Moenie die doel van godgegewe vryheid mis nie
“Waar die Gees van die Here [Jehovah] is, daar is vryheid.”—2 KORINTHIËRS 3:17, vgl. NW.
1. Waarom is Jesaja 65:13, 14 op Jehovah se Getuies van toepassing?
JEHOVAH is die God van vryheid. En wat ’n seën is godgegewe vryheid tog! Omdat sy toegewyde knegte sulke vryheid geniet, is hierdie woorde van die Soewereine Heer Jehovah op hulle van toepassing: “Kyk, my knegte sal eet, maar julle sal honger bly; kyk, my knegte sal drink, maar julle sal dors wees; kyk, my knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan. Kyk, my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is, maar júlle sal skreeu van pyn in die hart en huil deur die verbreking van gees.”—Jesaja 65:13, 14.
2. Waarom is Jehovah se Getuies geestelik voorspoedig?
2 God se volk geniet hierdie geestelik voorspoedige toestand omdat hulle deur sy gees, of werkende krag, gelei word. Die apostel Paulus het gesê: “Die Here [Jehovah] is die Gees, en waar die Gees van die Here [Jehovah] is, daar is vryheid” (2 Korinthiërs 3:17, vgl. NW). Wat is die doel van godgegewe vryheid? En wat word van ons verwag as ons dit ten volle wil gebruik?
Die vryheid wat God het
3. Watter soort vryheid het God, en waarom?
3 Jehovah alleen besit absolute vryheid. Geeneen van sy skepsele kan sy vryheid beperk nie, omdat hy die almagtige God en die Universele Soewerein is. Soos die getroue man Job gesê het: “Wie sal Hom teëhou? Wie vir Hom sê: Wat maak U?” (Job 9:12). Koning Nebukadnesar van Babilon moes eweneens noodgedwonge erken: “Daar is niemand wat [God se] hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?”—Daniël 4:35.
4. In watter opsig hou Jehovah sy vryheid binne perke?
4 Maar daardie absolute vryheid word deur Jehovah se eie regverdige beginsels binne perke gehou. Dit is toegelig toe Abraham, wat besorgd was oor die inwoners van Sodom, gevra het: “Sal die Regter van die ganse aarde geen reg doen nie?” God se antwoord toon dat hy die verantwoordelikheid om te doen wat reg is, besef. Hy sou Sodom nie vernietig het as daar enige regverdige inwoners daarin oorgebly het nie (Genesis 18:22-33). God hou ook sy vryheid binne perke omdat sy liefde en wysheid hom lankmoedig maak en omdat hy selfbeheersing beoefen.—Jesaja 42:14, NW.
Beperkings van menslike vryheid
5. Noem ’n paar faktore wat menslike vryheid beperk.
5 Hoewel Jehovah absolute vryheid besit, tree alle ander lewende wesens op binne die beperkings wat bepaal word deur hulle geaardheid, vermoëns en die omgewing waarin hulle woon, asook faktore soos die huidige beperkte lewensduur van sondige mense. God het die mens met volmaakte vryheid geskep om sy werk te verrig in die omgewing wat Jehovah vir hom daargestel het. Daar is verskeie ander redes waarom die mens se vryheid beperk is en nie absoluut is nie.
6. Hoe hou rekenskap aan God verband met ons vryheid?
6 Ten eerste is die mens se vryheid beperk omdat God die mens geskep het om Sy voorneme uit te voer. Jehovah ‘is waardig om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want hy het alle dinge geskep, en vanweë sy wil bestaan hulle en is hulle geskep’ (Openbaring 4:11, NW). Die mens is dus rekenskap aan sy Maker verskuldig, wat tereg wette gemaak het waarvolgens die mens moet lewe. In eertydse Israel het God onder die Mosaïese Wet vereis dat mense wat sy naam ydellik gebruik of die Sabbatwet verbreek, doodgemaak word (Exodus 20:7; 31:14, 15; Levitikus 24:13-16; Numeri 15:32-36). Hoewel ons as Christene nie onder die Wet is nie, is ons vryheid beperk omdat ons rekenskap verskuldig is aan Jehovah, wat ons Regter, Wetgewer en Koning is.—Jesaja 33:22, NW; Romeine 14:12.
7, 8. (a) Hoe beperk natuurwette die mens se vryheid? (b) Watter ander wette van God beperk ons vryheid as mense?
7 Tweedens word die mens se vryheid beperk deur God se natuurwette. As gevolg van die wet van swaartekrag kan ’n mens byvoorbeeld nie van ’n wolkekrabber afspring sonder om seer te kry of jou lewe te verloor nie. Dit is duidelik dat God se natuurwette die mens se vryheid beperk om sekere dinge te doen.
8 Derdens word die mens se vryheid beperk as gevolg van God se sedewette. Jy het bes moontlik al self gesien hoe waar die woorde is wat Paulus in Galasiërs 6:7, 8 geskryf het: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.” Ons kan nie die feit betwis dat Jehovah God se sedewette ook ons vryheid beperk nie, maar gehoorsaamheid daaraan word vereis sodat ons die lewe kan verkry.
9. Hoe word ons vryheid beperk deur die feit dat ons deel van die mensegemeenskap is?
9 Vierdens word die mens se vryheid beperk omdat hy deel van die mensegemeenskap is. Gevolglik kan hy slegs vryheid geniet in soverre dit nie op onregverdige wyse inbreuk maak op ander se vryheid nie. Christene moet hulle onderwerp aan die “hoër owerhede” van ’n regering en aan hulle gehoorsaam wees, mits hulle nie van ons verwag om God se wette te oortree nie (Romeine 13:1, NW; Handelinge 5:29). Ons moet byvoorbeeld gehoorsaam wees aan wette wat bepaal dat ons belasting moet betaal, teen watter snelheid ons ’n motor kan bestuur, ensovoorts. Die feit dat ons aan sulke wette van die “keiser” gehoorsaam moet wees, toon verder dat ons godgegewe vryheid nie absoluut is nie.—Markus 12:17; Romeine 13:7.
Waarom relatiewe vryheid?
10, 11. Waarom het Jehovah mense relatiewe vryheid gegee?
10 Waarom het God relatiewe vryheid aan mense gegee? Een rede was sodat die Skepper intelligente skepsele op die aarde kan hê wat hom deur hulle goeie woorde en gedrag kan eer en loof. Die mens kan dit doen, maar diere kan dit nie doen nie. Diere het geen benul van sedelike gedrag nie, want hulle word deur instink beheer. Jy kan ’n hond leer om nie iets te vat nie, maar jy kan hom nie leer dat dit verkeerd is om te steel nie. ’n Dier, wie se gedrag as ’t ware geprogrammeer is, kan nie besluite neem wat God loof en eer nie, terwyl die mens vrylik kan kies om sy Maker uit liefde en waardering te dien.
11 God gee mense ook hierdie vryheid tot hulle voordeel en geluk. Hulle kan aan hulle relatiewe vryheid uiting gee deur skeppend en vindingryk, liefdadig en behulpsaam te wees. Mense het ook vryheid van keuse in aangeleenthede soos hulle loopbaan en woonplek. Vandag beperk ekonomiese en politieke faktore dikwels daardie keusevryheid, maar dit is te wyte aan die mens se selfsug en nie aan die manier waarop God die mens oorspronklik geskep het nie.
12. Waarom is die oorgrote meerderheid mense in slawerny?
12 Hoewel Jehovah mense ’n groot mate van vryheid gegee het, verkeer die oorgrote meerderheid vandag in slawerny wat hulle frustreer. Wat het gebeur? Die eerste mensepaar, Adam en Eva, het die doel van godgegewe vryheid gemis. Hulle het God se perke op hulle vryheid oorskry en sy regmatige heerskappy oor hulle as die Soewereine Heer, Jehovah, betwis (Genesis 3:1-7; Jeremia 10:10; 50:31). Omdat hulle nie tevrede was om hulle vryheid te gebruik om God te eer nie, het hulle dit op selfsugtige wyse gebruik, naamlik om self te besluit wat reg en wat verkeerd is, en hierdeur het hulle hulle by Satan geskaar in sy opstand teen Jehovah. Maar pleks van groter vryheid te verkry, is sondige Adam en Eva onderwerp aan beproewende beperkings en slawerny, ’n vermindering van hulle vryheid en uiteindelik die dood. Hulle nageslag het hierdie verlies van vryheid geërf. “Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” “Die loon van die sonde is die dood.”—Romeine 3:23; 5:12; 6:23.
13. Waarom kon Satan dit regkry om mense in slawerny te bring?
13 As gevolg van die opstand in Eden het Adam en sy nageslag ook slawe van Satan die Duiwel geword. Trouens, “die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose”! (1 Johannes 5:19). Weens sy bomenslike mag en vermoë het Satan daarin geslaag om die hele mensdom wat van God vervreemd is te mislei en in slawerny te bring. Daarbenewens het selfsugtige mense oor hulle medemens geheers tot hulle nadeel (Prediker 8:9, NW). Gevolglik verkeer die mensdom oor die algemeen nou in slawerny aan sonde en die dood, aan Satan en sy demone en aan die wêreld se politieke, ekonomiese en godsdiensstelsels.
Ware vryheid word moontlik gemaak
14. Waarmee hang die mens se hoop op ware vryheid ten nouste saam?
14 Vryheid van sonde, die dood en die Duiwel en sy wêreld hang ten nouste saam met God se vasbeslotenheid om die geskil aangaande die regmatigheid van sy eie universele soewereiniteit te besleg. Omdat Satan hierdie geskil geopper het, het Jehovah toegelaat dat hy bly bestaan, net soos Hy toegelaat het dat Farao ’n ruk lank bestaan. Dit is sodat Jehovah sy krag ten volle kan openbaar en sy naam oor die hele aarde kan laat verkondig (Exodus 9:15, 16). God sal hom binnekort as Universele Soewerein regverdig en sy heilige naam reinig van alle smaad wat deur die opstand van Satan, Adam en Eva daarop gebring is. Dié wat Jehovah vrees, sal dus bevry word van slawerny aan sonde en die dood en sal in ’n nuwe wêreld van godgegewe vryheid ingebring word.—Romeine 8:19-23.
15. Watter rol het Jesus gespeel om vryheid aan die mensdom terug te gee?
15 Om die mensdom se vryheid terug te gee, het God sy Seun as ’n mens na die aarde toe gestuur. God se Seun, Jesus Christus, het die losprysoffer, die grondslag om die mensdom vry te maak, voorsien deur sy volmaakte lewe gewillig te gee (Mattheüs 20:28). Hy het ook ’n boodskap van vryheid verkondig. Aan die begin van sy bediening het hy dié woorde op hom toegepas: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis.”—Jesaja 61:1; Lukas 4:16-21.
16. Watter stappe moes eerste-eeuse Jode doen om ware vryheid te verkry?
16 Hoe sou mense daardie vryheid verkry? Jesus het gesê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Dit is hoe Jesus se volgelinge geestelike vryheid begin geniet het (Johannes 8:31, 32, 36). Daarbenewens het Jesus aan Romeinse goewerneur Pontius Pilatus gesê: “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem” (Johannes 18:37). Jode wat die waarheid aangeneem het wat Jesus verkondig en deur sy voorbeeld uitgeleef het, het berou gehad oor hulle sondes, hulle verkeerde lewenswandel reggestel, hulle aan Jehovah toegewy en hulle, soos Jesus, laat doop (Mattheüs 3:13-17; Handelinge 3:19). Sodoende het hulle relatiewe godgegewe vryheid begin geniet.
17. Waarom gee Jehovah sy knegte vryheid?
17 Jehovah gee sy lojale knegte hoofsaaklik vryheid sodat sy eie soewereiniteit geregverdig kan word, hoewel dit ook vir hulle bemoediging en voordeel inhou. Hy het die Israeliete van slawerny in Egipte verlos sodat hulle hom as ’n koninkryk van priesters, sy getuies, kon verheerlik (Exodus 19:5, 6; Jesaja 43:10-12). Jehovah het sy volk eweneens uit Babiloniese gevangenskap verlos om sy tempel te herbou en om ware aanbidding te herstel (Esra 1:2-4). Toe die bannelinge net in hulle eie materiële gerief belanggestel het, het Jehovah sy profete Haggai en Sagaria na hulle toe gestuur om hulle aan hulle verpligtinge voor God te herinner. Toe hulle godgegewe vryheid so in die regte lig gestel is, het hulle die tempel voltooi tot verheerliking van God, en ook tot die bemoediging en welsyn van sy volk.
Moenie die doel van godgegewe vryheid mis nie
18. Waarom kan ons sê dat Jehovah se hedendaagse knegte nie die doel van hulle godgegewe vryheid gemis het nie?
18 Wat van God se hedendaagse knegte? As ’n organisasie het hulle nie die doel van hulle godgegewe vryheid gemis nie. Hulle het in die 1870’s begin vry raak van Babiloniese dwalinge en al hoe meer Christelike vryheid begin geniet. Dit het gestrook met die woorde in Spreuke 4:18, wat lui: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.” Net soos God se eertydse volk ’n tyd lank slawe in Babilon was, so was Jehovah se knegte in 1918 in sekere mate slawe van Babilon die Grote (Openbaring 17:1, 2, 5). Lede van daardie wêreldryk van valse godsdiens was verheug toe die figuurlike “twee getuies” geestelik dood gelê het. Maar deur God se onverdiende goedhartigheid het hierdie gesalfde knegte in 1919 weer lewend geword omdat hulle geestelik bevry is (Openbaring 11:3, 7-11). Hulle het hulle godgegewe vryheid goed gebruik en ywerige getuies van die Allerhoogste geword. Hoe gepas was dit derhalwe toe hulle in 1931 die naam Jehovah se Getuies met vreugde aangeneem het! (Jesaja 43:10-12, vgl. NW). Veral sedert 1935 het “’n groot menigte”, wat hoop om ewige lewe op aarde te verkry, hulle by gesalfde Getuies aangesluit. Hulle mis ook nie die doel van hulle godgegewe vryheid nie.—Openbaring 7:9-17.
19, 20. (a) Wat is een merkwaardige manier waarop Jehovah se volk hulle godgegewe vryheid goed gebruik? (b) Op watter ander opmerklike manier gebruik Jehovah se Getuies die vryheid wat God hulle gegee het goed?
19 Jehovah se volk gebruik hulle godgegewe vryheid goed op twee maniere wat veral merkwaardig is. Enersyds gebruik hulle dit om ’n regskape lewe te lei (1 Petrus 2:16). En wat ’n goeie reputasie het hulle tog nie! Een man het byvoorbeeld eenkeer in ’n Koninkryksaal in Zürich, Switserland, ingestap en gesê dat hy een van Jehovah se Getuies wil word. Toe daar aan hom gevra is waarom, het hy gesê dat sy suster ’n Getuie was en dat sy weens onsedelikheid uitgesit is. Hy het gesê: ‘Dít is die organisasie waarby ek wil aansluit—een wat nie slegte gedrag duld nie.’ Dit is dus met goeie rede dat die New Catholic Encyclopedia opmerk dat Jehovah se Getuies die reputasie verwerf het dat hulle “een van die groepe in die wêreld is wat hulle die beste gedra”.
20 Jehovah se Getuies gebruik hulle godgegewe vryheid ook goed deur hulle opdrag na te kom om, net soos Jesus, die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig (Mattheüs 4:17). Deur die gesproke woord en deur die gedrukte woord, formeel sowel as informeel, verkondig hulle Jehovah se Koninkryk. Hulle vind grootliks hierby baat, want hulle geloof word versterk en hulle hoop word helderder. Daarbenewens help hierdie werk hulle om hulleself te red, sowel as diegene wat na hulle luister (1 Timotheüs 4:16). Die boek Dynamic Religious Movements sê aangaande hierdie werk: “Dit sou moeilik wees om lede van enige ander groep te vind wat so hard vir hulle godsdiens werk soos die Getuies.”
21. Watter bewyse is daar dat Jehovah die bediening van sy volk seën?
21 Hoe seën Jehovah ons tog om die doel van ons godgegewe vryheid uit te voer! Dit kan uit verlede jaar se velddiensrapport gesien word—’n hoogtepunt van meer as viermiljoen Koninkryksverkondigers en meer as tienmiljoen wat die herdenking van Jesus se dood bygewoon het. In een opname het Ierland 29 agtereenvolgende maandelikse hoogtepunte in verkondigers gehad; Mexiko het 78 hoogtepunte in 80 maande gehad; en Japan het 153 hoogtepunte na mekaar gehad!
Gebruik jou godgegewe vryheid goed
22. Watter gedagteprikkelende vrae kan ons ons afvra?
22 Gebruik jy die vryheid wat God jou gegee het goed as een van Jehovah se toegewyde Getuies? Elkeen van ons kan hom gerus afvra: ‘Gebruik ek my godgegewe vryheid só dat ek niemand deur verkeerde gedrag laat struikel nie? Gehoorsaam ek die keiser se wette gewetensgetrou, hoewel ek God se wet eerste stel? Gee ek my volle samewerking aan die ouere manne in die gemeente? Gebruik ek my godgegewe vryheid ten volle in die verkondiging van die goeie nuus? Is ek “altyd oorvloedig in die werk van die Here”? Jaag ek ’n sekulêre loopbaan ywerig na terwyl ek my godgegewe vryheid beter kan gebruik om my bediening uit te brei en om groter verantwoordelikheid in die gemeente of voltydse diens na te streef?’—1 Korinthiërs 15:58.
23. Wat moet ons doen sodat ons nie die doel van godgegewe vryheid mis nie?
23 Mag ons almal “smaak en sien dat die HERE goed is” (Psalm 34:9). Laat ons op hom vertrou, aan sy wette gehoorsaam wees en sy heilige naam verheerlik deur sy Koninkryk ywerig te verkondig. Onthou, “wie volop saai, sal ook volop maai” (2 Korinthiërs 9:6). Laat ons Jehovah dus heelhartig dien en toon dat ons nie die doel van ons godgegewe vryheid gemis het nie.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Watter soort vryheid het God?
◻ Watter beperkings het menslike vryheid?
◻ Hoe is ware vryheid moontlik gemaak?
◻ Wat moet ons doen sodat ons nie die doel van godgegewe vryheid mis nie?
[Prent op bladsy 9]
Menslike vryheid word beperk deur faktore soos die wet van swaartekrag