Het die vroeë kerk geleer dat God ’n Drie-eenheid is?
Deel 4—Wanneer en hoe het die Drie-eenheidsleer ontwikkel?
Die eerste drie artikels in hierdie reeks het getoon dat die Drie-eenheidsleer nóg deur Jesus en sy dissipels nóg deur die vroeë kerkvaders geleer is (Die Wagtoring van 1 November 1991; 1 Februarie 1992 en 1 April 1992). Hierdie artikel, die laaste, sal bespreek hoe die Drie-eenheidsdogma ontwikkel het en watter rol die Konsilie van Nicea in 325 G.J. gespeel het.
IN 325 G.J. het die Romeinse keiser Konstantyn ’n konsilie van biskoppe in die stad Nicea in Klein-Asië byeengeroep. Sy doel was om ’n oplossing te vind vir die voortdurende godsdienstwiste oor wat die verhouding van die Seun van God tot die almagtige God is. Die Encyclopædia Britannica sê die volgende aangaande die uitslag van daardie konsilie:
“Konstantyn self het as voorsitter opgetree, die besprekings gerig en self . . . die beslissende formule aan die hand gedoen wat die verhouding van Christus tot God weergee in die geloofsbelydenis wat deur die konsilie uitgereik is, naamlik ‘van een substansie [ho·mo·ouʹsi·os] met die Vader’. . . . Die biskoppe, geïmponeer deur die keiser, het op net twee na die geloofsbelydenis onderteken, talle baie teen hulle sin.”1
Het hierdie heidense heerser weens sy Bybelse oortuigings ingegryp? Nee. A Short History of Christian Doctrine sê: “Konstantyn het basies geen benul gehad van die vrae wat in die Griekse teologie gevra is nie.”2 Wat hy wel begryp het, was dat godsdienstwiste die eenheid van sy ryk bedreig het, en hy wou hulle opgelos hê.
Het dit die Drie-eenheidsleer ingevoer?
Het die Konsilie van Nicea die Drie-eenheid as ’n leerstelling van die Christendom ingevoer of bevestig? Baie neem aan dat dit die geval was. Maar die feite toon dat dit nie so was nie.
Die geloofsbelydenis wat deur die konsilie uitgevaardig is, het wel dinge oor die Seun van God aangevoer wat verskeie geestelikes in staat sou stel om hom in sekere sin as gelyk aan God die Vader te beskou. Dit is egter insiggewend om te sien wat nie deur die Niceense Geloofsbelydenis gesê is nie. Toe dit oorspronklik uitgereik is, het die volledige geloofsbelydenis verklaar:
“Ons glo in een God, die Vader almagtig, skepper van alle dinge, sigbaar en onsigbaar;
“En in een Here Jesus Christus, die Seun van God, verwek uit die Vader, eniggebore, dit wil sê uit die substansie van die Vader, God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, verwek nie gemaak nie, van een substansie met die Vader, deur Wie alles tot stand gekom het, die dinge in die hemel en die dinge op die aarde, Wat vanweë ons, mense, en ter wille van ons redding neergedaal en vleeslik geword het, mens geword het, gely en weer op die derde dag opgestaan het, opgevaar het na die hemele en sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel;
“En in die Heilige Gees.”3
Sê hierdie geloofsbelydenis dat Vader, Seun en heilige gees drie persone in een God is? Sê dit dat die drie gelyk is ten opsigte van ewigheid, krag, posisie en wysheid? Nee. Hier is hoegenaamd geen drie-enige formule nie. Die oorspronklike Niceense Geloofsbelydenis het nie die Drie-eenheid ingevoer of bevestig nie.
Op sy meeste stel daardie geloofsbelydenis die Seun met die Vader gelyk in dié opsig dat hulle “van een substansie” is. Maar dit sê niks van dié aard aangaande die heilige gees nie. Al wat dit sê, is: “Ons glo . . . in die Heilige Gees.” Dít is nie die Christendom se Drie-eenheidsleer nie.
Selfs die sleuteluitdrukking “van een substansie” (ho·mo·ouʹsi·os) het nie noodwendig beteken dat die konsilie in die numeriese gelykheid van die Vader en die Seun geglo het nie. Die New Catholic Encyclopedia sê:
“Dit is te betwyfel dat die Konsilie beoog het om die numeriese identiteit van die substansie van Vader en Seun te bevestig.”4
Al het die konsilie bedoel dat die Seun en die Vader numeries een is, sou dit nog nie ’n Drie-eenheid gewees het nie. Dit sou net ’n twee-enige God gewees het, nie ’n drie-enige soos die Drie-eenheidsleer vereis nie.
“Die siening van ’n minderheid”
Het die biskoppe by Nicea oor die algemeen geglo dat die Seun gelyk aan God is? Nee, daar was uiteenlopende beskouings. Een was byvoorbeeld dié van Arius, wat verkondig het dat die Seun ’n definitiewe begin in die tydstroom gehad het en dus nie aan God gelyk is nie, maar in alle opsigte ondergeskik is. Daarenteen het Athanasius geglo dat die Seun in ’n sekere opsig aan God gelyk is. En daar was ander beskouings.
Martin Marty sê die volgende aangaande die konsilie se besluit om die Seun as van dieselfde substansie (een in wese) as God te beskou: “Die besluit by Nicea was eintlik die siening van ’n minderheid; die skikking was ongemaklik en onaanvaarbaar vir baie wat nie ’n Ariaanse opvatting gehad het nie.”5 Die boek A Select Library of Nicene and Post-Nicene Fathers of the Christian Church merk insgelyks op dat “slegs ’n minderheid ’n duidelik geformuleerde standpunt ingeneem het wat in stryd was met Arianisme, hoewel hierdie minderheid die oorwinning behaal het”.6 En A Short History of Christian Doctrine sê:
“Wat vir baie biskoppe en teoloë van die Ooste besonder aanvegbaar gelyk het, was die begrip wat deur Konstantyn self in die geloofsbelydenis ingevoeg is, die homoousios [“van een substansie”], wat in die daaropvolgende stryd tussen die ortodoksie en die dwaalleer die onderwerp van tweedrag geword het.”7
Redetwiste het dekades na die konsilie aangehou. Dié wat ten gunste daarvan was dat die Seun met die almagtige God gelykgestel moet word, het selfs ’n tyd lank in onguns geraak. Martin Marty sê byvoorbeeld van Athanasius: “Sy gewildheid het aanhoudend toegeneem en afgeneem, en hy is [in die jare na die konsilie] so gereeld verban dat hy feitlik ’n pendelaar geword het.”8 Athanasius het jare in ballingskap deurgebring omdat staats- en kerkamptenare gekant was teen sy beskouings, wat die Seun aan God gelykgestel het.
Die bewering dat die Konsilie van Nicea in 325 G.J. die Drie-eenheidsleer ingevoer of bevestig het, is dus onwaar. Wat later die Drie-eenheidsleerstelling geword het, het nie op daardie tydstip bestaan nie. Die idee dat die Vader, Seun en heilige gees elkeen die ware God is en gelyk is ten opsigte van ewigheid, krag, posisie en wysheid, maar tog net een God is—’n drie-enige God—is nie deur daardie konsilie of deur vroeëre kerkvaders ontwikkel nie. Soos The Church of the First Three Centuries sê:
“Die hedendaagse gewilde leerstelling oor die Drie-eenheid . . . word glad nie deur die geskrifte van Justinus [die Martelaar] gesteun nie: en dit kan van al die voor-Niceense Vaders gesê word; dit wil sê alle Christenskrywers gedurende die drie eeue ná die geboorte van Christus. Hulle praat weliswaar van die Vader, Seun en profetiese of heilige Gees, maar nie as gelyk nie, nie as een numeriese entiteit nie, nie as Drie in Een nie, geensins soos dit nou deur die Trinitariërs bely word nie. Presies die teenoorgestelde is waar. Die leerstelling oor die Drie-eenheid, soos dit deur hierdie Vaders verduidelik is, verskil wesenlik van die hedendaagse leerstelling. Ons stel dit as ’n feit wat net so maklik bewys kan word soos enige feit in die geskiedenis van menslike opvattings.”
“Ons daag enigeen uit om ’n enkele gesiene skrywer uit die eerste drie eeue te noem wat in die moderne sin in hierdie [Drie-eenheids]leer geglo het.”9
Die Konsilie van Nicea was egter ’n keerpunt. Dit het amptelike aanvaarding van die Seun as die Vader se gelyke moontlik gemaak, en dit weer het die weg gebaan vir die latere konsep van die Drie-eenheid. Die boek Second Century Orthodoxy, deur J. A. Buckley, sê:
“Die universele Kerk het tot ten minste die einde van die tweede eeu in een basiese sin verenig gebly; hulle het almal die oppermag van die Vader aanvaar. Hulle almal was van mening dat net God die Vader Almagtig oppermagtig, onveranderbaar, onbeskryflik en sonder begin is. . . .
“Met die afsterwe van daardie tweede-eeuse skrywers en leiers het die Kerk gevind dat hy . . . stadig maar onvermybaar dié punt nader . . . waar die geleidelike erosie van die oorspronklike geloof tydens die Konsilie van Nicea ’n hoogtepunt bereik het. Daar het ’n klein, opvlieënde minderheid hulle kettery aan ’n meegaande meerderheid opgedwing, en met die steun van die politieke owerheid dié wat probeer het om die aanvanklike suiwerheid van hulle geloof vlekkeloos te behou onder dwang geplaas, omgerokkel en geïntimideer.”10
Die Konsilie van Konstantinopel
In 381 G.J. het die Konsilie van Konstantinopel die Niceense Geloofsbelydenis bevestig. En dit het iets bygevoeg. Dit het die heilige gees “Here” en “lewegewer” genoem. Die uitgebreide geloofsbelydenis van 381 G.J. (wat in wese die geloofsbelydenis is wat vandag in die kerke gebruik word en as “die Niceense Geloofsbelydenis” bekend staan) toon dat die Christendom op die punt gestaan het om ’n volwaardige Drie-eenheidsdogma te formuleer. Maar nie eers hierdie konsilie het daardie leerstelling voltooi nie. Die New Catholic Encyclopedia erken:
“Dit is interessant dat die Konsilie van Konstantinopel [381 G.J.], 60 jaar na die eerste Konsilie van Nicea, homoousios in sy definisie van die goddelikheid van die Heilige Gees vermy het.”11
“Geleerdes is dronkgeslaan deur die klaarblyklike gematigdheid van hierdie geloofsbelydenis se bewoording; hoe dit byvoorbeeld nie die woord homoousios vir die Heilige Gees as een in wese met die Vader en die Seun gebruik nie.”12
Dieselfde ensiklopedie erken: “Homoousios kom nie in die Skrif voor nie.”13 Nee, die Bybel gebruik daardie woord nie vir die heilige gees of vir die Seun om aan te dui dat hulle een in wese met God is nie. Dit was ’n onbybelse woord wat bygedra het tot die ontstaan van die onbybelse, trouens anti-Bybelse, Drie-eenheidsleer.
Selfs ná die Konsilie van Konstantinopel het eeue verbygegaan voordat die Drie-eenheid in die hele Christendom aanvaar is. Die New Catholic Encyclopedia sê: “Dit lyk asof ’n algemene stilte oor die eerste Konsilie van Konstantinopel en sy geloofsbelydenis . . . in die Weste geheers het.”14 Hierdie bron toon dat die konsilie se geloofsbelydenis tot die sewende of agtste eeu toe op min plekke in die Weste erken is.
Geleerdes erken ook dat die Athanasiaanse Geloofsbelydenis, wat dikwels as ’n standaarddefinisie en ter stawing van die Drie-eenheid aangehaal word, nie deur Athanasius geskryf is nie, maar baie later deur ’n onbekende skrywer. The New Encyclopædia Britannica lewer die volgende kommentaar:
“Die geloofsbelydenis was tot die 12de eeu vir die Oosterse Kerk onbekend. Sedert die 17de eeu is geleerdes dit oor die algemeen eens dat die Athanasiaanse Geloofsbelydenis nie deur Athanasius (wat in 373 gesterf het) geskryf is nie, maar waarskynlik gedurende die 5de eeu in suidelike Frankryk opgestel is. . . . Dit lyk of die geloofsbelydenis in die 6de en 7de eeu hoofsaaklik in suidelike Frankryk en Spanje ’n invloed uitgeoefen het. Dit is in die 9de eeu in die liturgie van die kerk in Duitsland en ietwat later in Rome gebruik.”15
Hoe dit ontwikkel het
Die Drie-eenheidsleer het stadig oor ’n tydperk van eeue begin ontwikkel. Die trinitariese idees van Griekse filosowe soos Plato, wat etlike eeue voor Christus gelewe het, het geleidelik in die kerkleerstellings ingesypel. Soos The Church of the First Three Centuries sê:
“Ons hou vol dat die Drie-eenheidsleer geleidelik en betreklik laat geformuleer is; dat dit ontstaan het uit ’n heeltemal ander bron as dié van die Joodse en Christelike Skrifte; dat dit danksy die Platoniese Vaders ontwikkel het en deur hulle op die Christelike godsdiens oorgeplant is; dat die afsonderlike natuur en ondergeskiktheid van die Seun in Justinus se dag en lank daarna alom verkondig is; en dat net die eerste dowwe profiel van die Drie-eenheid toe sigbaar geword het.”16
Voor Plato was triades of drie-eenhede talryk in Babilon en Egipte. En geestelikes se pogings om ongelowiges in die Romeinse wêreld te lok, het daartoe gelei dat party van daardie idees geleidelik in die Christelike godsdiens opgeneem is. Dit het uiteindelik gelei tot die aanvaarding van die opvatting dat die Seun en die heilige gees gelyk is aan die Vader.a
Selfs die woord “Drie-eenheid” is maar stadig aanvaar. Dit was in die laaste helfte van die tweede eeu dat Teofilus, die biskop van Antiochië in Sirië, in Grieks geskryf en die woord tri·asʹ wat “triade” of “drie-eenheid” beteken, begin gebruik het. Daarna het die Latynse skrywer Tertullianus in Carthago, Noord-Afrika, die woord trinitas begin gebruik, wat “drie-eenheid” beteken.b Maar die woord tri·asʹ kom nie in die geïnspireerde Christelike Griekse Geskrifte voor nie, en die woord trinitas kom nie in die Latynse vertaling van die Bybel, wat die Vulgaat genoem word, voor nie. Geeneen van die uitdrukkings is Bybels nie. Maar die woord “Drie-eenheid”, wat op heidense begrippe gebaseer is, het in die kerke se literatuur ingesypel en ná die vierde eeu deel van hulle dogma geword.
Geleerdes het dus nie die Bybel deeglik ondersoek om vas te stel of so ’n leerstelling daarin verkondig word nie. Sekulêre en kerkpolitiek het eerder die leerstelling gevorm. In die boek The Christian Tradition vestig skrywer Jaroslav Pelikan die aandag op “die nieteologiese faktore in die debat” en sê “dit het keer op keer gelyk asof talle daarvan die uitslag sou bepaal, maar dan is hulle tot niet gemaak deur kragte wat ewe belangrik was. Dit lyk of leerstellings altyd die slagoffers—of die produkte—van kerkpolitiek en van botsings tussen persoonlikhede was.”17 E. Washburn Hopkins, ’n professor aan die Yale-universiteit, het dit só gestel: “Die finale ortodokse definisie van die drie-eenheid was grotendeels ’n saak van kerkpolitiek.”18
Hoe onredelik is die Drie-eenheidsleer tog in vergelyking met die eenvoudige Bybelleerstelling dat God die allerhoogste is en geen gelyke het nie! Soos God sê: “By wie wil julle My vergelyk en My net so maak en My gelykstel, dat ons eenders kan wees?”—Jesaja 46:5.
Wat dit werklik was
Wat was die geleidelike ontwikkeling van die Drie-eenheidskonsep in werklikheid? Dit het deel uitgemaak van die afval van die ware Christelike godsdiens wat Jesus voorspel het (Mattheüs 13:24-43). Die apostel Paulus het ook die komende afvalligheid voorspel:
“Daar sal ’n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend.”—2 Timotheüs 4:3, 4, NAV.
Een van daardie verdigsels was die Drie-eenheidsleer. Party ander verdigsels wat nie die Christelike godsdiens as oorsprong gehad het nie en geleidelik ontwikkel het, was: die inherente onsterflikheid van die mensesiel, die vaevuur, Limbus en ewige foltering in die helse vuur.
Wat is die Drie-eenheidsleer dan? Dit is eintlik ’n heidense leerstelling wat hom as ’n Christelike leerstelling voordoen. Dit is deur Satan bevorder om mense te mislei, om God vir hulle verwarrend en raaiselagtig te maak. Dit het tot gevolg dat hulle ook bereidwilliger is om ander valse godsdiensidees en verkeerde gebruike te aanvaar.
“Aan hulle vrugte”
In Mattheüs 7:15-19 het Jesus gesê dat ’n mens valse godsdiens as volg van ware godsdiens kan onderskei:
“Pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. . . . Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”
Beskou een voorbeeld. In Johannes 13:35 het Jesus gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” In 1 Johannes 4:20 en 21 sê God se geïnspireerde Woord ook:
“As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ’n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.”
Pas die basiese beginsel dat ware Christene liefde onder mekaar moet hê toe op wat in albei wêreldoorloë in hierdie eeu, sowel as in ander konflikte, gebeur het. Lede van dieselfde godsdienste van die Christendom het op slagvelde teenoor mekaar te staan gekom en mekaar weens nasionalistiese verskille afgemaai. Elke kant het daarop aanspraak gemaak dat hy Christelik is, en elke kant is ondersteun deur sy geestelikes, wat beweer het dat God aan hulle kant is. Daardie slagting van “Christen” deur “Christen” is slegte vrugte. Dit is ’n skending van Christelike liefde, ’n miskenning van God se wette.—Sien ook 1 Johannes 3:10-12.
’n Dag van afrekening
Die afval van die Christelike godsdiens het dus nie net tot goddelose opvattings soos die Drie-eenheidsleer gelei nie, maar ook tot goddelose dade. Daar is egter ’n komende dag van afrekening, want Jesus het gesê: “Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” Dit is waarom God se Woord ons aanspoor:
“Gaan uit haar [valse godsdiens] uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou.”—Openbaring 18:4, 5.
Binnekort sal God ‘dit in die harte’ van die politieke owerhede ‘gee’ om teen valse godsdiens te draai. Hulle sal “haar verlate maak en . . . haar vlees eet en haar met vuur verbrand” (Openbaring 17:16, 17). Valse godsdiens met sy heidense filosofieë oor God sal vir ewig vernietig wees. God sal as ’t ware vir die beoefenaars van valse godsdiens sê wat Jesus in sy dag gesê het: “Julle huis word vir julle woes gelaat!”—Mattheüs 23:38.
Die ware godsdiens sal deur God se oordele heen behoue bly, sodat al die eer en heerlikheid uiteindelik aan die Een gegee sal word wat deur Jesus “die enige waaragtige God” genoem is. Hy is die een wat geïdentifiseer is deur die psalmis wat gesê het: “U, wie se naam Jehovah is, alleen [is] die Allerhoogste . . . oor die hele aarde.”—Johannes 17:3; Psalm 83:18, NW.
Bronnelys:
1. Encyclopædia Britannica, 1971, Deel 6, bladsy 386.
2. A Short History of Christian Doctrine, deur Bernhard Lohse, 1963, bladsy 51.
3. Ibid., bladsye 52-3.
4. New Catholic Encyclopedia, 1967, Deel VII, bladsy 115.
5. A Short History of Christianity, deur Martin E. Marty, 1959, bladsy 91.
6. A Select Library of Nicene and Post-Nicene Fathers of the Christian Church, deur Philip Schaff en Henry Wace, 1892, Deel IV, bladsy xvii.
7. A Short History of Christian Doctrine, bladsy 53.
8. A Short History of Christianity, bladsy 91.
9. The Church of the First Three Centuries, deur Alvan Lamson, 1869, bladsye 75-6, 341.
10. Second Century Orthodoxy, deur J. A. Buckley, 1978, bladsye 114-15.
11. New Catholic Encyclopedia, 1967, Deel VII, bladsy 115.
12. Ibid., Deel IV, bladsy 436.
13. Ibid., bladsy 251.
14. Ibid., bladsy 436.
15. The New Encyclopædia Britannica, 1985, 15de uitgawe, Micropædia, Deel 1, bladsy 665.
16. The Church of the First Three Centuries, bladsy 52.
17. The Christian Tradition, deur Jaroslav Pelikan, 1971, bladsy 173.
18. Origin and Evolution of Religion, deur E. Washburn Hopkins, 1923, bladsy 339.
[Voetnote]
a Sien die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo?, wat deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania uitgegee is, vir verdere inligting.
b Vroeëre artikels in hierdie reeks het getoon dat hoewel Teofilus en Tertullianus hierdie woorde gebruik het hulle nie die Drie-eenheid soos die Christendom vandag daarin glo in gedagte gehad het nie.
[Prent op bladsy 22]
God sal politieke owerhede teen valse godsdiens laat draai
[Prent op bladsy 24]
Ware godsdiens sal deur God se oordele heen behoue bly