Hoe hardloop jy in die wedloop van die lewe?
“Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal.”—1 KORINTHIËRS 9:24.
1. Waarmee vergelyk die Bybel ons Christelike weg?
DIE Bybel vergelyk ons strewe na die ewige lewe met ’n wedloop. Teen die einde van sy lewe het die apostel Paulus die volgende oor homself gesê: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” Hy het sy mede-Christene aangemoedig om dieselfde te doen toe hy gesê het: “Laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê.”—2 Timotheüs 4:7; Hebreërs 12:1.
2. Watter aanmoedigende begin sien ons in die wedloop van die lewe?
2 Dit is ’n gepaste vergelyking omdat ’n wedloop uit ’n wegspringplek, ’n vasgestelde baan en ’n wenstreep, of einddoel, bestaan. Dit is ook die geval met die proses van ons geestelike vordering na die lewe. Soos ons gesien het, is daar elke jaar honderdduisende mense wat die wedloop van die lewe goed begin. Die afgelope vyf jaar het 1 336 429 mense byvoorbeeld deur hulle toewyding en waterdoop formeel met die wedloop begin. Hoe aanmoedigend is dit tog om te sien hoe goed hulle begin! Die belangrikste is egter om met die wedloop vol te hou totdat die wenstreep bereik is. Doen jy dit?
Die wedloop van die lewe
3, 4. (a) Hoe het Paulus op die belangrikheid daarvan gewys om die pas in die wedloop vol te hou? (b) Hoe het sommige gefaal om op Paulus se raad ag te gee?
3 Paulus het die volgende vermaning gegee om te beklemtoon hoe belangrik dit is dat ’n mens met die wedloop moet volhou: “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal.”—1 Korinthiërs 9:24.
4 Tydens die antieke spele kon slegs een weliswaar ’n prys ontvang. Maar in die wedloop van die lewe kom almal in aanmerking vir die prys. Al wat nodig is, is om die wedloop te voleindig! Dit is verblydend om te sien dat baie tot hulle dood toe getrou in die wedloop gehardloop het, soos die apostel Paulus gedoen het. En miljoene hardloop steeds. Sommige het egter nie vooruitgebeur of vooruitgang gemaak op pad na die wenstreep toe nie. Hulle het eerder toegelaat dat ander dinge vir hulle ’n hindernis word sodat hulle óf in die wedloop uitgeval het óf om die een of ander rede gediskwalifiseer is (Galasiërs 5:7). Daarom moet ons almal let op hoe ons in die wedloop van die lewe hardloop.
5. Het Paulus die wedloop van die lewe met ’n kompetisie vergelyk? Verduidelik.
5 Ons kan ons die volgende vraag afvra: Wat het Paulus in gedagte gehad toe hy gesê het dat net “een die prys ontvang”? Soos ons vroeër gesien het, het hy nie bedoel dat daar onder almal wat in die wedloop van die lewe wegspring net een is wat die beloning van die ewige lewe sal ontvang nie. Dit kan vanselfsprekend nie die geval wees nie, want hy het dit keer op keer duidelik gemaak dat dit God se wil is dat alle mense gered moet word (Romeine 5:18; 1 Timotheüs 2:3, 4; 4:10; Titus 2:11). Nee, hy het nie gesê dat die wedloop van die lewe ’n kompetisie is waarin elke deelnemer al die ander probeer wen nie. Die Korinthiërs het baie goed geweet dat daardie soort gees van wedywer onder die deelnemers voorgekom het by hulle Ismiese Spele, wat destyds glo selfs hoër as die Olimpiese Spele geag is. Wat het Paulus dan in gedagte gehad?
6. Wat toon die konteks oor Paulus se bespreking van die hardloper en die wedloop?
6 Toe Paulus die vergelyking van die hardloper gebruik het, het hy hoofsaaklik sy eie vooruitsigte op redding bespreek. In die voorafgaande verse het hy beskryf hoe hard hy gewerk het en hoe hy hom op talle maniere ingespan het (1 Korinthiërs 9:19-22). Daarna het hy in vers 23 (NW) gesê: “Maar ek doen alles ter wille van die goeie nuus, sodat ek saam met ander ’n deelgenoot daarvan kan word.” Hy het besef dat sy redding nie ’n uitgemaakte saak was net omdat hy as apostel gekies is of omdat hy baie jare lank die predikingswerk gedoen het nie. Om die seëninge van die goeie nuus te smaak, moes hy aanhou om alles in sy vermoë te doen ter wille van die goeie nuus. Hy moes hardloop met die vaste voorneme om te wen en hy moes hom net so hard inspan asof hy aan ’n wedloop by die Ismiese Spele deelneem, waar net “een die prys ontvang” het.—1 Korinthiërs 9:24a.
7. Wat is nodig om ‘só te hardloop dat jy dit sekerlik kan behaal’?
7 Ons kan baie hieruit leer. Hoewel almal wat aan die wedloop deelneem, wil wen, is dit net diegene wat vasbeslote is om te wen wat enige vooruitsig het om dit te doen. Ons moet gevolglik nie selfvoldaan raak net omdat ons aan die wedloop begin deelneem het nie. Ons moenie dink dat alles goed sal afloop net omdat ons ‘in die waarheid’ is nie. Ons dra die naam Christen, maar kan ons bewys dat ons Christene is? Doen ons byvoorbeeld die dinge wat ons weet ’n Christen moet doen—woon ons die Christelike vergaderinge by, neem ons aan die veldbediening deel, ensovoorts? Indien wel, is dit prysenswaardig en moet ons daarna streef om met sulke voortreflike gewoontes vol te hou. Maar kan ons groter baat vind by die dinge wat ons doen? Berei ons byvoorbeeld altyd voor sodat ons aan die vergaderinge kan deelneem deur kommentaar te lewer? Probeer ons om wat ons leer in ons persoonlike lewe toe te pas? Skenk ons aandag daaraan om meer bedrewe te raak sodat ons ’n deeglike getuienis kan gee ten spyte van die hindernisse wat ons in die veld teëkom? Is ons bereid om die uitdaging te aanvaar om na belangstellendes terug te gaan en tuisbybelstudies met hulle te begin? “Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal”, het Paulus ons aangemoedig.—1 Korinthiërs 9:24b.
Beoefen selfbeheersing in alle dinge
8. Wat het moontlik daartoe aanleiding gegee dat Paulus sy mede-Christene aangemoedig het om ‘selfbeheersing in alle dinge te beoefen’?
8 Paulus het gedurende sy lewe talle gesien wat stadiger begin hardloop het, van die baan afgedwaal het, of uit die wedloop van die lewe geval het (1 Timotheüs 1:19, 20; Hebreërs 2:1). Daarom het hy sy mede-Christene herhaaldelik daaraan herinner dat hulle aan ’n veeleisende en volgehoue wedstryd deelneem (Efesiërs 6:12; 1 Timotheüs 6:12). Hy het die vergelyking van die hardloper verder gevoer en gesê: “Bowendien beoefen elkeen wat aan ’n wedstryd deelneem selfbeheersing in alle dinge” (1 Korinthiërs 9:25a, NW). Deur dit te sê, het Paulus op iets gesinspeel waarmee die Korinthiese Christene goed bekend was, naamlik die strawwe oefenprogram wat al die deelnemers aan die Ismiese Spele gevolg het.
9, 10. (a) Hoe beskryf een bron die deelnemers aan die Ismiese Spele? (b) Op watter belangrike punt in die beskrywing moet ons let?
9 Hier volg ’n beeldende beskrywing van ’n deelnemer wat ’n oefenprogram volg:
“Hy onderwerp hom gewillig en sonder enige teëstribbeling aan die reëls en beperkings van sy tien maande lange oefenprogram, waarsonder hy net sowel nie eers hoef deel te neem nie. . . . Hy is trots op sy klein ongeriewe en tye van uitputting en ontberinge, en hy beskou dit as ’n eer om hom nougeset te weerhou van enigiets wat sy kans op sukses enigsins kan belemmer. Hy sien hoe ander toegee aan hulle eetlus, hoe hulle rus terwyl hy van inspanning na sy asem hyg, hoe hulle heerlik in die badhuise ontspan, hoe hulle die lewe na eie sin en wil geniet; maar ’n afgunstige gedagte kom skaars by hom op, want hy het sy hart op die prys gesit, en ’n strawwe oefenprogram is onontbeerlik. Hy weet dat hy sy kanse verspeel as hy op enige tydstip of in enige stadium die strengheid van die dissipline verslap.”—The Expositor’s Bible, Deel V, bladsy 674.
10 Wat veral van belang is, is die opmerking dat die een wat aan die oefenprogram deelneem dit as ‘’n eer beskou’ om so ’n strawwe roetine van selfverloëning te volg. Trouens, “’n afgunstige gedagte kom skaars by hom op” wanneer hy sien hoe ander gemak en gerief geniet. Kan ons iets hieruit leer? Ja, beslis.
11. Teen watter verkeerde beskouing moet ons waak terwyl ons aan die wedloop van die lewe deelneem?
11 Dink terug aan Jesus se woorde: “Breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mattheüs 7:13, 14). Beny jy diegene op die ander pad wanneer jy sien hoe hulle vryheid en gemak geniet terwyl jy strewe om op die ‘smal pad’ voort te beweeg? Voel jy dat jy iets mis omdat jy nie die dinge doen wat ander doen en wat nie op sigself so verkeerd is nie? Ons kan maklik so voel as ons nie die rede in gedagte hou waarom ons ons op hierdie pad bevind nie. “Hulle doen dit natuurlik om ’n verganklike kroon te verkry, maar ons ’n onverganklike”, het Paulus gesê.—1 Korinthiërs 9:25b, NW.
12. Waarom kan dit gesê word dat die eer en roem waarna mense soek soos die verganklike kroon is wat by die Ismiese Spele toegeken is?
12 Die wenner by die Ismiese Spele het ’n krans van Ismiese denne of van die een of ander soortgelyke plant ontvang, wat waarskynlik binne ’n paar dae of weke verwelk het. Dit was natuurlik nie om die verganklike krans wat die atlete meegeding het nie, maar om die glorie, eer en roem wat daarmee gepaardgegaan het. Een bron vertel dat wanneer die wenner teruggekeer het huis toe hy as ’n seëvierende held verwelkom is. Stadsmure is dikwels afgebreek om sy optog deur te laat en standbeelde is tot sy eer opgerig. Maar ten spyte van al hierdie dinge was sy glorie steeds verganklik. Vandag weet min mense wie daardie seëvierende helde was, en die meeste gee in elk geval nie eens om nie. Diegene wat hulle tyd, energie, gesondheid en selfs hulle gesinsgeluk opoffer om mag, roem en rykdom in die wêreld te verwerf, maar wat nie ryk is in God nie, sal uitvind dat hulle materialistiese “kroon”, soos hulle lewe, verganklik is.—Mattheüs 6:19, 20; Lukas 12:16-21.
13. Hoe verskil die lewenswyse van iemand wat in die wedloop van die lewe hardloop met dié van ’n atleet?
13 Deelnemers aan atletiekspele is gewillig om aan die strawwe vereistes van hulle oefenprogram, soos hierbo beskryf word, te voldoen, maar net vir ’n beperkte tyd. As die spele eers verby is, keer hulle terug na ’n normale lewenswyse. Hulle oefen dalk nog van tyd tot tyd om hulle vaardighede te behou, maar hulle volg nie meer dieselfde roetine van strawwe selfonthouding nie, ten minste nie tot die volgende wedstryd nie. Dit is nie die geval met diegene wat in die wedloop van die lewe hardloop nie. Oefening en selfonthouding moet vir hulle ’n lewenswyse wees.—1 Timotheüs 6:6-8.
14, 15. Waarom moet ’n deelnemer in die wedloop van die lewe voortdurend selfbeheersing beoefen?
14 “As enigeen agter my aan wil kom”, het Jesus Christus vir ’n skare van sy dissipels en ander mense gesê, “moet hy homself verloën [of, “moet hy vir homself ‘Nee’ sê”, Charles B. Williams] en sy folterpaal opneem en my voortdurend volg” (Markus 8:34, NW). Wanneer ons hierdie uitnodiging aanvaar, moet ons bereid wees om dit “voortdurend” te doen, nie omdat daar ’n spesiale verdienste aan selfverloëning verbonde is nie, maar omdat een oomblik van onbesonnenheid, een afwyking van gesonde oordeel, alles kan vernietig wat opgebou is, en dit kan selfs ons ewige welsyn in gevaar stel. Geestelike vordering vind gewoonlik teen ’n taamlik stadige pas plaas, maar hoe gou kan dit tog tot niet gemaak word as ons nie voortdurend op ons hoede is nie!
15 Daarbenewens het Paulus ons aangespoor om selfbeheersing “in alle dinge” te beoefen, dit wil sê, ons moet dit konsekwent in alle aspekte van ons lewe toepas. Dit is verstandig, want van watter nut is al die fisiese pyn en uitputting wat ’n atleet tydens sy oefenprogram verduur as hy te veel eet en drink of ’n losbandige lewe lei? Net so moet ons in ons wedloop van die lewe selfbeheersing in alle dinge beoefen. ’n Persoon het miskien selfbeheersing in sulke dinge soos dronkenskap en hoerery, maar dit het nie baie waarde as hy hoogmoedig en twisgierig is nie. Of dalk is hy lankmoedig en vriendelik teenoor ander, maar beoefen die een of ander geheime sonde in sy privaatlewe. Selfbeheersing kan ons net tot voordeel strek as ons dit “in alle dinge” beoefen.—Vergelyk Jakobus 2:10, 11.
Moenie “onseker” hardloop nie
16. Wat beteken dit om “nie onseker” te hardloop nie?
16 Na aanleiding van die veeleisende inspanning wat nodig is om sukses in die wedloop van die lewe te behaal, het Paulus verder gesê: “Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie” (1 Korinthiërs 9:26). Die woord “onseker” beteken letterlik “onopvallend” (Kingdom Interlinear), “ongesien, onopgemerk” (Lange’s Commentary). Om “nie onseker” te hardloop nie, beteken derhalwe dat dit vir elke toeskouer baie duidelik moet wees waarheen die atleet op pad is. The Anchor Bible vertaal dit as “nie al kronkelend nie”. As jy ’n stel voetspore sien wat heen en weer op die strand kronkel, wat nou en dan kringe maak en wat selfs op party plekke agteruitloop, sou jy kwalik dink dat die persoon gehardloop het, wat nog te sê dat hy enige idee gehad het waarheen hy op pad is. Maar as jy ’n stel voetspore sien wat ’n lang, reguit lyn vorm, met elke voetspoor voor die vorige een en almal eweredig gespasieer, sou jy tot die slotsom kom dat die voetspore aan iemand behoort wat presies weet waarheen hy op pad is.
17. (a) Hoe het Paulus getoon dat hy “nie onseker” gehardloop het nie? (b) Hoe kan ons Paulus in hierdie opsig navolg?
17 Paulus se lewe toon duidelik dat hy “nie onseker” gehardloop het nie. Hy het oorvloedige bewyse gehad dat hy ’n Christenbedienaar en ’n apostel is. Hy het net een doelwit gehad, en hy het hom sy hele lewe lank kragdadig ingespan om dit te bereik. Roem, mag, rykdom of gerief het hom nooit van die regte koers laat afwyk nie, selfs al kon hy enige van hierdie dinge verwerf het (Handelinge 20:24; 1 Korinthiërs 9:2; 2 Korinthiërs 3:2, 3; Filippense 3:8, 13, 14). Watter soort spoor sien jy as jy op jou lewensweg terugkyk? ’n Reguit spoor op ’n vaste koers of een wat doelloos kronkel? Is daar bewys dat jy in die wedloop van die lewe hardloop? Onthou ons hardloop in hierdie wedloop, nie om maar net te hardloop nie, maar om by die wenstreep uit te kom.
18. (a) In watter opsig kan ons “in die lug slaan”? (b) Waarom is dit gevaarlik?
18 Paulus het ’n vergelyking getrek met ’n ander sportsoort toe hy verder gesê het: “Ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie” (1 Korinthiërs 9:26b). In ons stryd om die lewe het ons baie vyande, waaronder Satan, die wêreld en ons eie onvolmaaktheid. Soos ’n eertydse bokser moet ons hulle met goed gemikte houe platslaan. Gelukkig lei Jehovah God ons op en help ons in die geveg. Hy voorsien riglyne in sy Woord, in Bybelse publikasies en by die Christelike vergaderinge. As ons die Bybel en die publikasies lees en die vergaderinge bywoon, maar nie toepas wat ons leer nie, is ons inspanning tog tevergeefs en ‘slaan ons in die lug’, nie waar nie? As ons dit doen, stel ons onsself in ’n baie gevaarlike posisie. Ons dink dat ons terugveg en ontwikkel dan ’n vals gevoel van sekuriteit, maar ons is nie besig om ons vyande te verslaan nie. Daarom het die dissipel Jakobus ons vermaan: “Word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.” Net soos ons nie ons vyande kan oorwin as ons “in die lug slaan” nie, kan ons ook nie seker wees dat ons God se wil doen as ons “net hoorders” is nie.—Jakobus 1:22; 1 Samuel 15:22; Mattheüs 7:24, 25.
19. Hoe kan ons seker maak dat ons nie miskien self verwerplik word nie?
19 Ten slotte het Paulus ons vertel wat die geheim van sy sukses is: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Korinthiërs 9:27). Ons moet net soos Paulus ook die meester word van ons onvolmaakte vlees eerder as om toe te laat dat dit ons oorheers. Ons moet ons vleeslike neigings, verlangens en begeertes uitroei (Romeine 8:5-8; Jakobus 1:14, 15). Om dit te doen, kan pynlik wees aangesien die woord wat met “kasty” vertaal is letterlik beteken ‘om onder die oog te slaan’ (Kingdom Interlinear). Maar is dit nie beter om as ’t ware ’n blou oog te hê en te leef as om aan die begeertes van die onvolmaakte vlees toe te gee en te sterf nie?—Vergelyk Mattheüs 5:28, 29; 18:9; 1 Johannes 2:15-17.
20. Waarom is dit nou veral dringend om uit te vind hoe ons in die wedloop van die lewe hardloop?
20 Ons nader vandag die wenstreep van die wedloop. Die tyd vir die prysuitdeling is ophande. Vir gesalfde Christene is dit “die prys . . . van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Filippense 3:14). Vir diegene van die groot menigte is dit die ewige lewe op ’n paradysaarde. Met soveel op die spel moet ons net soos Paulus vasbeslote wees om ‘nie miskien verwerplik te wees nie’. Laat elkeen van ons die opdrag ter harte neem: “Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal.”—1 Korinthiërs 9:24, 27.
Onthou jy?
◻ Waarom is dit gepas om ’n Christen se lewe met ’n wedloop te vergelyk?
◻ In watter opsig verskil die wedloop van die lewe van ’n resies?
◻ Waarom moet ons voortdurend en “in alle dinge” selfbeheersing beoefen?
◻ Hoe hardloop ’n mens as jy “nie onseker” hardloop nie?
◻ Waarom is dit gevaarlik om net ‘in die lug te slaan’?
[Prent op bladsy 16]
Die kampioen se krans, sowel as die glorie en eer, is verganklik