Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 8/15 bl. 21-25
  • Predikingswerk in Maputo—Mosambiek se interessante hoofstad!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Predikingswerk in Maputo—Mosambiek se interessante hoofstad!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Maputo, die hoofstad
  • “Vissers van mense”
  • Aflewerings by die depot
  • Teokratiese vooruitgang ten spyte van struikelblokke
  • “Die oes is . . . groot”
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 8/15 bl. 21-25

Predikingswerk in Maputo—Mosambiek se interessante hoofstad!

In 1991 het Jehovah se Getuies wetlike erkenning in Mosambiek gekry. Sedertdien het die prediking van die goeie nuus van God se Koninkryk pragtige vordering gemaak in hierdie tropiese land aan die suidooskus van Afrika. Hier is ’n verslag oor hoe Jehovah se Getuies hulle Bybelopvoedkundige werk in Mosambiek, veral in die omgewing van Maputo, die hoofstad, doen.

MOSAMBIEK het sy soel klimaat te danke aan die invloed wat die warm Indiese Oseaan op sy weer het. Wonderskone strande wat met palms omsoom is en koraalriwwe kom volop langs die kus voor. ’n Groot baai met beskutte water is in die suide van die land geleë—’n ideale ligging vir sy hoofstad, Maputo.

Die prag en rustigheid van hierdie land word nietemin bederf deur sy gewelddadige geskiedenis. Hy het eeue lank onder vreemde oorheersing gebuk gegaan, eers die Arabiere en toe die Portugese. Laasgenoemde het die volle seën van die Katolieke Kerk gehad om die land van sy skatte—ivoor, goud en slawe—te plunder. Uiteindelik, na eeue van koloniale onderdrukking, het ’n bitter stryd in die land uitgebreek wat in 1975 tot onafhanklikheid gelei het. Ongelukkig het die verandering die lewe nie veiliger gemaak nie, aangesien die land in ’n burgeroorlog verwikkel geraak het wat baie lyding vir die mense, in die besonder die onskuldige plattelanders, meegebring het.

Maputo, die hoofstad

In die afgelope dekade het duisende Mosambiekers na die betreklike veiligheid van die dorpe en stede gevlug. Dit is veral opmerklik in Maputo, waar ’n mengelmoes van pragtig outydse Portugese argitektuur en die kleurryke Afrika ’n lewendige atmosfeer aan die stad verleen. Die eerste ding wat jy sal sien as jy vandag langs die wye, boomomlynde lane van Maputo af loop, is die massas mense wat rondskarrel om hulle daaglikse take te verrig. Maar daar is ’n verskil. “Ten spyte van die gewoel en probleme van die alledaagse lewe is die mense altyd vriendelik”, sê Rodrigo, ’n sendeling in Maputo. “’n Mens kom byna nooit onbeskofte mense teë nie!” Ja, die Mosambiekers is bekend daarvoor dat hulle spontane en vriendelike mense is.

Die plaaslike mark is natuurlik, soos in feitlik die hele Afrika, die algemeenste plek waar jy die mense teëkom. Om daar te kom, kan jy op ’n Chapa 100, die plaaslike naam vir die talle bakkies wat as openbare vervoer gebruik word, ry. Soos gewoonlik lyk dit of daar meer mense buite aan die bakkies hang as wat daar binne-in is. Miskien is dit beter om te loop.

Die Mosambiekers het ’n ongeneeslike ondernemingsgees. ’n Besoeker in Maputo kan nie anders as om op te merk hoeveel hulleself onderhou deur middel van klein stalletjies op sypaadjies en straathoeke nie. Wil jy vars vrugte, groente, kruie of speserye koop? Daar is oorgenoeg vir almal. Wat van ’n lewende hoender, kasjoeneute of riete om jou huis te bou? Niks is te veel moeite nie, en alles word in ’n gees van vriendelikheid gedoen. Jy kan ook jou skoene laat poleer of jou motor daar laat was. ’n Jong seun sal selfs jou kosbare dokumente met ’n warm ysterstaaf en ’n plastiekvel lamineer.

Om die waarheid te sê, word nie alle straathandel wettig bedryf nie. Maar daar word nogtans handel gedryf. Die onwettige smouse word dumba nenge genoem, wat “vertrou op jou voete” beteken. Dit is ongetwyfeld omdat hulle vlug van voet moet wees wanneer die owerheid inspeksie kom hou sodat hulle met hulle twyfelagtige onderneming kan voortgaan.

Te oordeel na die reuk moet ons naby die vismark wees! Langs die strande van Costa do Sol is die vissersbote elke dag laatmiddag ’n byenes van bedrywigheid wanneer hulle hulle vangs vir die dag inbring. Benewens visse van alle vorms en groottes is daar krappe, krewe en, natuurlik, die gesogte Mosambiekse garnale. Maar jy stel dalk belang in ’n ander soort visvangs wat in en om Maputo aan die gang is.

“Vissers van mense”

Sedert Jehovah se Getuies wetlike erkenning in Mosambiek gekry het, het die publiek uiters gunstig daarop gereageer. Een man het sy waardering uitgespreek deur te sê: “In Londen het ek baie van julle mense op die strate gesien. Trouens, net waar ek al gegaan het, het ek Jehovah se Getuies gesien. En ek is so bly om julle hier ook te sien.”

Die Mosambiekers is beslis geestelik gesinde mense as ’n mens moet oordeel na die gretigheid waarmee hulle Bybels en Bybelse lektuur in Portugees en Tsonga, die plaaslike tale, neem. Paula, nog ’n sendeling, sê ’n mens kan maklik op ’n gewone Saterdagoggend baie meer as 50 tydskrifte by die basaar, of plaaslike mark, versprei. Die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk is uiters gewild. Baie jongmense is as gevolg van die oorlog uit hulle tuistes verdryf of wees gelaat, en dit lyk of hulle die waardes en riglyne in hierdie boek waardeer.

Groot groepe belangstellendes sal vrymoedig, op ’n wyse eie aan die Afrikaan, om die sendeling vergader om te hoor wat daar gesê word. Sulke gesprekke op die sypaadjies ontwikkel dikwels in lewendige skriftuurlike besprekings. ’n Suster vertel ’n opwindende ondervinding.

“Eenkeer terwyl ek straatwerk gedoen het, het ek geskrik toe ’n militêre jeep met skreeuende bande naby my stilhou. ’n Jong soldaat het vir ’n paar van die omstanders geskree: ‘Haai, julle daar, sê vir daardie dame sy moet hier kom.’ Toe ek na hom toe kom, het die soldaat ’n breë glimlag op sy gesig gekry terwyl hy gesê het: ‘Julle is goeie mense. Ons is bly om julle hier te sien. Ek hoor julle het ’n boek oor jongmense. Ek wil ook een hê.’ Ek het vir hom gesê dat ek nie op die oomblik ’n boek het nie, maar ek het belowe om een by sy huis af te lewer sodra ons hulle in voorraad het.”

Aflewerings by die depot

Die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Suid-Afrika lewer elke twee weke lektuur by ’n depot in Maputo af om in die toenemende aanvraag na lektuur te voorsien. Manuel, ’n sendeling, sien na die depot om en dit is sy verantwoordelikheid om die verspreiding van die lektuur te organiseer.

Een oggend het ’n middeljarige man ingedrentel gekom en gevra waarvoor hierdie plek gebruik word. Manuel het gesê dat dit ’n depot vir Bybellektuur is. Die man het uitgestap, maar hy was binne ’n kwessie van ’n minuut terug.

“Jy het gesê dit is Bybelse boeke, nie waar nie?” het hy gevra.

“Ja, dis reg”, het Manuel geantwoord.

“Vir watter organisasie is dit?” het die man gevra.

“Jehovah se Getuies”, het Manuel geantwoord. Hy het bygevoeg: “Ons voorsien ons plaaslike gemeentes van hierdie lektuur.”

“A, Jehovah se Getuies!” Die man se gesig het opgehelder. “Daar is so baie dinge omtrent julle waarvan ek hou. Maar terselfdertyd in daar iets omtrent julle waarvan ek nie hou nie.”

“Wel, van watter dinge omtrent ons hou jy?” het Manuel taktvol gevra.

“Ek hou van die interessante en leersame boeke wat julle druk”, het die man verduidelik. “Waarvan ek nie hou nie, is dat ek nooit genoeg van hulle in die hande kan kry nie. Jy sal nie glo hoe ons in Maputo na lektuur soos julle s’n smag nie.” Toe haal hy ’n geskrewe lys uit van publikasies van die Wagtoringgenootskap, waaronder talle ouer nommers van Die Wagtoring en die Ontwaak! wat hy nie kon kry nie.

“Ek dra hierdie lys altyd by my”, het hy vir Manuel gesê. “Elke keer as ek Jehovah se Getuies teëkom, probeer ek om van al die publikasies te kry wat hulle het. Ek sal enige prys betaal as jy my net kan help om die publikasies op my lys in die hande te kry.”

Hulle het begin gesels. Manuel het uitgevind dat die man gedurende die vyftigerjare vir die eerste keer met Jehovah se Getuies in aanraking gekom het toe hy die boek Creation gelees het. Maar weens die feit dat die werk van Jehovah se Getuies deur die Portugese regering verbied was, het dit min vooruitgang gemaak.

Toe Manuel die man later by sy kantoor gaan besoek, het hy opgemerk dat al die Wagtoringpublikasies wat hy gehad het met plastiek oorgetrek en netjies geliasseer was. Manuel kon die man voorsien van al die publikasies wat hy nodig gehad het om sy versameling te voltooi, en hy het reëlings getref om ’n Bybelstudie met die man en sy gesin te hou.

Al hierdie geestelike plant- en natmaakwerk begin baie vrugte afwerp namate God dit “laat groei”. Daar is sterk aanduidings dat die oes van regskapenes ’n rekordoes in Mosambiek gaan oplewer!—1 Korinthiërs 3:6; Johannes 4:36.

Teokratiese vooruitgang ten spyte van struikelblokke

Daar is vandag meer as 50 gemeentes in en om Maputo. Maar daar is geen Koninkryksale van Jehovah se Getuies nie. Wat is die rede hiervoor? As gevolg van swak ekonomiese toestande kon die gemeentes nog nie ’n saal bou nie hoewel sommige gemeentes al etlike jare lank grond besit.a

Maar sulke struikelblokke verhinder nie dat die werk vooruitgaan nie. Daar word tans ver oor die 5 000 tuisbybelstudies in die suidelike deel van Mosambiek gehou. Die aanvraag na studies is so groot dat sekere vereistes gestel moet word. As iemand ’n studie wil hê, word dit gewoonlik verwag dat hy al die gemeentelike vergaderings sal bywoon.

Een gemeente in ’n plakkersgebied het onlangs 189 by die Sondagvergadering gehad hoewel daar net 71 verkondigers van die goeie nuus is. Hierdie groot groep vergader in die buitelug in ’n huis se binneplaas. ’n Heining van sinkplate en riete skei die binneplaas van die buitewêreld af. Die binneplaas word voor elke vergadering skoongevee, en die meeste van die gehoor, waaronder baie van die volwassenes, sit op rietmatjies op die grond. Watter noukeurige aandag skenk hulle tog aan die program! Aangesien baie van die nuwelinge nie ’n kopie van Die Wagtoring het waarin hulle die studie kan volg nie, leer hulle om noukeurig aandag te skenk wanneer die paragrawe gelees word, en die meeste steek hulle hand op om te antwoord op die vrae wat die studiehouer vra.

Nog ’n gemeente met 59 verkondigers se vergaderinge word gereeld deur meer as 140 bygewoon. Hulle vergader gewoonlik buite op ’n terras. Maar wanneer dit reën, moet die hele gemeente in die twee kamers van ’n klein woonstelletjie inpas. Party moet selfs in die gang, kombuis en op die balkon sit. ’n Mens kan weer eens nie anders as om almal, baie jongmense inkluis, se waardering en oplettendheid raak te sien terwyl hulle aandagtig na die program luister nie.

Die potensiaal vir toekomstige groei in Mosambiek is veral by byeenkomste opvallend. ’n Kringbyeenkoms is onlangs by die ou stiergevegarena in die middestad gehou. Stel jou net voor hoe verbaas die ongeveer 3 000 verkondigers was toe meer as 10 000 die byeenkoms bygewoon het.

“Die oes is . . . groot”

Sulke ondervindings toon duidelik dat daar nog baie werk in Mosambiek gedoen moet word. Sommige gemeentes is onlangs vir die eerste keer besoek deur die reisende opsiener wat deur die takkantoor soontoe gestuur is. Hulle ontvang die hulp wat hulle dringend nodig het om die behoorlike organisatoriese prosedures in die gemeentes in werking te stel.

Die gemeentes is ook baie dankbaar vir die Gileadsendelinge wat onlangs daar aangekom het. Francisco, ’n ouere man in Maputo, sê: “Dit is vir ons ’n groot stap vorentoe. Ons het die ywer gehad. Ons het die liefde gehad. Maar ons het uit voeling geraak met talle organisatoriese aangeleenthede. Wat ons werklik nodig het, is iemand met persoonlike ondervinding om ons te leer hoe dinge gedoen moet word. Nou is ons so bly om die sendelinge by ons te hê.”

Die sendelinge is eweneens bly dat hulle hulle broers kan help. Hans, wat onlangs ’n toewysing in Mosambiek gekry het nadat hy 20 jaar lank in Brasilië gedien het, som dit soos volg op: “Dit is ’n groot voorreg om in die Mosambiekse veld te werk! Ons kan sien dat ons op die vooraand van ’n ontsaglike vermeerdering staan. Daar is so baie werk om te doen. Ons kan doen met nog 10 of 20 sendelinge in Maputo alleen.”

Die teokratiese vooruitgang in Mosambiek wat nou versnel, herinner ons aan Jesus se dringende woorde: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur” (Mattheüs 9:37, 38). Ons het alle rede om te glo dat Jehovah aan daardie dringende versoek ten behoewe van sy knegte in Mosambiek sal voldoen.

Duisende Getuies van Jehovah het 12 jaar of langer in detensiekampe in Noordwes-Mosambiek deurgebring. Toe sommige van hulle onlangs na Maputo teruggekeer het, was hulle enigste besitting ’n stuk lap wat hulle om hulle heupe gedra het. Maar hulle het wel ’n oorvloed van geloof gehad! Die vrygewige bydraes van kos en klere van hulle mede-Getuies in nabygeleë lande het hulle gehelp om ’n nuwe begin in die lewe te maak.

[Voetnoot]

a As iemand gelukkig genoeg is om ’n werk daar te kry, is die gemiddelde loon van R55 tot R85 per maand.

[Prent op bladsy 23]

Die gemeentes het ’n goeie opkoms vir Christelike getuieniswerk op Saterdagoggende

[Prente op bladsy 24]

Ontmoet 5-jarige Jaimito. Hy is in ’n detensiekamp gebore. Vandag is Jaimito se ouers bly dat hulle terug in Maputo is. Elke week laat Francisco, Jaimito se pa, die hele gesin vir ’n Bybelstudie bymekaarkom. Albei ouers bestee baie tyd daaraan om hulle kinders op te lei om bekwame onderrigters in die velddiens te wees. Jaimito geniet dit om lektuur by die plaaslike mark te versprei

[Prent op bladsy 25]

Die feit dat gemeentes nie Koninkryksale het nie, verhinder hulle nie om vooruitgang te maak nie. In die meeste gevalle woon meer as dubbeld soveel die vergaderinge by as wat daar verkondigers is

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel