deur geestelike waardes na te streef
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Jou hoop—God of rykdom?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Hoe sterk is jou vertroue in God?
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Neem wyse persoonlike besluite
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 8/15 bl. 26-29

Het jy die koste bereken?

“WAT! Wys jy tog nie so ’n wonderlike aanbod van die hand nie?” Die opsiener kon skaars glo wat sy so pas gehoor het. Haar ondergeskikte, ’n vrou wat vanweë haar vaardigheid en goeie gedrag gerespekteer word, het so pas ’n aanbod van die hand gewys om twee jaar in die buiteland op die maatskappy se onkoste te gaan studeer. Waarom het sy dit gedoen?

As sy die aanbod sou aanvaar, het die vrou verduidelik, sou dit beteken dat sy twee jaar lank van haar man en twee kinders geskei sou wees. Sy sou baie na hulle verlang. Nog belangriker, sy sou ook haar godgegewe verantwoordelikhede as ’n vrou en ma versuim. Sy sou ’n te hoë emosionele en geestelike prys moes betaal. Nadat sy die koste bereken het, het sy gevolglk besluit om die aanbod van die hand te wys.

Wat sou jy gedoen het as jy in haar skoene gestaan het? Natuurlik sal nie almal saamstem met die besluit wat hierdie Christenvrou geneem het nie. Sommige, soos haar medewerknemers, meen dalk dat sy ’n wonderlike geleentheid om haar loopbaan te bevorder deur haar vingers laat glip het. Ander kan haar selfs daarvan beskuldig dat sy nie aan haar gesin se toekoms dink nie, want twee jaar sal per slot van rekening gou verbygaan. Maar haar besluit was nie impulsief of sentimenteel nie. Dit was gegrond op gesonde denke en versiende beginsels. Watter beginsels?

Meer as gesonde verstand

Die wysste man wat ooit op die aarde was, naamlik Jesus Christus, het die riglyn in een van sy gelykenisse voorsien. Jesus het gevra: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie?—sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie.”—Lukas 14:28-30.

Almal sal saamstem dat dit sin het om die koste te bereken voordat ’n mens besluit om enigiets belangriks te doen. Sal iemand wat ’n huis wil koop byvoorbeeld oorhaastig ’n kontrak onderteken sonder om uit te vind wat dit gaan kos en seker te maak dat hy finansieel in staat is om die transaksie af te handel? Hy sou beslis as dwaas beskou word as hy so iets sou doen. Ja, dit is gesonde verstand om die koste te bereken voordat ’n mens ’n onderneming aanpak.

Maar watter punt het Jesus eintlik deur hierdie gelykenis beklemtoon? Net voordat Jesus die gelykenis vertel het, het hy gesê: “Elkeen wat sy [folterpaal] nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie” (Lukas 14:27, vgl. NW). Die konteks toon derhalwe dat Jesus nie raad gegee het oor hoe om gesonde verstand in ons gewone, alledaagse sake aan die dag te lê nie. Hy het eerder gepraat van die feit dat iemand wat sy dissipel wil word die koste daarvan moet bereken.

Jesus het deur sy gelykenis getoon dat dit veranderinge en opofferings behels om sy dissipel te word. Waarom? Omdat die huidige stelsel van dinge materialisties is en deur eiebelang gedryf word. Die meeste mense stel hoofsaaklik daarin belang om hulle vleeslike begeertes te bevredig, en hulle skenk min of geen aandag nie aan hulle geestelike behoeftes of hulle verhouding met God (2 Timotheüs 3:1-4). Hierdie gesindheid, of gees, is egter lynreg in stryd met die gesindheid wat Jesus Christus getoon het. Hy het gesê: “Die Seun van die mens [het] nie gekom . . . om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.” Hy het die hoogste waarde aan geestelike dinge geheg en nie aan materiële dinge nie toe hy gesê het: “Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie.”—Mattheüs 20:28; Johannes 6:63.

Toe Jesus derhalwe diegene wat sy dissipels wou word aangeraai het om die koste te bereken, het hy hoofsaaklik, nie van materiële waardes nie, maar van geestelike waardes gepraat. Wat is vir hulle belangriker, die materiële voordele wat die wêreld aanbied of die geestelike seëninge wat dissipelskap aanbied? Dit is waarom hy, nadat hy dié gelykenis en ’n gelykenis wat daarmee verband hou, vertel het, afgesluit het met die woorde: “So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie” (Lukas 14:33). Is die voornemende volgeling gewillig en bereid om so ’n opoffering te maak, of is dit ’n te hoë prys om te betaal?

’n Gebalanseerde beskouing

Hoewel materiële dinge klaarblyklik voordele kan bring wat opmerkliker is en dadelik geniet kan word, is die voordele wat geestelike doelwitte inhou meer blywend en bring dit groter bevrediging. Jesus het soos volg geredeneer: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie” (Mattheüs 6:19, 20). In ons tyd het inflasie, aandelemarkdalings, bankmislukkings, ensovoorts baie wat net op materiële rykdom vertrou het geruïneer. Maar die apostel Paulus maan ons om “nie [te] let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig” (2 Korinthiërs 4:18). Maar hoe kan ons so ’n beskouing aankweek?

Ons kan dit doen deur ons Model en Voorbeeld, Jesus Christus, na te volg. Toe hy op die aarde was, was hy geensins ’n askeet nie, soos uit die feit blyk dat hy soms bruilofsfeeste en onthale bygewoon het. Maar geestelike dinge het ongetwyfeld die eerste plek in sy lewe geniet. Hy was gewillig om selfs die dinge wat as noodsaaklik beskou word, prys te gee om sy Vader se wil te volbring. Hy het eenkeer gesê: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie” (Lukas 9:58). Hy het dit as so lewensbelangrik en aangenaam beskou om sy Vader se wil te doen dat hy met innige opregtheid gesê het: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.”—Johannes 4:34.

Jesus het sy waardebegrip getoon deur die manier waarop hy Satan se versoekings verwerp het. Die Duiwel het probeer om Jesus oor te haal om Sy godgegewe krag tot Sy eie voordeel te gebruik, om Sy fisiese behoeftes te bevredig en om wêreldse roem en gewildheid te verwerf. Jesus het baie goed geweet dat sulke twyfelagtige voordele net teen ’n baie hoë prys verkry kon word—die verlies van God se goedkeuring—’n prys wat hy nie bereid was om te betaal nie, want hy het sy goeie verhouding met sy Vader bo enigiets anders gekoester. Dit is waarom hy Satan se aanbiedinge onomwonde, sonder om te aarsel, verwerp het.—Mattheüs 4:1-10.

As Christus se volgelinge moet ons ongetwyfeld dieselfde waardebegrip as ons Heer hê. In die huidige stelsel van dinge onder Satan se beheer is daar baie dinge wat lyk of dit wonderlike voordele inhou, maar wat in werklikheid ons verhouding met God kan skaad. Dinge soos om voortdurend daarna te streef om die hoogste sport te bereik, om hoër onderwys na te jaag met die doel om jou status te verhoog, om ongelowiges die hof te maak of om by twyfelagtige sakeskemas betrokke te raak kan maklik daartoe lei dat ’n mens jou geloof, en uiteindelik Jehovah se guns, verloor. Ons moet die koste sorgvuldig bereken wanneer ons voor sulke versoekings te staan kom.

Ware wysheid ’n beskerming

’n Paar jaar gelede het ’n jong Christenman in ’n groot stad in die Verre Ooste die geleentheid gekry om in die buiteland verder te gaan studeer. Hoewel hy reeds ’n goeie sekulêre opvoeding gehad het en ’n hoë salaris by sy werk verdien het, het hy gevoel dat dit nie genoeg was nie; hy wou sy posisie in die lewe verbeter. Mede-Christene het met hom probeer redeneer in ooreenstemming met die skriftuurlike punte wat ons so pas bespreek het, maar hy was vasbeslote en het met die plan voortgegaan. Hoewel hy aanvanklik sy geloof probeer sterk hou het, het hy geleidelik sy waardering vir Bybelwaarheid verloor, en hy het begin twyfel. Binne slegs ’n jaar of wat het hy sy geloof heeltemal verloor en gesê dat hy ’n agnostikus is. Hy het weliswaar ’n mate van bevrediging gekry deur ’n hoër graad deur middel van gevorderde sekulêre opvoeding te verwerf. Maar wat ’n hoë prys moes hy tog vir die tydelike roem betaal—sy geloof wat skipbreuk gely het en die risiko om die ewige lewe te verloor!—1 Timotheüs 1:19.

Daarenteen seën Jehovah diegene ryklik wat nie toelaat dat enigiets hulle verhouding met God in gevaar stel nie.

’n Voorbeeld hiervan is van ’n jong man wat in dieselfde stad waarna hierbo verwys word ’n binneversieringsonderneming gehad het. Slegs ’n paar maande nadat hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het hy ’n aanloklike aanbod ontvang—’n geleentheid om ’n gebou op te knap wat hom R82 000 in die sak sou bring. Maar dit sou beteken dat hy die bouvoorskrifte en -regulasies sou moes ontduik om ’n onwettige struktuur op te rig. Aangesien hy geleer het dat Christene die wet moet gehoorsaam, het hy besef dat hy God se guns kon verloor indien hy die werk aanvaar (Romeine 13:1, 2). Nadat hy die saak ernstig oorweeg het, het hy die aanbod van die hand gewys. Die gevolg? Hierdie geloofsdaad was ’n keerpunt in sy geestelike vooruitgang. Binne daardie selfde jaar het hy só gevorder dat hy sy toewyding kon maak en gedoop kon word. Hy het sy onderneming verkoop en ’n werk gekry wat hom baie meer tyd toegelaat het om geestelike doelwitte na te jaag. Hy dien Jehovah nou met vreugde en ywer.

Albei hierdie jong mans het die koste bereken. Wat het die verskil in hulle keuses gemaak? Goddelike wysheid! Hoe so? Wysheid is die vermoë om kennis te gebruik op ’n wyse wat gewoonlik blywende voordele meebring, en goddelike wysheid beteken om kennis in ooreenstemming met God se voorneme vir ons te gebruik. Hoewel albei jong mans ’n bietjie Bybelkennis gehad het, het die manier waarop hulle dit gebruik het tot verskillende resultate gelei. Die boek Spreuke sê: “Want wysheid sal in jou hart kom, en kennis vir jou siel lieflik wees; oorleg sal oor jou wag hou, verstand sal jou bewaak, om jou te red van die weg van die slegte.”—Spreuke 2:10-12.

God se Woord, die Bybel, is die bron van ware wysheid waarna jy jou altyd kan wend vir leiding wanneer jy belangrike besluite moet neem. Pleks van wys in jou eie oë te word, slaan ag op die raad: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:5, 6). Ons moet nederig wees en gewillig om onderrig te word, en ons moet die eiesinnige en onafhanklike gees vermy wat vandag so algemeen in die wêreld voorkom.

Ja, ons kan dit nie vermy om te maai wat ons saai nie, en dit is net reg en regverdig dat ons die gevolge dra van die besluite en keuses wat ons maak (Galasiërs 6:7, 8). Bereken dus die koste voor elke onderneming wat jy wil aanpak. Moenie toelaat dat enige oënskynlike voordeel jou van jou geestelikheid of jou verhouding met Jehovah God beroof nie. Bid om wysheid en goeie oordeel sodat jy die regte besluite kan neem, want die besluit wat jy nou neem, kan die verskil tussen die lewe en die dood—vir ewig—beteken!—Vergelyk Deuteronomium 30:19, 20.

[Prente op bladsy 28]

Gaan hy geestelike bedrywighede of ’n sekulêre loopbaan eerste in sy lewe stel?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel